‘Liberation from Education’

Die leerders het glo die brand gestig omdat hulle nie ʼn eksamenvraestel wou skryf nie (Foto: Skermgreep)

Die Gautengse departement van onderwys het die afgelope week sy misnoeë uitgespreek oor die leerders van Glenvista High School wat die skoolsaal aan die brand gesteek het, omdat hulle nie hul eksamen van Maandagmiddag wou aflê nie.

In die laat 1970’s het talle swart aktiviste teenstand teen die apartheidsregering se onderwysstelsel begin bied. As deel van die groter vryheidstryd is hierdie beweging teen apartheidsonderwys onder die leuse “Liberation before Education” gevoer. Hiermee het vryheidsvegters eintlik maar bevestig dat hulle nie belangstel in ʼn opvoeding solank as wat hulle nie van hul onderdrukkers ontslae raak nie.

Met Glenvista se leerders wat die skool afbrand om ʼn eksamen mis te loop, kan ʼn mens amper sê dat hulle eie leuse “Liberation from Education” lui. Hierdie leerders wil baie letterlik nie van ʼn tekort aan regte bevry word nie, maar eerder van die oorvloed daarvan.

Hoewel die regering, by monde van die onderwysdepartement, hierdie voorval veroordeel het, is hierdie tipe optrede ongelukkig nie vreemd in die post-1994-samelewing nie. Wanneer gewelddadige protes praat, luister die ANC gewoonlik. Dit is iets wat die ANC al herhaaldelik laat seëvier het en sodoende ook eintlik oor die afgelope kwarteeu aangemoedig het.

In die 1970’s en 1980’s het die ANC op verskeie fronte geweld aangehits in ʼn poging om die apartheidstaat onregeerbaar te maak. Hierdeur wou hulle groter verandering en geregtigheid met geweld bewerkstellig. Hulle wou uiteindelik die prys vir die apartheidsregering so hoog moontlik maak om hul stelsel voort te sit – met ʼn gebrek aan formele politieke deelname, is hierdie gewelddadige vorm van informele politieke deelname gekies.

Mangosuthu Buthelezi, destydse leier van die IVP, het die ANC egter in daardie tyd gewaarsku dat ʼn strategie om die apartheidstaat onregeerbaar te maak ná magsoorname die ANC se land ook onregeerbaar sou maak. Hierdie onderhandelingstaktiek sou voortleef onder die nuwe orde – hierdie keer sou dit egter téén die ANC wees, eerder as wat die ANC self die geweld aanhits.

(Argieffoto: ANA)

Dit is ook presies wat gebeur het. Gewelddadige protes het een van die suksesvolste onderhandelingstaktieke en -woordeskatte in die post-1994-samelewing geword. Die regering se absolute ruggraatlose geswig voor die Fees Must Fall-betogers van 2015 en 2016 was die toonbeeld hiervan.

Daarmee het die ANC luidkeels bevestig dat diegene wat lank genoeg, strategies geteikende geweld teen die regte vlakke aanwend, byna enige iets kan kry wat hulle wil hê – selfs gratis tersiêre onderwys.

Strategiese geweld is ʼn taal wat die ANC baie goed verstaan, al self gepraat het en ongelukkig ook na luister. Dit is waarom dit eintlik glad nie vreemd is of behoort te wees dat geweld een van Suid-Afrika se mees prominente omgangstale geword het nie. Die voorspelbaarheid daarvan neem uiteraard nie weg van die onaanvaarbaarheid daarvan nie – minstens in ʼn samelewing waarin ʼn mens minstens nog wil poog om wet en orde te handhaaf.

Prof. Karel von Holdt, sosioloog en politieke aktivis verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, beskryf hierdie tipe gewelddadige protes ook presies as sodanig – dit is net ʼn taal. Hy huldig veral hierdie ontleding met verwysing na vakbonde wat in die post-1994-samelewing dikwels gewelddadige protes as strategiese onderhandelingstaktiek aanwend.

Die oomblik wat ʼn mens verstaan dat dit vir onderdrukte groepe net ʼn taal is, sal jy ook hulle optrede verstaan en insien, meen Von Holdt. Indien jy leer hoe om hulle te vertolk, sal voorheen onverklaarbare gewelddadigheid eintlik in konteks geplaas word. Die enigste rede waarom soveel mense geweldprotes afkeur, is bloot omdat hulle dit nie verstaan nie. Indien jy die mense agter onluste en gewelddadige protes wil verstaan, moet jy hulle taal van geweld begryp – dit is aan die kern van Von Holdt se standpunt.

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

#FeesMustFall-studentebetogings in Oktober 2015.

Von Holdt self het Wits se reaksie op die 2016 Fees Must Fall-betogers ten sterkste veroordeel. Volgens hom was dit byna onderdrukkend en anti-demokraties van die universiteit om nie met betogende studente in gesprek te wil tree nie, sekuriteit en polisieteenwoordigheid te verskerp en byeenkomste van protes te verbied. Die enigste skade wat volgens hom aangerig is, is die studente wat gely het onder die outoritêre oorreaksie van die polisie en universiteit.

Von Holdt verduidelik ook hoe geweld in ʼn samelewing en die aard van ʼn demokrasie nie net in Westerse terme verstaan moet en kan word nie – heersende geweld en demokrasie is nie noodwendig onderling uitsluitend nie.

Dit is iets wat dan nou spesifiek uit ʼn meer Westerse oogpunt nié sin maak nie. Anders as wat Von Holdt verduidelik, versoen meeste mense uit ʼn meer Westerse perspektief nié sulke geweld met gesonde demokrasie nie. So ook verskoon die meeste mense gewelddadige protes nie as blote onderhandelingstaktiek nie.

Von Holdt, en duidelik ook die ANC, meen dat gewelddadige protes soms nie net regverdigbaar is nie, maar ook nodig om verandering teweeg te bring – dit alles onder die vaandel van demokrasie. Die feit van die saak is egter dat die twee nie versoenbaar is nie. Selfs al kan gewelddadige protes in Suid-Afrika as verskynsel verklaar word, moet dit nie outomaties verskoon word nie. Geen samelewing wat ʼn ontsag vir wet, orde en ʼn demokratiese tradisie wil handhaaf, kan geweld as onderhandelingstaktiek verskoon nie.

ʼn Samelewing waarin mense oor die algemeen voel dat hulle hierdie vlakke van geweld (moet) toon om verandering te weeg te bring, het dalk ook ʼn ingeboude foutiewe kommunikasiestelsel. Die sosiale afkeur van gewelddadige protes as onderhandelingstaktiek is ongelukkig net die helfte van die oplossing. Die ander helfte bestaan daaruit om daadwerklike en doeltreffende stelsels en tegnieke van probleemoplossing te vestig.

Argieffoto: ANA

Indien mense voel dat hulle nie grootskaals vir hulself beter omstandighede met die beskikbare formele prosesse gaan kry nie, lyk enige informele proses outomaties meer aanloklik. Hoewel hierdie alternatiewe hoegenaamd nie vir almal neerkom op gewelddadige protes nie, gaan daar altyd mense wees wat strategies bloot kies om die ANC se aanvaarde geweldstaal met hulle te praat.

Jordan Peterson, ʼn Kanadese kliniese sielkundige, het eens verduidelik dat veral jong mans bereid is om aan die reëls van die spel van die lewe gehoor te gee en saam te speel in ʼn strewe na sukses. Die oomblik wat hulle egter dink dat die reëls van die spel inherent en onregverdigbaar teen hulle gekant is, sal hulle die tafel omgooi. Indien hulle aan die spel deelneem, stroop hulle onderdrukking hulle buitendien van alle geleenthede en hoop. Indien hulle die tafel omgooi, tesame met almal anders se stukke, verloor hulle self baie min, maar maak hulle minstens die speelveld gelyk.

Dit is waarom dit ongelooflik belangrik is om daadwerklike paaie na vordering, groei en sukses in die samelewing in te bou. Die oomblik wat mense oortuig is dat hulle binne die teoretiese reëls van die samelewing nie sal regkom nie, is daar geen rede vir hulle om dit te onderhou nie. Dit hoef ook nie eers noodwendig waar te wees vir mense om daarvan oortuig te wees nie.

Indien die ANC mense nie die geleentheid kan bied, of hulle kan oortuig dat die geleenthede wel bestaan nie, kan hulle ook nie juis verwag dat mense aan die reëls van die spel sal gehoor gee nie. Indien die ANC nie gewelddadige protes as omgangstaal wil laat voortleef nie, moet hulle mense van alternatiewe kommunikasieweë voorsien. Solank as wat die ANC gehoor gee aan ʼn geweldstaal gaan mense dit praat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Sela. “Die eenvoudige waarheid is dat terwyl politieke vryheid op ‘n skinkbord gegee kan word, ekonomiese onafhanklikheid en -welstand deur produktiwiteit verdien moet word. Dit is die les wat Afrika nou op die harde manier leer.” Dr. Anton Rupert, 1994. Hoe op dees aarde die ongeskoolde, onopgevoede massas in S.A. sonder deeglike opleiding hul weg in die lewe gaan vind, weet niemand nie. Is die paai van hierdie arme mense met staatstoelaes al uitweg vir die onbeholpe staat? Die sneeubal van werkloosheid is besig om onstuitbare momentum op te bou….

Marthinus W ·

Glenvista is een van die rykmansvoorstede in die suide. Die leerders se ouers moet dus almal welaf wees. Ek weet nie of daar ooreenkomste is nie, maar baie van die BLM-protesteerders in Amerika was wit, ryksmenskinders. Miskien is hulle verveeld.

Johan ·

In die 1980’s het die anc aangedui dat hulle die land onregeerbaar gaan maak….hulle het daarin geslaag.

groenboer ·

Die betogers kan gerus iets in gedagte hou. In die jare ná doe Anglo-Boere-oorlog was Afrikaners net so arm en onderdruk as wat vele swart Suid-Afrikaners is of tot onlangs was. In staatskole was die beleid nie bloot om alles te verengels nie; Afrikaans is aktief onderdruk. Leerlinge is nie toegelaat om selfs met mekaar Afrikaans te praat nie.

So wat het Afrikaners toe gedoen? Het hulle die skole afgebrand (hulle het net soveel of selfs meer rede gehad om dit te doen as die 1976-betogers)? Of het hulle liewer die geleentheid tot opvoeding aangegryp, en binne twee geslagte hulself opgewerk van feitlik vernietigde volk tot heersers van die hele land?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.