Lewenslange leer is die sleutel tot die toekoms

Daar gaan in die toekoms net twee klasse mense wees, naamlik ʼn betreklik klein groep van kenniswerkers en ʼn groot massa werkloses. Dit is die gevolg van die feit dat die wêreld van werk besig is om onherroeplik te verander.

Die moderne vorm van werk het met die Nywerheidsrewolusie twee eeue gelede ontstaan, wat tot die opkoms van masjiene en ʼn skerp toename in produksie gelei het. Dit het die Landboutydperk tot ʼn einde gebring, en gelei tot ʼn heeltemal ander era in die wêreldgeskiedenis, die Nywerheidsera. Hierdie omwenteling in die wêreld van werk het die hele samelewing omgekeer. Dit het gelei tot die opkoms van moderne state, -dorpe, -skole, -tegnologie, werkers, welvaart, ongelykheid, en ideologieë – in kort, dit het alles totaal verander.

Henry Ford

Die tweede Nywerheidsrewolusie was ʼn eeu later toe Henry Ford massaproduksie ontwikkel het. Waar die eerste Nywerheidsrewolusie oor nuwe masjiene gegaan het, het Ford se rewolusie oor nuwe prosesse gegaan. Hierdie rewolusie het weer gelei tot groot veranderinge, soos dat die “werkersklas” ook só deur die toename in produksie en welvaart bevoordeel is, dat hulle deel van die betreklik welvarende middelklas begin word het. Hierdie verskynsel het in werklikheid tot die einde van die Marxisme as ʼn faktor in die wêreldpolitiek gelei. Marx se werkersklasse het nou ook die goeie lewe begin ervaar, en meer aan hulle loopbane as aan rewolusie begin dink. Vakbonde het in hierdie era gehelp dat werkers deel in die groeiende ekonomiese koek wat hulle help bak het. Werkers het nou ook huise, motors, pensioene, opleiding en mediese sorg geniet. Die lewensstandaarde van werkers in kapitalistiese lande het dan ook die standaarde van werkers in sosialistiese lande hand oor hand verbygegaan.

Derde rewolusie

Maar nou is die derde nywerheidsrewolusie op ons, gedryf deur nuwe tegnologie en globalisering. Hierdie rewolusie is so groot, dat dit ook gesien kan word as ʼn totale nuwe era – die inligtingsera – wat die vorige nywerheidsera vervang. Maar hierdie tegnologiese sprong is baie groter as al die voriges. Waar die vorige masjiene die mens se spierkrag vervang het en die perd se oorheersing van die produksieproses beëindig het, vervang die nuwe geslag tegnologie die mens se breinkrag.

Dit is so gesofistikeerd dat dit net werk gee vir ʼn klein groepie hoogs geskooldes en gespesialiseerdes. Maar dit ontwikkel só vinnig dat selfs hierdie mense se kennis en vaardighede blitsvinnig verouder en dat hulle ook sonder werk en inkomste kan sit. Dis nie al probleem nie. Die opkoms van Oosterse lande soos China en Indië het gelei tot die massaverskuiwing van miljoene middelklas poste na hierdie lande, omdat die werkers daar arm, hoogs geskoold en produktief is, maar vir kleiner salarisse werk.

Einde van werk

Gewone werkers wat nie goed opgelei is nie, word dus ʼn bedreigde spesie. Die geweldige werkloosheid in Suid-Afrika is ʼn voorbeeld daarvan. Maar hierdie nuwe tegnologie raak so gespesialiseerd en verander en ontwikkel só vinnig dat selfs hoogs opgeleide mense se kennis vinnig verouder en uitgediend raak. Daarom gaan hierdie rewolusie die wêreld selfs meer grondliggend verander as die vorige omwentelings. Dit gaan lei tot die einde van werk soos ons dit geken het, sê die Amerikaanse ekonoom Jeremy Rifkin in sy boek The End of Work.

Ons kom uit ʼn era waar mens se lewe in fases verdeel kon word. Jy gaan skool, kry dan naskoolse opleiding wat eintlik jou hele werkslewe lank hou, en tree daarna af met ʼn welverdiende pensioen. Maar hoe gemaak met tegnologie en die werksplek wat blitsig verander, bly verander en al vinniger verander?

Lewenslange leer

Daar is net een antwoord vir lewenslange verandering, en dit is lewenslange leer. ʼn Mens kan nie opleidingsgewys meer “aftree” op 25 soos vroeër moontlik was nie. Dit bedoel nie ʼn mens hoef deurentyd grade en kwalifikasies te doen nie, solank jy deurlopend bly leer en nie stagneer nie. Dit beteken ook nie dat almal rekenaarspesialiste te word nie, maar dat jy in jou rigting op die voorpunt moet bly.

Dit gaan meebring dat die swaartepunt van opleiding gaan verskuif. Waar opleiding nou hoofsaaklik vir jongmense is, gaan dit toenemend ʼn lewenslange proses vir ouer mense ook word. Dit gaan die vorm aanneem van kort kursusse, selfleer en leer met behulp van nuwe tegnologie. Die belangrikste is dat mense nie net kursusse hoef te doen nie, maar self ʼn leeringesteldheid moet kweek en jouself voortdurend moet bly ontwikkel. Die klem gaan vir volwasse leer dus nie op kwalifikasies, kursusse en eksamens wees nie, maar om self verantwoordelikheid te neem vir jou eie kennis en ervaring.

Voordele

Die nuwe ekonomie gaan diegene wat lewenslange leer omhels beloon met ongekende geleenthede, groei en ontwikkeling, bogemiddelde inkomstes, en lae en kort werkloosheid. Maar vir die mense wat dink leer is eenmalig en net vir kinders, gaan dit ʼn wrede wêreld van armoede en werkloosheid wees. Daarom behoort verantwoordelike leiers alles in hulle vermoë te doen om hulle organisasies in lerende instellings te omskep, en ʼn lewenslange leerkultuur te bevorder – anders het hulle nie ʼn kans in ʼn era van globale mededinging nie.

Vakbonde sal ook by hierdie nuwe era moet aanpas of saam met hulle werklose swak opgeleide lede ondergaan. ʼn Vakbond kan met die hulp van stakings vir ʼn ongeskoolde werknemer ʼn 3% groter verhoging kry, maar as hy sy lede kan help om hulle opleiding te verbeter, kan hy hulle help om ʼn driemaal groter salaris kry – dus 300%! Op die lange duur bepaal bydrae vergoeding, en sal mense net kan verbruik wat hulle produseer. Kunsmatige staatsinmenging met beleidsrigtings soos regstellende aksie sal nie hierdie makro-neigings kan omkeer of stop nie. Kennis en vaardighede gee op die ou end die deurslag, en nie velkleur nie.

Volle vermoë verwesenlik

Daar is vir ʼn Westerse minderheidsgroep soos ons baie te leer uit die suksesverhaal van Singapoer. Die legendariese president van daardie eilandstaat – Lee Kuan Yew – skryf in sy boek “From Third World to First World” dat sy regering met onafhanklikheid in 1960 ʼn strategie vir oorlewing moes ontwikkel. Singapoer was ʼn bevolking van twee miljoen mense, tussen reuse soos Japan, Indonesië en Maleisië met ʼn gesamentlike bevolking van sowat 300 miljoen mense. Hulle het nie grondstowwe gehad wat uitgevoer kan word nie, en hulle derde wêreldbevolking was hulle enigste hulpbron. Die geheime resep waarmee hulle vorendag gekom het, was om elke mens op daardie eiland te help om sy of haar volle vermoë te laat bereik deur goeie onderwys en opleiding. Vandag is hulle een van die suksesvolste en rykste lande in die wêreld danksy daardie beleid.

Opleiding en tegnologie maak op vir hulle klein getalle, omdat dit die beste vermenigvuldiger van menslike vermoë is. Dit is ook hoe ons as ʼn klein Westerse minderheid op ʼn groot kontinent gaan oorleef – nie met ons getalle nie, maar met die gehalte van ons mense – soos die Britse ekonoom Schumacher dit uitdruk. Dít word deur opleiding en waardes bepaal. Minderhede teen wie daar op rassegronde gediskrimineer word, moet sorg dat hulle oor ʼn meerderheidskennis beskik. Daarom is opleiding die beste teenvoeter teen ʼn onbillike rassebeleid, en is lewenslange leer die sleutel tot ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Jo Scheffer ·

Vol punte vir die artikel. Ek is ‘n onderwyseres wat graag sal wil betrokke raak by ‘n aksie om kinders te help om hulle plek eendag in die werksomgewing vol te staan.

JCM ·

Die vraag is, wat gaan van die groot getal werkloses word. Hulle moet van iewers af lewensmiddele (kos, klere) kry om te oorleef. In die bogenoemde model gaan die werkloses net wegraak, verdwyn. Gaan net die opgeleides oorleef? Gaan die klein groepie kundiges vir die werkloses sorg?

Japie van Niekerk ·

Ek is uiters beindruk met die artikel en dink dat dit absoluut ‘n raakvat artikel is. Verder wil ek ook my waardering uitspreek teenoor Solidariteit vir die wyse waarop hul voortdurend ‘n bydrae maak tot die opheffing van ons volk en mense.

Ek gaan persoonlik hierdie artikel met my 13 jarige seun bespreek en dit ‘n familie besprekingspunt maak. Dit is my siening dat tegnologiese geletterdheid duidelik van primere belang is vir oud en jonk. Dit is so maklik deesdae met die beskikbare tegnologie om jouself nie net op hoogte te bring nie, maar ook te verbeter deur selfopleiding. Ons moet net meer leergierig word en die bronne tot ons beskikking beter benut.

Om saam te vat, ek dink ‘n tegnologiese vakrigting kan baie lonend wees vir jonger mense. Ek dink ook dit is van uiterse belang dat ons volksgenote, oud en jonk, dringend toegang kry tot die internet, rekenaars, Ipad’s en soortgelyke tegnologiese hardeware wat ‘n uitstekende leer medium is.

Is Solidariteit nie in staat om so ‘n inisiatief te loods nie, alhoewel ek bewus is dat die “brood en botter” probleem tans ‘n prioriteit is, is die opheffing van veral die kwesbares, net so ‘n groot prioritet.

My beskeie mening.
Groete en hou vol die goeie werk!

butch ·

Die reine waarheid – die enigste tragedie is dat as sulkes te sterwe kom, ‘n groot biblioteek van kennis afbrand en verlore gaan – kennis moet dus oorgedra word – dus is leer belangrik

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.