Linkse groepe oorspeel hand met Kavanaugh-bevestiging

Brett Kavanaugh gedurende ʼn verhoor van die senaat-regbankkomitee in Washington D.C., VSA op 5 September. Foto: Bloomberg Photo/Aaron P. Bernstein.

Brett Kavanaugh is die afgelope naweek deur die Amerikaanse senaat bevestig as die 114de regter van die Amerikaanse hooggeregshof. Kavanaugh is bevestig met vyftig teen agt en veertig stemme, die kleinste meerderheid sedert die bevestiging van Stanley Matthews in 1881.

Dit is nie net die twee stemme-meerderheid wat Kavanaugh se bevestiging omstrede maak nie, maar ook die chaos en selfs geweld wat oor die afgelope twee weke in die Amerikaanse hoofstad uitgebreek het.

Kavanaugh is ’n ervare en bekende regter in Amerika. Hy het tot met sy onlangse benoeming vir die hooggeregshof as ’n appèlregter gedien. Kavanaugh het sy graad in Amerikaanse geskiedenis cum laude aan die Yale-universiteit verwerf en het hom daarna by die Yale-regsfakulteit in die regte bekwaam.

Sy onlangse nominasie deur president Donald Trump om die vakante pos wat met die aftrede van regter Anthony Kennedy gelaat is, te vul, was van die staanspoor af in omstredenheid gehul omdat Kennedy ’n swaaistem in die hof was. Kavanaugh het ’n konserwatiewe rekord en sou hy bevestig word, sou die hof vyf konserwatiewe en vier liberale regters hê.

Nadat senators van die regspaneel hom aan die begin van September in ’n openbare verhoor ondervra het, was dit duidelik dat Kavanaugh ’n baie slim en ervare regter is wat die Amerikaanse grondwet deur sy uitsprake eerbiedig en in stand hou. Kort ná die verhoor het dit egter aan die lig gekom dat ’n vrou, wat tans professor in sielkunde in Kalifornië is, in Julie vanjaar aan die Washington Post-koerant beweer het dat Kavanaugh haar in die vroeë 1980’s, toe hulle albei op hoërskool was, tydens ’n partytjie aangeval het. Sy het beweer dat hy haar wou verkrag en dat sy vir haar lewe gevrees het. Sy het egter daarin geslaag om te ontsnap. Sedert die beweerde insident het sy dit egter nog nooit êrens aangemeld nie en geen ooggetuies kon albei partye se teenwoordigheid by die partytjie onthou nie.

Sedert hierdie bewerings op 12 September bekend geword het, het totale chaos uitgebreek. Nog soortgelyke beskuldigings is teen Kavanaugh gemaak en linkse politieke groepe het geëis dat sy nominasie teruggetrek word. Groot betogings het in Washington uitgebreek en sommige senators moes voltydse polisiebegeleiding kry.

Die Federale Buro van Ondersoek (FBI) is deur president Donald Trump opdrag gegee om ’n verdere ondersoek na die bewerings teen Kavanaugh te maak. Dit is belangrik om te besef dat die FBI oor die afgelope paar jaar ses soortgelyke ondersoeke gedoen het omdat Kavanaugh voorheen vir ses ander posisies in die Amerikaanse staatsdiens bevestig is. Verlede week se ondersoek deur die FBI kon geen getuienis vind wat die bewerings teen Kavanaugh staaf nie.

Dat die gebeure van die afgelope paar weke sonder twyfel ’n klad plaas op die geloofwaardigheid van die Amerikaanse politieke stelsel, kan nie betwyfel word nie. Die gematigde senator, Susan Collins van die deelstaat, Maine in die verre noordooste van die VSA, het Saterdag in ’n toespraak van meer as veertig minute sterk kritiek teen die Demokrate en linkse politieke groepe wat Kavanaugh se nominasie in ’n sirkus laat ontaard het, uitgespreek. Collins se kalm, billike benadering is die regte een. Linkse groepe het hul hand oorspeel en daardeur die Amerikaanse politiek nog meer gepolariseer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

waarheid ·

Wel kyk hoe gaan dit hier!
Almal in die staatsdiens en polittiek is korrup.

Willem ·

Moet mens dan nou nie eerder versoenend optree nie, daar en hier?

Linkse ·

Ja ons linkses moet die gelyke versoenning kaart speel wanneer onsduidelik besig is om te verloor. Versoen en vergewe en laat als gaan, geen reels en geen verantwoordelikheid.

marous ·

Eerder ‘n koei seun wat sy hoed lig vir ‘n dame en deure oopmaak as ‘n bleek das draende liberalis wat in ‘n kantoor sit in ‘n stad en neersien op mense wat nie hul verwronge begrippe van die wereld wil deel nie.

Hou Verby ·

Jy kan nie met mense sonder moraliteit en sonder mentaliteit versoen nie. Jy kan vir hulle bid, maar dis omtrent al.

Charles ·

Baie dankie dat jy jou vinger op die pols hou Jaco.Dat die Demokrate nou GEWUS ‘n DUUR prys gaan betaal-soos te kenne gegee word deur die nuutste Huis Peilings(wat nog te se van die Senaat waar die GOP lyk om amper skoonskip te maak)is GEWIS.
Vorige peilings op Real Clear Politics(RCP)van die Huis van Verteenwoordigers het nou in die nadraai van die “Demokratiese’Special K’ Sirkus”(‘n eufemisme as daar ooit een was!!)handomkeer verander;om net een vb.te noem:Washington Staat se 8ste distrik waar Rossi nou ‘n 10 punt voorsprong bo sy dem opponent verkry het-NODELOOS om te se is hierdie die “Kavanaugh effek”,dit wil se vrouens wat diep die joos in is oor die behandeling deur die demokrate van ‘n onskuldige,opregte en eerbare man.

Ewe skielik lyk die “toss-ups” waar die GOP skraps voor was of effens agter (31 van hulle) nou soos ‘n seker ding-flussies kan hulle self nou dink daaraan om van die “lean democrat” setels te vat!

Hoe die demokrate so absoluut uiters polities onbevoeg kon wees OM OOIT te kon optree soos hulle het laat jou mond oophang,maar dit spreek ook van ‘n reuse onsekerheid en weerloosheid.

VERSEKER gaan die Republikeine NOU hierdieduidelike momentum gryp,en al die pad na 6 November 2018 vat,waar ek NOU voorspel die prentjie so sal lyk:
Senaat:
GOP 56
Demokrate 44
Huis van Verteenwoordigers:
GOP 223
Demokrate 212
Baie dankie

Jerry ·

Polarisasie is duidellik te sien op die agendas van links en regs, hier in SA en in Amerika. Politieke opponente beskuldig en blameer mekaar, in plaas daarvan dat hulle fokus op versoenende optredes, goeie praktyke en administrasie tot voordeel van die land en al sy mense. Dit lyk egter asof ondermyning die reeds gevestigde wantroue net nog verder aanblaas, veral by die ondersteuners wat te vinnig en te bereidwillig is om te mobiliseer en oor te gaan tot geweld ten einde deur intimidasie te probeer om hulle stempel af te druk totdat hulle hulle sin kry. Niemand gun n ander n geleentheid nie en niemand onderwerp hulle aan die wat aangestel is om te heers nie en dit voorspel niks goeds nie, nie in Amerika nie en ook nie in SA nie! SA se probleme is egter baie erger as wat dit in Amerika die geval is. Slegs n wonderwerk sal SA kan red en wie weet, dalk, net dalk kom Amerika tot SA se redding, alhoewel ek dit sal betwyfel totdat ek dit eers self sien gebeur. Hopelik het die organisasies in SA, wie gese het hulle gaan laer trek, nie net gepraat nie!

Rupert Ashford ·

Jerry, dit het nie nou begin nie. Obama en diesulkes het net so lekker aangegaan, maar omdat hulle die pers aan hulle kant het, word anderpad gekyk. Die gemeenheid teenoor die ander 50% (konserwatiewes) word ‘n mooi baadjie aangetrek of gladnie eers oor gepraat nie. Jy onthou stellings soos “elections have consequences” en “die republikeine kan saamry as hulle wil, maar net op die agtersitplek”. Jy kan nie vir ‘n vark lipstiffie aansit en dan vertel dit is nie ‘n vark nie. In Afrikaans iets te doen met perde en vye…

Helizna ·

Daar is soveel ander, beter redes hoekom die man nie as Hooggeregshof regter aangestel moes word nie, maar al die redes sal bruin goed op die Diens se wit lakens spat, dus bring hulle dit nie op nie…

Ellisras ·

Net soos die FBI geen bewyse kon vind dat hy dit gedoen het. Net so kon hul geen bewyse vind dat hy dit nie gedoen het nie. Die ou het regtig swak vertoon in die onderhoude. Hy is ‘n Regter maar hy het blatant poletiek gepraat. Sy aanstelling is ‘n fout

Boer-in-die-wind ·

Ek bly in die VSA en het gebeure via verskeie TV kanale gevolg.
Opmerkings:
1. Onskuldig tot skuldig bewys. Punt. “Those that accuse, must prove.” Nie anders om nie.
2. Die uitwys van die politiesgedrewe “seek and destroy” veldtog deur die Demokrate teen sy nominasie is nie politiek praat nie.
3. Puik aanstelling.

Boerseun ·

Hehe, was Nelson skuldig of nie skuldig? Of was hy skuldig met versagtende omstandigehe? Ek vestaan hoekom die wereld in n gemors is, almal het stemreg.

Santie ·

Petro, ek stem saam. Dis net te danke aan die MeToo-beweging dat almal so gedwee geluister het na die totale twak wat sy praat. Om van die ander twee “slagoffers” nie eens te praat nie. Die Dems is die kluts nou heeltemal kwyt. Moeilik om te begryp dat hulle dit nie self kan insien nie. Moet die ondersteuning van die linkse media wees wat hulle so blind en doof maak vir realiteit.

John ·

Soene kan nogal lelike betekenisse he met slegte gevolge soos die Judas-kus, wat mens nogal laat wegskram van die #VersoenendOptree van sekere grootgeestiges. Om rond te gaan met ‘n reuse-aartappelskyfie op jou skouer is bietjie te te-te so asof net sekeres ware menswees in pag het. #MeToo is so ‘n karnallie van ‘n selfaangestelde beter-as-engelskap…. Wie mag nou stry teen die teatrale traanbuie en ineenstortings van meisies wat glo bykans 10 wilde partytjies na mekaar bygewoon het saam met glo wilde latte, en dan stories opdis wat niemand kan weerspreek nie. Dis soos die vraag: Slaan jy nog jou vrou?

Ronnie ·

Mnr Kleynhans se artikel is meestal van alle waarheid ontbloot. Ek was direk ingeskakel op die verrigtinge en ek het na beide, “die vrou”, Prof Christine Blasey Ford en regter Brett Kavanaugh geluister. Dit was nie ‘n hofsaak nie, dis bloot, in effek, ‘n werksonderhoud vir aanstelling in die hoogste hof in die VSA. Nie een van die twee partye is gevra vir bewyse nie en geen getuies is geroep nie. Prof Blasey Ford het egter aangedui dat sy dit sal verwelkom indien die FBI ‘n sekere mnr Mark Judge sou nader vir meer inligting siende dat hy teenwoordig was. Tenminste drie vroue het geswore verklarings afgele tov regter Kavanaugh se wangedrag en oormatige alkohol gebruik as student. Daarteenoor het regter Kavanaugh geweier om sekere reguit vrae te beantwoord en het vrae met vrae te beantwoord. Hy was aanvallend, aggressief en uiters emosioneel. Hy het selfs met ‘n splinternuwe sameswering teorie na vore gekom. Die Demokratiese Pa rty het volgens hom saamgesweer met die Clintons uit weerwraak vir sy (Kavanaugh) se aandeel in die aanklag teen voormalige pres Clinton. Lesers word aangeraai om nie pres Trump se spottende verwysing na Prof Blasey Ford se “onvermoee” om gebeure te herroep summier te glo nie. Pres Trump is nie bekend vir sy waardige optrede nie of vir sy goeie verhouding met die waarheid nie. Lesers word sterk aangeraai om eerder te kyk na die videos van die gebeure op youtube. Soek die feite. Vermy die links en regs. Soek die waarheid.

Boerseun ·

Ai, dit moet erg wees vir jou om Trump daar te sien. Kan jy asb meer feite oor jou stelling gee, iets wat CNN nie gesryf het nie asb.

Hendrik ·

‘n Halwe waarheid is soms skadeliker as ‘n leun, so ook as die volle waarheid verswyg word.

1) Die FBI het nie vir Kananaugh onskuldig bevind nie, hulle het bloot gesê dat daar nie genoeg getuienis is dat hy skuldig is nie.
2) President Trump in die Withuis het die omvang van die FBI se ondersoek bepaal. Die FBI se ondersoek het minstens 12 getuies wat Ford se saak kon versterk, uitgesluit en is in 4 dae afgerammel.
3) Politiek is ‘n vuil spel. Beide Demokrate en Republikeine is daaraan skuldig. Die Republikeine wat nou so kerm oor die Demeorate se taktiek om die hooggeregshofregter se aanstelling te beïnvloed, het ‘n soortgelyke truuk getrek op president Obama.
4) Kavenaugh het met sy uitsprake dat dit ‘n georkestreerde poging van die linkes was en wraak van die Clintons was om hom uit die stoel te hou, bewys dat hy nie onpartydig teenoor die Demokrate kan wees nie, dus is hy nie geskik vir die pos nie.
Die koeël is in elkgeval deur die kerk en daar is nou geen salf aan te smeer nie. Om egter te insinueer dat slegs die Demokrate vuil speel, is onwaar.

Ronnie ·

Regter Gorsuch was ook ‘n Trump nominasie en die Demokrate kon sy aanstelling nie suksesvol opponeer neer nie, bloot omdat hy nie omstrede was nie. Hulle sou graag wou veral in die lig van die feit dat die Obama genomineerde regter Merrick Garland nie eers sover as ‘n verskyning voor die senaat komittee kon vorder nie. Dit blyk dat Kavanaugh se karakter nie onbesproke is nie en hy is gewis nie onpartydig nie. Die feit het hy in ‘n tranerige tirade voor die ganse wereld gedemonstreer. Dit gaan hier om baie meer as Prof Blasey Ford se beweringe en regter Kavanaugh se ontkenning daarvan. Die vraag is het Kavanaugh onder eed gelieg en gaan die moontlikheid steeds ondersoek word. Indien wel, gaan daar vir hom gevolge wees?

Mnr Kleynhans laat na om te meld dat die aard van die FBI ondersoeke na regter Kavanaugh nie daarop gemik was om beweringe van drankmisbruik of onaanvaarbare en moontlik kriminele seksuele wangedrag te ontbloot nie. Hy laat ook na om te noem dat duisende dokumente tov Kavanaugh ter elfder ure vrygestel is aan die Demokrate. Self nou word duisende dokumente wat moontlik kan bewys dat hy nie geskik is vir die hoogste hof nie, steeds geheim gehou deur die Administrasie.

Mnr Kleynhans moet miskien net sy bewering dat geweld uitgebreek het toelig met feite en voorbeelde. Soos ek dit het, was daar protesoptrede, (grotendeels deur ongewapende vroue), sonder geweld. Hulle was gekonfronteer, deur vroue, maar geen Republiekeinse senator was ooit in lewensgevaar nie.

Therese van Schalkwyk ·

Ronnie

Jy maak ‘n interessante en geldige punt oor Gorsuch vs Kavanaugh.

Enige redelike VSA-burger behoort egter baie meer bekommerd te wees oor die opswepende en by tye byna waansinnige gedrag van talle Demokrate, as oor Kavanaugh wat ‘n uitmuntende rekord het sedert sy studiejare.
Genade, hoeveel kan daar dan nou verkeerd wees as nie minder as sewe FBI ondersoeke niks kon oplewer nie?

Boerseun ·

Dit is so. Maar dit is altyd onregverdig as die skoen bietjie aan die ander voet sit is dit nie?

Santie ·

Kommerwekkend hoeveel Suid-Afrikaners steeds al hulle “nuus” uit die VSA van CNN kry.

Ronnie ·

Ek is oop vir oortuiging. Help my uit asb. Waar kan ek kyk vir opsweepende en waansinnige gedrag van Demokrate. Gebeur dit binne die Kongres? Is dit politici of gewone burgers? Ek stel regtig belang om na alle kante van die saak te kyk. Solank dit substansie het.

Therese ·

Ronnie
Dit gebeur onder politici en gewone burgers. Dit kom ook nie van vandag af nie, maar het begin pas nadat Hillary Clinton verloor het. Sy het haar huilende ondersteuners aangemoedig , “to keep on fighting, never stop fighting” en hulle neem dit beslis letterlik op.
Dan is daar die African-American politikus, Maxine Waters, wat “demokrate” op skandalige wyse opstook om alle Trump-ondersteuners te “harrass” waar hulle hul ook al bevind. Republikeine soos Ted Cruz en Sarah Huckabee-Sanders is al selfs in restaurante getreiter.

Ek is ongelukkig nie bedrewe genoeg om ‘bewyse’ aan te heg nie, maar jy sal dit nie sommer op CNN sien of in die NYTimes lees nie.

Gerhard ·

Genade! Van wanneer af moet iemand onskuldig bewys word aan wilde beskuldigings sonder bewyse?

Casper Labuschagne ·

Kavanaugh is bloot die detail van ‘n groter prentjie en dit is dat die staatkundige raamwerk van die VSA onder beleg is. Dit is nie net aspekte van die VSA se grondwet wat onder skoot kom nie, maar verskeie aspekte van die Amerikaanse regering se strukture. Die federale bestel gee aan Kalifornië met meer mense as die Verenigde Koningkryk en die vyfde grootste ekonomie van die wêreld dieselfde verteenwoordiging as Delaware wat minder mense het as meeste stede in die VSA. Sonder die VSA se verteenwoordigende kiesstelsel sou die Demokrate die afgelope 50 jaar volstoom in bewind wees. Dit sal uitloop op die afstigting van etlike state onder beheer van die Demokrate, of op ‘n burgeroorlog, of dalk ‘n omwenteling van die strukture van die VSA se staatsmodel. Die alternatief is ‘n regse bewindsoorname deurdat die demokratiese proses ondermyn word, want demografiese werklikhede beteken dat die wit anglo-saksiese bevolking in die VSA in die minderheid is.

Sarie ·

Interessant hoe Dinesh DaSouza die Amerikaanse geskiedenis interpreteer. Hy wys uit dat die demokrate eers die slawe eienaars in die Suide was . Hulle was ook verantwoordelik vir die Jim Crow wette. Hulle het ook teen die verandering van segregasiewette in die sestigs gestem. Die Repubikleine daar teenoor was meer verlig. Volgens hom is hulle nog slawe eienaars aangesien hulle in die middestad van by Baltimore en Chicago steeds die mense met voer met toelaes en hul volle potensiaal nie ontwikkel nie. Hul party veroorsaak ook verdeling omdat hul gedurig op rassisme en ander kwessies soos wit skuld hamer. Volgens hom het swartes eers vir die Republiekeine gestem en toe die Demokrate met hulle”deals” gemaak het, het hulle gedraai. Interessant om sy boeke te lees Hy is ‘n immigrant uit Indië Hy was in die tronk oor ‘n oortreding en toe sy prokureur sy FBI leêr aanvra wou hulle dit nie eers geen nie. Later kon hulle dit wel lees en daar het dit toe swart op wit gestaan hy is ‘n sterk teenstander van die Obama administrasie Hy het films oor Obama en Hillary gemaak wat nie goed afgegaan het nie.

Ronnie ·

Dankie Therese. Ek weet nou steeds nie waar om betroubare inligting te kry nie. As CNN en NYT nie betroubaar is nie, waarheen nou? Waarop moet ek inskakel?

Boer-in-die-wind ·

Ronnie.
Hier in die VSA is daar nie werklik onafhanklike stasies nie. Ek stel voor jy kyk steeds pro-Demokratiese stasies. Maar dan ook ‘n pro-Republikeinse stasie, bv Fox.
En dan kan jy self vir jou besluit wat die waarheid is – dit le gewoonlik iewers in die middel.
Terloops, moet ook nie Google te veel vertrou nie. As jy ‘n onderwerp opsoek lewer dit gewoonlik eerste ‘meningstukke’ wat pro-Liberaal is. As jy verder op die lys afgaan sal jy meer die akademiese, neutrale, feitlike stukke oor die onderwerp vind.
Die waarheid woord nie meer op ‘n skinkbord aangebied nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.