Lesufi se Orania-uitlating is ’n rookskerm

Deur Paul Maritz

‘n Skermskoot van Lesufi se twiet oor Orania.

“Ons kan nie ’n instelling hê wat gestig is op grond van taal nie.”

Hierdie opmerking, indien dit aan die belese Suid-Afrikaner voorgehou word, sal bykans dadelik geïdentifiseer kan word as ’n opmerking deur Panyaza Lesufi, berugte LUR vir onderwys in Gauteng. En dit is inderdaad ʼn opmerking wat Lesufi in die media oor Orania gemaak het.

Hierdie tipe opmerkings, wat enige taal- of kultuurverskille in Suid-Afrika ondermyn, en die bestaan van verskillende gemeenskappe wil ontken, word gewoonlik deur Lesufi uitgespreek oor skole, veral skole in Gauteng. Hierdie opmerkings word ook meestal na Afrikaans as taal, of na die Afrikaner as kultuurgroep gemik. Die uiteinde van sulke opmerkings is gewoonlik dat ons as taalgemeenskap warm onder die kraag raak, ʼn klomp dinge sê, en ongelukkig mis waaroor dit gaan.

Meneer Lesufi hou nie van Afrikaans in skole of instellings van leer nie, hieroor kan ons geen twyfel hê nie, hy het dit al in soveel woorde gesê. Wat ons wel konstant miskyk, is die tydsberekening van hierdie tipe opmerkings. Dit moes alreeds onraad wek dat Lesufi se opmerkings tydens ʼn kranslegging by die graf van die SAKP-politikus Harry Gwala gemaak is – ʼn graf wat aan die ooskus van die land in KwaZulu-Natal geleë is. Hoe is ʼn onskuldige dorpie in die Noord-Kaap enigsins relevant? Dit is juis die punt, dit is nie relevant nie. Dit is maar net ʼn rookskerm, soos so baie van dié berugte LUR se opmerkings oor die Afrikaner in die verlede.

Sy opmerkings, wat op 21 Junie vanjaar gemaak is, kom te midde van ernstige aantygings van bedrog rakende ʼn R30 miljoen-tender wat aan In2IT Technologies gegee is deur die Gautengse provinsiale regering, ʼn maatskappy wat toevallig tot baie onlangs R150 000 per maand aan Moroka Swallows, ʼn sokkerspan waarvan Lesufi ʼn eienaar is, as borgskap gegee het. Wat is dan ʼn beter rookskerm as Orania, ʼn dorp waarvan hy die narratief kan verf nes hy wil?

‘n Skermskoot van Lesufi se twiet oor Sol-Tech. .

Dit is ook nie die eerste, of selfs die tweede keer wat Lesufi hierdie taktiek probeer nie. Dink maar net terug aan die lente van 2019. Lesufi het die bekendstelling van Sol-Tech, Solidariteit se kollege vir beroepsopleiding, hewig gekritiseer, en verkeerdelik van rasse-uitsluiting beskuldig. Nadat Lesufi ernstig deurgeloop het onder die kritiek van sy sosialemediavolgelinge, veral omdat hy nie self nuwe dinge oprig nie, en net kritiseer waar dit wel gebeur, was Lesufi vir ʼn week of wat stil. En toe, ewe skielik, maak hy weer nuus met opspraakwekkende opmerkings oor ʼn ou Suid-Afrikaanse vlag wat na bewering tydens die Wêreldbeker-rugby in Japan gewapper het. Vinnig-vinnig is Lesufi daarop gewys dat dit ʼn moderne landsvlag was, wat maar net teen ʼn bepaalde hoek vertoon is.

Hier kom dit tog duidelik na vore wat sy taktiek is: Hy word gekritiseer, en in plaas daarvan om ʼn antwoord te bied, draai hy die fokus weg van homself en sy foute af. Let ook op die meganismes wat hy kies: Die ou vlag, Orania, Sol-Tech – hy soek na kwessies waar hy bykans seker kan wees dat sy opmerkings sal polariseer. Hierdie polarisasie, wat basies beteken dat jy of vir hom of teen hom moet wees, is ʼn tipiese taktiek van ʼn sosialis, wat geen gesonde weerstand sal duld nie, en konstant antirewolusionêre elemente wil vind en uitwys.

Hierdie selfde benadering kon gesien word in 2018 tydens die openbare verhore oor die aanlyn plasingstelsel vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge. Lesufi is gedurig gevra waarom die gehalte van onderrig in informele nedersettings so swak is, met sy antwoorde wat niksseggend daarop neerkom dat Afrikaanse skole of voormalige model-C skole nie hul speelgoed met al die maatjies wil deel nie.  Weer eens – hy beantwoord nie die vraag nie, trek ʼn polariserende kwessie uit die agtersak, en siedaar, niemand dink meer aan die eerste kwessie nie.

In die geval van Panyaza Lesufi moet ons voortaan, wanneer hy aanvallende opmerkings maak, nie mislei word en net kwaad raak oor sy opmerkings nie, ons moet ook dadelik begin rondkrap na wat dit is wat hy agter hierdie rookskerm probeer wegsteek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sarel ·

Wat van Engels , hy wil dan al,wat skoolin Gauteng verengels.—-Orania nie binne sy Jurisdiksie nie.

JohanR ·

My maat jy beter jouself ver weg hou van Orania af. Moenie met die Afrikaner neuk nie!

Jaco ·

Net 2 opmerkings:
1. Wat van kleurlinge wat Afrikaans praat. Daars BAIE van hulle. Hulle was slagoffers van apartheid, so hulle mag darem seker Afrikaans praat?
2. Weet Lesufi watse taal van onderdrukking Engels was? Dwarsoor die British Empire het wit Britte met allerhande wette in die Engelse taal mense links en regs onderdruk. As dit nie die geval was nie, vanwaar dan die liberation struggles in Indië, Kenia, Maleisië, Zimbabwe ens ens?

koos10 ·

Nogal ironies dat CR ook die DA en “Ilk” daarvan beskuldig dat dit juis is wat hulle doen, en dan gaan sy kaders lustig voort daarmee. Rol stene in die pad van die wat wil bou.
Lesufi gaan kyk self wat op Orania aangaan, want sien tot Nelson Mandela het daar gaan draai. Met jou middel naam van Hendrik, het jy dalk ‘n kans.

Porseleintjie ·

Lesufi…in suiwer afrikaans. Ons hou ook nie van jou en jou volgehoue rassisme nie. Persoonlik dink ek Lesufi is Afrikaans nie magtig nie vandaar sy hewige aanval teen ons taal.

Michael 1 ·

Waneer gaan n joernalis die moed hê om vir die genius te vra wat noem hy bee,kwotas gebaseer op velkleur en toegepas deur wetgewing van sy regering om te diskrimineer teen een groep mense in SA?

Pierreli ·

Dit gaan so as die wat aan bewind is clueless is. Ek glo nie in evolusie nie maar telke male glo ek wel daar was evolusie betrokke by die wat aan bewind is.

Adam Adriaan ·

Los die man. sy verdwaalde gedagtes hou homself so vas, hy gaan homself nog dood spartel.

madels ·

Ek is so bly om te lees dat nie almal aan die slaap is nie, mense begin nou sien dat veral Lesufi baie agter rookskerms skuil. Ons moet dit sien vir wat dit is, nie toelaat dat dinge ons kwaad maak nie

Pierreli ·

Hoekom kan ons nie ‘n instelling hê gegrond op taal nie. Ons Afrikaans sprekende mense het iets om op trots te wees, ons taal. Lesufi is clueless.

marius ·

Hy moet versigtig trap . Hy is nie nou besig met die skoot hondjies wat om ‘ n onderhandelings tafel gesit en hulself benat het nie .

Villie ·

Goeie artikel. … maar gee ons nie te veel aandag aan die irrelevante Lesufi nie? Hy word in die nuus gehou en belangrik in sy eie oë. Wonder maar net.

Africangrey ·

Haai, party mense is tydens apartheid gebore, ander is plain weg dom en onosel

Eclectus ·

Volgens worlddata.info word tale so gepraat in SA:
Zoeloe 22.7 %
Xhosa 16.0 %
Afrikaans 13.5 %
Engels 9.6 %
Sepedi 9.1 %
Tswana 8.0 %
Sotho 7.6 %
Tsonga 4.5 %
Swazi 2.5 %
Venda 2.4 %
Ndebele 2.1 %
Ander 2.0 %

So, minder as 10% van die volk praat Engels.

Dieselfde webblad dui ook aan SA se gemiddelde IK is 70, wat sorteer in die kategorie van matige verstandelike gestremdheid.

koos10 ·

Daai IK is in elkgeval hoër as die hele parlement s’n saam, en 7 keer hoër as die gemiddelde ANC ondersteuner s’n.

Vlooi ·

Dit is weereens ‘n bewys van mentaliteit. Die ironie is dat daar dalk in Orania meer suksesse is as in die hele SA onder ANC bewind. Voorts is hulle erg onder druk omdat daar nie enige vooruitgang of noemenswaardige suksesse is wat hulle kan voorhou nie, so eenvoudig kom ons speel die raskaart,
weereens. Die tyd is nou om elke Minister in hierdie land tot verantwoording te roep, hierdie sentimentele gebruik van apartheid raak uitgedien want dit is al waarop hulle terugval elke keer as hulle in die knyp is en hulle agter hulle maskers moet wegkruip vir foute gemaak..

Suzette ·

Lesufi – hou tog net jou mond want al wat daar uitkom is ‘n klomp vomeersel!

Dewald ·

Dis bietjie teen my natuur, maar ek dink Lesufi se uitsprake rondom Orania moet net ge-ignoreer word en nie verdere lugtyd gegee word nie. Dit sal stil-stil verdwyn soos wat maar die geval met meeste onsinnige dinge in die lewe is..

Africangrey ·

Ag asseblief, Los uit die mense, orania kry nie n sent van die regering nie, ek wag en sienj

Kokerboom ·

Die heer Lesufi en sy IIk sal altyd daar wees of as klippie in die skoen van die Afrikaans sprekendes wees. Hy dien as afleier van al die ANC droogmaak. Ons moenie toelaat dat hy ons ontstel maar sy tirades gebruik om te identifiseer wat sy spannetjie verdoesel en hom daarop aanvat. Deur sy onkunde stel hy sy en IIK se sondes bloot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.