Linkses skeur langs ideologiese krake

numsaDie aankondiging van die metaalwerkersvakbond Numsa dat hulle ʼn politieke party gaan stig, het ʼn opskudding aan die politieke linkerkant veroorsaak. Numsa is een van die land se grootste en militantste vakbonde, wat plek-plek reeds in bedrywe waar ander Cosatu vakbonde georganiseerd is, uitgebrei het.

Die Numsa-leier Irvin Jim is bekend vir sy Marxisties-Leninistiese standpunte, en beskuldig die ANC dat hulle nie rewolusionêr genoeg is nie. Indien Numsa wel so werkersparty stig, sal daar drie groot linkse partye in die land wees, naamlik die ANC, Numsa se party, en die EFF. Mnr. Zuma is tans steeds ʼn vise-president van die “Socialist International”. Die vraag is wat die ideologiese verskille tussen hierdie groepe is, en of die EFF saam met Numsa sal werk om ʼn wesenlike politieke bedreiging vir die ANC te word?

Daar is deesdae drie sosialistiese denkstrominge, naamlik die gematigde Westerse sosiaal-demokrate, die meer militante demokratiese sosialiste soos die ANC, en die rewolusionêre sosialiste soos die te stigte Numsa-party. Maar om die Suid-Afrikaanse prentjie te verstaan, moet eers na die onlangse geskiedenis van die sosialistiese beweging gekyk word.

Sosiaal-demokrate

Die internasionale geloofwaardigheid van sosialisme het ʼn geweldige knou gekry met die val van sosialistiese Oosblokstate rondom 1990. Die dood van sosialisme is met groot opskrifte aangekondig, en baie kenners het aanvaar dat die “goue tweeling”, –Westerse demokrasie en kapitalisme – die enigste oorlewendes van die koue oorlog was. Die rewolusionêre sosialisme het feitlik oornag verdwyn, en selfs die Westerse sosiaal-demokratiese sosialiste moes hulself totaal herskep om te kon oorleef. Die beste voorbeeld hiervan was die tradisioneel linkse Britse Arbeidersparty, wat onder leiding van Tony Blair met sy “New Labour’s third way” kapitalisme as beleid aanvaar het. Maar die geredelike sukses van Blair en ander “nuwe linkses” soos Duitsland se Gerhard Schroeder, het gou gewys dat die doodsberigte oor sosialisme (in sy nuwe gedaante) erg oordrewe was. Interessant genoeg het Mbeki in Suid-Afrika die beeld van ʼn liberale kapitalis gehad, terwyl hy sosialisme plaaslik herontwerp het om die ekonomie te laat groei en toe met grootskaalse herverdeling begin het volgens die ANC-resep in die Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR).

Die nuwe linkse sosiaal-demokrate het inderdaad reusedenkspronge gemaak deur kernelemente van sosialisme by die venster uit te gooi. Die belangrikste hiervan is dat hulle aanvaar het dat kapitalisme die enigste werkbare stelsel is, en dat sosialisme nie meer ʼn alternatief daarvoor is nie. Daarbenewens is besef dat nasionalisering, sentrale beplanning en direkte staatsinmenging van bo af onwerkbaar is, en dat Marxistiese temas soos die “klassestryd” uitgediend geraak het. Die term “sosialisme” is vervang met ander begrippe soos ʼn “derde weg” en in Suid-Afrika as ʼn “ontwikkelingstaat” en sosiaal ekonomiese regte.

Groei en herverdeling

Maar die sosialistiese hervormers het nie hulle doelwitte totaal afgeskaf nie, maar eerder hulle metodes radikaal verander. Kern sosialistiese doelwitte soos “sosiale geregtigheid” in die vorm van gelyke uitkomste en die uitwissing van armoede is behou. Die nuwe sienswyse was egter dat dit ten beste bereik kan word deur kapitalisme. Kapitalisme is teësinnig aanvaar omdat dit die enigste stelsel is wat genoeg welvaart kan skep sodat daar genoeg vir almal kan wees, mits sosialisme dit net “gelyker” kan verdeel. Ekonomiese groei speel volgens hierdie benadering ʼn noodsaaklike rol ter bereiking van sosialistiese doelwitte. ʼn Groeiende ekonomie is nodig sodat die staatskas genoeg belasting kan insamel om die armes in die groei te laat deel. Daarmee saam sal die rykes net gewillig wees om vir die armes se welsynsdienste te betaal as die ekonomiese groei hoog genoeg is om hulle eie lewenstandaarde te handhaaf. Die sosialistiese projek is dus herbore as ʼn poging om die kapitalisme te hervorm, en nie om dit te vervang nie. Die probleem is dat die nuwe sosialisme steeds nie werk nie, en dat Europese welsynstate almal voor groot ekonomiese uitdagings staan. In arm lande het die stelsel nog ʼn kleiner kans op sukses, omdat sosialisme net armoede meer gelyk verdeel.

Die Marxistiese doelwitte van sosialisme is vervang met die visie van sosiale geregtigheid, wat in die praktyk eerstens die instelling van ʼn welsynstelsel beteken om vir die basiese behoeftes van die armes voorsiening te maak. Die tweede been van hierdie strategie is ʼn belastingstelsel wat rykdom verdeel en die gaping tussen ryk en arm vernou. Vir hierdie gematigde sosialistiese ideoloë het die land dus die beste van twee wêrelde gekry: die produserende krag van kapitalisme om die ekonomie te laat groei, en sosialistiese herverdeling en welsynsdienste om die armes tevrede te hou. Maar die ANC het selfs onder Mbeki nie gewone sosiaal-demokrate soos Tony Blair se Arbeidersparty geword nie. Waar die Britse Arbeidersparty die “armes net ryker wou maak” met welsyn, wou Mbeki boonop die “rykes armer maak” deur die land se welvaart proporsioneel volgens rassegetalle te verdeel. Dis die ANC se ou resep soos vervat in die NDR-beleidsdokumente. Dit bly die ideologiese grondslag van ANC-beleidsrigtings soos BEE, rastellende aksie en die herverdeling van grond.

Grondslae

Dit is belangrik om die grondslae van die verskillende ideologieë te verstaan om te begryp wat vandag gebeur. Net soos individuele regte vir almal sentraal in die liberale denkbeeld staan, staan gelykheid vir almal sentraal in die sosialistiese lewensbeskouing. In die sosialisme word nie soos in die liberalisme bedoel dat almal gelyke regte soos in ʼn gelyke wegspring moet hê nie, want hulle mik na gelyke uitkomste – dat almal gelyk by die wenpaal moet uitkom. Vir sosialiste beteken die demokrasie, “politieke gelykheid”, en sosialisme, “ekonomiese gelykheid”. Die Fransman Rousseau het betekenisvol gesê dat ekonomiese stelsels (soos kapitalisme) wat welvaart ongelyk verdeel, politieke gelykheid onmoontlik maak. Vir sosialiste is dit onregverdigbaar dat ʼn moderne ekonomie wat in staat is om genoeg vir almal te produseer die welvaart só ongelyk versprei dat party te min en ander te veel het. Daarom word armoede gewoonlik as genoeg bewys van verdrukking beskou.

Gelykheid

Die ANC het gelykheid as so belangrik geag dat dit in die aanhef van die Grondwet as een van die kernwaardes ingeskryf is. Gelykheid gebeur volgens hulle nie vanself nie, maar “positiewe stappe” is nodig is om dit te bereik. Daarom het die ANC sedert 1994 die ekonomiese klem grootliks vanaf produksie na verbruik verskuif. Hiervolgens het staatsbesteding in infrastruktuur drasties getuimel as gevolg van die verskuiwing na sosiale besteding soos welsynstoelaes. Sosiale besteding maak al bykans 60% van die land se begroting uit. Die gevolg hiervan is krisisse met elektrisiteit en vaardigheidstekorte, en ʼn stygende tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans.

Woorde, Wette en Wapens

Die sosiaal-demokrate in Brittanje gebruik hoogstens woorde om politieke steun te kry om hul gelykheidsdoelwitte te bevorder. Die ANC gebruik wette, terwyl die rewolusionêres histories nie geskroom het om wapens te gebruik nie. Die belangrikste verskil tussen die ANC se “demokratiese sosialisme” en Numsa se rewolusionêre sosialisme, lê nie in die eindpunt nie, maar in die metode en tydsberekening. Die demokratiese sosialiste glo in stelselmatige veranderinge, wie se spoed bepaal word deur die magsbalans, ekonomiese werklikhede en wetlike prosesse. Die rewolusionêres wil vinnige radikale veranderings hê soos nasionalisering, waar die ANC eienaarskap en beheer eerder deur wetlik afgedwingde BEE en AA-teikens wil bewerkstellig.

Die kanse dat die Numsa-party met die EFF sal saamwerk is skraal, omdat hulle die EFF tereg nie as opreg sosialisties sien nie, maar eerder as Afrika-sosialiste wat met populisme stemme wil wen om hulle hande op mag en geld te lê.

Numsa se Plan E

Numsa se Plan A was na 1994 om die ANC te steun in die tye van die “HOP”. Nadat Mbeki die HOP vir die sogenaamde Gear verruil het, was Numsa se Plan B om die SAKP binne die ANC sterker te maak. Maar vir minister Blade en sy kollegas was die versoeking van mag te groot, en hulle het ANC-beleid bly uitvoer. Plan C was toe om die ANC van Mbeki oor te neem, en Zuma president te maak. Maar hulle het gou met hom ook ontnugter geraak, en “Plan D” was om Cosatu tot hul siening oor te haal. Omdat dit tot sover nie gewerk het nie, wil hul nou hul eie rewolusionêre party stig. Die uiteinde daarvan gaan waarskynlik net die groter verbrokkeling van die linkse linies wees, omdat selfs Suid-Afrika net soveel sosialiste het wat kan stem.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Henri ·

Flip skryf: ” Maar die sosialistiese hervormers het nie hulle doelwitte totaal afgeskaf nie, maar eerder hulle metodes radikaal verander. Kern sosialistiese doelwitte soos “sosiale geregtigheid” in die vorm van gelyke uitkomste en die uitwissing van armoede is behou. Die nuwe sienswyse was egter dat dit ten beste bereik kan word deur kapitalisme. Kapitalisme is teësinnig aanvaar omdat dit die enigste stelsel is wat genoeg welvaart kan skep sodat daar genoeg vir almal kan wees, mits sosialisme dit net “gelyker” kan verdeel.”

Vergelyk nou wat die Grondwethof geskryf het in die Renate Barnard uitspraak:
“[29] At the point of transition, two decades ago, our society was divided and unequal along the adamant lines of race, gender and class. Beyond these plain strictures there were indeed other markers of exclusion and oppression, some of which our Constitution lists.[21] So, plainly, it has a transformative mission. It hopes to have us re-imagine power relations within society. In so many words, it enjoins us to take active steps to achieve substantive equality, particularly for those who were disadvantaged by past unfair discrimination. This was and continues to be necessary because, whilst our society has done well to equalise opportunities for social progress, past disadvantage still abounds.

[30] Our quest to achieve equality must occur within the discipline of our Constitution.”

Let op die term “substantive equality” wat gebesig word.
Punt is dat die ANC, deur die grondwethof te pak met kaders, die grondwet en die grondwethof gekaap het vir wat Flip noem hulle herontwerpte sosialisme en die nasionaal demokratiese rewolusie.

Henkst ·

Chris Patten beweer dat China die idee verkondig dat mens nie demokrasie benodig om rykdom te verwerf nie – en dié houding bedreig die Westerse demokrasieë.

Henkst ·

Chris Patten beweer dat China die idee verkondig dat mens nie demokrasie benodig om rykdom te verwerf nie – en dié houding bedreig die Westerse demokrasieë.

Rudie van den Bosch ·

Baie goeie uiteensetting. Ons moet egter waak om nie sommer die hedendaagse korporatiewe “moneterised” kapitalisme as hemel op aarde te beskou nie. Die onlangse geskiedenis het ernstige probleme blootgele. Dis kan nie goed wees dat meer as 50%van die ontwikkelde wereld se BBP bestaan uit spekulatiewe finansiele transaksies. Wat van die al hoe groter wordende jong hordes wat nie kan werk krynie en eintlik glad nie indiensneembaar is nie. Die nuwe middelklas met hul “conspicuous consumption” en vretery by die krip word fyn waargeneem deur laasgenoemde. Hoe lank gaan hulle nog geduldig wees?

Henk ·

Ek hoop jy het reg, Flip, wat die verbrokkeling en stemverdeling aanbetref. Ek moet egter byvoeg dat na my beskeie mening, die nie-linkses onder ons Rudie van den Bosch se waarskuwing ook maar gerus ernstig ter harte kan neem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.