Litigeer of retireer? Litigasie, taalaktivisme en die posisie van Afrikaans

Argieffoto.

Deur prof. Theodorus du Plessis

Mense is ietwat verdeeld oor of die Afrikaanssprekende gemeenskap moet bly litigeer ten einde die posisie van Afrikaans in veral die hoër onderwys te probeer herstel. Nie net is litigasie enorm duur nie, dit is veral ʼn proses wat betrokkenes noodwendig in kampe verdeel en daardeur die kanse op ʼn oop gesprek oor taalsake eintlik in die wiele ry.

Hierdie vertwyfeling spruit voort uit terugslae in twee opeenvolgende hofuitsprake: 25 Oktober 2017 se hoërhofuitspraak teen Gelyke Kanse (Maties) en 29 Desember 2017 se grondwethofuitspraak teen AfriForum (Kovsies). Albei kondoneer die onderskeie instellings se aantasting van Afrikaanssprekendes se verworwe taalregte binne hoëronderwys. Daarenteen kon Hoërskool Overvaal (Vereeniging) op 15 Januarie 2018 egter wel daarin slaag om ʼn gunstige hoërhofuitspraak te kry omtrent die behoud van die Afrikaanse karakter van die (sedertdien ietwat beleërde) skool. Die vraag hieromtrent is: watter rol speel taalregtelitigasie by Afrikaans se posisie in openbare instellings?

Ek wil hierdie vraag benader vanuit die perspektief van taalregteaktivisme. Daarvoor sluit ek ten nouste aan by die werk van Angéline Martel oor taalregtelitigasie en -aktivisme. Vir haar is taalregtelitigasie ʼn noodsaaklike en onvermydelike proses binne die konteks van staatshervorming wat die outonomie van taalgemeenskappe aantas, soos inderdaad met die Franssprekende minderheid rondom die federalisering van Kanada gebeur het. Hierdie gemeenskap kon daarin slaag om beskerming vir taalminderhede teen ʼn opdringerige staat te beding. Hulle sukses is egter nie uitsluitlik toe te skryf aan litigasie nie maar eerder aan ʼn oorkoepelende taalregteaktivistiese beweging.

Taalregteaktivisme moet verstaan word as ʼn regte-georiënteerde beweging waarbinne verskillende rolspelers ʼn verskeidenheid aktivistiese instrumente aanwend ten einde vir die betrokke gemeenskap, ongunstige sosiopolitieke praktyke en strukture te probeer verander. Van minder tot meer konfronterende instrumente kan aangewend word: vanaf relatief gematigde instrumente soos navorsing, mediadekking, lobbie-werk en taalklagtes tot relatief minder gematigde instrumente soos mobilisering (waaronder litigasieafdreiging, petisionering, massa-aanhitsing, demonstrasie, boikot), litigasie en selfs geweld. Litigasie word gesien as die “laaste uitweg” voordat tot geweld oorgegaan word. Hoe ook al, geslaagde taalregteaktivisme behoort uiteindelik die vasstelling of kondonering van ʼn wetlik gewaarborgde taalreg op te lewer.

Vanselfsprekend wil ʼn mens weet wat Afrikaanssprekendes sedert 1994 met taalregteaktivisme in Suid-Afrika bereik het, gesien die feit dat weens staatshervorming (alias “demokratisering”) hierdie gemeenskap heelwat moes inboet aan seggenskap oor “eie sake”. Trouens, die beginsel van selfbeskikking kon slegs as byna ʼn nagedagte grondwetlik beding word. In vergelyking met die Franssprekende minderheid van Kanada is Afrikaanssprekendes waarskynlik veel slegter daaraan toe. Nietemin is allerlei aktivistiese bedrywighede op tou gesit ten einde die situasie te probeer beredder. Hierdie aktiwiteite word noukeurig geboekstaaf deur die Suid-Afrikaanse Taalregtemonitor-projek

Dit is opvallend dat instansies soos AfriForum verskeie aktivistiese instrumente aanwend ten einde ʼn beter bedeling vir Afrikaanssprekendes te beding, wat insluit gepaste taalnavorsing, effektiewe mediadekking en ʼn reeks vindingryke mobiliseringsaksies. Aangespoor deur die gemeenskap is ook reeds verskeie litigasie-inisiatiewe met ʼn wisselende mate van sukses aangewend.

Nogtans kon die Afrikaanssprekende tot hiertoe nie daarin slaag om ʼn ietwat benarde taalregte-bedeling wesenlik deur gunstige regspraak te verbeter nie. ʼn Mens kan tereg dus vra of dit dan nog sin het om voort te beur met taalregtelitigasie? Ook gesien in die lig van die nogal negatiewe klimaat wat rondom regsgedinge omtrent Afrikaans begin ontstaan het, heelwat daarvan ongelukkig in eie boesem.

Ervaring met taalregteaktivisme in ander wêrelddele wys egter twee belangrike lesse hieromtrent uit: moet nie “Nee: vir ʼn antwoord aanvaar nie, maar moet jou ook nie blindstaar teen reguitsprake na aanleiding van litigasie nie.

In die VSA byvoorbeeld word daar maar stadig gevorder met litigasie rondom die posisie van die Latyns-Amerikaanse minderheid maar belangrike oorwinnings is al behaal met betrekking tot taaldiskriminasie binne ʼn konteks waar gepoog word om Engels te veramptelik. In Indië het opeenvolgende litigasie oor ʼn tyd heen weer sterk regspraak opgelewer oor die reg op onderrigmediumkeuse; ook oor wat as ʼn minderheidstaal beskou word.

In Europa word minder sukses met taalregtelitigasie rondom minderhede opgelewer, maar word nietemin heelwat mediadekking daaraan verleen; ook in die Kanadese konteks waar nie alle regsgedinge noodwendig ten gunste van die litigant opeindig nie. Die gevolglike debat hieroor help om ʼn gedagtegang te vorm oor die verband tussen taalreg en burgerreg (oftewel linguistiese burgerskap) binne ʼn meertalige samelewing. ʼn Mens moet jou dus nie blindstaar teen die uitkomste van taalregtelitigasie nie.

Om die gedagte deur te voer na Overvaal, waar die hof wel ten gunste van die skool beslis het maar waar, indien dit natuurlik waar is dat die skool se onmiddellike omgewing nie meer dominant Afrikaanstalig is nie en leerders in werklikheid “ingery” moet word, bly die probleemvraagstuk: Tot welke mate kan ʼn Afrikaanse skool in stand gehou word binne die konteks van ʼn soort talige enklave? Kan beter waarborge hieromtrent verkry word met die oog op die toekoms en met die oog op ander skole binne ʼn soortgelyke situasie? Bestee Afrikaanse skole voldoende aandag aan die ‘kweek’ van swart Afrikaanstalige leerders in hulle onmiddellike voedergebiede ten einde die rasse-argument die hoof te bied? Ensovoorts.

So, is taalregtelitigasie sinvol? Die kort antwoord hierop is: “Ja, mits …”

Litigasie en verwante vorme van aktivisme moet die breër Afrikaanssprekende gemeenskap dien en nie enkele organisasies ter wille wees nie. Ook moet anders gedink word oor die rol van taalregtelitigasie en wat daarmee bereik moet word. Ek dink ons kan saamstem: Afrikaanssprekendes soek oorwinnings wat langtermyn oplossings en veral beter wetlike waarborge bied aan ʼn gemeenskap wat ten diepste streef na selfbeskikking.

  • Theodorus du Plessis is ‘n professor by die eenheid vir taalfasilitering en -bemagtiging van die Universiteit van die Vrystaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Jerry ·

Uitstekend raakgevat. Die Afrikaner soek inderdaad na langtermyn oplossings vir nie net taal nie, maar al ons belange. Die vooruitsigte om dit te bewerkstellig in Suid Afrika as n lewensvatbare langtermyn opsie is waar die uitdaging le en is eintlik die aspek wat gedebatteer moet word.

Eish ·

Litigasie oor taal het hom nou bewys as ondoeltreffendheid danksy n bevooroordeelde regbank wat eerder n politieke agenda dan die geskrewe wet volg. Dit het ontaard in n sirkus waarvan die uitslag al hoe meer voorspelbaar word. Persoonlik oorweeg ek ernstig om my bydrae tot Burgerregte organisasies te heroorweeg deur dit duidelik te oormerk vir Akademia, Helpende Hand en sulke verdienstelike gevalle as die algemene aftrekorder waar fondse na goeddunke aangewend word. Litigasie in die verband raak nou eenvoudig n geval van goeie geld spandeer op n slegte saak.

Casper Labuschagne ·

Die toepassing van die grondwet en die beroep op die howe as grondwetlike regte geskend word, het ‘n plek en ‘n funksie. Maar die werklikheid is dat ons ‘n minderheid is waarvan ons proporsie in die totale bevolking vinnig kwyn. Gevolglik sal staatsinstellings nie net ten gunste van die meerderheid aangewend word nie, maar daar is ook ‘n ideologiese aanslag teen Afrikaans wat vorentoe net feller sal word. Die enigste instansies wat enige waarborg sal hê dat dit Afrikaans sal bly, of tot voordeel van Afrikaans aangewend sal word, sal die instansies wees wat ons self besit en self kan bestuur. Die skrif is aan die muur vir ons en ons moet nou inspring om alternatiewe parallelle strukture te skep want dit gaan soveel moeiliker wees om dit te kan doen as ons vorentoe van ‘n basis van nul af moet begin.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.