Linkse en regse ekstremiste: Ooreenkomste spreek boekdele

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verskeie gebeurtenisse in die wêreld het in die afgelope dae opnuut die leemtes in die paradigma van die tradisionele skeiding tussen links en regs blootgelê.

In Charlottesville in Amerika was linkse en regse ekstremiste die aanjaers van ’n gewelddadige botsing wat op die dood van ’n onskuldige vrou uitgeloop het. Dit het gegaan oor die plaaslike owerheid se planne om die standbeeld van genl. Robert E. Lee, bevelvoerder van die suidelike Konfederale magte teen die noordelike Unioniste tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1862-’65), te verwyder.

Iemand wat dinge van buite af bekyk, het die luukse om neutraal te staan teenoor die verwydering van die standbeeld.

Enersyds was Lee persoonlik ’n eerbare generaal wat sy beste gelewer het vir wat hy as sy vaderland beskou het, die Konfederale State van Amerika. Andersyds het daardie selfde Konfederale State geveg vir die behoud van slawerny wat, hoe jy dit ook al wil bekyk, ’n moreel verwerplike stelsel was.

Nogtans, sou jy kon sê, dis geskiedenis. Oor Cecil B. Rhodes hier in Suid-Afrika kan ’n mens – tereg – ook baie negatiewe dinge sê, maar, net soos met Lee, dis deel van die geskiedenis. Wil ’n mens dan nou al die dinge in die geskiedenis wat jy met vandag se kennis en insigte as negatief beskou uit die annale van die geskiedenis verwyder (of hoogstens deur propagandistiese oë beskou)?

Onder die betogers aan albei kante in Charlottesville was daar mense wat sterk gevoel het, maar wat geen misdadige neigings gehad het nie. Maar daar was ook klipharde ekstremiste.

Onder die beswaarmakers, so sien jy op ’n video van die geleentheid, was daar onbeskaamde neo-Nazi’s wat openlik rassistiese en antisemitiese slagspreuke geskreeu het, wat die Hitler-saluut gegee en uitgeroep het “Heil Hitler!” en “Heil Trump!”

Onder hul teenstanders was daar mense wat ’n opregte afsku gehad het van die – soos hulle dit sien – goedpraat van slawerny, rassisme en die Nazisme. Maar daar was ook klipharde linkse ekstremiste wat – kom ons stel dit só – geensins afkerig was van gewelddadige metodes nie.

Dis waar dat die regses die munisipaliteit se amptelike goedkeuring vir die betoging gehad het; hul teenstanders nie. Maar, op die keper beskou, met die linkse en regse ekstremiste uitstekend in die aanwesiges se geledere verteenwoordig, was dit ’n bakleiery wat ’n plek gesoek het om te gebeur.

In Berlyn het dinge vreedsamer verloop. In dié stad het ’n groep neo-Nazi’s betoog vir die eerherstel van Rudolf Hess, wat in ’n stadium ná Adolf Hitler tweede in bevel van die Nazi-party was.

Hess het in Mei 1941 in ’n Messerschmitt 110 geklim en na Engeland gevlieg, klaarblyklik sonder Hitler se medewete, wat glo buite homself van woede was toe hy daarvan hoor. Vermoedelik was Hess nie lekker in die kop nie. Hy is gevange gehou totdat hy in die laat tagtigerjare in die Spandau-gevangenis in Berlyn oorlede is in omstandighede wat nog nie heeltemal opgeklaar is nie.

Dat die betoging vreedsaam verloop het, was te danke aan die matigende rol van die polisie, wat die teenbetogers – ewe ekstreem – ver van die neo-Nazi’s gehou het.

Die Berlynse polisie het geslaag waar dié van Charlottesville misluk het.

Charlottesville se gebeure herinner baie aan die grootskaalse straatgevegte tussen Nazi’s en kommuniste in die vroeë jare dertig in Berlyn en ander Duitse stede. En dit bevestig iets wat mense dikwels nie raaksien nie.

Tussen linkse en regse ekstremiste is daar – meestal – duidelike ideologiese verskille. Regse ekstremiste beklemtoon veral etniese identiteit en die belang van afkoms (met ander woorde, rás), terwyl linkse ekstremiste veral klem lê op klás.

Maar as jy kyk na hul ekonomiese oortuigings, vertoon dit nogal ooreenkomste. Albei groepe is gekant teen die groot kapitalisme en bepleit rigtings wat in mindere of meerdere mate sosialisties is. Albei haat die liberale veelpartydemokrasie, soos hy in die Weste bedryf word, met ’n ongelooflike passie.

Belangriker nog: Hul metodes is dikwels feitlik identies. Hulle meen nét hulle het die volle waarheid in pag, dat die ander dus totaal verwerplik is, en dat die ander gevolglik geen reg het om hul mening te huldig of in die praktyk toe te pas nie.

Baie mense sien die spektrum tussen links en regs as ’n reguit lyn, waar die twee uiterstes baie ver uit mekaar lê. In die praktyk moet ’n mens eerder dink aan die vorm van ’n hoefyster, waar die twee uiterstes taamlik naby aan mekaar uitkom.

Dalk die beste praktiese bewys hiervan was Josef Stalin en Adolf Hitler. Hitler het sý konsentrasiekampe van Stalin afgekyk, en in hul persoonlike gesprekke het hulle dikwels met die hoogste bewondering van mekaar gepraat.

Daar was in die destydse Duitsland ook ’n voortdurende verloop van mense oor en weer tussen die kommuniste en die Nazi’s. Hulle het iets in die ander kamp van hulself raakgesien.

Jy sien dit ook in Suid-Afrika. ’n Groot deel van die ANC, wie se idees oor die demokrasie hoofsaaklik deur die Afrika-kultuur en die kommunisme gevoed is, is inderwaarheid net so teen die huidige Grondwet en demokratiese stelsel gekant as regse (wit) ekstremiste. By hulle kry jy ook dikwels ’n histeriese gegil teen die liberalisme en die demokrasie.

Dit alles beteken dat die tradisionele teenstelling tussen linkse en regse ekstremiste eintlik vals is. Hulle stem in meer opsigte ooreen as wat hulle verskil.

Die korrekte teenstelling is dus nie tussen linkse en regse ekstremiste nie, maar tussen ekstremiste (van alle groepe) enersyds, en gematigdes (van verskillende oortuigings) andersyds. Natuurlik is daar talle verskille binne dié groepe intern. Maar soos hulle hul in die praktyk manifesteer, is dít die egte teenstelling.

Wat is die demokrasie? Dis eenvoudig ’n stelsel om verskille in oortuiging vreedsaam te bestuur, en om die mag só te versprei dat geen enkele persoon of instansie te veel mag rondom homself kan konsentreer nie.

Die probleem hier by ons in Suid-Afrika is dat die oorheersende deel van die regerende party nog nooit werklik gematig of demokraties was nie.

Gelukkig het die demokrasie, veel meer as elke ander stelsel, ’n selfregstellende vermoë in hom. Uiteindelik draai die wiel.

Wat ’n mens tans sien in die ANC, en die snelheid waarmee hy op ’n skynbare skeuring afstuur, is deel van daardie vermoë van die demokrasie om die ewewig te herstel.

Maklik sal dit nie by ons gaan nie; trouens, ’n mens sien swarigheid voor in die wapad. Maar die demokrasie gee ons ten minste ’n kans.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kannaland

Links en regs is juis teenoorgestelde pole en het amper niks in sinvolle vergelyking in gemeen nie. Hul sienings is onversoenbaar. Trump en Malema is hemelsbreed uit mekaar. In die middel is opinielose draadsitters.

dirk L

hou dus die spul uitmekaar se werelde. baie mense soek geborgenheid by hul eie soort – wat hul vertrou of ten minste ken. ek gun mense hul eie spasie

Rupert Ashford

Leopold. ..kug-kug…so anders as die HSM van die VSA stem jy saam met Pres Trump oor die Charlottesville storie?;-)

Kom Ons Boks

Ek dink hierdie is ‘n voortreflike stuk deur skrywer. Dit kom ook neer op dit wat Trump gese het dat albei kante ewe veel blaam dra vir verwikkelinge in Charlottesville. Ek hou veral van die hoefyster analogie.

Pietman

Ja kyk, die regses het ‘n wettige optog gehad, sonder die linkses sou dit vreedsaam verloop het. Maar die linkses ( die fasciste wat hul is ) agtervolg konstant regse byeenkomste met die doel om dit te ontwrig en om mense leed aan te doen. Vryheid van spraak en respek vir diversiteit ( waar wit geskiendenis ook herken word) is nou ‘n regse kenmerk. Geweld en onderdrukking van spraak en onderdrukking van diversiteit is nou links. Hitler was eintlik links. Hy het die joodse kultuur gehaat soos wat die linkses wit mans haat, hy het oposisie met geweld onderdruk soos… Lees meer »