Linkse onverdraagsaamheid en die opkoms van die nuwe verkramptes

trump-inhuldiging

Polisie druk betogers weg van die sypaadjie voor die Nasionale Persklub in Washington Donderdagaand by ‘n dansparty ter viering Donald Trump se inhuldiging as die nuwe Amerikaanse president. Foto: AP/John Minchillo

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se inhuldigingstoespraak moes Vrydagaand meeding om mediadekking met ʼn paar betogers wat die polisie uitgetart het terwyl hulle plakkate met anti-Trump-slagspreuke rondswaai.

Die polisiemagte het die situasie professioneel ontlont en Trump se presidensiële konvooi kon deur die strate van Washington DC beweeg. Die volgende dag was daar egter weer protesoptogte waaraan duisende vroue oor die hele Amerika deelgeneem het. Weereens was die rede vir hulle ongelukkigheid Donald Trump.

Sedert sy verkiesing het verskeie bekendes hulle ongelukkigheid oor hierdie verwikkeling uitgespreek. Die sangeres Miley Cyrus het haar emosionele ineenstorting op kamera vasgelê en dit op YouTube geplaas, Meryl Streep het ʼn toespraakgeleentheid by die Golden Globes misbruik om Trump te kritiseer en Madonna het gedreig om die Withuis op te blaas. Natuurlik bestaan daar iets soos vryheid van spraak en natuurlik is dit heeltemal aanvaarbaar om deur middel van protesaksies te wys hoe ongelukkig jy met ʼn bepaalde gebeurtenis is. Dit is egter onbillik om ʼn presidensiële termyn te veroordeel nog voor die president by die Withuis ingestap het.

Die kritiek op Trump se verkiesing en die onverdraagsaamheid wat daarmee gepaardgaan, is ʼn toenemende verskynsel onder diegene wat hulself links in die politieke spektrum posisioneer. Daar is woede as ʼn demokratiese verkiesing lei tot ʼn president met wie hulle nie tevrede is nie, daar is woede as ʼn konserwatiewe meningsvormer genooi word om ʼn universiteit toe te spreek of daar is woede as ʼn winkelsentrum besluit dat badkamers slegs vir twee geslagte voorsiening maak – mans en vroue.

Die verskynsel van die tipe onverdraagsaamheid is egter nie tot Amerika beperk nie. In Suid-Afrika kom dit voor as jy nie inskakel by wat as die politieke norm gesien word nie. Een van die kenmerke van linkse onverdraagsaamheid is ʼn absolute weiering om ander se standpunte in te sien of selfs ruimte te laat vir oortuiging. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die sangeres wat verby Orania ry en nie die moeite doen om uit te vind hoe die gemeenskap funksioneer en waaroor dit gaan nie. Sy stop slegs om ʼn foto voor die bord wat aandui dat jy nou in Orania is te neem, met haar twee middelvingers in die lug. Geen ruimte vir debatvoering nie en geen bereidwilligheid om ander se standpunte aan te hoor nie.

In 1966 spreek die voormalige koerantredakteur en akademikus, dr. Willem de Klerk, ʼn Sabra-jeugkongres toe waar hy van die terme verlig en verkramp gebruik maak. Die verkramptes is diegene wat onverdraagsaam is teenoor verandering, ander se standpunte en enige gebeure of uitlatings wat nie versoenbaar is met hulle eie baie beperkte manier van dinge sien nie. Dit sal interessant wees om te sien na wie dr. De Klerk 50 jaar later as die verkramptes verwys.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frans C ·

‘n Mens moet eerder mense verdeel in ‘behoudend’ en ‘nie-behoudend’ eerder as verlig en verkramp. Die bevrydingstryd in Suid Afrika was nie so seer ‘n stryd tussen ‘verdrukker’ en ‘onderdrukte’ nie as stryd tussen botsende ideologieë nie.

Snaaks genoeg het beide kante nogal die Bybel gebruik om hul standpunte te probeer regverdig. Die een wat op grond van die Bybel ‘afsonderlike ontwikkeling’ voorgestaan het
en ander wat op grond van dieselfde Bybel ‘n eenheidstaat verkondig het, omdat so het hulle gereken as mense in die Christelike geloof ‘n geestelike eenheid vorm en broers en susters in geloof is, dit ook in eenheidstaat na vore moet kom, aangesien sommige geglo het dat Jesus ‘n vryheidsvegter en bevryder van onderdrukte mense was.

So het daar ‘n versoening gekom tussen gelowiges en ongelowiges by Kodesa, met ‘n liberale grondwet waarvolgens daar ,so is daar verkondig, ingeboude wigte en teenwigte
vir vrede in die land sou sorg. Dat sulke sienings op totale wanopvattings gebou is,word duidelik in die huidige toestand van sake weerspieël, waar daar redelik onbeskof met taal en minderheidsregte gewerk word.

Verkramp ·

Ek voel glad nie sleg om ‘n verkrampte genoem te word as ek vir my eie regte opstaan wat vir dekades onderdruk word deur die meerderheid nie. Ek voel nie sleg om verkramp te wees as ek nie ten gunste van afbreek, afbrand, betogings en vernietiging is nie. Ek voel nie verkramp omdat ek niks verniet wil he nie, maar vir alles gewerk het. Ek voel nie verkramp omdat ek nog nooit aan ‘n protesoptog deelgeneem het en plakkate met die F woord op of babapoppe op stokke rondgeswaai het nie. Ek voel nie verkramp as dissipline, reels en respek deel van my lewe is nie. Ek voel nie verkramp as my kultuur nie dieselfde as ‘n ander s’n is en ek gevolglik nie met hulle huisvriende is nie. Ek voel nie verkramp as ek ‘n konserwatiewe uitkyk op die lewe het nie. Ek voel nie verkramp as ek ander hulle spasie en rykdom gun, maar hulle nie myne nie. Ek voel nie verkramp as ek die beste vir my kinders wou he en dit ook vir hulle gegee het, met baie opofferings nie. Linkses is bekend vir hulle onverdraagsaamheid. As hulle nie hulle sin kry nie is ander korrup en regs en rassisties. Hulle mag maar vloek en middelvingers wys vir regses, maar as ‘n regse dit sou waag is hy ‘n common rassis. Die wereld staan op teen linksgesinde onverdraagsaamheid .. een van die dae moet julle maar weer julle blommetjiesbussies gaan verf en daarin bly …

JC ·

Dankie Verkramp!
PERFEK GESTEL. Baie, baie dankie ;-)
Almal MOET asseblief hierdie kommentaar van VERKRAMP lees. GROOT ASSEBLIEF!!

HEVW ·

Die kat is op sy stert getrap en natuurlik sal hy skree. Dit is maar die reaksie wat aan die gang is. Persone soos Miley Cyrus, Meryl Streep en Madonna se uitsprake en doen en late is regtig benede kommentaar. n Leeu steur hom nie juis aan n muis wat per ongeluk oor sy stert hartloop nie.

Hendrik ·

Dws. ‘n verklampte liberalis met oogklappe vs oopkop behoudende wat inpas is met nuwe werelddenke waar etniese gemeenskappe selfstandig hulself bestuur. Soos orania en Kleinfontein.

Hendrik ·

Dws. ‘n verklampte liberalis met oogklappe vs oopkop behoudende wat inpas is met nuwe werelddenke waar etniese gemeenskappe selfstandig hulself bestuur. Oopkop gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein.

Herman ·

Die linkse politiek is nie net onverdraagsaam nie, dis uiters diktatoriaal. Die optrede van die Demokrate in Amerika (asook elders) se ondersteuners is ‘n tasbare bewys hiervan. As die liberalis sy wil op jou afdwing en jy dit klakkeloos aanvaar dan is die liberalis die “liefste” mens ooit. Sodra jy egter verskil van sy wil dan kom die genadelose diktator in al sy woede skerp na vore. Hulle onverdraagsame optredes laat selfs vir Hitler soos ‘n onskuldige ou sondagskoolseuntjie lyk. Kan hulle enigsins aanspraak maak op die morele hoë grond? Is hulle waardes navolgingswaardig? Se voet in ‘n visblik, man…

Henry ·

Dankie vir ‘n klompie nuttige waarhede mnr Kemp.

In ‘n beskaafde wêreld waar siele nie be-angs behoort te raak wanneer hulle met standpunte te doene kry wat nie met hul subjektiewe oordele en/of veroordelinge ooreenstem nie, kan daar met groot vrug kennis van die volgende sin in u skrywe geneem word:
“…Een van die kenmerke van linkse onverdraagsaamheid is ‘n absolute weiering om ander se standpunte in te sien of selfs ruimte te laat vir oortuiging…”

Aangesien onverdraagsaamheid vir seker nie alleen tot die ‘linkses’ beperk is nie, is dit ook van toepassing op sogenaamde “regses”, oftewel konserwatiewes, behoudendes, verkramptes, of wat mens jouself ookal wil noem.

John ·

Die wetenskap hoef nie die Bybel reg te bewys nie. Die mensdom doen dit sommer self. Interessant dat akteurs aan die voorfront van die bekgevegte teen Trump staan. Die vraag is, wie is die mense agter die mombakkies? Hillary Clinton het duidelik nie opgegee op president te word nie. Geen woord kom uit haar mond om mense tot bedaring te nie. Sy het na bewering sedert haar kinder jare geglo sy moet die president van die VSA word. Sy glo dit steeds en het die pad van Marxisme gekies na die wit ‘troon’. Wat was haar verkiesingsbeloftes? Niemand kan onthou nie, want dit was… niks. Die swart vryheidsbeweging het reeds gese geen witmens sal ooit weer die VSA se president word nie. Vir die Clintons en die pienk tannies wag ‘n dodelike skok.

Rupert Ashford ·

Iemand het gese as jy wil weet hoe die liberaliste verkramptes sal optree in sekere situasies moet jy net luister hoe hulle voorspel hulle teenstanders sal optree. Dit word nou so duidelik geillustreer in die VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.