Liberale demokrasie is op die agtervoet

einde-padwerke

Foto: Frederick Tubiermont/Unsplash.com

Die bekende Amerikaanse skrywer en akademikus, Francis Fukuyama het in 1992 in sy boek The End of History and the Last Man die argument gemaak dat met die einde van die Koue Oorlog ’n soort einde in die ideologiese ontwikkeling van die mens plaasgevind het en dat Westerse liberale demokrasie die finale vorm van regering in die wêreld begin aanneem het. Vandag, byna drie dekades later, erken selfs Fukuyama dat wat in 1992 so logies gelyk het, nie meer die geval is nie. Liberale Westerse demokrasie is vandag op die agtervoet.

’n Mens moet heelwat begrip hê vir die politieke kommentators en akademici wat in die vroeë 1990’s geglo het dat liberale demokrasie vanuit die Weste oor die res van die wêreld sou spoel. Dit was duidelik dat die politieke, ekonomiese en sosiale konstrukte van Westerse demokrasie tot groot voordele, in veral Amerika en Europa, gelei het en dat talle lande uit ander wêrelddele daarna gesmag het om dieselfde voordele te geniet. Die liberalisering van ekonomieë in Oos-Europa en selfs Rusland, maar ook in Afrika en die Verre-Ooste, was voorbeelde hiervan.

Terwyl die einde van die Sowjetunie tot grootskaalse demokratisering in Oos-Europa aanleiding gegee het, was daar ook talle demokratiese suksesstories in Afrika in die 1990’s. Lande soos Benin, Zambië, Ghana, Kenia en Malawi het almal in die 1990’s veelpartyverkiesings gehou en grootliks gedemokratiseer. Vandag gebeur die teenoorgestelde in talle Afrikalande.

Verskeie studies toon tans dat die opkoms van Westerse liberale demokrasie wat die wêreld in die 1990’s beleef het, tot ’n groot mate tot stilstand geruk is en in baie wêrelddele selfs agteruit boer. Die beste bron oor die stand van demokrasie wêreldwyd, is sekerlik die Amerikaanse waghondorganisasie Freedom House wat jaarliks navorsing oor die stand van demokrasie in elke land in die wêreld doen.

Volgens Michael Abramowitz, die president van Freedom House, is daar reeds die afgelope dertien jaar ’n agteruitgang in demokrasie in die wêreld. Abramowitz het in die verlede senior regeringsposisies in die Reagan- en George H.W. Bush-administasies beklee.

Abramowitz is nie alleen in sy denke nie. Aan beide die linker- en regterkant van die politieke spektrum, skakel skrywers en kommentators die rooi ligte aan. Die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Madeleine Albright gee in haar boek Fascism: A Warning die opkoms van regse populisme die skuld vir die agteruitgang van demokrasie. Ook Johan Goldberg in Suicide of the West is oortuig daarvan dat demokrasie tans op die agtervoet is.

Hierdie kommentators is waarskynlik almal reg in hul denke dat liberale Westerse demokrasie tans krake in sy onaantasbaarheid toon. Die realiteit is egter dat politieke stelsels nog altyd verander het. Dit wys die wêreld se geskiedenis vir ons. Die huidige opkoms van identiteitspolitiek in Amerika en Europa, maar selfs in Turkye, Brasilië en talle Midde-Oosterse lande, is ’n natuurlike reaksie op die onsekerheid wat liberale demokrasie en toenemend diverse samelewings opgelewer het.

Liberale demokrasie sal waarskynlik oor die volgende paar dekades deur alternatiewe stelsels in verskillende lande vervang word. Minderheidsvolkere moet dit as ’n geleentheid sien en aangryp, terwyl gesonde demokrasiebeginsels steeds in stand gehou moet word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Vir my is dit vanselfsprekend dat “een man een stem” nooit kan werk in ‘n diverse land nie. Duidelik was dit nie vir die Kodesa-manne so ooglopend nie. Een man een stem lei onvermydelik tot meerderheidsoorheersing, dus onderdrukking van minderhede. Nou raak al hoe meer lande divers en land dan in hierdie dilemma.

John

Demokrasie impliseer basies menseregte en meerderheidsregering, soos in SA, waar die ANC telkens op beide die klem plaas. Wat is liberalisme nou eintlik? Die term is so wyd en diep soos die grote see vol haaie en gevare. Enige hoop dat minderhede ooit erens erkenning sal kry is ‘n dwarrel in die verte.

Charles

Mevrou Albright,soos alle ontnugterde elitistiese politieseheersersklas globaliste (marxistiese onrussaaiers,meester manipuleerders van Mense,geldwolwe en”die Neerbuigendes”);wat nie kan glo dat hulle tyd aan’t uitloop is nie;sit die pot ver mis! Neem nou maar as vb.die Britse Parlement en die”remoaners”daarin wat TEEN die direkte soewereintiteit v/d nasie-politiese begrip-nie die VOLK nie-Brexit wil laat inplof-hulle kan nie glo dat nasionalisme hulle van hulle ONVERDIENDE en knus sofas afgeskop het nie!So ge-olie is hulle as manipuleerders dat hulle die mense wil laat glo hulle het slegs ‘n keuse tussen ‘n “sagte brexit” of geen brexit-so bang is die vermetele politikuste vir ‘n “no deal”. Mens… Lees meer »

Thys

Demokrasie is waar jy elke 5 jaar vir n nuwe diktator kan stem. Ons almal weet tog na n verkiesing vee die regering sy *** aan die bevolking af. Nie net hier nie, maar heel waarskynlik in baie ander lande ook.

Ronnie

Jaco, help asseblief. Wat presies is “liberale” demokrasie. Sou dit “konserwatiewe” demokrasie wees? Of as ek nou die kat aan die stert beet het, wat is die alternatief vir “liberale” demokrasie”. Dit sal ook help om te weet wat is die kenmerke van “liberale” demokrasie. Beter nog, is daar spesifieke lande wat “liberaal” demokraties is?

Ek weet werklik nie. Ek sal waardeer as jy kortliks kan verduidelik of dalk meer breedvoerig in ‘n volgende artikel.