Liewe Cyril

Pres. Cyril Ramaphosa in Kimberley (2 Februarie 2019) (Foto verskaf)

Ek hoop jy gee nie om dat ek jou op jou voornaam noem nie, maar ek verkies om te dink dat ons vriende is. Ek is ook nie lus om met jou te praat soos ek na PW of FW verwys het nie. Hulle was formele leiers, daar was nooit sprake van grappe nie. En nie een van hulle kon so lekker dans soos jy nie.

Net soos duisende ander Suid-Afrikaners was ek bly toe jy, soos jy dit gestel het, saam met ander ’n Grondwet geskep het, en wat jy gesê het minderheidsregte sal beskerm. Ek was ook bly toe jy vir Zuma as president vervang het, al kan hy lekkerder giggel en dans as jy. Ons was almal keelvol vir die korrupsie wat onder sy leiding die land soos ’n orkaan getref het, en het geglo dat jy dit sal omkeer. Ons het almal ’n lig aan die einde van die tonnel gesien.

Liewe Cyril, daardie lig het egter die afgelope tyd in ’n donker gat verdwyn. Nie net het ek elke dag vier uur beurtkrag gehad nie, maar die elektriese kabels naby my huis hier in die Boland is vir ses agtereenvolgende weke, elke week gesteel.

Nou sien ek jy sê om Eskom weer reg te kry kan gedoen word, maar dit sal moeiliker wees as om apartheid omver te werp. Dan kon apartheid mos nie ’n te groot probleem gewees het nie, of hoe? Jy het ook gesê daar is ’n gebrek aan kundigheid in Eskom, maar nêrens het ek gesien dat jy erken wat die wortel van die probleem is nie: regstellende aksie. Ek dink nie jy weet werklik wanneer Eskom weer op die regte pad sal wees nie. Ek dink hulle lieg vir jou net soos vir my.

Liewe Cyril, hier in die Boland word die een ná die ander treinwa verbrand. Hulle sê glo hulle het nie genoeg waens nie, daarom brand hulle nog ’n paar.

Terwyl ons daarmee besig is: onthou jy dat die kommandostelsel om dieselfde rede geskrap is? Nou word honderde swart en wit boere vermoor. Maar, o ja, jy sê jy weet nie daarvan nie. So ook is die ander spesialiseenhede in die polisie ontbind en in een oneffektiewe swetterjoel saamgegooi.

Liewe Cyril, dan is daar die weermag. Ons was in die verlede baie trots op hulle, maar ys nou om te sien hoe hulle marsjeer. Soos my korporaal altyd geskree het: “Soos ’n klomp ertjies in ʼn … pot”.

Daar is ook die Inkomstediens, die regbanke, ensovoorts. Niemand weet wat om met grondonteiening te verwag nie, wat ’n mens bang maak. Ek het self in China gesien watter korrupsie daar is wanneer alle grond aan die regering behoort.

Liewe Cyril, ek en duisende ander het jou geglo toe jy in die onderhandelinge oor ons Grondwet plegtig verklaar het dat die regte van minderheidsgroepe beskerm sal word. Nou praat en beloof jy ook baie dinge, maar kan ons jou glo? Daar is steeds in die Afrikaanse gemeenskap ’n paar “libtards” wat sal glo wat jy verkondig. Ek sien ook jy vry so ’n bietjie na die Afrikaanse stem, veral as jy in die Noord-Kaap praat waar hulle dikwels in elk geval nie Engels verstaan nie.

Cyril, ek glo egter nie meer nie. Soos die Engelse sê: “Once bitten, twice shy”. Laat ek dit maar aanpas in Afrikaans en sê ’n hond verbrand nie sy bek twee keer nie. Jy maak dit nog moeiliker om jou te glo as wat dit is om enige ander party te glo; dis mos Mickey Muis-tyd waar ’n mens alles met ’n knippie sout moet neem.

Ek verstaan dat jy jou probleme het. Net soos ons deesdae gedurig oor ons skouer moet kyk in geval ons aangeval word, is daar manne en vroue in jou eie party wat jou met lang messe inwag. Maar, Cyril, ons sou jou meer vertrou het as van daai mense nou al aangekla was oor hul korrupsie en nie op die ANC se partylyste gepryk het nie.

Suid-Afrikaners is nie almal stupid nie. Maar ons hou steeds van jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henk Roos ·

Tienie Fourie, jy begaan een groot feitfout: die Spoorwegpolisie is nie deur die ANC afgeskaf nie, maar wel in die 80’s onder die NP regering, en spesifiek Anton Moolman, toenmalige hoof van Transnet, ‘n ingenieur wat oor geen insig in die doel van polisiëring beskik het nie.

willem Botha ·

Henk was dit nie ou voete was adriaan vlok se “slim plan” in 1986 gewees nie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Henk

Dankie vir die inligting. Die artikel is nou aangepas.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

willem Botha ·

En sou dit moeilik wees om te lei as presedent, kyk na presedent Trump en leer by hom.

Melanie ·

Willem Botha NOU praat jy. Die waarheid maak mense bang. Hulle verkies om leuens te verkondig en eerder die kat in die donker te knyp.

Willie ·

Ek het geen respek vir onderduimse mense nie… skelms en sluwe skurke speel nie op my TV nie

Dries du Toit ·

Ons is nie almal stupid nie maar ons hou steeds van jou. REGTIG ????

Why? ·

Ek kyk gisteraand op die TV na Voetspore. Toe die avontuuriers in Rwanda kom was ek verbaas om te sien hoe hierdie land van al die ander Afrika lande verskil. Mooi tuine, paaie, goed versorgde mense en meuseems.
Is dit wat volks moord aan n land doe?. Wag dieselfde vir ons hier? Siener van Rensburg het baie bloed in die huidige tyd waarin ons nou leef gesien. Lees maar wat hy voorspel het van swart teen swart geweld.

Theoman ·

Heel goed geskryf Tienie maar die slot deel ons hou van jou is net so goed as om aan n poefadder se tant vas te hou, hy gaan jou pik die oomblik as jy jou rug draai in die middel cyril.

Gys ·

Wel, ek en duisende ander het nog nooit vir Cyril, Frederik, Roelf of Pik geglo nie. Sien ek noem sommer almal op hul voorname, want ek beskou geeneen van hulle as formele leiers nie. Ek wens ek kon sê as wat ek hulle regtig beskou, maar daai woorde is vir die naweek se braai bedoel.

John ·

Ons het ‘n hele paar mediamense, soos in die VSA, wat noudat die internet ook toegang gee vir die lesers van die geskrifte van die alwetendes, om te kan reageer. Hierdie mense het geleidelik begin glo net hulle kan dink omdat net hul woorde met groot koppe in druk verskyn. Die skok dat lesers nie alles vir soetkoek opeet nie, is nogal erg op die gestelle van hierdie ou fat cats. As Oom A so skryf is dit die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Nee. As Oom A iets sè is dit sy eie waarheid volgens sy eie oortuiging, bv. ‘Maar ons hou steeds van jou’. Die veralgemening is werklik verregaande! Dan nie?

Annie Webb ·

Netjies gestel, Tienie, en lekker tong in die kies. Kommentare verwys na die VSA (Trump) en Rwanda en laat my wens ‘n kundige wil ‘n reeks artikels skryf oor hoe sake in ander Afrikalande staan en hoe SA daarmee vergelyk. SA kan allermins met die VSA of Europa vergelyk word. Ons was nooit meer as ‘n kunsmatige Westerse enklave in Afrika nie en ons is dit lankal nie meer nie. Skrywers van artikels, rubrieke en kommentare is baie lief om pres. Trump te vergelyk met die een of ander “leier” in SA, spesifiek om Trump te kritiseer. In die eerste plek maak dit ons leiers die maatstaf van “vrotheid”, wat onregverdig is. Dis tog voor die hand liggend dat ons huidige SA leiers met ander Afrika-leiers vergelyk moet word. Allermins met die leier van die grootste Westerse moondheid en biljoenêr-eiendomsontwikkelaar in New York en wêreldwyd, wat sy salaris as president aan liefdadigheid skenk. En wat die menings van ons skrywende SAners oor pres. Trump betref, kan ek net herhaal wat reeds ad infinitum in kommentare gesê is: sy rekord van dinge wat hy reeds vir sy land gedoen het, spreek vanself. Sy “kritici” se eindelose persoonlike beledigings sê heelwat meer van die spreker as die onderwerp. Maar hoe lyk dit met ‘n reeks artikels oor Afrikalande, sodat ons appels met appels kan vergelyk?

dejager ·

Tienie,nie eers Cyril homself verwag dat jy hom president noem nie.Hy is die president van sy’our people’ defnitief nie van my of jou nie.

Jerry ·

Ten minste weet ons wie besig is om die hele ekonomiese koek net aan “our people” toe te eien! Dit behoort n feit te wees dat “our people” baie van koek hou en ook nou baie van hom hou en enigeiets vir hom sal doen! Dieselfde kan ongelukkig nie gese word van die wie uitgesluit word van die gekoeketery, alhoewel daar wel sommiges van die koekloses is wat nog steeds meer hou van hom, as van Trump!

Wessie ·

Ek weet nie hoe oud jy is nie maar as hierdie ‘n aanduiding is van hoe jy die res van jou lewe gaan benader gaan jy nog klippe kou.
Bou ‘n brug oor almal se (sogenaamde) ongeregtighede en kom daaroor!
Aanvaar die witman gaan Nooit weer ‘n leiersrol in SA se politiek betree nie, en word meer verdraagsaam teenoor jou omstandighede. Dit behoort jou las vorentoe ligter te maak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.