Logika nie deel van ANC-regering

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Dis dalk oordrewe om te sê die wiele in Suid-Afrika kom nou af. Maar dan kan ’n mens op die allerminste sê die wiele sit só los dat hulle eintlik enige oomblik kan afval.

Twee sake waaroor die laaste tyd berig is, illustreer dit (daar is meer, maar kom ons beperk ons maar vir eers). Die een is die dreigende bankrotskap van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL); die ander syfers oor rykdom en armoede in ons land.

Ek vlieg al jare lank nie meer met die SAL of enige van sy filiale nie, tensy daar geen ander keuse is nie. Dis nie om politieke of ideologiese redes nie, eenvoudig om praktiese redes.

As ek – sê maar – ’n SAL-vliegkaartjie vir ’n vlug vir aanstaande week koop, weet ek nie of daardie vlug gaan vertrek nie. Deur die jare het ek gekyk hoe die een Suid-Afrikaanse lugdiens ná die ander (Flitestar, 1time, Nationwide, noem maar op) omval.

Wanneer dit gebeur, gebeur dit letterlik van die een oomblik op die ander. Jy kan om 09:00 by die lughawe opdaag vir ’n vlug wat byvoorbeeld om 11:00 moet vertrek, net om (terwyl jy wag) te hoor alle vlugte is gekanselleer. En daar sít jy dan. Aikôna. Daardie risiko loop ek nie.

Luidens berigte het die SAL se skuld opgeloop tot R40 miljard. Die lugdiens kort ’n dringende inspuiting van R9 miljard bloot om te oorleef. Voor vandag moet die SAL blykbaar R2 miljard vind, eenvoudig om sy lopende uitgawes (brandstof, salarisse, ensovoorts) te betaal.

’n Mens sou dink dat almal wat onder ’n SAL-bankrotskap sal ly, eendragtig skouer aan die wiel sou sit om dit te keer. Maar wat gebeur? Die vakbonde kondig ’n staking aan om ’n salarisverhoging van 8% af te dwing.

Die SAL is daardeur verplig om alle binnelandse en streekvlugte te kanselleer. Dis twyfelagtig of daardie vlugte ooit weer hervat gaan word. Altesame 11 000 mense kan hul werk verloor.

Alle oë is nou op die regering, die eienaar van die SAL en sy filiale gerig. Gaan die regering opnuut tot die SAL se redding kom (met geld wat hy op sy beurt sal moet leen)?

Teoreties is daar vier rigtings wat ingeslaan kan word:

  • Ten eerste kan die regering die benodigde geld gee, wat dalk polities die gewildste besluit sal wees. Die twee stakende vakbonde behoort immers aan Cosatu, sonder wie se hulp die ANC taamlik verlam is.
  • ’n Tweede is om die SAL aan sy lot oor te laat en te laat omval. Dit sou die ANC polities seermaak, maar ’n mens hoor geluide vanuit regeringskringe dat daar ernstig hieroor nagedink word.
  • ’n Derde is om die SAL te ontbondel en stuk-stuk aan geïnteresseerde beleggers te verkoop.
  • Ten vierde kan die SAL in sy geheel verkoop word. Vroeër vandeesmaand is berig dat die grootbaas van Virgin Atlantic, Richard Branson, aangedui het hy is “oop” vir die moontlikheid om die SAL oor te neem. Polities sal dít ’n ongewilde keuse wees, maar finansieel dalk die beste.

Indien een of meer beleggers van buite die SAL – hetsy dele daarvan of in sy geheel – koop, kan verwag word dat ’n ingrypende herstrukturering sal volg. Op die minste sal die Nelson-greep wat Cosatu tans op die maatskappy toepas, gebreek moet word, en pynlike besnoeiings sal nodig wees.

Die ander saak wat vandag in dié artikel aangeraak word, is syfers oor die dramatiese verskil tussen ryk en arm in Suid-Afrika.

Die ekonoom Mike Schüssler het in ’n interessante artikel in Maandag se Media24-koerante gewys dat betreklik min mense (minder as ’n halfmiljoen) ryk genoeg is om in die twee hoogste belastingkerwe te val. Hy ontleed syfers wat wys dat die ekonomiese ongelykheid in die land in steeds afnemende mate saamval met ras.

Inteendeel, steeds meer is ongelykheid bínne rassegroepe verantwoordelik vir die kloof tussen arm en ryk. Die vernaamste oorsaak is werkloosheid, want slegs 43% van alle volwassenes werk.

Dit word bevestig deur die sogenaamde Gini-indeks, ’n statistiese instrument om ekonomiese ongelykheid te meet. ’n Syfer van 0 dui op absolute gelykheid, waar almal dieselfde verdien, en 100 op absolute ongelykheid. (Dis natuurlik bloot teoreties; dit kom nêrens voor nie.)

Die werkloosheidsyfer van ’n tipies ontwikkelde Europese land soos Nederland is 28,2. In Suid-Afrika is dit 63. Selfs brandarm lande waar ongelykheid welig tier, soos Rwanda (50,4), Brasilië (49) en Haïti (60,8) vaar beter as ons.

Om die waarheid te sê, die CIA (gesertifiseerde interne ouditeer) se navorsing plaas Suid-Afrika, naas Lesotho, as tweede op die lys van mees ongelyke lande.

Nou, wat het die SAL-ellende en ekonomiese ongelykheid met mekaar te make? Veral een faktor spring in die oog: die ANC se ongelooflike onbekwaamheid.

Natuurlik het die erfenis van apartheid iéts met die saak te make; dit sal nie help om dit te ontken nie.

Onder apartheid het die swart vakbonde ’n kultuur van militante intimidasie en dwang aangeleer om hul sin te kry. Die wet en die reg?

In die apartheidstyd het die wet, vanuit die Cosatu-hoek bekyk, wit belange beskerm. Dus het ’n kultuur van minagting vir die wet en die regstelsel die gangbare manier van dinge geword. En vandag betaal die hele land die gelag.

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Voor 1994 het die apartheidstelsel die wit mense ekonomies bevoordeel, al was dit nie die enigste rede vir die welvaartskloof nie. Maar ons is nou by ’n kwarteeu later, en dit raak nou afgesaag om apartheid steeds as die sondebok uit te sonder.

Inteendeel, die ANC het apartheid intussen loshande as vernaamste rede vir die huidige ellende ingehaal. Die diagnose wat die meeste probleme in ’n enkele woord omskryf, is kaderontplooiing.

Ná 1994 het talle wit mense die einde van apartheid in ’n mindere of meerdere mate morrend en onwillig aanvaar – maar hulle hét dit aanvaar. Meer nog, die oorweldigende meerderheid het die hand van samewerking (indien nie vriendskap nie) na die nuwe regering uitgesteek om ’n sukses van die nuwe Suid-Afrika te maak.

Maar die ANC het daardie hand oorwegend weggeklap. Wit mense is stelselmatig uitgerangeer en swart mense in hul plek geplaas.

Niemand misgun swart mense invloedryke posisies nie. Maar alte dikwels was dit individue (en ja, apartheid was deels verantwoordelik) sonder die nodige kwalifikasies en ervaring.

Mense het poste gekry omdat hulle politieke konneksies gehad het. Vir sulke posisies moes jy die regte velkleur hê, maar veral die regte faksie van die regte politieke party ondersteun.

Dus het mense soos Lucky Montana, Sibusiso Sithole en Dudu Myeni – mense wat níks weet van nog minder – lank die kitaar by die SAL en Prasa, om maar twee instansies te noem, geslaan. Kapt. Piet Taljaard, gewese voorsitter van die SAL-vlieëniersvereniging, se oordeel is vernietigend:

“Hulle (die bestuur) is eenvoudig onbekwaam. Hulle verstaan nie die ingewikkeldheid van ’n lugdiensomgewing nie, en dat hulle dan die voorstelle van groepe soos die vlieëniers- en ingenieursvereniging verwerp, gaan teen alle logika in.”

Daar het jy dit. Logika het tot dusver nie deel van die ANC se regeringsdade gevorm nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

KrokodilBotha ·

Gister Darwin se boek begin lees. Sommige is van n ander planeet, ander nie. Die aarde is ook plat. Julle sal harder moet bid, die land het dit nou nodig.

Riaan ·

Jy vergeet een ding: Ten einde te bepaal of iemand logies is of nie moet die persoon eerstent die vermoe he om te DINK. In die geval ontbreek die vermoe duidelik!

Tresia ·

Dis presies wat Langenhoven gese het . Ons moet bid vir logika en die die res behoort ons self uit te werk

Human ·

Dis juis waar die probleem is, die res wat self uitgewerk word, deur die ons.

hercu ·

baie dankie Leopold, dit is ‘n baie insiggewende waarheid wat jy 100% beskryf!!

JZ ·

Die ANC gaan niks doen aan die SAL en ESKOM nie.want die fakbonde is die ANC,dit is dan hulle se venoot in die parlement hulle se kiesers,en bestuur in die party .hoekom sal hulle teen hulself optree ?

Tanja ·

Baie goeie kommentaar en die waarheid. Alles dui daarop dat Die ANC is nie bereid om logies en bekwaam op te tree nie. Hulle gaan nie stop voor die laaste druppel belastinggeld deur kaders opgeslurp is nie. In die proses gaan apartheid die skuld kry om die stelery te verdoesel. Tragies is die feit dat die gewone mense in hierdie land WIL net graag hulle lewens lei deur te werk, vir hulself te sorg en veilig te voel. Ons hou van mekaar. Ons is goeie mense maar ons laat toe dat ‘n klein groepie onlogiese skelm leiers ons manipuleer.

Sarie ·

Baie goed gestel. Wil jy nie vir Max Du Preez vra om van jou artikels op Die Vrye Weekblad te plaas nie. Daar word die ou apartheidsdonkie nog bloots gery.

DewaldS ·

My opinies is nie altyd gewild op Maroela Media nie, dit word dikwels nie geplaas nie. Maar ek gee dit onge-ag. ;-)

Sirkulêre beredenering bring niemand iewers uit nie. As ons moontlike redes vir Apartheid begin voorhou as die gevolge van Apartheid dan draai ons maar soos ‘n tol om ‘n as en gaan niks ooit verander kan word deur daai spinwerk nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.