Leuens bou ons toekoms: Wat gaan ons doen?

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Suid-Afrika het ʼn opgetekende geskiedenis deur geskiedskrywers van regoor die wêreld wat in biblioteke van verskeie lande gelees kan word.

Soos in ander lande is daar ʼn geskiedenis van stryd tussen verskillende groeperinge en volke, waar sommiges gepoog het om ʼn toekoms vir hulle en hul nageslag daar te stel. Vir ander was dit ʼn gegewe dat hul lewens- en wêreldbeskouing nie noodwendig was om die toekoms te skep nie, maar eerder die verkryging en behoud van mag. Sonder om in detail in te gaan, is dit regdeur die wêreld grootliks die tendens.

Soos in ander lande van die wêreld is daar geen bevolkingsgroep in Suid-Afrika wat daarop aanspraak kan maak dat alles in hul geskiedenis 100% volgens die norm geskied het waarmee bevolkingsgroepe mekaar sou wou meet nie. Indien dit die benadering moet wees om andere te beskuldig, gaan volke mekaar goed met wedersydse beskuldigings besig hou en kan ek dit amper waarborg dat daar geen konstruktiewe uitkoms sal wees nie.

Dit is dié dinge waaroor daar deur die eeue heen oorlog gemaak is.

Ons ervaar vandag in Suid-Afrika dat die ANC en verskeie ander rolspelers soos die EFF en BLF oor tyd heen ʼn verdraaide en misplaaste weergawe van die geskiedenis begin opdis het, asof dit die waarheid is. ʼn Nuwe weergawe oor hoe die geskiedenis van grondbesit ontsluit het, vind skielik beslag met geen geloofwaardige brondokumente om dit te staaf nie. Hierdie halwe waarhede en verdraaiings is nou al soveel keer oorvertel dat dit nou al as die waarheid geglo word. Dit is hierdie leuens wat tans die grondslag vorm van die aanslag teen grondbesit wat die ANC en ook ander in hul beleidsomgewing vergestalt en wat dan na die praktyk oorgedra word.

Hierdie leuens moet met die minagting wat dit verdien verwerp word, want stilswye impliseer die aanvaarding daarvan. Het ons almal nie te lank hieroor stilgebly nie? Ons moet meer konstruktief optree om te verhoed dat dit die norm word.

Die swart volke is net soos die wit mense, naamlik tweedegeslaginwoners in Suid-Afrika, en het inderdaad nie meer regte as wit mense nie. Wanneer daar beweer word dat sogenaamde foute van die verlede reggemaak moet word, sou dit dan beteken dat die swart volke wat vanuit die noorde van Afrika in Suid-Afrika inbeweeg en die Khoi en die San verdryf en vermoor het, nou die grond aan hulle moet teruggee? Andersins, het hulle dalk ʼn ooreenkoms of kwitansie om te bewys dat hulle die grond wettig gekoop het?

Die wit mense daarteenoor kan verskeie traktate en ooreenkomste toon (vandag nog) wat uitwys dat daar deurlopend gepoog is om grond, wat meestal onbenut was, op ʼn vreedsame wyse te bekom.

Wanneer ons oor die geskiedenis praat, is die aangewese en regte optrede om die volle geskiedenis te ontleed. Dan moet daar byvoorbeeld ook oor Mfecane gepraat word waar swart volke mekaar doodgemaak het, met die gevolg dat die Voortrekkers tydens die Groot Trek groot dele onbewoon gevind het.

Wat wel blyk te wees, is dat heelwat wit mense baie moeilik in hierdie opgemaakte geskiedenis sal kan inkoop, wat ʼn eensydige onwaarheid verkondig, en net so blyk dit dat sterk meningsvormers onder swart volke dit duidelik beklemtoon dat die opgetekende geskiedenis wat deur brondokumente ondersteun word, wat die wit mense tafel toe bring, nie vir hulle aanvaarbaar is nie.

Die vraag is wat die onderskeie volke in Suid-Afrika gaan doen om die dag van môre vir ons álmal se kinders ʼn beter dag te maak, terwyl ons baie energie en tyd aan die argument verkwis oor die geskiedenis en hoe grondbesit ontsluit is. Gewis gaan ons mekaar nie vind nie en sal die spanning net verder opbou. ʼn Toekomsgerigtheid om te werk om die dag van more ʼn beter dag te maak, is waaroor dit behoort te gaan. Dit verg ʼn verskeidenheid van aspekte wat positief ontgin moet word.

Groei word nie aangekondig nie, maar word verkry om die regte dinge reg te doen, sodat die markkragte dit kan evalueer en suksesvol bevind. Wêreldwyd word gesien dat lande waar die beginsel van privaatbesitreg en ʼn markgerigte ekonomie die ekonomiese model is, daar geleentheid vir welvaartskepping is. Natuurlik is daar ook risiko’s, maar diegene wat bereid is om die verantwoordelikheid wat die lewe van elk vereis na te kom, is gewoonlik in die posisie om ʼn beter lewe te skep. Daarteenoor kan die model wat die ANC nastreef se lyke van armoede en hartseer in die begraafplase van die geskiedenis gesien word.

Suid-Afrika het die skepping van welvaart nodig. By herhaling is dit al beklemtoon dat die enigste manier waarop dit kan geskied deur middel van ekonomiese groei is. Die beleidsomgewing van die ANC en die uitspeel daarvan in die praktyk skep gewis nie die regte klimaat wat die markkragte vir groei vereis nie. Die wyse hoe die ANC die land regeer (of eerder nie regeer nie) is die rede vir feitlik elke probleem wat ons tans ervaar. Kaderontplooiing het kundigheid weggedryf. Voeg daarby ʼn endemiese korrupsiekultuur en dan word die ineenstorting van funksionerende “alles” in die land logies verklaar. Die eerlike waarheid is dat die ANC se beleid in belang van al die mense in Suid-Afrika nie verder bekostig kan word nie. Dit is nou onbekostigbaar duur.

Die uiteenlopende verskille in kultuurbeskouinge tussen al die volke in al sy fasette plaas Suid-Afrika inderdaad in ʼn skaakmat situasie.

Diepgewortelde verskille in die onderskeie lewens- en wêreldbeskouinge bring mee dat die aangewese benadering veel eerder behoort te wees dat ons land in ʼn multinasionale federale bestel moet funksioneer. Dit is interessant hoe lande oor die wêreld vir ons probeer voorskryf oor hoe ons hier harmonie moet skep in ʼn een-mens-een-stem, sogenaamde “demokratiese” bestel. Stel dit teenoor hulle of hul bereid sou wees om byvoorbeeld in Europa al die grense af te breek en dat daar net een regering vir al die volke verkry moet word in ʼn bestel soos hulle van ons verwag om te doen, word daar baie vinnig ervaar dat so ʼn benadering totaal onaanvaarbaar sou wees.

Die kultuurverskille daar is minder as wat ons hier ervaar, maar hier word daar vereis om kleiner volkere ondergeskik aan oorheersers te maak – wie se waardes nie mee versoen kan word nie.

In belang van al Suid-Afrika se mense benodig ons ʼn nuwe bestel waarbinne elke volk homself kan wees, ten opsigte van dit wat hom van ander volkere onderskei. Dit is billik en korrek en ons behoort ernstig energie in daardie rigting te ontsluit om sodoende vir elkeen in kultuurverband die geleentheid te gee vir ontginning van die toekoms, soos waarmee hulle gemaklik is.

Solank die ANC met sy leuens oor die geskiedenis voortstu en dit nie omgekeer word nie, sal daar baie moeilik enige vordering gemaak word om vir die kinders van Suid-Afrika (in volksverband) ʼn beter toekoms te skep.

Die vraag is watter regsprosesse beskikbaar sou wees wat die nodige geloofwaardigheid intern maar ook internasionaal sal hê om die geskiedenis eens en vir altyd volledig te bevestig sodat die ANC ontbloot kan word vir die leuens wat hy verkondig. Dit is dalk noodsaaklik dat organisasies en individue hande vat om hierdie leuen oor die geskiedenis van grondbesit nek om te draai.

Solank ons toelaat dat die ANC met sy leuen voortstu, sal dit deurlopend hernude aanvalle op die besitregbeginsel na vore bring, wat veroorsaak dat Suid-Afrika en al sy inwoners ʼn pad van onsekerheid, armoede en potensiële konflik stap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marthinus W ·

My neef is n toergids. n Maatskappy vir wie hy gewerk het, word besit deur n Australier en n plaaslike Engelssprekende. Die swart toergids, n Zimbabwier, het soveel twak aan hul buitelandse gaste vertel, dat hy en my neef gedurig koppe gestamp het. (Ek hoef seker nie uit te brei nie.) My neef ken sy geskiedenis, en ek het van my boeke aan hom geleen, ter voorbereiding vir n toer. Weens hulle verskille, het die maatskappy nie my neef se kant gekies nie, en het hy eerder bedank.

Herman ·

Ek stem 100% met jou saam Bennie. Alle belanghebbende partye sal moet hande vat in hierdie verband. Die kuns gaan wees om dit aan die kadawers oor te dra. Sterkte.

Eendrag ·

Goeie berig. Leuns het begin to politisie hul voet op Afrika bodem geplaas het in 1652.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.