Liefs Bismarck as Bannon

gemeenskappe

Argieffoto.

Die magswisseling in die ANC van pres. Jacob Zuma na Cyril Ramaphosa kan dalk, net dalk, tot ’n ander soort regeerstyl in ons land lei.

Zuma se styl is moontlik die beste opgesom in sy eie uitspraak in die parlement toe hy gesê het hy en die ANC het meer regte as die opposisie omdat hulle meer stemme getrek het. Waarmee hy bloot gewys het dat hy op aarde niks van die demokrasie verstaan nie, maar dit eers daar gelaat.

In die onlangse opspraakwekkende boek van die Amerikaanse joernalis Michael Wolff, Fire and Fury: Inside the Trump White House, lees ek op bl. 63 ’n terloopse opmerking wat toegeskryf word aan Steve Bannon, toe nog pres. Donald Trump se hoof-strategiese en politieke raadgewer: “The new politics,” dié wat Bannon dus voorstaan, “was not the art of the compromise but the art of conflict.”

Ontspan, dié artikel handel nie oor Trump nie. Dit gaan oor ’n beginsel en ’n politieke verskynsel.

Wat is politiek? Beter gestel, wat is verstandige politiek?

Politiek, het die Pruisiese rykskanselier Otto von Bismarck in 1867 aan ’n Russiese joernalis verklaar, ist die Lehre vom Möglichen (“is die leer van die moontlike”). Met ander woorde, wees bowenal realisties.

Dié uitspraak moet aangevul word met ʼn ander een wat hy meermale gebesig het: “Die wêreldgeskiedenis met sy groot gebeurtenisse kom nie aangery soos ʼn trein in gelykmatige snelheid nie. Nee, dit gaan rukkenderwys voorwaarts, maar dan met onweerstaanbare geweld. ʼn Mens moet altyd daarop let of jy die Here God deur die wêreldgeskiedenis sien skry, dan opspring en jou aan die pante van sy mantel vasklamp, sodat jy voortgesleep word so ver as wat dit kan gaan.”

Bismarck se loopbaan as staatsman bewys sy vermoë om tegelyk daadkragtig, rasioneel en verstandig te wees. Sy tyd as Pruisiese en Duitse rykskanselier kan in twee fases ingedeel word.

In die eerste het hy die Duitse vereniging van 1871 skitterend gedryf deur drie oorloë (1864 met Denemarke, 1866 met Oostenryk-Hongarye en 1870 met Frankryk) te orkestreer. Die Duitse keiserryk was in ʼn groot mate sý skepping, een wat hy in die jare 1870-1888, toe hy afgetree het, beskerm het deur Duitsland nougeset buite alle konflikte te hou, deur sover moontlik vriende met almal te wees en deur sy land oorwegend nie aan die rampspoedige kolonialisering van Afrika te laat deelneem nie.

Bismarck het ʼn enorme invloed op die geskiedenis van Duitsland en Europa gehad, maar sy rol was – alles in ag genome – stabiliserend. Anders as dié van byvoorbeeld Napoleon Bonaparte of Adolf Hitler, wat die vasteland in onnoemlike ellende en rampspoed gestort het.

Geen wonder nie dat een van Bismarck se biograwe, die historikus Lothar Gall, hom ʼn “wit revolusionêr” (wit in teenstelling met rooi) genoem het.

Bannon was ook ʼn revolusionêr. Hy het homself openlik as ʼn “Leninis” beskryf – nie omdat hy Lenin se kommunistiese ideologie gedeel het nie, inteendeel; maar omdat hy, net soos die Rus, ʼn hele politieke bestel wou vernietig. Dis hoekom hy konflik bo kompromis verkies het.

Nou ja, Bannon het in Augustus die trekpas gekry, blykbaar omdat hy in Trump se son gaan staan het, maar die invloed van sy benadering kan steeds gesien word.

In Suid-Afrika ondervind ons ook die nadele van dié model. Dit gebeur op verskeie fronte.

Omdat Zuma se ANC ʼn groot meerderheid in die parlement het, het dié party hom toegelaat – soms selfs aangemoedig – om die staat te plunder en soos ʼn mafiabaas gunste en gawes aan sy luitenante uit te deel. As jy daarop gewys het, is jy vanuit Zuma-kringe as “onpatrioties” of selfs “rassisties” uitgekryt.

Gaan ʼn nuwe wind nou in die ANC waai? ʼn Mens kan versigtig so hoop, maar moenie te veel verwag nie. Ramaphosa se gespierde uitsprake oor die onteiening van “wit” grond is genoeg om eers nog jou oordeel op te skort.

Maar dit gaan nie slegs om die ANC nie. Die EFF en groepe militante swart studente ding ook in die praktyk met die ANC se linkervleuel mee om te wys dat hulle in die Bannon-benadering, eerder as die Bismarck-benadering, glo.

Dalk die ontstellendste is die houding van ʼn meerderheid regters in die konstitusionele hof. Hulle het nou al verskeie uitsprake oor die gebruik van Afrikaans op skool en universiteit gedoen waardeur hulle ʼn aantal dinge duidelik gemaak het: Die eerste is dat hulle die Grondwet – of altans die taalartikels – nie goed verstaan nie. Erger is nog dat hulle hul eie vertolking van die Grondwet se géés nie behoorlik deurgrond nie.

In ʼn akademiese artikel in die Journal for Juridical Science (2009) wys dr. Ilze Keevy, toe dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, daarop dat verskeie uitsprake van die konstitusionele hof die Afrika-begrip ubuntu tot ʼn (weliswaar ongeskrewe) waarde van die Grondwet verhef het.

Maar wat is ubuntu? In een van die hofuitsprake wat Keevy aanhaal, word gestel ubuntu “envelops the key values of group solidarity, compassion, respect, human dignity, conformity to basic norms and collective unity, in its fundamental sense it denotes humanity and morality”. Keevy selfs som dit op as “a spirit of community, mutual support, sharing, interconnectionedness and respect for one another”.

Nou ja, dis só wyd gestel dat jy ʼn wa en osse daarin kan laat draai. Nietemin, ʼn mens sou wel deeglik ʼn saak daarvoor kon maak dat respek vir Afrikaans en die regte wat die Grondwet aan sy sprekers verleen óók ʼn kenmerk kan wees van ubuntu.

Uit Keevy se artikel blyk dat sommige Afrika-akademici ubuntu sien as ʼn verwerping van die atomistiese Westerse benadering – elke man vir homself – ten gunste van die meer kollektiewe Afrika-benadering. Maar erkenning van minderheidstaalsprekers se regte druis tog nie daarteen in nie.

Ek het geen sterretjies in my oë oor ubuntu nie. Afgesien van die probleme wat ʼn mens het om dit behoorlik te definieer, hanteer die ANC en die meeste regters van die konstitusionele hof die begrip klaarblyklik net soos en wanneer dit hulle pas.

Tog: Dit kan die moeite loon vir ʼn Afrikaanse antropoloog en/of regsgeleerde om ʼn behoorlike studie van ubuntu te maak en dit as instrument in die stryd vir die behoud van Afrikaans in te span. Dit kan in elk geval geen kwaad doen nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Eish ·

Ek is nie n antropoloog nie, maar kan die volgende in die armbeurs gooi oor Ubuntu. Die Woord is saamgestel uit Xhosa en Zulu. Dit bestaan reeds sedert die 1800’s maar het eers sedert 2010 algemeen gebruik geraak in omgangstaal.
Eenvoudiger definisies , wat ek dink nader aan die Afrika vertolking daarvan is, sluit in:
Ek is wat ek is as gevolg van wat ons almal is.
n Mens is n mens deur ander mense.
Desmond Tutu definieer dit as volg:
” Bringing people together is what I call ‘Ubuntu’
which means ‘ I am because we are’
Far too often people think of themselves just as individuals, separated from one another, whereas you are connected and what you do affects the whole world.
When you do well, it spreads out; and it is for the whole of humanity.”
Ter illustrasie
n Antropoloog het n mandjie vrugte by n boom neergesit en n klomp kinders daar naby aan gesê dat die een wat eerste by die boom is, die man die vrugte kan kry. Nadat die teken gegee is om te begin hardly op, het die kinders mekaar se hande gevat en gestap na die vrugte en onder mekaar verdeel.
Met sy navraag oor die aksie het hul aan hom gesê dat wanneer een al die vrugte kry, ‘Ubuntu’
hoe kan een van ons gelukkig wees terwyl al die ander hartseer is.
Dalk het ons tog iets te leer hier.

Eish ·

Verskoon die spelfoute , my masjien het sy eie kop.
Mandjie, hardloop, aangesê( Een woord)

Gerhard ·

Ek dink dit is tyd dat die wat glo dat Afrikaners howe en aksies kan gebruik om hul taal en kultuur instand te hou erken dat hulle verkeerd was. Ramaphosa gaan erger wees vir Afrikaners as selfs Zuma.

Marthinus Willemse ·

Gedurende die Kerstyd ry ek saam met my suster en haar familie Parys (Vrystaat) toe. My nefie spot, dat hy as wit, Afrikaanssprekende, skoon ongemaklik voel tussen die baie wit, Afrikaanssprekendes.

Ons bly in die suide van Johannesburg, waar die enigste persoon in ons straat met wie ek Afrikaans kan praat, ou Petrus, die tagtigjarige Sotho oorkant die straat, is. Ons het `n klein winkeltjie vanuit ons motorhuis bedryf, maar die Nigeriërs en veral Zimbabwiërs se viktimisasie het ons gedwing om die deure te sluit. Ek het daagliks met ons (swart) klante gepraat, en daaruit het ek die volgende afleiding gemaak: ubuntu is `n mite. Hulle leef in vrees vir die tsotsies, wat niks en niemand ontsien nie. Dis elkeen vir homself.

Tog, sal hulle partykeer instap en iets vir 50 sent of tweerand koop, “want ons wil jou ondersteun sodat jy suksesvol kan wees”. Miskien is ubuntu tog lewend, anderkant misdaad en my sinisme.

Rupert Ashford ·

Ek is bevrees die beskrywing van ubuntu gaan ‘n net groter doring in die vlees raak vir enige aspirasies want dit sluit te goed aan by die huidige tydsgees van “identity politics” waar die groep groter waarde het as die individu en jy ook nie noodwendig kan kies watter groep jy wil wees nie – “straight white males” het bv geen keuse as om in daardie groep te wees en dan nodeloos agter in alle rye te gaan staan om boete te doen vir hulle sondes nie (wat ookal die sonde op daardie tydstip mag wees). Sommige ander mag wel kies watter groep hulle wil wees. So wit Afrikaners sal in ‘n boksie geboender word en hulle sal betaal…

John ·

Ubuntu is ‘n vreeslike gerieflike term, soos dit wat die arme baramhartige samaritaan in Afrika-terme speel (Hoeveel konings en stamhoofde word deur ons belastingbetalers ge-ubuntu?).
Ek en al my familie en ons voorsate en nasate is ingedoen en sal in die toekoms ingedoen word deur mense wat werk vir hul rykdom maar dit nie met ons, die wagtendes, wil deel nie, maar as hulle dit doen en dit goed doen dan kom ubuntu ter sprake… maar ook net, want ek voel om die een of ander rede steeds diep ongelukkig… Wat van gratis alles vir altyd en altyd?

Cornelia ·

Ek kan ook wegspring en hardloop om eerste by die “mandjie” te kom. Rustig te wag totdat die res v.d. span uithaal om in te haal en dan aan elkeen sê: Kom kry vir julle ook en deel met my. Christus se “ubuntu” is méér as nét “bringing people together.” Dit veránder die mens. Wat die taalstryd behels sal die mag van magsvertoon die futlose ubuntu promoveer. Die konflik geniet en die mandjie vrugte alleen verteer. Afrikaans is egter soos ‘n diamant. ‘n Klein juweel dalk, maar hard en skitterend. Kosbaar om te besit en voort te leef as een van die mooistes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.