Loop-en-val-protes

bantu-holomisa

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: http://udm.org.za

Deur Peet Bothma

Skaars het die protesstof in die strate gaan lê, of die eerste krake verskyn reeds in die kits-koalisie wat wil hê pres. Jacob Zuma moet die trekpas kry.

Verlede week het die Demokratiese Alliansie (DA) alleen sy ietwat tenger stemmetjie dik gemaak in Polokwane/Pietersburg en vroeër die maand is Pretoria se strate letterlik rooi geverf met uniforms van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, wat in die afgelope weke as ʼn sterk figuur in die opposisiekoalisie teen Zuma na vore getree het, het nou ʼn beroep gedoen op, soos hy dit gestel het, “less walking, more talking”. Dit was Holomisa wat parlementslede se reg om in die geheim te stem na die konstitusionele hof geneem het.

Op sosiale media is die slagspreuk van DA-leiers, in teenstelling, “less talking, more walking”.

Holomisa se uitgangspunt is dat protesoptogte op sigself nie vir Zuma uit die kussings gaan lig nie. Hy sê die optogte het nou hul doel gedien. Holomisa sê Suid-Afrika het nou ʼn verenigde opposisie nodig wat die wa deur die drif kan trek. Hy stel voor dat al die opposisiepartye om ʼn tafel byeenkom tydens ʼn nasionale konvensie en ʼn toekomsvisie vir die land bepaal.

Hy het ʼn punt beet, want as daar ooit ʼn tyd was om teen die ANC te verenig dan is dit nou. Die party is deurspek met agterdog en broederhaat.

Dit het begin met sprake van ʼn komplot om Zuma te vergiftig, toe volg onder meer die beweerde sameswering deur oudmin. Pravin Gordhan om die ANC-regering omver te werp.

In die afgelope dae was daar gerugte van ʼn sluipmoordplan op sowel die party se kroonprinses, Nkosazana Dlamini-Zuma, as die SAKP se adjunk-sekretaris-generaal, Solly Mapaila. Om die kroon te span is ʼn koplose kat in die Cosatu-president, Sdumo Dlamini, se tuin gekry.

Dit moet gesien word teen die agtergrond van die sistematiese uitmoor van SAKP-leiers in KwaZulu-Natal, sedert die begin van die afgelope plaaslike verkiesingstryd.

Die ANC is voor die grootste krisis sedert die muitery teen die party se regime in sy kampe in Angola in die jare 80. Zuma het ʼn integrale rol in die onderdrukking van die komplot gespeel. Onder die kodenaam Pedro was hy lid en later tweede in bevel van die ANC se gevreesde sekuriteitsafdeling bekend as Mkobodo – dit beteken die klip wat vermorsel.

Die afdeling was verantwoordelik vir die marteling en in sommige gevalle ook die teregstelling van uitgewekenes in onder meer die Angolese kampe Quatro en Viana.

Zuma en die ANC het dus ʼn geskiedenis van die onderdrukking van enige komplot teen die leierskap.

Indien die opposisie dus nou saamstaan, kan hulle die geleentheid benut. Maar dan moet die EFF afstand doen van sy onsinnige kwetsende grondbesitbeleid en die DA moet eerder die bal speel as om vervolgings teen sy eie lede in te stel. Die partye sal dalk selfs die leierskap van mense soos Bantu Holomisa en Cope se Mosiuoa Lekota moet aanvaar.

Maar wat is die kans dat dit alles gaan gebeur?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André ·

WEL GEDAAN MAAR GAAN KORRUPSIE TEENSTAND KEY DAT DIE OPOSISIE SAL GAAN LÊ SOOS ‘n MAK HOND, OF TERUG BAKLEI…
DIE GESEGDE TWEE HONDE BAKLEI OOR EEN BEEN, EN DERDE DRAF DAARMEE HEEN…
“SÊ MAAR NET!”

André ·

WEL GEDAAN MAAR GAAN KORRUPSIE TEENSTAND KRY DAT DIE OPOSISIE SAL GAAN LÊ SOOS ‘n MAK HOND, OF TERUG BAKLEI…
DIE GESEGDE TWEE HONDE BAKLEI OOR EEN BEEN, EN DERDE DRAF DAARMEE HEEN…
“SÊ MAAR NET!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.