Ligloop vir die nommer 6-sensasie

nelson-mandela-en-francois-pienaar

Nelson Mandela en Francois Pienaar tydens die Wêreldbeker in 1995. Foto: Brightwork.com

Sowaar, 21 jaar gelede verower die Springbokke toe die Wêreldbeker op Ellis Park. Oudpres. Mandela verskyn met ’n nommer 6-Springboktrui op die veld, dieselfde nommer as dié van die Springbokkaptein, Francois Pienaar. Vervul met ʼn behaaglike nommer 6-sensasie, is die skare in vervoering en die land juig, want waar wil jy dan ’n meer oortuigende teken hê dat ons almal een hegte Suid-Afrikaanse reënboognasie is? Ja, voorwaar: We are all South Africans! Saamgebind deur ons voortreflike oppermagtige Grondwet, kan ons inderdaad luid uitbasuin: We are one!

Kort daarna begin die moeilikheid. Versoening maak plek vir rassetransformasie. Stapsgewys word Suid-Afrika ’n korruptokrasie. Afrikaners word gemarginaliseer. Afrikaanse skole word opgeruim. Afrikaanse tersiêre onderrig by openbare instellings is op sy laaste bene.

Eiendomsreg is toe nie regtig so grondwetlik verskans soos wat ons geglo het nie. Die land word ’n gevaarlike plek. Plaasmoorde naas ander geweldsmisdaad vier hoogty. Die hoogste hof beskerm wit mense nie teen arbeidsdiskriminasie in die naam van regstellende aksie nie. Solidariteit wend hom ten einde raad tot die Verenigde Nasies. Die hoogste hof sê ook dis reg dat plasings van kinders in openbare skole ten slotte by die LUR’s vir onderwys mag berus in plaas van by beheerliggame. En nou die dag verdoem die einste konstitusionele hof die Afrikaner-verlede in brute terme in die Pretoria-straatnaamsaak.

Vertroue verdwyn en derduisende Afrikaners verlaat die land. Dit raak al duideliker ons is toe nie die behaaglike reënboognasie nie. Die nommer 6-sensasie is weg. Die Grondwet beskerm ons toe nie regtig nie en die hof neig om ʼn verlengstuk van die regerende elite te word. Jy kan moeilik jou vertroue daarop plaas.

Dog, toe dit nou regtig donker raak, is daar uitkoms – sommer ’n dubbele uitkoms: die munisipale verkiesingsuitslag van 3 Augustus en Suid-Afrika wen tien medaljes by die Olimpiese Spele in Brasilië.

Oor die verkiesingsuitslag word daar gejuig. Die ANC verloor onder meer beheer oor Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandela. Dis natuurlik goed so. Maar kyk die feite deeglik in die oë en jou behaaglike gevoel oor die uitslag raak getemper, want jy merk op: Wanneer jy, soos wat jy noodwendig moet doen, die ANC en die EFF se stemme bymekaar tel, kom jy steeds by dieselfde persentasie stemme uit as wat die ANC in 1994 gekry het. Ontleed jy verder, sal jy ook sien dat die Afrikaners nou meer uit die verkiesingspolitiek gemarginaliseer is as ooit tevore, want die stryd tussen die partye is nou ’n stryd om swart steun. Dit is swart steun wat die DA toenemend moet werf indien hy regtig die ANC wil troef. Die gevolg is dat die Afrikaners se belange heeltemal uit die prentjie verdwyn het. Dit is heel gaaf dat die DA winste behaal het, maar moenie uit die oog verloor nie dat Afrikaners nou, soos nooit tevore nie, op die kantlyn van die verkiesingspolitiek uitgestoot is. Juis daarom is die soort selfstandigheidspolitiek wat deur die Solidariteit Beweging gevoer word, nou ná die verkiesing nog meer ter sake as ooit tevore.

Maar wag, daar is ook ʼn tweede uitkoms. Dis die reënboognasie se glinsterprestasie by die Olimpiese Spele. Ons – Suid-Afrika – wen ʼn volle tien medaljes. Dis die meeste sedert 1920. Hoera! Ons vaar regtig goed. Die nommer 6-sensasie neem sommer weer besit van ons. Dié keer is dit nou weliswaar nie geïnspireer deur ʼn presidensiële nommer 6-Springboktrui nie, maar deur ons bykans ewe inspirerende glansmeisie, Caster Semenya, wat ons volkslied, kompleet met frases uit Die Stem, daar op die podium gestaan en sing het. Is dit nie wonderlik nie?! Alles in ag genome is dit toe tog steeds waar: We are one! Ons is toe oplaas tog die “rainbow nation”.

Nou, verstaan my duidelik. Ek wens Caster graag geluk net soos die ander wat getriomfeer het, plaaslik en van waar ook al. Maar laat ons tog liewer nie op loop gaan nie, want opwellings van “nasionale trots” na aanleiding van sportprestasies is bloot valse behaaglike selfmisleiding, wat jou ten beste kortstondig van jou sin vir politieke realisme kan verlos, net om spoedig weer in die ware werklikheid van ʼn diep verdeelde Suid-Afrika wakker te word.

Daar bestaan geen Suid-Afrikaanse reënboognasie nie. Daar het ook nooit ʼn Suid-Afrikaanse nasie bestaan nie en daar is geen teken dat daar ooit een gaan ontstaan nie. Trouens, Suid-Afrika is tans so diep verdeeld soos nog nooit tevore nie, dit wil sê, verder van ʼn nasie as ooit tevore.

Neem maar net een ding naas al die ander in ag. Dit is die groeiende radikalisering onder ʼn beduidende groepering van swart jong mense wat hulself ervaar as uitgelewer aan ʼn streng wit gestandaardiseerde wêreld. Hulle voel universiteitskampusse is bastions van ʼn vreemde en vyandige, gekoloniseerde wit-Westerse wêreld, wat Westerse kennis op ʼn Westerse manier aan die hand van Westerse standaarde op hulle afdwing. Gekrenk en verneder deur die nimmereindigende Westerse vergryp en toenemend skerp bewus van hulle eie identiteit, eis hulle dat die institusionele kultuur en kurrikulum van universiteite omvergewerp moet word ten einde post-koloniaal en eg Afrika te word. Wat dit presies behels, weet niemand nie. Een ding is egter duidelik. Dit is dat universiteite strydperke van ʼn heftige kultuurbotsing geword het en onherkenbaar gaan verander. Dit gaan plekke word wat Afrika adem eerder as die afstootlike Weste wat dit tans nog weerspieël. Ingrypende personeelverandering is waarskynlik net om die draai. Iets van die aard van etniese suiwering sluimer onheilspellend vlak onder die oppervlak. Soos die hareherrie van die afgelope week duidelik wys, is dieselfde tendens by skole waarneembaar, want die haregeveg is ten slotte ook ʼn kultuurbotsing. Juis daarom is dit so heftig.

Veral Afrikaners is in die skyf van radikalisering. Boonop is Afrikaners self oor die afgelope nagenoeg tien jaar besig om hulle eiesoortige identiteit te herontdek en om toenemend ʼn politiek van selfstandigheid te bedryf. Eintlik is daar geen ander keuse nie en bowendien werp dit reeds vrugte af.

Teen hierdie agtergrond is selfbedrog oor sake soos die sing van die volkslied by die Olimpiese Spele werklik uiters dwaas. Die onaangename feite oor die diep verdeeldheid moet vierkant in die gesig gestaar word, veral deur Afrikaners. Daaruit voortspruitend staan twee dinge ons te doen. Eerstens moet die politiek van selfstandigheid waarmee daar reeds ʼn goeie begin gemaak is, versterk word – ingrypend versterk word. Tweedens moet Afrikaners die bes moontlike verhoudinge met mense in die swart wêreld bou, want ons politiek van groeiende selfstandigheid is nie ʼn daad van vyandigheid nie maar die voorwaarde vir selfrespekterende selfstandigheid en opbouende samewerking met ander gemeenskappe.

Die mees onverstandige ding om te doen, is om te midde van die klank van die volkslied weer die nommer 6-pypdroom te rook.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christo ·

Die afrika geskiedenis vertel dat geen westerse beskawing dit nog in afrika gemaak het nie.Die engelse het net opgepak en geloop,die portugees is uit mosambiek verdryf,Zimbabwe en Suidwes vertel sy eie storie nie eers genoem wat bo in afrika aan die gang is nie.Wat maak ons Afrikaners so spesiaal na ons besluit het ons ons mag weg te gee in 92 dat dinge vir ons anders wees.Miljoene is al weg en wat gaan van die word wat oorbly of gaan FW oor 100 jaar bekend wees vir die man wat die afrikaner volk uitgewis het in afrika.

JC ·

Oulike artikel, Prof.
Viva Afrikaans! Viva Afrikaners! Viva Afrikaanses!Viva Solidariteit! Viva Afriforum!
Viva Afrisake! Viva Afriforum Jeug!!

JC ·

Die tyd om te baklei vir ons kultuur, taal en regte is NOU!
MOET NOOIT OPHOU BAKLEI NIE!!

Deon ·

Amen! As meer Afrikaners net wil besef en aanvaar wat die prof skryf, kan ons dalk ‘n sterker standpunt inneem, maar ek is bevrees die nr 6 sindroom is sterker as wat mens vermoed, veral onder die sportmal volkie van ons.
Verder is daar ook nog die illusie dat die DA nou die redders van die nasie is. Hoe blind moet die mense wees om nie te sien dat die meerderheid leiers wat nou in DA poste aangestel word, maar net ou jakkalse is wat van t-shirt verander het nie…

TDW ·

Sjoe maar jy is negatief!
Ons afrikaners kleef nie vas aan ‘n nommer droom nie. Ons probeer ‘n positief van ‘n negatief maak. Dis nie dat ons blind is nie, maar juis oor ons uit die boks probeer dink om dinge te verbeter. Jou artikel wil my laat immigreer of selfmoord pleeg.
Dink buite die boks. Positiwiteit troef altyd negatiwiteit. Vertrou op God, moenie kla met 2 witbrode onder die arm nie en wees ‘n rots daar waar die kaarte inmekaar begin val. Ja, dinge lyk sleg hier in SA, maar dis oor die hele wêreld sleg. Blom waar jy geplant is.

Skatymir ·

Baie goeie artikel, ek kry die indruk die prof hou homself so ‘n bietjie in. Switserland is een van mees suksesvolle lande. Die verskillende kulturele groepe bly in kantonne en hulle kom glad nie goed klaar nie. Ons kan miskien baie van hulle leer.

JC ·

Kom ons lewe dan ook apart in ons eie gebiede!! (kantonne)
Dan is al die wrywing weg en almal leef in vrede binne hul eie taal en kultuurgroepe!
Dit is tog hoe dit werklik is. Al wanneer kontak gemaak word is vir werkdoeleindes en amptelike doeleindes.
Dis duidelik die “reenboog” projek het gefaal en sal nooit werk nie. Ons het beslis nie die anderstaliges nodig nie (al dink hulle so) en hul ons klaarblyklik nog minder hehe! Die probleme het vir die meeste Afrikaners en Afrikaanses begin toe hulle iets probeer met ons pragtige asembenewende taal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.