Lesufi sê dit gaan nie oor taal nie…

Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys, tydens die bekendstelling van die provinsie se matriekuitslae aan die begin van 2019. Foto: Mariska Nanni

Deur Paul Maritz

Enige Afrikaanse ouer of skoolkind in Gauteng moes al die naam van die berugte LUR vir Onderwys gehoor het – Panyaza Lesufi. Dit is die einste man wat ʼn elektroniese stelsel wil probeer implementeer wat vir die regering die finale woord sal gee oor by watter skool ʼn graad 1- of graad 8-leerder geplaas moet word. Dit is die einste man wat vir sy departement die mag toeëien om te besluit wanneer ʼn skool nou eintlik vol is, en dit is die einste man wat vir homself die mag toeëien om enige skool wat volgens hom nie vol is nie, te vul – met enige kinders binne 30 kilometer van daardie spesifieke skool.

Hierdie drie reëls gee vir Lesufi ʼn monargiese hoeveelheid mag oor waar presies kindertjies sal skoolgaan. Tydens ʼn gesprek oor die toekoms van onderwys, wat op 3 Julie 2019 aangebied is, het Lesufi gesê dat dit nie oor taal gaan nie, maar eerder oor ʼn magdom ander dinge, soos toegang en gehalte. Hierdie tipe opmerking staan direk in teenstand met vorige opmerkings deur hom gemaak, soos dat hy nie kan verstaan waarom mense in Afrikaans wil skoolgaan nie, siende dat dit nie eens meer by universiteite aangebied word nie.

Hoe kan hy maak asof dit nie oor Afrikaans gaan nie? Hy wou dan aanvanklik nie hê taal behoort ʼn kernoorweging te wees wanneer daar bepaal word waar ʼn kind geplaas word nie. Dit spreek van óf vergeetagtigheid óf moedswilligheid.

Vir Afrikaanse ouers en jongmense wat van plan is om binnekort ouers van Afrikaanse kinders te wees, is die boodskap duidelik soos daglig – en die helderheid kom juis deur in dít wat nie bekendgemaak word nie…

Deur op alles behalwe taal te probeer fokus, as die kameras aan is en op hom skyn, wys Lesufi presies vir ons wat hy nie wil hê ons moet sien nie – en dit is juis taal.

Eie oplossings sal gemaak word, en hoe meer planne nou gemaak word, hoe kleiner sal die krisis wees as daar prontuit gestel word dat Afrikaans nou weg is. In Namibië was dit so eenvoudig soos ʼn jaarwisseling wat die einde van Afrikaans in verskeie staatskole beteken het. Lesufi mag dalk meer slinks wees as dit, maar dat hy ons moedertaal stelselmatig uit staatskole wil stoot, behoort vir niemand meer onseker te wees nie.

Die ouers en voornemende ouers behoort nie vir te lank in sak en as hieroor te sit nie – daar is werk om te doen, die tyd om moue op te rol en skouer aan die wiel te sit, is nou. Eie skole, skole wat aan die gemeenskap behoort, skole waar wêreldgehalteonderrig sonder jaloesie of onder politiek gebuk moet gaan, is wat ons soek. En dit is wat ons vir onsself moet bou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leonard van der Dussen ·

Dis reg, bou eie skole. En maak solank die skuif na die Afrikaanse privaatskole wat reeds bestaan. Selfs Sandton het ‘n Afrikaanse privaatskool, Centurion het meer as een, elders in Pretoria bestaan hulle in verskillende formate – maar hulle bly klein – terwyl die staatskole in dieselfde omgewings uit hul nate bars.

Jerry ·

Virseker dat julle waarborge het dat dit wat julle bou nie gevat gaan word nie, want as daar gekyk word na wat alles reeds gevat is en dit wat in proses is om gevat te word, dan is die kanse goed dat dit wat nou as die alternatief gebou word, uiteindelik ook gevat kan word!

sweis ·

Die leerder se ouers dra omtrent die totale kostes om hulle kinders in n skool te hou met n piesang kurrikulum en propaganda vir geskiedenis ,ons begin afrikaanse skole met internasionale standaard kurrikulum waar almal welkom is wat in afrikaans wil studeer onder duidelike reëls en dissipline en nie waar n rasistiese diktator voorskryf ongeag of dit nadelig is vir die leerders is of nie net solank hy sy haat vir afrikaans kan uitleef.

Andreas ·

sweis, as mens die afgelope tye kyk hoe mense soos hy, Zundzi Mandela, Me Van Damme, ag ons president, vele ander, ministers, en kyk ook maar na sekere uitsprake van die konstitusionele hof, dan moet die darem maar baie swaar wees om so aan jou laste te dra.

moedertaalonderrig ·

‘n Oorlewingsberaad net vir Afrikaanse skole, waar Lesufi as gasspreker optree. Hoe klink dit? Dan kan ons direk vir hom vra, watter ander motiewe het hy as hy se “dat dit oor veel meer gaan as net Afrikaans”. Ons sal graag uit sy eie mond wil hoor wat die dinge is wat hy nie se nie, behalwe toegang tot gehalte. Gefilterde inligting gaan ons nerens bring nie!

jaco ·

maar engels is dan ook n wit taal van onderdrukking. sover ek weet kom dit uit n wit landjie in Europa met die naam Engeland en is dit dwarsoor die british empire gebruik om teen ALLE inheemse tale te diskrimineer. Daardie british empire het op n stadium EEN DERDE van die wereldbevolking ingesluit, so dié onderdrukking in die Engelse taal was VEEL ERGER as die onderdrukking in Afrikaans. Iewers maak iets dus nie sin nie. iewers is dubbele standaarde.

John ·

?… almal moet welkom wees, tot 3 mnde later dan verkies hulle Engels as medium en ‘n anderskleurige onderwyser gaan huil omdat hy nie ‘n pos gekry het nie en dan brand die skool skielik een nag en… daar gaan ons alweer nowhere fast. Die land is onder die beheer van vandale. Punt.

Gert ·

Dankie Paul, jy slaan die spyker op die kop. Hierdie is ‘n kleinlike haatveldtog teen een etniese groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.