Liberale versus konserwatiewe

danie-goosen-fak

Prof. Danie Goosen is die voorsitter van die direksie van die FAK. Foto: Verskaf.

Deur prof. Danie Goosen

Verskeie kommentators het die afgelope tyd die liberale gedagte as die antwoord op Suid-Afrika se probleme voorgehou. Is die liberale gedagte egter die oplossing? Net soos die sosialisme word dit immers ook deur ernstige probleme gekenmerk.

Om hierdie vrae te kan antwoord, sal ons nie hieronder vanuit ’n neutrale denkraamwerk skryf nie, maar eerder vanuit die klassieke konserwatiewe gedagte. Dit wil sê dié gedagte soos wat dit onder meer deur Edmund Burke in die 18de eeu en Alexis de Tocqueville in die 19de eeu ontwikkel is. Waarom? Omdat die klassieke konserwatiewe denke steeds die groot alternatief op sowel die liberale as die sosialistiese tradisies verteenwoordig.

Ons verwys puntsgewys na slegs enkele gebreke in die mondering van die liberales.

  1. Begripsverwarring

Ter wille van helderheid is dit belangrik om daarop te wys dat die begrip “liberaal” ʼn veelheid van betekenisse het. Nogtans verwerdig hedendaagse apologete van die liberale gedagte hulself kwalik om te verduidelik wat hulle presies daarmee bedoel.

Verdedig hedendaagse liberale die opvattinge van liberale figure soos John Locke en Thomas Jefferson uit die 17de en 18de eeue? Of verdedig hulle die opvattinge van die liberale progressiewes uit die 19de en 20ste eeue? Of die opvattinge van diegene wat vandag in sowel die VS as Europa as links-liberaal bekend staan? Of sluit hulle aan by die neo-liberales wat ter wille van ongehinderde handel in die globale markte met lokale, kulturele, talige of godsdienstige grense wil wegdoen?

  1. Wêreldwye kritiek

Is liberale in Suid-Afrika hoegenaamd bewus van die wêreldwye – en dikwels vernietigende – kritiek wat vandag teen die verskillende vorme van die liberale denke uitgespreek word?

Liberale gee min blyke daarvan dat hulle van hierdie kritiek bewus is. In die mate waarin hierdie waarneming waar is, kontinueer liberale ’n oeroue tendens onder (ook verskeie Afrikaanse) kommentators om parogiaal oor ons toestand na te dink. Wat elders gedink word, het volgens hulle nie op ons betrekking nie. Daarmee loop liberale denkers egter die risiko om hulself – ondanks hulle sogenaamde liberale openheid – in ’n dogmatiese kokon terug te trek.

  1. Konstitusionele regering

Wanneer liberale poog om te verduidelik wat hulle met liberaal bedoel, verwys hulle dikwels na dinge soos beperkte regeringsmag, die skeiding van magte, ʼn konstitusionele regering, demokratiese instemming en die belangrike rol van die vrye mark. Liberale het egter nie alleenreg op dié dinge nie. Klassieke konserwatiewes aanvaar dit ook as belangrike uitgangspunte.

Patrick Deneen wys in sy epogmakende Why Liberalism Failed met reg daarop dat die oorspronge van genoemde uitgangspunte nie by die liberale denke self lê nie. Die oorspronge van onder meer begrippe soos die skeiding van magte en ’n konstitusionele regering kan veel verder terug in die verlede opgespoor word, tot selfs in die hart van die Middeleeue. Vanuit hierdie gesigspunt beoordeel, het konserwatiewes, wat hulself op die gesag van die verlede en die belangrikheid van ervaring beroep, selfs ’n groter aanspraak op genoemde uitgangspunte.

  1. Hiper-indiwidu

Die liberale denke gaan reeds vanaf sy vroegste oomblikke mank aan ʼn gebrekkige beskouing op die mens. Liberales gaan uit van die gedagte dat die mens per definisie as ’n soort onverbonde indiwidu (of ’n hiper-indiwidu) verstaan moet word.

Nêrens word dié beeld op die mens in die letterkunde beter uitgedruk nie as in die karakter Robinson Crusoe wat hom gestrand op ʼn afgeleë eiland bevind het. Daniel Defoe, die skrywer van dié bekende verhaal uit 1719, het dié alleen-toestand van Crusoe as ʼn probleem ervaar. In die liberale denke word dit egter as ’n beskrywing van die oertoestand van die mens self aanvaar: Die mens as ’n eiland.

Volgens konserwatiewes is dit egter ’n fiktiewe opvatting van die mens. Ons is altyd deel van ’n veelheid van gemeenskappe: gesinne, families, stamme, lokale gebiede, ensovoorts. Nog meer, ons het as indiwidue nie ʼn toevallige verhouding met hierdie gemeenskappe nie. Nee, ons word deur hulle gevorm. Sonder hul vormende invloed kan ons kwalik volwaardige mense word.

Liberale toon steeds weinig begrip hiervoor. Veral onder neo-liberales blyk hierdie onbegrip uit die verregaande opvatting dat die mens self hul gemeenskappe kan kies (eerder as dat ons in vele opsigte deur ons gemeenskappe moontlik gemaak word).

Daaruit moet nie afgelei word dat konserwatiewes die belangrikheid van die indiwidu misken nie. Indiwidualiteit is vir klassieke konserwatiewe denkers belangrik. Gemeenskappe is egter die bedding waarin die vrye, skeppende en denkende indiwidue na vore kan tree. Wanneer dié gemeenskappe ontbreek, het ons met sosiaal-ontwrigte verskynsels soos vereensaming, sosiale afguns en minderwaardigheid, disintegrasie, misdaad, armoede en die verlies aan ʼn verantwoordelikheidsin te kampe – juis dié dinge wat vandag ook kenmerkend van die plaaslike toestand is.

In die mate waarin liberale steeds van die indiwidualistiese beskouing op die mens uitgaan, werk hulle mee aan die vernieling van ons gemeenskappe. So skep hulle, ironies genoeg, omstandighede waarin die indiwidu juis nie tot sy of haar reg kan kom nie.

  1. Abstrakte teorie versus ervaring

Een van die grootste historiese verskille tussen liberale en konserwatiewes handel oor die verskil tussen “abstrakte teorie” en “ervaring”. Liberale is geneig om die politieke werklikheid (soos, terloops, ook sosialiste) met ’n beroep op abstrakte teoretiese dinge soos menseregte, kunsmatige gelykheid en oneindige groei te benader. Konserwatiewes lê daarenteen klem op ons gemeenskaplike ervaring: Wat het die ervaring ons geleer? Word ons politieke ideale deur ons ervaring ondersteun? Indien dit nie so is nie, is ons bloot besig om lugkastele na te jaag. Nog meer, ons ongetoetste ideale, sê konserwatiewes, kan tot geweld aanleiding gee.

Laasgenoemde punt het duidelik uit die Franse Rewolusie geblyk. Liberale soos Thomas Paine het destyds met groot entoesiasme die Rewolusie gesteun. In teenstelling daarmee het Burke, ’n tydgenoot van Paine, aangevoer dat die abstrakte ideale van die rewolusionêres nie net ervaringsgewys ongetoets is nie, maar dat dit uiteindelik tot omvattende vorme van geweld sal lei.

En hoe reg was die konserwatiewe Burke nie! Die bloed wat destyds in die kabbelsteenstrate van Parys gevloei het, was ’n direkte gevolg van die abstrakte en ongetoetste teorieë oor gelykheid, regstelling, ensovoorts, wat rewolusionêre (met die ondersteuning van hul liberale broers) op die werklikheid afgedwing het.

Is hierdie punt ook vandag vir ons ter sake? Ons het nie die tyd om breedvoerig hierna te verwys nie. Nogtans is dit noodsaaklik om by ’n saak stil te staan wat Afrikaners as kultuurgemeenskap ten nouste raak.

Die bestaande grondwetlike bedeling is, ondanks enkele uitsonderinge, op die abstrakte en ongetoetste uitgangspunte van die liberale indiwidualisme gebou. Ter ondersteuning van dié uitgangspunte het verskeie liberale akademici vanaf ten minste die vroeë 90’er jare op ’n abstrakte wyse aangevoer dat indiwiduele regte voldoende sou wees om vir gemeenskappe in te tree. Beskerm die indiwidu, het die ongetoetste argument gelui, en dit sal ook tot voordeel van gemeenskappe strek.

Vandag kan met reg aangevoer word dat die geskiedenis van die afgelope dekades hierdie lugkasteel-denke volledig weerspreek het. Ondanks die liberale klem op indiwiduele regte is Afrikaners sedertdien op ʼn bykans brutale wyse aan die staat se totalitêre program van verteenwoordigendheid onderwerp – dit wil sê dié program ingevolge waarvan Afrikaners verbied word om in enige sfeer van die lewe (skool, universiteit, besigheid, landbou, ensovoorts) hoegenaamd seggenskap oor eie sake uit te oefen. Indiwiduele regte is eenvoudig met minagting opsygeskuif.

Waarom het die staat daarin geslaag? Een van die belangrikste redes daarvoor is omdat gemeenskappe nie net hulself by wyse van ’n beroep op ’n abstrakte ding soos indiwiduele regte kan beskerm nie. Gemeenskappe moet ook (en dit leer die ervaring) oor voldoende konkrete gesag oor eie instellings – Burke se “little platoons” – beskik om hulself teen die aansprake van die staat te verweer.

  1. Staat en indiwidu onlosmaaklik verbind

Liberales voer dikwels aan dat hulle ’n klein of selfs glad nie ’n staat wil hê nie. En die rede daarvoor, sê liberale, is dat die staat ʼn bedreiging vir die indiwidu verteenwoordig. Daar heers ’n gespanne verhouding tussen die staat en die indiwidu, daarom moet die gesag van state inkort of self opgeskort word.

Dit verteenwoordig egter ’n enorme wanvoorstelling van wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Verskeie konserwatiewe denkers (vanaf Alexis de Tocqueville tot en met Robert Nisbet en Pierre Manent) het reeds met groot oortuiging aangedui dat die liberale indiwidu ironies genoeg juis in die moderne geskiedenis van die staat afhanklik is. Histories gesproke vooronderstel hulle mekaar. Waar ook al liberale op die belangrikheid van die indiwidu klem lê, het dit met ’n eweredige klem op die belangrikheid van die staat gepaard gegaan.

Waarom? Omdat die liberale indiwidu telkens weer die regs- en administratiewe raamwerk van die staat nodig het waarbinne hy volgens sy eie indiwiduele voorkeure kan lewe. Kortom, dit is ’n fiksie dat die staat die groot vyand van die indiwidu is.

Waarom is hierdie konserwatiewe kritiek vandag so belangrik?

Een van die grootste uitdagings wat vandag aan Afrikaners gestel word, is om hulle sover as moontlik uit die greep van die vyandige en falende staat te ontworstel. In die mate waarin Afrikaners hulself egter van die staat afhanklik stel, in daardie mate sal hul steeds minder in staat wees om weerstand teen die vyandige en falende staat te verweer.

Positief gestel, Afrikaners sal toenemend self verantwoordelikheid vir hulself as gemeenskap moet aanvaar. Hoe? In die antwoord hierop blyk nogmaals die groter gesag van die konserwatiewe bo die liberale gedagte.

Volgens die konserwatiewe antwoord moet ons nie in die eerste plek ons op die indiwidu en haar regte beroep nie (alhoewel dit uiteraard nie onbelangrik is nie). So ’n beroep knoop ons willens en wetens net verder aan die einste staat vas. Ons moet eerder ons toevlug tot dinge soos selfstandige instellings (nogmaals, Burke se “little platoons”), gekonsentreerde gebiede en selfs ʼn eie stad neem.

Hoe sterker dié dinge word, des te meer word ons in staat gestel om onsself teen die staat te verweer. Nog meer, des te sterker word ons in staat gestel om ʼn eie lewe te voer wat deur vryheid, veiligheid en voorspoed gekenmerk sal wees. Nie die staatsafhanklike liberale teorie nie, maar die konserwatiewe ervaring met sy sin vir konkrete instellings en plekke stel ons daartoe in staat.

  • Prof. Danie Goosen is die voorsitter van die FAK se direksie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Charles ·

Sjoe, uitstekend!

Ek wil net graag byvoeg: Die linkses se einddoel is die vernietiging van die gesins-eenheid, te wete die kern van weerstand teen verval, vir onafhanklikheid en teen onderdrukking, die kern vir groei en gesonder waardes, asook die kern van die Westerse Joods-Christelike tradisies en norme. In die VSA is die herrysenis en heropkoms van die gesin aan’t gebeur (asook in Orban se lieflike Hongarye, waar gesinne deur subsidies beloon word indien hulle drie kinders of meer baar), en Pres. Trump en die GOP is aan die voorpunt van die rewolusie.

Tweedens, die huidige verval en vernietiging van die Weste (en herrysing daarvan uit die as van wanhoop !! -sien Orban, Trump, Salvini, Bolsonaro e.a. ) voer ek aan kan teruggevoer word na die bloedige en links-ekstreme Franse Rewolusie- daar het die Mens gehaal en al die kluts kwyt geraak. Ons moet dus werk om die skrikwekkende gevolge daarvan om te draai- die weerstand vanaf die Romantiek teen die links geïnspireerde gedagtes en dogmas van die verligting (wat uitgedraai het om alles behalwe “verligting” te wees) was nie genoeg nie! Dankie.

Jerry ·

Wat ismes so gevaarlik maak is dat dit gekaap word na gelang van die motiewe soos bv “konserwatisme” vir uitsluitlik die beskerming teen uitwissing van n sekere kultuurgroep of ras en “liberalisme” vir uitsluitlik die vermenging van diverse groepe vir die uitwissing deur vermenging van spesifieke kulture of rasse en die skep van n nuwe kultuur of rasgroep. Hoe dit ookal sy, ismes kan die denkraamwerk wat vir n spesifieke veranderde situasie geld, so besoedel dat dit te voorspelbaar raak en nie langer langtermyn lewensvatbare oplossings bied nie. Daar is by uitstek by al die ismes altyd n duistere motief of twee wat spreekwoordelik die dinges in die drinkwater raak! Sonder uitsondering het die verskillende ismes in SA, vir soverre dit benadeling, bevoordeling en bedreiging aanbetref, alles met ras te doen. In SA sit jy met n sosialistiese swart mag beweging, n liberale diverse mag beweging en n konserwatiewe wit mag beweging. Al drie die bewegings se denkraamwerke is so ideologies besoedel deur wantroue en bevooroordeling dat die een nie die ander n plekkie in die son kan of wil gun nie. Onbesoedelde denkraamwerke met lewensvatbare oplossings vir die verskillende isme uitdagings in SA, is egter nie meer moontlik in SA nie. SA het reeds verby daardie draaipunt beweeg!

John ·

Sekere filosowe glo dat godsdienstige waardes of die afwesigheid daarvan ideologieè temper, al ontken mense dit gereeld. Die Bybel teken die verloop van die Joodse geskiedenis aan, gestel teen die Hemelwette wat vroeg reeds as absoluut aangedui is en die verval, sou dit geìgnoreer word. Selfs ateìste glo in iets en gee iets die skuld as dinge verkeerd loop. Beeldaanbidders se ideologie is deurspek met lekkergeloof. Totempale se domein is destyds reeds gerespekteer want die praktyk het dit afgedwing.

Jerry ·

Die probleem met alle ismes in SA is dat dit rasbehep en rasgedrewe is. Sosialiste in SA is hoofsaaklik n swartmagbeweging, vandaar die swart gebalde vuis. Die liberaliste is diverse rasse vir vermenging en skep van n vermengde ras. Die konserwatiewes is hoofsaaklik n witmagbeweging, vandaar die wit gebalde vuis. In SA is rasmotiewe die oorsaak van verdrukking met gepaardgaande rasmotiewe vir weerstand wat aan die orde van die dag is. Rassekonflik wink dus omrede die denkraamwerke besoedel is met teenoorgestelde ismes en die se rasgedrewe motiewe! SA benodig leiers wie nie n rasmotief het nie en wie se denkraamwerk nie besoedel is met ismes nie! Op die einde van die dag bly Suid Afrikaners hulle eie grootste vyand omrede hulle verskillende rasgedrewe ismes en motiewe, net groter wordende wantroue, haat en onverdraagsaamheid tot gevolg het!

humor ·

Henning jy het nou iemand die regte antwoord gegee. Hierdie neutralisme lei tot gryse idendtiteitslose massa met n doellose rigting waarin daar geen progressiewe ontwikkeling is nie. Daarom het sosialisme reeds in sekere lande tot stilstand geknars.

Johan ·

N Uitstekwnde spreker, Paul McGuire, se dieselfde as jy al vir jare. Luister gerus na hom. Jy sal hom geniet.

thinus erasmus ·

Prof. Danie baie dankie. Sê ek nog die heeltyd dat die bedoeling van konserwatisme in die eerste plek en belangrikste is: om die goeie te bewaar. Daar sê die Engels dit so mooi conserve/ conservation – daar is die oorsprong van die edel en mooi ideologie. Dis nie net ń rasgedrewe -isme nie, dit is ń universele beginsel van bewaar dit wat jy het en verbeter dit – dan verseker jy jou en jou nageslag se toekoms.

Helgard Muller ·

Roger Scruton maak veral die punt as hy gevra word om die konserwatisme te verduidelik. Daar is ook die wanopvatting dat konserwatisme teen verandering en hervorming is – iets wat baie min konserwatiewe skrywers argumenteer. Juis omdat die uitgangspunt eerder is hoe ons kan behou wat werk en kan leer wat ons moet verander / herform uit die verlede.

Valerie ·

As julle verval (behalwe in SA) in aksie wil sien, gaan net vir ‘n maand lank Kanada toe. Die liberale humanistiese stelsel vernietig alles wat sin maak in sy pad, en die eerste Minister, die papbroekige Justin Trudeau is nes sy pa . . . slap in alles. Ek was geskok met my laaste besoek.

Helgard Muller ·

Uitstekend! Baie van dieselfde punte gemaak op ‘n paar forums onlangs wat gewild is onder ons klassieke liberale en “libertarians” (Afrikaans?). Veral RSA se eie klassieke liberale kan bietjie harder gaan dink oor hul eie tradisie en die geskiedenis van idees. Iets soos die Skotse lyn van klassieke liberalisme het baie meer ingemeen met konserwatisme. Egter, soos alles, speel die spesifieke kultuur en geskiedenis ‘n belangrike rol (kyk maar na “konserwatisme in VSA vs Brittanje) en raak dinge baie meer ingewikkeld hoe dieper jy krap.

Maar ja – perfek in terme van die kwessies wat aangespreek moet word. En dink ‘n samevoeging (fusion?) van konserwatisme en liberalisme werk die beste solank daar ‘n gesonde balans is.

Nico ·

Dankie tog, ‘n fakkel in die wind. Liberalisme is nuwe godsdiens in Weste. Tyd om ‘Du contrat social” wat so deur Jean-Jacques Rousseau afgebreek is weer te oorweeg terwille van die gemeenskappe. Dalk te laat vir Melkel en EU. Vandag is die vernietigende effek van Franse revolusie nog steeds meer sigbaar as die 2 wêreld oorloë saam. Die ‘Adel’ was tog net mense met meer inisiatief as die res. (paar vrot appels is ook altyd aan alle kante)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.