Literêre versamelings om dié redes vir Akademia belangrik

Piet le Roux, akademiese hoof by Akademia Foto: Maroela Media

Piet le Roux, akademiese hoof by Akademia Foto: Maroela Media

In Mei vanjaar het Akademia die persoonlike literêre versameling van ʼn vooraanstaande digter, vertaler, letterkundige en radioman, dr. Daniel Hugo, in ontvangs geneem. Die geleentheid was uiteraard ʼn pluimpie vir Akademia, maar andersins ook ʼn aanset tot besinning. Waarom neem Akademia so ʼn versameling in ontvangs?

Een antwoord sou kon wees dat ons dit gedenkwaardig ag, soos wat ʼn mens ʼn oupagrootjie se sakhorlosie met liefde in ʼn vertoonkas plaas en nou en dan die nostalgie daaraan verbonde geniet. Dit is vanjaar immers ʼn merkwaardige 150 jaar of so dat die Afrikaanse taalgemeenskap en sy voorgangers hulself met plaaslike hoër onderwys besig hou. En Hugo se versameling, as ʼn blik op die werkinge in en om die Afrikaanse literêre wêreld, sou as ʼn uitstalstuk in ʼn Afrikaanse vertoonkas kon staan.

Maar vir Akademia wat vanjaar nog maar in sy vyfde akademiese jaar staan is daar – juis met die oog op die volgende 150 jaar van gemeenskapsgestigte hoër onderwys – ʼn ander antwoord. Dit is gepas dat Hugo ons, in ʼn onderhoud oor sy jongste bundel, Takelwerk, verlede jaar, in hierdie verband na ʼn antwoord help. Oor die belang van opvoeding vir die digter, herinner hy ons: “Geen digter val uit die lug nie. Elke digter begin as ʼn na-aper.

Wat Hugo oor die digter sê is iets wat ook meer algemeen geldig is. In sy boek, Oor gemeenskap en plek, wys prof. Danie Goosen, lid van Akademia se adviesraad, ons op die aard van die mens as ʼn wese wat homself in sy persoon tot reg kan laat kom juis omdat hy die voorbeelde van andere in ʼn gemeenskap om hom het. Aansluiting by voorbeelde word egter nie sommer arbitrêr bewerkstellig of verwissel nie: Daar is vir elke mens altyd die gegewe, in tyd en plek, van die kultuurgemeenskap waarbinne hy homself bevind. Om op Hugo se opmerking uit te brei sou ʼn mens kon sê: “Geen denker val uit die lug nie. Elke denker begin as ʼn na-aper.” Hierom dan dat dit van soveel belang is om in Afrikaans voorbeelde vir na-aping te bied: Nie om daardeur belemmer te word nie, maar dat Afrikaanse mense op die skouers daarvan nog groter dade en nog groter denke kan pleeg, tuis sowel wêreldwyd.

By Akademia het ons die versameling ontvang omdat ons daarmee en daardeur ons plek in die wêreld beter vol kan staan. Dit is iets waarsonder ons tot mindere insig van onsself, ʼn intellektuele tree teruggesit, en daarom van mindere waarde in die wêreld sou wees.

Mag dit so wees dat Akademia en andere in die Afrikaanse wêreld versamelings soos Daniel Hugo s’n bewaar nie uit liefde nie (en watter twyfelagtige vriende is diegene by wie dit nie verder as gereelde liefdesverklarings om die taal gaan nie), maar uit wysbegeerte. Wysbegeerte: dat ons ʼn plek het waar ons met een voet kan vastrap om vandaar met die ander die wêreld in te tree. Wysbegeerte met die voorsprong van skouers om op te staan: Dat ons tydvak en ons kennis en ons uitdagings beter gekontekstualiseer is; dat ons ons posisie in die wêreld beter kan verstaan en dat ons ʼn tuiste kan hê sowel as op intellektuele reise kan gaan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Disselboom ·

Net ‘n bietjie nuuskierigheid: wat is (dr/prof/mnr) Piet le Roux se vakgebied. Verstaan dat hy die hele Akademia bestuur, maar nou tog nuuskierig of die tale sy vakliefde is?

John ·

Akademia kan baat by baie sulke skenkings en die skenkers ook. Baie waardevolle afrikana is in die hande van universiteite en biblioteke. Dit sal op branstapels beland as dinge so voortstu. Akademia kan gerus van ons vermaarde academici, wat so by die agterdeure uitgeskop word, in diens neem. Die jaloerse beskerming van ons eie mishopies, is ‘n gevaar vir die behoud van ons boerevolkie.

Johannes Cilliers ·

Waar sou sulke versamelings teregkom? In ‘n eie argiefbewaarplek of by die Erfenisstigting?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.