Liberales se vreemde beheptheid met bespotting

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Hedendaagse liberales het ’n eienaardige fassinasie ontwikkel met die noodsaak om die spot te dryf met dié van wie hulle verskil.

Daar is komponente van liberalisme waarmee ek graag vereenselwig. Liberalisme se pleidooi vir ’n klein regering wat nie mikrobestuur toepas nie en die beklemtoning van vryheid is maar twee voorbeelde hiervan – hoewel ek van die liberale idee van verabsoluteerde keusevryheid verskil.

Baie liberales se oneerlikheid as dit by die idee van verdraagsaamheid kom, steek my egter dwars in die krop. Selferkende liberales roem graag daarop dat hul ideologie een van verdraagsaamheid is. Tog blyk dit een van die onverdraagsaamste ideologieë te wees. Terselfdertyd roem baie liberales daarop dat hulle veg vir die reg om dié van wie hulle verskil in die openbaar te spot en as onnosel of belaglik te etiketteer.

Een Suid-Afrikaanse skrywer wat gereeld in liberale kringe geprys word, het byvoorbeeld onlangs op Twitter deurgeloop nadat hy ’n reeks twiets gepubliseer het waarin hy die spot met God en gelowige mense oor die algemeen dryf. Daarna het hy ’n artikel gepubliseer waarin hy sterk standpunt inneem vir die noodsaak om mense te spot as jy van hulle verskil. Sy argument is basies dat dit vir ons nodig is om mekaar bespotlik te maak as ons as samelewing vorentoe wil beweeg. So verdraagsaam!

Natuurlik moet ’n mens die reg hê om ander te spot – dit is hoe spraakvryheid werk. Vir daardie reg moet ons baklei. Om te baklei vir die reg om mense te spot, is egter nie dieselfde as om te baklei dat dit nodig is om mense te spot nie – ’n punt wat sommige liberales klaarblyklik nie verstaan nie. Ons kan ook toegee dat daar ’n waarde daarin kan wees om die spot te dryf. Om ’n belaglike argument of gedrag uit te wys vir wat dit is of daaroor te spot, is nie dieselfde as om die spot te dryf met iemand se waardestelsel nie. As jy jouself wil posisioneer as die fakkeldraer vir die noodsaak om die spot te dryf met dié van wie jy verskil, sê dit meer van jou as van jou opponente.

Dit is hier waar konserwatiewe waardes en liberale waardes se paaie skei – en waar ek myself graag eerder as konserwatief sal beskryf. Liberales plaas die vryheid van die individu om te doen wat hy wil bo alles. Konserwatiewes plaas die fokus op die behoud van kultuur, waardes en tradisie. Die konserwatiewe idee van vryheid wentel rondom vryheid van verwesenliking: Dit is die vryheid om op deelnemende wyse binne in jou gemeenskap na die goeie te strewe met die oog op die verwesenliking daarvan.

Beide spruit uit die Westerse beskawing, wat sy wortels in Jerusalem (geloof) en Athene (Westerse filosofie) het. Jy hoef nie ’n gelowige te wees om met die Westerse beskawing te assosieer nie. Dit verander egter nie die feit dat die beskawing grootliks op die gedagte gebou is dat daar ’n wese bestaan wat groter as onsself is nie.

Die een denkgroep streef daarna om die wortels van die beskawing te herontdek en te vernuwe. Die ander wil die wortels vernietig en die spot daarmee dryf. Hierdie meningsverskille was deur die eeue sigbaar. Dié wat die wortels van die beskawing wou bewaar se denkers was John Locke, Edmund Burke, Alexis de Tocqueville en Aleksandr Solzhenitsyn, om net ’n paar te noem. Dié wat die wortels wou vernietig se denkers was, onder andere, Thomas Hobbes, Jean-Jacques Rousseau, Francis Bacon en John Stuart Mill. Ons sien dit vandag nog in debatte soos dié van Jordan Peterson teenoor Sam Harris, of Douglas Murray teenoor Mehdi Hasan, of Niall Ferguson teenoor Fareed Zakaria. Die teikening van Roger Scruton, die konserwatiewe filosoof, deur die liberale tydskrif The New Statesman is waarskynlik die mees onlangse hoëprofielvoorbeeld hiervan.

En hier lê die eerste ironie van liberalisme: Liberales dryf graag veldtogte teen konserwatiewe instellings soos die gesin, die kerk, kultuur en tradisies, maar hulle staan klaarblyklik blind teenoor die feit dat die individualisme waarvoor hulle hulself so aggressief beywer, juis die gevolg van hierdie instellings is en daarsonder nie sou gewees het wat dit vandag is (en wat hulle so koester) nie.

Ek beskik oor ’n bepaalde waardestelsel. Dit is een waarop ek trots is en een wat ek koester. Ander mense het ander waardestelsels – ander gelowe, ander kulture en ander tradisies. Ek dink hulle is verkeerd, maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat ek dit nie as goed of nodig ag om die spot te dryf met mense omdat ek van hul waardestelsels verskil nie.

Die applous wat ’n liberale skrywer onder sy medeliberales kry wanneer hy die spot met Christene en gelowige mense oor die algemeen dryf, en dan aanvoer dat dit goed is as ons mekaar bespot, is bewys van die benarde situasie waarin liberalisme homself vandag bevind. En ek praat nie hier van die mal liberales nie, maar ook van mense wat hulself as klassiek liberaal beskryf – die tipe liberalisme waarmee ek in baie opsigte assosieer.

’n Tweede ironie is dat hierdie tipe liberalisme sterk godsdienstige trekke toon. Die verabsoluteerde opvatting van keusevryheid – en die aggressiewe ateïsme wat dikwels daarmee saam kom – is vir alle praktiese doeleindes ’n vorm van godsdiens, of ’n protogodsdiens. Om byvoorbeeld te glo dat daar eers niks was nie en toe ontplof dit en toe ontstaan die heelal, verg netsoveel geloof soos om te glo dat daar ’n skepper is. Liberale denke wil homself egter voorhou as ’n antwoord op die godsdiens en poog om neutraal te wees en homself van die kritiek dat hy as ’t ware ’n godsdiens is, te isoleer. Dit is egter op ’n valsheid gegrond en slegs ’n poging om sy eie godsdienstige belange onder die dekmantel van neutraliteit aan almal op te dring.

’n Derde ironie is gesetel in die liberale dryf om met ander se waardestelsels te spot, want vir liberales om in hul veldtog te slaag, is dit nodig om ander mense na liberalisme oor te haal. Hulle reken dat hulle hierdie veldtog moet voer deur die spot te dryf met mense wie se waardestelsels van hulle s’n verskil (ja, nihilisme is ook ’n waardestelsel). As jou argument is dat jy mense gaan oortuig deur ʼn bespotting van hul waardestelsel te maak, dan sê dit weer eens baie van jou.

Liberalisme gee voor om die ideologie van verdraagsaamheid te wees. Dit lyk egter soms of die enigste verdraagsaamheid wat liberalisme voorstaan, verdraagsaamheid teenoor hul eie onverdraagsaamheid is.

Ek is bly ek is nie so nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Judge Dredd ·

Liberalisme is al lankal gekaap deur die linkses/kommunisme en mense wat nie liberalisme verstaan, dus die woord libleek.

Libertarier/libertanisme is waarmee ek vereenselwig.

Gert ·

Net wat ek wou sê. In die ou dae was liberaal ‘n term vir mense wat glo aan klein regering en individuele vryheid. Die titel is egter oorgevat deur die linkses, soos hulle altyd alles vat wat nie hulle s’n is nie. Die “moderne” liberales is nou mense wat staan vir groot regering en herverdeling, dus vir beperkings van individuele vryhede, en die werklike liberales noem hulleself nou libertyne.

Reinhardt ·

Daarsy! Ek was nog altyd liberaal, niks het verander nie. Maar skielik bevind ek myself meer saamstem met regsgesindes. Linkses noem my regs, maar soos ek altyd vir hulle probeer verduidelik, ek is nie regs nie, ek is net meer regs as jy – wie klaarblyklik ver links is.

Dirk ·

Waarom ons dit nodig vind om ander en hul lewens en leefwyses af te kraak gaan my verstand te bowe. Dit wys maar net hoe onseker mense oor hulself en hul eie lewenswyses is. Hierdie dinge gebeur wanneer ons die regte dinge nie reg doen nie. Kom ons kyk of jy volgende keer die konserwatiewe lewensstyl kan verkondig sonder om rond te spring tussen die slegte van ander lewensstyle!

Charles ·

Uitstekende skrywe,baie dankie.Dit moet verpligte leesstof vir ALMAL wees.
Ek wil net byvoeg dat”klein regering”-waarvan ek ‘n groot aanhanger is-,en die daarstelling van VRYHEID voor die valse “god” van GELYKHEID-nie in my opinie “liberale” waardes is nie,maar eerder libertaries-en ek skaar my daarby.Vryheid was egter klassiek liberaal gewees-maar is glad nie meer die geval by vandag se linkses nie-wat marxisme aanhang en hulself “liberales” noem en wat regeringsinmenging(dus Sosialisme)steun-d.i.-dat alle aspekte van mense se lewens deur BB beheer word.
By Vryheid,en minimum regering,omhels konserwatisme en libertarisme mekaar beslis en vloei dit saam.Die bg. stelling se praktiese werking kan maklik gesien word in die feit dat die Republikeinse Party wat VRYHEID vooropstel-voor die vryheidontnemende boeie van die verfoeilike “god” van “Gelykheid”- by wie se altaar die linkses bid en wat in my opinie die oorsaak van al die ellende en onsekerheid tans in die wêreld is -baie libertariers soos bv. Rand Paul bevat,en daar ‘n tipe sinergie tussen die twee partye bestaan (die Libertariese Party se ledetal bly egter in die VSA nogal klein)
Die snaakse ding is dat die waardes wat eens op ‘n klassieke liberale waardes is nie meer die waardes van vandag se “liberales” is nie,maar eerder nou die van die konserwatiewes is. “Liberales” was altyd gesteld op VRYHEID VAN SPRAAK-NIE MEER NIE-EN OP KLEIN OF MIN REGERING EN REGERINGSINMENGING-NIE MEER NIE!! Dankie.

John ·

In Spreuke 1:26 is Wysheid aan die woord: … daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom… en in 1: 18… hulle lè hulleself voor… Is dit nie mooi nie? Verskeie plekke in die Bybel bv ook Jes 44:15-28 spot die Skepper met gesnede beelde. Laat die spotters maar spot, solank die Vader nie rede het om met ons te spot nie. Dis al wat tel.

Tienie ·

Dankie tog daar is nog mense wat soos ek dink.

Dankie Ernst Roets

Stephan ·

Gelukkig verskil ek van jou Ernst. Ek is ne eng nie, maar wil nooit as ‘n liberalis ge-etiketeer word nie. Seker omdat ek myself as beginselvas, respekvol, behoudend, Christelik en politie konserwatief beskou.
Ek glo in die waardestelsels wat opgeteken staan in die Bybel, dat God die man en vrou geskape het, en dat gays gevolglik onaanvaarbaar is.
Wat politiek aanbetref is daar ‘n terugkeer wêreldwyd na konserwatisme (die voorbeelde is legio). Die publiek raak al hoe meer keelvol vir die “laat maar gaan”-houding van die liberale gemeenskappe.
Jou standpunt (dat jy jouself klassifiseer as “klassiek liberaal” en jou voorkeur daarvan) is vir my onaanvaarbaar, gegewe die opinie wat ek van Afriforum gehad het.
Dit is tog so opvallend hoe die hoë bome deesdae hulle in die gewilde windrigting draai…

Jacob ·

Stem saam dat jy nie ‘n argument wen deur te begin grappe maak teenoor jou teenstander nie (die meer inteligente deel van die debat groep gaan vereis dat jy geldige ingeligte rationelle nagevorsde feite gebruik om jou punt te maak) . Daar is ‘n goeie voorbeeld van hoe beskaafde ‘n debat gevoer kan word tussen twee uiterstes. Gaan gerus na youtube en soek vir die greep ‘graig harris notre dame’. Ek gaan nie se watter een my oortuig het nie! :-0

Pieter ·

Het ñ slang in ñ boom nie ook die spot gedryf met ñ opdrag van die Skepper nie. So liberaal voorgekom sodat beide Adam en Eva in sonde gelei is. ñ Liberale leuen wat hulle laat skaam kry het vir hul naakte liggame wat in die beeld van die Skepper gevorm was.
Ek is nie skaam dat ek ñ Christen is nie. Moet nie val vir die bespotting van die wêreld nie.

Andries Erwee ·

Liberalisme is n teerkwas waarmee sekeres probeer beledig. As jy die woord verstaan sal jy besef niemand is liberaal nie. Hy het bloot n liberale denke oor iets.

Afriforum is in vele opsigte n liberale organisasie. Hulle glo aan die “liberty” om vuurwapens te besit. Hulle glo aan die liberty van vryemark.

In ander opsigte is hulle weer baie konserwatief.

Liberaal is nie n etiket nie. Dit is n woord met betekenis. Dit is nie iets wat reg of verkeerd is nie. Dit is duidelik nie n woord wat Roets verstaan nie.

Johan ·

Ai die etikette wat ons aan onsself en mekaar hang. Sommer net ‘n sydelingse observasie, maar ‘n ding wat my dwars in die krop steek is die kaping van konserwatiewe denke deur godsdiens. Waar pas on konserwatiewe ongelowiges in? En wat van die liberale christen? As die wereld maar tog so eenvoudig was…

Riaan le Roux ·

Dit is geheel en al toepaslik om die spot te dryf met die belaglike.

Religion is the death of reason. En hier sien ons dit nou weer. In die berig en in die kommentaar.

Andreas ·

Ernst, dankie vir jou krag en wysheid wat jy deel. Dis soos biltong, mens kan ‘n leeftyd daaraan kou en nooit moeg raak nie.

Maarten ·

Dankie Ernst. Nou val die stukkies op hulle plek. Dis presies hulle onverdraagsaamheid waar hulle die groot verskil maak met kinders van die Heere. Hulle dink maakbaarheid kom van hulle self uit. Daarmee so behep, maar kom aan die eind van die bedroge uit. Dat Jesus hulle genade mag betoon en die regte weg naar die Lewe mag wys.

Rupert Ashford ·

Dankie Ernst. ‘n Kragtoer…jy kan die woorde mooi gooi.

George in Bloem ·

Goeie skrywe Ernst en lekker om te lees as iemand die punte so raakvat. Die Woord som dit alles egter baie mooi op nogal kort en baie kragtig in Prediker 10 vers twee waar Hy hard en duidelik se dat die “hart van die dwaas neig na links en die van die wyse neig na regs”. Enough said.

Annie Webb ·

Puik artikel! Flip Buys het ook ‘n tyd gelede geskryf oor die verskil tussen “liberaal” en bloot “links”. En ek sou verder gaan en dié “links” maar sommer negatiwiteit noem. Ek dink nie mens kan regtig tipies Westerse terminologie sonder meer in SA toepas nie, Afrika het weer heeltemal ander denkrigtings. Maar die “groot geveg” in die Weste gaan tans juis oor die “liberale” denke wat so links/negatief geraak het dat dit besig is om in te plof. Wat begin het as gefundeerde teenstand teen gevestigde wit manlike oorheersing, het verword tot die ander uiterste waar alles wat maar enigsins beskou word as “rondom” wit manlike oorheersing nou “boos” geword het. Dit sluit dan in die Judeo-Christelike geloof en kerk, en die heteroseksuele huwelik en gesin. Daarmee saam ook die begrip van “eie” land, nasie, vlag en lied wat geëer word en wat trots en trou ontlok. Asook onderwerping aan gesag en wette wat veiligheid en geregtigheid verseker. Linkses beskou al dié waardes, wat meestal as “konserwatief” aangedui word, as só boos en beperkend dat dit hulle vry staan om dit op enige wyse te beveg, ook maniere wat enige redelike mens met afkeer vervul. Soos (vulgêre) bespotting. Dit is juis die praktiese gevolge van dié korrupte uiterstes waartoe die eens “liberale” pendulum geswaai het, wat gelei het tot die opkoms van ‘n soort “nuwe konserwatisme” in die VSA en Europa. Die kern daarvan is ‘n weerstand teen die instroming van migrante uit nie-Westerse kulture; nóg liberaal, nóg konserwatief.

Andre Cornelissen ·

Dankie Ernst ,uit kritiek op jou skrywe lyk dit asof diegene met n liberale seining graag die konserwatiewe wil kritiseer en bespot, maar dit mag nie aan hulle gedoen word nie .George in Bloem ,dankie vir die gedeelte uit die Bybel,so goed raakgevat !

Hein ·

Liberalisme moet herdefinieër word. Net soos die woord gay het dit nie meer dieselfde beteken as 50 jaar gelede nie. Dankie Ernst.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.