Liewe Suid-Afrika, ek is jammer

Alex-Eliseev

Alex Eliseev. Foto: Alexeliseev.co.za

Alex Eliseev van EWN besin oor die huidige stand van joernalistiek in Suid-Afrika. Die brief kom in die lig van Steven Motale, redakteur van The Citizen, wat om verskoning gevra het aan pres. Jacob Zuma en Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, wat gesê het joernaliste moet gereguleer word.

“Jammer” bly dalk die moeilikste woord om te sê, veral vir ’n joernalis, maar die adres aan wie die verskoning gerig is en die oortreding waarvoor verskoning gevra word, is eintlik die saak waaroor dit gaan. As ons verskoning móét vra, is dít hoe die verskoning sou lyk:

Liewe Suid-Afrika, ek is jammer.

Ek is jammer daar is nie meer van ons nie: verslaggewers wat nie verskoning vra omdat ons ons werk doen nie.

Ek is jammer dat joernaliste hulle werk verloor wanneer koerante se oplaag kleiner word of wanneer publikasies toemaak.

Ek is jammer nuuskantore het nie honderde nuushonde wat wedywer om die voorblad te haal met ’n hoofstorie of ’n groot, eksklusiewe storie nie.

Ek is jammer daar is nie naastenby genoeg loopbaangerigte joernaliste wat dit hul lewenstaak maak om politici en presidente te verpes nie.

Ek is jammer ons het nie kantore in elke enkele provinsie nie, met sterk spanne wat korrupsie kan blootlê waar dit plaasvind. En om dekking te gee aan plaaslike nuusgebeure. Die Oos-Kaap alleen sal 100 verslaggewers 24/7 kan besig hou. Van Limpopo praat ek nie eers nie.

Ek is jammer ons het nie altyd die luukse om verslaggewers in spesifieke rigtings te laat spesialiseer nie. Joernaliste wat spesialiseer in onderwys, gesondheid, wetenskap (ek dink daar is een toegewysde wetenskapverslaggewer in die land?) of misdaad. Spesialiste wat die wêreld waarin ons woon vir ons kan verduidelik en ons sodoende kan bemagtig.

Ek is jammer skandale volg die een so kort op die ander dat dit kwalik moontlik is om een betrokke storie enduit te volg.

Ek is jammer ons bring nie weke in hospitale deur om die verskrikking wat daar plaasvind te dek nie. Of skole, waar leerlinge op metaalblikke sit in plaas van op stoele, of waar nuwe iPad-tablette in ’n oogwink gesteel word. Dié stories word op ’n mogge troffe-basis gedek.

Ek is jammer ons kan nie by wees nie elke keer as ’n protesmaker doodgeslaan word deur die polisie, of as ’n gesin gemartel word tydens ’n inbraak, of as ’n man in aanhouding sy asmapomp geweier word, of as ’n swanger vrou nie hulp kry van ’n hospitaal nie, of as ’n kamp vol vlugtelinge met geweld skoongemaak word, of as onreg van watter aard ook al plaasvind…

Ek is jammer ons kry dit net reg om bolangs te krap aan onderduimse optrede en korrupsie in die private sektor.

Ek is jammer vir Oscar Pistorius.

Ek is jammer oulike diere is deesdae nuus.

Ek is jammer oor wat by party mediahuise gebeur en hoe dit die inhoud raak. Partykeer is dit wat ’n mens gebied word niks minder nie as intellektuele bedrog.

Ek is jammer ons is steeds besig om ’n manier te vind wat stewige ondersoekende joernalistiek in ’n digitale era kan handhaaf. Gee ons net genoeg tyd en ons kry dit reg.

Ek is jammer kwessies soos bendegeregtigheid, xenofobie en taxigeweld word nie dieper en volgehoue ondersoek nie. Of dat arbeidskwessies net die aandag trek as daar ’n staking of ’n seksskandaal is.

Ek is jammer so min nuusinstansies kan dit bekostig om ’n verslaggewer af te staan aan die volledige verhoor van ’n belangrike saak soos die Marikana-ondersoek.

Ek is jammer ons kry dit nie reg om die eindelose korrupsie by munisipaliteite oop te vlek en dit uit te basuin nie. Al wil ons graag.

Ek is jammer vir die vreemde opvatting dat almal van ons in die media saamsweer om die ANC tot ’n val te bring. Dis ’n spul twak. Ek het in vyf verskillende nuuskantore gewerk en nog nooit is een van my stories gesensor nie. En ek is ook nooit gedwing om ’n polities gelade berig te skryf of te uiter nie.

Ek is jammer ons maak foute. Soms foute wat verleentheid wek. Maar omdat ons nie robotte is nie, gebeur dié soort goed. Belangriker is hoe ons dit hanteer. En vir elke fout is daar honderd goeie stories wat uitgaan.

Ek is jammer ons is nie meer krities oor Jacob Zuma en sy regering nie. Terwyl sy skandale ons besig hou – van Nkandla tot MaNtuli – is daar hope ander goed waaraan ons eerder aandag moet gee (buitelandse en ekonomiese beleid, sy aanstellings, die skade wat hy aanrig by noodsaaklike instellings, ens.).

Ek is jammer ons het nie die wette en howe meer benut in ons stryd vir toegang tot inligting nie.

Ek is jammer dié van ons wat regtig omgee bied nie meer analise of skryf boeke oor kwessies wat werklik saak maak nie. Dis ons plig om moeilike goed verteerbaar te maak. Dis ons wat moet uitpluis, verduidelik en wat die fluitjie moet blaas.

Ek is jammer vir die opvatting dat ons stories moet vertel wat mense goed laat voel en wat nasiebou kan bevorder. Ek weet nie heeltemal waar dit vandaan kom nie, maar dit is onsin.

Ek is jammer dat ons interne rusies dikwels die openbare domein haal. Julle verdien beter.

Ek is jammer oor al dié goed, en soveel meer. Maar soos Anton Harber, professor in joernalistiek, onlangs uitgewys het, die media se grootste tekortkoming is nie dat hy té krities was oor Zuma en sy regering nie, maar dat hy nie krities genoeg was nie.

Daaroor is ek innig jammer. Ons sal probeer verbeter.

  •  Alex Eliseev is ’n senior verslaggewer by Eyewitness News. Volg hom op Twitter @alexeliseev
  • Die meningstuk is met toestemming van EWN gepubliseer, lees die oorspronklike artikel hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alied ·

As ons nie joenaliste het nie, waar gaan ons al die nuus vandaan kry?- nee, daar MOET wees, sodat ons ophoogte kan bly wat in hierdie (mooie?) land van ons gebeur.
Doen so voort!

Sarie ·

Jy het vergeet om jammer te se dat die Engelse nuus in SA plaasmoorde net as nog ‘n misdaad sien

Anton ·

Goed gestel maajy vergeet om jammer te omdat julle plaas moorde probeer dood swyg!

neelsie ·

Joernalis in murg en been.
Doen wat jy moet, so goed jy kan.
Hou so aan, sal jou ondersteun.

Susan Stoltz ·

Dankie vir die puik stuk oor “jammer” dit tref die kol. Julle het ‘n werk om te doen, Jesus het julle met die spesiale talent geseen………DOEN dit! As mnr Zuma en sy trawante nie hou van. of verstaan teen die tyd dat ons Volk in ‘n verknorsing sit weens wanbestuur, en onbevoegdheid nie…….we’ll my vriend, dan moet hy maar vir hom “Die Son” weergawe aanskaf, dalk sal hy die volks taal dan beter verstaan. Doen julle werk met trots!

Henry ·

Ek is jammer dat subjektiwiteit deur die eeue heen, die mees algemene kenmerk van die joernalistiek is.
Ek is jammer dat die gebrek aan objektiwiteit, die geloofwaardigheid van die joernalistiek negatief beïnvloed het.
Ek is jammer vir Reeva Steenkamp se ontydige/onnodige dood.
Ek is jammer dat jy dit nodig vind om op hierdie wyse tyd en ruimte vermors, deur te bevestig wat meeste van ons in alle geval weet.
Ek is jammer dat my jammer, soos jou jammer, uiteindelik nie van enige betekenis is, indien ons net oor ons jammertes teem en kerm nie.

Jammer van Jammervlakte ·

Dis jammer julle het nie die insig in 1980 aan die dag gelê nie dan was daar veel minder om vandag oor jammer te wees!

Hannetjie Gawler ·

Ek is jammer dat elke vorige Burgermeester in Oos London bedrog gepleeg het en weggekom het met n goue handdruk en dan bloot geskuif is na n ander departement waar daar weer later ondersoeke teen hulle gedoen word.
Ek is jammer kinders in Peddie deur hulle ouers as seks-slawe gebruik word om geld te kry.
Ek is jammer dat Oos London die 2e grootste Township in Suid Afrika het en op n tydbom sit agv werkloosheid.
Ek is jammer oor al die elektriseteit wat gesteel word in die townships en dat ESKOM onder Polisie begeleiding elektrisiteit onderhoud aan substasies moet doen.
Ek is jammer dat 3 skool bussies na n Sportbyeenkoms by n STOP GO tussen Port Elizabeth en Oos London beroof is by die stop-go.
Ek is jammer dat daar NIKS gedoen word om mense in tronke te ontwikkel en voorsien van skills wanneer hulle uit die tronk gaan kom nie.
Ek is jammer dat daar groot dagga-plantasies in die Transkei is waarvan die regering bewus is en dat daar op jou geskiet word as jy daar naby stop.
Ek is veral jammer dat byna al ons Tekstiel fabrieke moes toemaak omdat cheap materiaal van China die land binnekom.
Ek is jammer omdat Counterfit medisyne die land binnekom deur die Swazilandse grens.
Ek is jammer dat al die provinsies sukkel met behuising, sewerage eleketrisiteit en skoon water en nie net die WesKaap wat telkens uitgesonder word vir kritiek nie.
Ek is jammer ons kan nie ontslae raak van Zuma as President nie want hy is n embarresment vir ons land.

Lou Coetzer ·

Toe ek die artikel vir iemand wou aanstuur, verskyn daar ‘n vraag aan die einde van my versoek om te sê “Wat is 10 + 15?” Ek antwoord dat dit twee getalle is met ‘n plusteken daartussen (dis mos wat gevra word?). Maar indien die vraag was “Hoeveel is 10 + 15” dan sou die antwoord 25 wees. Die rekenaar gooi my antwoord uit deur te verklaar: Daar is ‘n fout met die antwoord.
Is daar ‘n fout met my antwoord?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.