Ligloop vir die Zuma-euforie

dawie-roodt-3

Dawie Roodt. Foto: Facebook.

Dit is net ʼn kwessie van tyd. Om die waarheid te sê, teen die tyd dat dié artikel verskyn kan Zuma al uit die prentjie wees. En almal sal juig: Die simbool van onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie is daarmee heen. Wat is nie gaaf daaromtrent nie?

Wel, ek is nie so seker nie.

Daar is twee aspekte verbonde aan Zuma se vertrek op die markte en die ekonomie. Die eerste reaksie sal wees op die finansiële markte. Ons het reeds ʼn reuse-waardevermeerdering in die wisselkoers van die rand en die effektebeurs gesien. Daar is selfs aandelepryse wat positief gereageer het toe dit aan die lig gekom het dat Zuma se beheer tot ʼn einde kom.

Dit is soos met ʼn marathonatleet wat ʼn energie-inspuiting kry kort voor die einde van die wedloop – ongekende energie en die uitsien na die einde van ʼn moordende resies. Maar sodra jy die wenpaal gehaal het, is daar altyd ʼn antiklimaks, veral as die suikerhupstoot begin taan.

Ek vermoed dat Zuma se bedanking of ʼn mosie van wantroue die einde sal wees van die euforie omtrent sy vertrek. Die rand mag dalk ʼn paar sent wen, die effektebeurs mag dalk ʼn paar punte beter vaar en die JSE mag dalk ʼn sug van verligting slaak.

Maar dan is dit tyd om weer vorentoe te kyk. Dit is haas tyd vir die begrotingstoespraak en om die werklikheid in die oë te kyk: Ons is steeds diep in die verknorsing!

Die begroting gaan aaklig wees – dit is onvermydelik. Die staatsentiteite is finansieel en funksioneel vernietig, en die ander kwale is steeds met ons: werkloosheid, ʼn disfunksionele onderwysstelsel, die plaaslike owerhede, Sassa, Prasa …

Ek is bevrees sodra die vreugde oor Zuma se einde gaan bedaar – wat een of ander tyd moet gebeur – ons te staan gaan kom voor die onthutsende werklikheid van ʼn afgetakelde ekonomie.

Loop lig vir die Zuma-euforie. Dit mag dalk nie so lank duur nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Nico ·

Wat ons sien is slegs die dekor. Die konsert het nog nie begin nie !!

Nico K ·

Ek dink die meeste van ons besef dat niks regtig sal verander nie. Maar dit is darem goed om te weet dat ons nog in SA van ‘n leier ontslae kan raak anders as in die res van Afrika waar demokraties verkose leiers net eenvoudig ‘n dikatuur word.

Stof ·

Broer Jakob het darem vir goeie humor ook gesorg. Hy, sy uitlatings en die derduisende grappies en tekenprente in die media wat sy narrewales tot gevolg gehad het en seker vir nog ‘n tydjie sal hê, het vele male ‘n donker dag se atmosfeer kon lig.
Synde nie ‘n politieke kenner nie, kan ek nie politieke of ekonomiese uitsprake waag nie, maar as filantrioop en terapeut, glo ek bogenoemde is vanpas.

Frikkie Geld en huis ·

Zapiro gaan sukkel om ons stortkop te vervang.

Eish ·

Bly maar n onaangename ervaring om n ander se kastaiïngs uit die vuur te krap. Patriotisme is ongelukkig n luuksheid wat saam met die stortkop se water die rioolsisteem binne is.
Nugtere werklikheid wat wag soos in die artikel uitgewys.

Die Varkerasie Genootskap van Suid-Afrika ·

Woensdae maak die munisipaliteit die vullisdromme in ons Varkerasie Genootskap se besigheidsgebied leeg. Maar eers maak arm, werklose mense sonder toekomshoop hul draaie om weggooikos, metale en plastieke uit die vullisdromme te aas. Tragies hoe vele van ons mede-soogdiere, Homo sapiens sapiens, se politici en besigheidslui só gierig en selfgesentreerd is en hul wend tot korrupsie en die wanaanwending van staatsgeld. Ons varkerasies raak só rebels hieroor.

Mag Suid-Afrikaanse soogdiere Homo sapiens sapiens spoedig ontslae raak van die ANC DNS en sy National Democratic Revolution.

“Do you want to be a member of a caring society?” Raak betrokke by opbouende burgerlike strukture vir ‘n beter Suid-Afrika en vredevolle voorspoedige Suid-Afrikaanse toekoms vir al sy soogdiere.

HEVW ·

Ek is optimisties. Die geskiedenis het dit al bewys. Gee maar die Afrikaner n grashalm van optimisme om na te gryp en dit maak dat hy oorwin.

Werner ·

Cyril het n beter kaans om uit sy pos geskrop te word as Zuma hoor my lied

Tess ·

Ons het ‘n keuse-gees of vlees. Dink nie Zuma sou uitgaan as daar nog iets was om te plunder nie. Ons moet maar daarmee deel in geloof. Dis al wat hierdie proses positief kan laat uitdraai. Met geloof is enige iets moontlik

Hennie ·

Goeie genade hoekom is almal so negatief?? Ek dink ons is is voor die deur van groot posotiewe ding om in hierdie land te gebeur! Ja, dit gaan ‘n groot job wees om die wêreld skoon te kry van al die korruptes, maar julle sal sien! Gee net kans!

Nelia Botha ·

Mr. Cyril Ramaphosa gaan met al ons gebede en God se troue sorg ons gebroke land deur die drif trek. Hy is deur God daartoe verkies en sal gelei word om die regte dinge op die regte tyd te doen. Hy is van jongsaf reeds uitgekies vir hierdie haas onbegonne taak maar hy het hard gewerk en hard gestudeer. Hy is ook ‘n briljante onderhandelaar wat reeds groot lof, van sy Universiteits Professore as jong student ontvang het. God seën hom en gee hom U leiding sodat hy met eerlikheid, opregtheid en helderheid van verstand U wil sal doen.

Louis Botha ·

Een van die groot uitdagings gaan wees om die institutionele neo-rassisme gedryf deur die BBEEE kodes tot ń einde te probeer bring.
Wat vreemd is, is dat hierdie nuwe velkleur gebasseerde beleid, bedryf word deur mense wat erg teen velkleur politiek geprotesteer het.

Mamma Drie ·

Verkoop SAA en gebruik geld om ons hospitale en onderwys regterug en semi privatiseer Eskom en die poskantoor. Los die Boere om ons kos tevoorßien en sorteer die grond wat hulle reeds gevat het en onproduktief is uit

Flip ·

Met groot respek gesê: Ek verstaan nie Dawie Roodt se argument nie. Alles wat hy sê is waar, maar dit het mnr Roodt al verduidelik – die ekonomie is in ‘n swak toestand.
Wat hy nie sê nie is dat Jacob Zuma wel die bopunt van die gesagstruktuur is maar dit is nie net ‘n kwessie van die regte besluite op sy vlak nie. Daar is nog ‘n klomp Zuma-kamp mense in gesagsposisies. Sal hulle die regte beleid uitvoer?
Dan is daar die kiesers wat oorreed kan word om ‘n stokkie voor politieke veranderings te steek. Die veranderings wat nodig is om die ekonomie reg te stel.
Met ander woorde, om die ekonomie om te draai is sekerlik moontlik maar ek wil graag mnr Roodt se kommentaar op die politieke versperrings hoor. Hy dink sekerlik daaraan maar het dit om een of ander rede nie verduidelik nie.

John ·

Cyril staan alleen, vasgeketting aan ‘n swaar gewig. Sy beweging gaan gekniehalter word deur die baie bedorwe parlementere- ea ANC-kindertjies wat wil he wat hulle wil he en die huis op horings sal neem sodra die roomkoekies nie reen nie. Afrika glo in manna- en kwartelsoptel en in soet dikmelk… as reg ~ almal koningskinders op deeske aardbol ~ en Cyril sal pa moet staan. Hoogdrawende meerwaardigheid is nogal deel van sy woordeskat tov witmense. As hy ons ondersteuning wil he sal hy sy gedrag effe moet wysig.

honourable member ·

Apartheid is altyd vir alles blameer. Beteken dit nou dit word nou verskuif na Zuma want na apartheid was hy die grootste ramp wat hierdie land getref het.

Marthinus Willemse ·

Ek hoop dat Cyril soos Waldimir Poetin die gemors van sy voorganger sal kan skoon maak. Soos Dawie sê – en hy is `n ekonoom; ek nie – gaan dit bloed, sweet en trane kos. En ongelukkig is daar nog te veel kommuniste in die parlement en as kaders in munisipaliteite en staatentiteite ontplooi. My vriend is betrokke by die DA en ek verstaan dat die ANC se beamptes in Jhb die stelsel van binne af saboteer; hulle sal eerder die stelsel vernietig, as om mag aan ander partye af te staan.

Die Sowjetunie was besig om reggeruk te word, toe Boris Jeltsin president word. Hy was erger as Zuma, en het staatsentiteite aan familie en vriende en voormalige amptenare soos Michail Chodorkowski verkoop. Toe maak Boris die fout om Amerikaanse “kundiges” die land in te bring, en een van hulle voorstelle was om `n IMF-lening te aanvaar, en die Sowjetunie se ekonomie met geweld te hervorm. Dit het gelei tot die ineenstort van Michail Gorbatjof se perestroika-ekonomie en die hele Sowjetunie daarmee saam. Die Russe het gespot dat hulle vir 70 jaar onder sosialisme geleef het, maar nou, onder Jeltsin, leef hulle onder ware kommunisme. Gelukkig, vir Rusland, het Jeltsin vir Wladimir Poetin aangestel, wat die land van die afgrond weggeruk het – deur basiese goeie ekonomiese praktyke. Toe die olieprys die hoogte in skiet het Poetin al Rusland se buitelandse skuld daarmee afbetaal, en begin om `n reserwefonds te skep. Vandag staan daardie reserwefonds op $450 biljoen.

Theresa ·

Kan ‘n briljante mens soos Mnr Roodt nie ‘n afspraak maak en met die mense gaan gesprekvoer en met raad bedien nie? Hoog tyd dat ‘n mens wat soos ‘n steeks donkie vassteek en gesleep moes word tot verandering/verbetering nou uitgeskuif is en hopelik kan die nuwe staatshoof die sin insien wat Mnr Roodt kan aanbied. Dan, natuurlik is dept van gesondheid, die skole en landsveiligheid (insluitend ALLE wettige burgers se veiligheid) groot kwessies om positief te draai. Hoop die nyd en jaloesie taan nou onder ‘n beter leier wat mense nie opstook nie.

Cornel Botha ·

Ek stem saam dat daar baie probleme is wat aangespreek moet word. Maar Zuma se bedanking is darem n stap in die regte rigting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.