Lewende Afrikaanse monumente van hoop

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema.)

ʼn Paar jaar gelede daag daar onverwags ʼn besoeker by ons ou hoofkantoor in Braamfontein op. Hy keer my in die gang voor: “Ek het vir julle Yskor-opleidingsentrum se Afrikaanse tegniese boeke gebring”, sê hy.

Ek stap saam met hom af na waar sy Nissan in die straat geparkeer staan. Hy haal die seil af. Daar lê ʼn tiental bokse met handleidings vir die opleiding van vakmanne. “Ons moet nou oorskakel Engels toe,” sê hy. “Ek moes hierdie op die ashoop gaan gooi, maar ek kan nie my taal wegsmyt nie. Afrikaans is mos nie vuilgoed nie.” Ek knik instemmend, sien hy wil nog praat. Hy vervolg gekrenk: “Ons en ons taal word nou oral uitgeskuif.”

Ons kyk na die klein bakkie vol Afrikaans. “Wat moet ek hiermee maak,” vra ek. “Ek weet nie juis nie,” sê hy. “Miskien kan julle dit eendag gebruik.” Ons begin die bokse opdra terwyl ek hom verder uitvra. “Hulle gooi nie net Afrikaans weg nie,” sê hy. “Hulle wil ons ook uitskuif met rasseteikens.” “Maar julle is waarskynlik die beste vakopleidingsentrum in die land, sê-vra ek?” “Is die beste swart bemagtigting nie dat julle swart jongmense ook goed oplei nie?”

Hy trek sy skouers op. “Ja, maar transformasie het nou belangriker as goeie opleiding geword.”

Transformasie

Hierdie besoek was ʼn voorteken van wat daarna orals in die land gebeur het. Die ANC het aan bewind gekom met versekerings dat hulle swart mense regmatige regte gaan gee, sonder om onregmatig teen witmense op te tree. Tog het hulle net gewag tot hul stewig in die saal was voordat hulle met “radikale transformasie” afgeskop het. Dit het met die totale omskepping van die land volgens rasseformules begin, toe die wese van alle instellings totaal verander, en geëindig in ANC-oorname en die uiteindelike verval van daardie instelings.

Die transformasiegolf het soos ʼn tsoenami feitlik alles in sy pad platgevee. Kolleges, dorpe, staatshospitale, die polisie, openbare ondernemings soos Eskom en die SAL. Die staat het stuk-stuk verval en talle staatsinstellings het deurtrek van korrupsie geword.

Dit het gaandeweg vir almal wat wou sien duidelik geword dat die ANC nie sy rewolusie laat vaar het nie, maar dit onder die vaandel van “radikale transformasie” met staatsmag deurgedwing het. In plaas van die sukesvolle Jappanese resep van “restourasie”, het hulle weer die bewese mislukte Russiese model van rewolusie gevolg.

Opbouproses

By die MWU het ons vinnig gesnap dat die ANC se grondwetlike gerusstellings ʼn taktiek was om die mag te kry om hul rewolusie deur te voer.

Ek het sedert my studentedae in staatsleer besef dat die ANC steeds aan ʼn derdewêreld-ideologie vasklou, wat nie ʼn eerstewêreldland sal kan regeer nie. Die enigste verskil was dat hulle na bewindsoorname nie meer wapens gebruik het nie, maar wette. Die uitkoms sou egter dieselfde wees, omdat sosialisme oral misluk.

Ons het besef dat die ANC nie net wou sorg dat swart mense ingesluit word nie, maar dat hulle witmense gaan uitsluit. Hulle doel was nie net om swart mense te bevry nie, maar om witmense te verdruk. As nuutverkose hoofsekretraris van die eertydse Mynwerkersunie, het ek besef dat ons die organisasie tot ʼn moderne Helpmekaarbeweging sal moet uitbou. My eerste taak was om ʼn span op te bou wat die droom in praktyk kon omskep.

Ek kon belowende jong leiers soos Dirk Hermann, Kallie Kriel en Henk Schalekamp nie met hoë poste en groot salarisse aantrek nie. Ons het net ʼn droom gehad om mense te begeester, sonder die middele om dit uit te voer.

Ons klein Gideonsbende was destyds net “gewapen” met ʼn droom, maar het besef dat die alternatief ʼn nagmerrie sou wees. Daarom het ons saam met pioniers soos Piet du Plooy, Gerhard Ceroni en André Vermaak aan die werk gespring, met die geloof dat daar voorsien sal word. Daar ís voorsien.

Monumente

Ons het besef dat ʼn omvattende kulturele infrastruktuur gebou moes word wat Afrikaners in staat sou stel om in Afrika te oorleef. Nie om onsself af te sonder nie, maar om ons juis in staat te stel om hier te kan bly. Nie om ander uit te sluit nie, maar om seker te maak ons kinders word ook ingesluit. ʼn Mens bou immers ʼn huis om saam in ʼn woongebied van jou keuse te bly, en nie om jouself van jou bure te isoleer nie. Dis uit liefde vir jou gesin, nie uit haat vir jou bure nie.

Die groot uitdaging was om “staatsdienste” sonder staatsinkomste te lewer. Daarvoor het ons ʼn bladsy uit ons voorouers se suksesresep geneem. Hulle het “groot geld” met “kleingeld” gemaak, wat vandag skare-finansiering genoem sou word. Hoeveel miljoene koeksisters en pannekoeke en straatkollekte-pennies het in die arm jare nie gehelp om kolleges, skoolsale, kinderhuise, beursfondse, kerke, universiteitsgeboue, koshuise, monumente en taalprojekte die land oor te befonds nie?

Ons het ʼn hele beweging van selfhelp-organisasies begin as monumente van hoop. Die Solidariteit Helpende Hand is gestig, ʼn sakebeen, eiendomsmaatskappy, Sol-Tech, AfriForum, Akademia, Maroela Media, en later die Skole Ondersteuningsentrum, die SOS. Die eerste R120 miljoen wat nodig was vir Sol-Tech, het uit maandelikse R10-bydraes van duisende Solidariteit-lede gekom.

Ons het geen staatsubsidie of bydrae van groot maatskappye gekry nie. Boonop is tegniese opleiding peperduur, en sowat 7 000 studente het die afgelope jare rentevrye studielenings gekry by die Solidariteit Opleidingsfonds. ʼn Deel van die ledegeld word maandeliks daarvoor oorbetaal en deur die Helpende Hand se studietrust geadministreer.

Sol-Tech-beroepskollege is in die nagmerrie-jaar van 2020 op tyd en onder begroting voltooi. ʼn Naasliggende koshuis vir 400 studente word eersdaags gebou. Ons Afrikaanse taal en kultuur lééf weer daar! Daarna kom Akademia se nuwe kampus van meer as R2-miljard aan die beurt. Daarvoor het ons Kanton Eiendomme gestig, waarmee ons later vanjaar al ons lede en sakelui die kans gaan bied om te belê. Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal, wat ʼn billike geldelike opbrengs én ʼn kulturele dividend in die vorm van leefruimtes vir Afrikaans gaan bied.

Groeiende selfbestuur

Die ANC kon die land nie voor die Covid-19-krisis bestuur nie, hul kon dit nie in die krisis doen nie, en kan dit nog minder na die krisis doen. Staatsbestuur misluk, en selfbestuur is die enigste antwoord. Daarom gaan ons hierdie monumente van hoop uitbrei tot ʼn volledige kulturele infrastruktuur wat Afrikaners in staat gaan stel om blywend vry, veilig en voorspoedig te leef, en nie net te oorleef nie.

Dit sal ons in staat stel om ʼn bydrae tot die welstand van die land en al sy mense te lewer. Ons het lank genoeg vir die ANC gevra om ons goed te regeer. Hulle wil en kan dit nie doen nie. Daarom begin ons onsself bestuur deur sterk gemeenskapsorganisasies.

Wie nie vir sy eie toekoms sorg nie, kry die toekomskrummels wat ander vir hom oor los. Ons verwag meer van onsself. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sterkte Flip. Maar wees gewaarsku, julle is in die ANC se visier en staar enorme uitdagings in die gesig. Sake gaan rowwer word.

Sê maar net ·

Mag die Here julle almal seën sodat julle van krag tot krag sal gaan. Dankie vir die goeie werk wat julle doen; en vir ‘n toekomsvisie.

annie ·

Ons moet al die pad vir Afrikaans wees maar nie anti-Engels nie, sodat ons jongmense hulself kan handhaaf in buitemaatskappye en in die buiteland. Baie jongmense studeer in rigtings wat nie by Afrikaanse instansies aangebied word nie hul moet elders gaan werk, bv medies. Ons self sal, maar nie net vir onsself nie. Dringende hulp aan mede-Afrikaners word nodig. Heropleiding is ook ‘n opsie vir jongeres wat hul werk verloor. Werk daaraan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.