Lesse wat ek by ta’ Miem geleer het

tant-miem-skermskoot

‘n Skermskoot van die artikel oor Tant Miem se lewe in die 1972-uitgawe van die ‘Gereformeerde Vroueblad’.

Aan die begin van Januarie stuur Hannes Noëth, oud-Puk en klasmaat en deesdae uitvoerende hoof van die Solidariteit Helpende Hand vir my ʼn storie uit Die Gereformeerde Vroueblad van Junie 1972. Die storie handel oor die lewe van tante Maria Jacoba Oost soos deur haarself vertel ná haar 90ste verjaardag in Augustus 1971.

 Tant Miem se storie is tegerlykertyd kostelik, bemoedigend en leersaam. Ons leef vandag so ver verwyderd van die “oumense” se uitdagings terwyl almal van ons nie te lank terug nie sulke oupas, oumas, ooms en tannies in ons voorgeslagte gehad het. Hulle DNS loop nog dik in ons bloed.

Tant Miem was ʼn dogter van Maarten Adriaan Schalekamp en Anna Susanna Minnaar, gebore op 2 Augustus 1881 in die distrik Bronkhorstspruit. Maarten Adriaan was die stamvader van die Schalekamp-nageslag in Suid-Afrika. Hy is in 1864 deur Paul Kruger as onderwyser uit Nederland gewerf en het geboer in die Bronkhorstspruit-distrik op die familieplaas Spitskop.

Maarten Adriaan was besonder lief vir en getrou aan sy kerk – hy was onderwyser, ouderling, voorsanger en het in die Irene-konsentrasiekamp menige dienste en begrafnisse gelei. Die oorlogsjare van 1899 tot 1902 het hom ongelukkig liggaamlik en finansieel gebreek, maar sy krag as Christen was nooit gebreek nie en het hy met vreugde aan die einde van sy lewe verklaar: “Ek het die goeie stryd gestry – ek het die geloof behou”.

Tant Miem is met haar skoolkêrel, Jan Hendrik Gysbertus Koelman, getroud en hulle is deur ds. Petrus Postma in Pretoria in die huwelik bevestig – dieselfde dominee wat gedoop en belydenis van geloof laat aflê het.

Met die uitbreek van die oorlog in 1899 was sy ʼn onderwyseres by die skool op haar pa se plaas. Die Engelse het haar na die konsentrasiekamp by Irene gestuur waar sy agt maande gebly het terwyl haar man op kommando was “in belang van volk en vaderland”. Tant Miem se jongste suster, Cornelia Heiltje Schalekamp, het op 17-jarige ouderdom in die konsentrasiekamp aan masels gesterf. Sy was ook tot op haar sterfbed ʼn getuienis vir almal. Nadat sy Psalm 25:2 opgesê het, het sy op ʼn houtbedjie (deur haar pa aanmekaargeslaan van plankies) gesterf.

Tant Miem het Emily Hobhouse goed geken, sy het vir haar geld gegee om vir haar ʼn psalmboek te koop. Later is Tant Miem saam met ander kampbewoners per beestrok na die kamp in Howick gestuur, ʼn agt dae lange rit. Daar het sy ongeveer tien maande gebly.

Sy en haar man, Jan Hendrik Gysbertus Koelman, is ná die oorlog terug na hul afgebrande plaas by Bronkhorstspruit. Sy neem ʼn susterskind in haar sorg en maak haar groot. Koelman, ʼn alombekende voorganger, voorsanger en onderwyser in daardie dae, het ná die oorlog op die plaas begin skoolhou.

Die boeremense was uitmekaar gejaag en verneder, maar Koelman het groot werk ten opsigte van die onderwys gedoen: hy het op versoek gereis en drie maande hier en dan weer drie maande elders skoolgegee.

Nadat die skooltjie op haar pa se plaas herbou is, het hulle hom met skenkings soos hoenders, meel en mielies in stand gehou. Tant Miem vertel: “Ek weet nie hoe dit gehou het nie, maar die Here het gesorg in daardie donker dae, soos ook later.”

Hulle gaan woon by die Oppermans op Witpoort vir 18 jaar, waarna hulle Pretoria toe trek en haar man op 60-jarige ouderdom aftree en later oorlede is. As weduwee met al nege kinders nog ongetroud, het sy egter nie moed verloor nie. Sy verkoop 200 morg van die plaas Witpoort, maar behou die grond in die Bosveld. Sy koop ʼn paar koeie, melkemmers en -kanne, kry ʼn lisensie en begin melk verkoop. Eers in Garsfontein en later in Pretoria-Noord. Die melk word met fietse afgelewer. Sy werk hard, maak die kinders groot en voed hulle op.

Haar kinders word groot en trou. ʼn Jaar nadat haar laaste seun, Elias, getroud is, is sy en oom Harm Oost op 17 November 1951 getroud.

Tant Miem en oom Harm het mekaar jare geken. Hy was ook later parlementslid en vertel my pa hoe hy as kind kan onthou toe tant Miem en die belangrike oom Harm by hulle op die plaas in Marble-Hall kom kuier het.

Tant Miem het jaarliks saam met oom Harm Kaap toe gegaan en dit terdeë geniet dat oom Harm parlementslid is, want nou kon sy haar weer uitleef in die wel en weë van haar volk.

Tydens haar negentigste verjaarsdagvieringe verklaar sy dat sy dikwels in haar lewe moeite en verdriet gehad het, maar dat God haar nooit verlaat het nie.

Tant Mien se storie is uniek, maar ook die storie van die geslag waarvan sy deel was. Sy was deel van ʼn geslag Afrikaners wat hulle suksesvol gevestig het in die Zuid Afrikaanse Republiek, ʼn landelike gemeenskap wat besig was om die land te ontwikkel deur harde, eerlike werk en onderwys. ʼn Gemeenskap wat reusagtige verliese gely het, maar deurgedruk het – dit is die fondasie wat hulle gelê het wat toegesien het dat die Afrikaner hom in een geslag uit armoede kon ophef.

Vandag het ons gemeenskap opnuut weer uitdagings. Soortgelyke uitdagings, maar in ʼn ander tyd. In tant Miem se storie het ek vyf opvallende leerpunte my eie maak:

  1. Hul vryheid was in hul gebondenheid met God: Ons voorgeslagte het geleef in afhanklikheid teenoor ons Here wat ons redder is en vir ons lief is. Hy is met ons in die goed en die sleg van die begin af tot die einde. Hul getuienis moet ons van nuuts af aanspoor om in ʼn lewende verhouding met ons Verlosser te staan.
  2. Ons is nie slagoffers nie: Ons voorouers het die oorlog verloor, maar nooit slagoffers geword nie. Slagoffers gee op en verloor alles, maar ten spyte van wat met hulle gebeur het, het hulle nooit slagoffers van hul omstandighede geword nie.
  3. Ons moet ons droom vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms aan die suidpunt van Afrika as aansporing gebruik: Ons voorouers het aanhou werk vir dít wat hulle aangespoor het: ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms hier in Afrika. Hulle het nie besluite geneem op grond van sake wat hulle weggestoot het nie, maar op grond van ʼn droom wat hulle aangespoor het. Mens is geneig om weg te hardloop van slegte dinge, mense en vrese, in plaas daarvan om te hardloop na dít wat jou aanspoor.
  4. Hulle het hard geleer en gewerk: Deur skouer aan die wiel te sit en hard te werk, elkeen op sy gebied, het hulle gebou aan hul toekoms en nie daarop gewag nie. Onderwys het (tot in die konsentrasiekampe) mense toegerus en bemagtig. Op alle ander terreine is daar ook baie hard gewerk.
  5. Hulle was ʼn gemeenskap: Hul gebondenheid met hul Verlosser was hul eerste prioriteit, maar so ook hul gebondenheid in die gemeenskap waarin hulle geleef het. Ons krag lê in elkeen se bietjie. Ons is medewerkers en nie net lede van ʼn gemeenskap nie. In jou gemeenskap vind jy die vryheid om jouself te wees (dink maar aan jou ervaring en gevoelens in jou kerk, skool en vriendekring).

Ons voorgeslagte het alles in hul vermoë gedoen om ʼn toekoms vir ons te skep. Dit is nou weer ons verantwoordelikheid om toe te sien dat hulle dit nie verniet gedoen het nie en dat ons ook hard sal werk aan ʼn toekoms vir ons nageslag.

Mag elkeen wat haar storie lees, ook aangespoor word om hul voorgeslagte se stories te gaan naslaan en daaruit te leer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Henk Schalekamp

Henk Schalekamp is voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy en dien op die rade van Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Eiendomme en Solidariteit Finansiële Dienste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Pragtig, ‘n meer inspirerende verhaal sal mens seker nie kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.