Liberales se vreemde beheptheid met bespotting

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Hedendaagse liberales het ’n eienaardige fassinasie ontwikkel met die noodsaak om die spot te dryf met dié van wie hulle verskil.

Daar is komponente van liberalisme waarmee ek graag vereenselwig. Liberalisme se pleidooi vir ’n klein regering wat nie mikrobestuur toepas nie en die beklemtoning van vryheid is maar twee voorbeelde hiervan – hoewel ek van die liberale idee van verabsoluteerde keusevryheid verskil.

Baie liberales se oneerlikheid as dit by die idee van verdraagsaamheid kom, steek my egter dwars in die krop. Selferkende liberales roem graag daarop dat hul ideologie een van verdraagsaamheid is. Tog blyk dit een van die onverdraagsaamste ideologieë te wees. Terselfdertyd roem baie liberales daarop dat hulle veg vir die reg om dié van wie hulle verskil in die openbaar te spot en as onnosel of belaglik te etiketteer.

Een Suid-Afrikaanse skrywer wat gereeld in liberale kringe geprys word, het byvoorbeeld onlangs op Twitter deurgeloop nadat hy ’n reeks twiets gepubliseer het waarin hy die spot met God en gelowige mense oor die algemeen dryf. Daarna het hy ’n artikel gepubliseer waarin hy sterk standpunt inneem vir die noodsaak om mense te spot as jy van hulle verskil. Sy argument is basies dat dit vir ons nodig is om mekaar bespotlik te maak as ons as samelewing vorentoe wil beweeg. So verdraagsaam!

Natuurlik moet ’n mens die reg hê om ander te spot – dit is hoe spraakvryheid werk. Vir daardie reg moet ons baklei. Om te baklei vir die reg om mense te spot, is egter nie dieselfde as om te baklei dat dit nodig is om mense te spot nie – ’n punt wat sommige liberales klaarblyklik nie verstaan nie. Ons kan ook toegee dat daar ’n waarde daarin kan wees om die spot te dryf. Om ’n belaglike argument of gedrag uit te wys vir wat dit is of daaroor te spot, is nie dieselfde as om die spot te dryf met iemand se waardestelsel nie. As jy jouself wil posisioneer as die fakkeldraer vir die noodsaak om die spot te dryf met dié van wie jy verskil, sê dit meer van jou as van jou opponente.

Dit is hier waar konserwatiewe waardes en liberale waardes se paaie skei – en waar ek myself graag eerder as konserwatief sal beskryf. Liberales plaas die vryheid van die individu om te doen wat hy wil bo alles. Konserwatiewes plaas die fokus op die behoud van kultuur, waardes en tradisie. Die konserwatiewe idee van vryheid wentel rondom vryheid van verwesenliking: Dit is die vryheid om op deelnemende wyse binne in jou gemeenskap na die goeie te strewe met die oog op die verwesenliking daarvan.

Beide spruit uit die Westerse beskawing, wat sy wortels in Jerusalem (geloof) en Athene (Westerse filosofie) het. Jy hoef nie ’n gelowige te wees om met die Westerse beskawing te assosieer nie. Dit verander egter nie die feit dat die beskawing grootliks op die gedagte gebou is dat daar ’n wese bestaan wat groter as onsself is nie.

Die een denkgroep streef daarna om die wortels van die beskawing te herontdek en te vernuwe. Die ander wil die wortels vernietig en die spot daarmee dryf. Hierdie meningsverskille was deur die eeue sigbaar. Dié wat die wortels van die beskawing wou bewaar se denkers was John Locke, Edmund Burke, Alexis de Tocqueville en Aleksandr Solzhenitsyn, om net ’n paar te noem. Dié wat die wortels wou vernietig se denkers was, onder andere, Thomas Hobbes, Jean-Jacques Rousseau, Francis Bacon en John Stuart Mill. Ons sien dit vandag nog in debatte soos dié van Jordan Peterson teenoor Sam Harris, of Douglas Murray teenoor Mehdi Hasan, of Niall Ferguson teenoor Fareed Zakaria. Die teikening van Roger Scruton, die konserwatiewe filosoof, deur die liberale tydskrif The New Statesman is waarskynlik die mees onlangse hoëprofielvoorbeeld hiervan.

En hier lê die eerste ironie van liberalisme: Liberales dryf graag veldtogte teen konserwatiewe instellings soos die gesin, die kerk, kultuur en tradisies, maar hulle staan klaarblyklik blind teenoor die feit dat die individualisme waarvoor hulle hulself so aggressief beywer, juis die gevolg van hierdie instellings is en daarsonder nie sou gewees het wat dit vandag is (en wat hulle so koester) nie.

Ek beskik oor ’n bepaalde waardestelsel. Dit is een waarop ek trots is en een wat ek koester. Ander mense het ander waardestelsels – ander gelowe, ander kulture en ander tradisies. Ek dink hulle is verkeerd, maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat ek dit nie as goed of nodig ag om die spot te dryf met mense omdat ek van hul waardestelsels verskil nie.

Die applous wat ’n liberale skrywer onder sy medeliberales kry wanneer hy die spot met Christene en gelowige mense oor die algemeen dryf, en dan aanvoer dat dit goed is as ons mekaar bespot, is bewys van die benarde situasie waarin liberalisme homself vandag bevind. En ek praat nie hier van die mal liberales nie, maar ook van mense wat hulself as klassiek liberaal beskryf – die tipe liberalisme waarmee ek in baie opsigte assosieer.

’n Tweede ironie is dat hierdie tipe liberalisme sterk godsdienstige trekke toon. Die verabsoluteerde opvatting van keusevryheid – en die aggressiewe ateïsme wat dikwels daarmee saam kom – is vir alle praktiese doeleindes ’n vorm van godsdiens, of ’n protogodsdiens. Om byvoorbeeld te glo dat daar eers niks was nie en toe ontplof dit en toe ontstaan die heelal, verg netsoveel geloof soos om te glo dat daar ’n skepper is. Liberale denke wil homself egter voorhou as ’n antwoord op die godsdiens en poog om neutraal te wees en homself van die kritiek dat hy as ’t ware ’n godsdiens is, te isoleer. Dit is egter op ’n valsheid gegrond en slegs ’n poging om sy eie godsdienstige belange onder die dekmantel van neutraliteit aan almal op te dring.

’n Derde ironie is gesetel in die liberale dryf om met ander se waardestelsels te spot, want vir liberales om in hul veldtog te slaag, is dit nodig om ander mense na liberalisme oor te haal. Hulle reken dat hulle hierdie veldtog moet voer deur die spot te dryf met mense wie se waardestelsels van hulle s’n verskil (ja, nihilisme is ook ’n waardestelsel). As jou argument is dat jy mense gaan oortuig deur ʼn bespotting van hul waardestelsel te maak, dan sê dit weer eens baie van jou.

Liberalisme gee voor om die ideologie van verdraagsaamheid te wees. Dit lyk egter soms of die enigste verdraagsaamheid wat liberalisme voorstaan, verdraagsaamheid teenoor hul eie onverdraagsaamheid is.

Ek is bly ek is nie so nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Judge Dredd

Liberalisme is al lankal gekaap deur die linkses/kommunisme en mense wat nie liberalisme verstaan, dus die woord libleek.

Libertarier/libertanisme is waarmee ek vereenselwig.

Dirk

Waarom ons dit nodig vind om ander en hul lewens en leefwyses af te kraak gaan my verstand te bowe. Dit wys maar net hoe onseker mense oor hulself en hul eie lewenswyses is. Hierdie dinge gebeur wanneer ons die regte dinge nie reg doen nie. Kom ons kyk of jy volgende keer die konserwatiewe lewensstyl kan verkondig sonder om rond te spring tussen die slegte van ander lewensstyle!

Charles

Uitstekende skrywe,baie dankie.Dit moet verpligte leesstof vir ALMAL wees. Ek wil net byvoeg dat”klein regering”-waarvan ek ‘n groot aanhanger is-,en die daarstelling van VRYHEID voor die valse “god” van GELYKHEID-nie in my opinie “liberale” waardes is nie,maar eerder libertaries-en ek skaar my daarby.Vryheid was egter klassiek liberaal gewees-maar is glad nie meer die geval by vandag se linkses nie-wat marxisme aanhang en hulself “liberales” noem en wat regeringsinmenging(dus Sosialisme)steun-d.i.-dat alle aspekte van mense se lewens deur BB beheer word. By Vryheid,en minimum regering,omhels konserwatisme en libertarisme mekaar beslis en vloei dit saam.Die bg. stelling se praktiese werking kan maklik gesien… Lees meer »

John

In Spreuke 1:26 is Wysheid aan die woord: … daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom… en in 1: 18… hulle lè hulleself voor… Is dit nie mooi nie? Verskeie plekke in die Bybel bv ook Jes 44:15-28 spot die Skepper met gesnede beelde. Laat die spotters maar spot, solank die Vader nie rede het om met ons te spot nie. Dis al wat tel.

Tienie

Dankie tog daar is nog mense wat soos ek dink.

Dankie Ernst Roets