Loopbaankeuse: Beplan reg en bou self jou toekoms

skool-vakkeuses-loopbaan

Foto: YeriLee/Pixabay.com

Deur Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia

My seun, Daniël, is tans in graad 9. Hy moet, soos ander graad 9-leerders, vanjaar sy skoolvakke kies. Dis nogal erg om te dink dat die besluite wat hy nou gaan neem, ʼn baie groot invloed op die res van sy loopbaan kan hê. Dit is dus ʼn besluit wat moontlik groot belonings kan inhou, maar ook met groot risiko’s gepaardgaan.

Om die risiko’s van die besluit te verlaag doen ouers alles in hul vermoë om twee goed bymekaar uit te bring – die persoon en die toekoms. Aan die een kant doen ouers alles in hul vermoë om vas te stel wat hul kind se aanleg, belangstelling en persoonlikheid is om seker te maak dat die vakkeuses beroepe sal ondersteun wat in ooreenstemming is met laasgenoemde. Die regte vakkeuses is die begin van die kind se voorbereiding om toegelaat te kan word vir die studierigting wat hy wil volg. Dit is die maklike deel van die oefening en daar is vandag wetenskaplike metodes in die wêreld van die sielkunde wat handig te pas kom.

Die moeiliker aspek wat aandag moet kry in die besluit is om te probeer bepaal hoe die toekoms gaan lyk. Hierdie deel van die oefening is baie belangrik omdat ʼn mens vakkeuses en beroepe wil kies wat in die toekoms nuttig en in aanvraag sal wees en wat dus die indiwidu in staat sal stel om ʼn suksesvolle loopbaan in daardie veld te volg. Die vermoë om die tekens van die tyd te kan lees en te verpak in ʼn toekoms-scenario is belangrik; om dus te kan “sien” hoe die inligting en neigings wat tans voorkom die toekoms kan bepaal – en jou daarvoor reg in te stel.

Indien ons as ouers (en graad 9’s) in die kol is met hierdie ontleding en gepaardgaande besluite, is die waarskynlikheid groot dat ons kinders suksesvol in die toekoms sal wees sover dit hul beroepe en loopbane betref.

Afrikaans

Terwyl ek hierdie artikel skryf, lê die koerant op my lessenaar met die voorbladnuus dat Tuks en Maties die rug keer op Afrikaans as onderrigtaal. Dit beteken dus nou dat daar nie meer ʼn openbare universiteit in die noorde of in die suide is wat Afrikaans as voertaal gebruik nie. Hierdie feit is teoreties én prakties sleg. Die grootste gedeelte van die Afrikaanse gemeenskap sal beter in hul studie vaar in hul moedertaal as in ʼn tweede taal. Die doel van studie is mos juis om ʼn bepaalde stel leerinhoude te leer ken, te internaliseer, te bemeester en te laat groei sodat dit sinvol gebruik kan word – en die beste taal om dit in te vermag, is die moedertaal. Daar is voldoende navorsing om dit te bevestig.

Vir die Afrikaanse gemeenskap is dit ʼn harde hou in die maag – of is dit?

Toekomsbesluite is soos vakkeuses

Stel jou voor ’n graad 9-kind kies vakke met die oog op ʼn spesifieke beroep vir die toekoms en daardie beroep sterf uit nadat die kind daarvoor gaan studeer het! Wat ʼn krisis! Dis natuurlik nie so ’n vergesogte prentjie nie. Namate tegnologie ontwikkel, raak sekere beroepe bedreig en sterf later uit. Aan die ander kant ontwikkel nuwe geleenthede en beroepe wat ’n mens ook nie wil misloop nie. Die besluit wat jy dus nou neem, gaan eers oor ʼn paar jaar van nou af uitspeel.

Tuks en Maties se besluit het ʼn groot impak op die Afrikaanse gemeenskap. Dit sou baie groter gewees het as die Afrikaanse gemeenskap nie tien jaar gelede die toekoms reg kon vooruitskou nie. Het ons dit nie gedoen nie, was ons nou in die moeilikheid! Dan sou ons nou vanuit ʼn baie swak posisie planne moes probeer maak wat baie lank sou neem om oplossings te bied. Dan was dit ʼn ware krisis!

Churchill

Winston Churchill moes eens ʼn soortgelyke situasie hanteer. Tien jaar voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog het hy die inligting en neigings van die tyd gebruik om Hitler se plan om Europa te verower te snap. Sy grootste stryd was om Britse politici te oortuig van die realiteit van hoe hy die toekoms gesien het. Verblind deur naïwiteit, goeie bedoelings en die status quo, kon hulle moeilik hulself oortuig dat Churchill reg is. Gelukkig het Churchill intussen sy toekoms-scenario beplan en in werking gestel, en dit reggekry om veral die vloot voor te berei vir ʼn volskaalse see-oorlog sodat laasgenoemde gereed was toe die oorlog uitbreek.

Akademia

Tien jaar gelede is gesonde toekomsontledings gedoen en kon ’n mens bloot deur die kolletjies te verbind sien hoe sekere aspekte van die toekoms daar gaan uitsien. Verskeie faktore sou veroorsaak dat Afrikaans by staatsuniversiteite uitgefaseer word. Vyf jaar gelede het Akademia sy deure oopgemaak. Ek onthou baie goed hoe vele bekende Afrikaanse akademici met minagting gepraat het oor die idee. “Dis onmoontlik!” het baie van hulle gesê. “Dit sal nooit werk nie!” het ander geprofeteer.

Maar gelukkig het ons aangehou en is ons nou gereed. Ons kan die krisis omskep in een van die beste geleenthede van ons tyd, naamlik die geleentheid om onafhanklik te wees in die strewe om ons gemeenskap te bedien met hoogstaande hoër onderwys. Ons kan vlugvoetig en dinamies die loopbaangeleenthede van die toekoms raaksien en studente daarvoor voorberei. Ons kan die geleentheid benut om eerstens werklik studentgerig te wees en nie bloot wins of ranglyste na te jaag nie, om studente ook in hul menswees te help vorm, hul geskiedenis te ken en krities en visioenêr te kan dink. Dit is die geleentheid om wêreldklas in Afrikaans te kan wees.

Terug by vakkeuses

Net soos skoolkinders mooi oor die toekoms moet dink om nou die regte vakkeuses te doen, kan gemeenskappe die regte plek inneem vir die toekoms deur realisties en ondernemend te wees. Op dié manier daag jy in ʼn toekoms op wat jy self help skep het en nie in een wat jou uitgesluit en ontnugterd laat nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annemarie

Ja, vakkeuses is so belangrik en kinders moet die erns hiervan besef. Ek het destyds alle vakke geneem sodat ek enigiets op universiteit kon swot. Ja, ek het harde klippe gekou en moes lang ure insit, maar dit was die moeite werd. Ek is jaarliks deel van keuringskommitees vir aansoeke en dit is skrikwekkend hoeveel mense werkloos is met goeie kwalifikasies. Een graad is deesdae nie meer genoeg nie. Vir ‘n gewone admin pos wat net matriek vereis kry ons gemiddeld 800 aansoeke, vir ‘n graad kwalifikasie so 300. Dis ongelooflik moeilik om 10 kandidate uit soveel aansoeke te kies,… Lees meer »

Oom Ekonoom

Loopbaankeuse is een van die heel belangrikste besluite in die lewe. Die raad deur Annemarie en Disselboom hierbo is baie belangrik – neem kennis daarvan. Wat ek kan byvoeg is om na die amerikaanse arbeidsdepartment te gaan kyk, hulle doen baie moeite om toekomstendense in die arbeidsmark en loobbane te ontmeed, en in hierdie globale ekonomie van ons is dit baie vanpas vir ons hier in SA. Google “us department of labor occupational outlook handbook”, dit is regtig die moeite werd. Verder, as daar nie geld vir formele kwalifikasies is nie, of om jou vaardighede te verbeter, kyk na gratis… Lees meer »

Oom Ekonoom

Maroela, waarom op aarde het julle my kommentaar (goeie raad en niks snaaks gese nie) gesensor?

Marius Nortjé

My dogter wat tans in graad 11 is, glo vas dat sy die regte vakkeuses gemaak het. Oor bietjie meer as ‘n jaar, moet sy skool verlaat en ook by ‘n hoër- onderwysinstansie gaan aansluit om iets met haar lewe te doen. Nou ja, ons gesêls baie oor die politiek, en wat tans aan die gang is in ons voorheen puik universiteite. My seun is tans ‘n eerstejaar student by ‘n universiteit in die Wes-Kaap. Totale chaos, is al wat ek kan sê. Geen organisasie, geen visie, geen moraal onder die studente nie, en geen kultuur wat geassosieer word met… Lees meer »