Los vryheid van spraak uit

geert-wilders-van-pvv

Geert Wilders, leier van die Partij voor de Vrijheid (PVV). Foto: Twitter.

Vandeesweek het ’n opmerklike hofsaak in ’n streng beveiligde hofsaal op die lughawe Schiphol buite Amsterdam begin teen ’n ewe opmerklike Nederlandse politikus. Hy is die omstrede uiters regse Geert Wilders, leier van die Partij voor de Vrijheid (PVV).

Wilders word aangekla daarvan dat hy “haat saai” teen minderhede – in dié geval mense van Marokkaanse afkoms. Dis ’n saak wat ook ’n eggo het in Suid-Afrika, waar die ANC-regering ’n paar dae gelede ’n Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak gepubliseer het.

Ná die munisipale verkiesings van 2012 het Wilders op ’n (luidens berigte sorgvuldig beplande) partybyeenkoms in Den Haag aan die aanwesiges gesê hy weet hy mag dit eintlik nie sê nie, maar die vryheid van spraak is belangriker. En dus vra hy: “Wil julle, in hierdie land en in hierdie stad, méér of mínder Marokkane?”

Waarop die mense – hulle is vooraf aangesê hoe om te reageer – begin dreunsing het: “Minder! Minder! Minder!”

Wilders se reaksie: “Dan gaan ons dit reël.”

Tientalle Nederlanders het daarop klagte by die polisie gelê, wat die dossier aan die Nederlandse openbare vervolgingsgesag oorgedra het. Uiteindelik het die saak Maandag begin.

Dis nie die eerste keer dat Wilders aangekla word nie. Dit het in 2010 ook gebeur, maar toe het die aanklaer in ’n bisarre wending self vir vryspraak gepleit – wat inderdaad gebeur het.

Volgens artikel 137(d) van die Nederlandse “Wetboek van Strafrecht” kan mense wat “in het openbaar, mondeling of bij geschrift of afbeelding, aanzet tot haat tegen of discriminatie van mensen of gewelddadig optreden tegen persoon of goed van mensen wegens hun ras, hun godsdienst of levensovertuiging, hun geslacht, hun hetero- of homoseksuele gerichtheid of hun lichamelijke, psychische of verstandelijke handicap” ʼn jaar tronkstraf kry.

Dit ondanks artikel 7 van die Nederlandse grondwet, wat vryheid van spraak waarborg.

Die hof moet dus nou oor verskeie vrae ʼn oordeel vel – spesifiek in die Wilders-saak, het hy artikel 37(d) oortree? Of, ten tweede, word sy uitspraak deur artikel 7 van die grondwet beskerm?

Onderliggend hieraan sal die regbank moet besluit presies waar die grens van spraakvryheid lê. Baie hang dus af van hierdie hofsaak.

Wilders se advokaat, Geert-Jan Knoops, het vandeesweek voor die hof aangevoer dat die debat oor Wilders se uitsprake nie in die hofsaal gevoer moet word nie, maar in die politieke arena en in die parlement. Twee swaargewig-deskundiges staan op Knoops se getuielys, proff. Paul Cliteur, regsgeleerde en filosoof aan die Universiteit van Leiden, en Tom Zwart, menseregtekenner aan die Universiteit van Utrecht.

Hierdie hofsaak herinner baie aan die ANC se wetsontwerp wat hierbo genoem is. Daarin word vooroordeel of onverdraagsaamheid op veel meer gronde as tot dusver verbied: ras, geslag, etniese of klasse-oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, godsdiens, geloof, kultuur, taal, geboorte, liggaamlike gebreke, albinisme of beroep of nering. As jy haat, minagting of bespotting teenoor enige persoon of groep persone uit, is dit ʼn misdaad, luidens die wetsontwerp.

Dit in teenstelling met artikel 16(2) van ons Grondwet, waaruit dit baie duidelik is dat haatspraak die element van geweld of die dreiging daarmee moet bevat.

Kom ons bespreek die saak van ʼn kant af.

As jy glo in die demokrasie, is vryheid van spraak ʼn sentrale element. Sonder vryheid van spraak, wat persvryheid insluit, kan daar geen demokrasie wees nie.

Terselfdertyd is geen enkele demokratiese reg onbeperk nie. Die Britse filosoof John Stuart Mill het die grens in die 19de eeu goed getrek: Jóú regte hou op waar mý regte begin.

Maar dis algemeen gestel. Waar presies begin my regte? Mag jy my uitskel vir ʼn tipiese dom, misdadige whitey wat nie in Suid-Afrika tuishoort nie?

As ʼn mens na die Grondwet kyk, ja. Wat jy nié mag doen nie, is om te sê ómdat ek ʼn tipiese dom, misdadige whitey is wat nie in Suid-Afrika hoort nie, mag ek maar aangerand, verkrag of vermoor word. “Kill the farmer, kill the Boer” was nie maar net ʼn onskuldige struggle-liedjie nie, dit was ʼn handboekvoorbeeld van haatspraak.

Maar ʼn mens moet versigtig wees om te ver te gaan in jou bestryding van haatspraak. Voor jy weet, gaan jy die demokratiese beginsel van spraakvryheid aantas.

As iemand my as ʼn dom whitey uitskel, moet hy self pa daarvoor staan en sy aantyging bewys. As hy egter kragtens die nuwe wetsontwerp verbied word om dit te doen, word nie slegs sý regte aangetas nie, maar ook mýne en elke leser sʼn.

ʼn Ander, verwante kwessie is natuurlik die vraag of die beperkings in die nuwe wetsontwerp selektief toegepas gaan word. Ek lees byvoorbeeld met belangstelling dat jy nie iemand op grond van sy taal mag uitskel nie.

Sal die ANC op grond hiervan teen die gewelddadige studente van #FeesMustFall – wat #AfrikaansMustFall insluit – optree? Sal die ANC optree teen swart studente wat Adolf Hitler vereer of wat geweld teen wittes propageer?

Vergewe my as ek sinies daaroor is. Ek ken die ANC nie as ʼn party wat deurgaans konsekwent optree nie.

Nee, alles dui daarop dat die wetsonwerp uitsluitlik of hoofsaaklik teen die Penny Sparrows en Matthew Theunissens van die lewe ingespan sal word.

Wat ons terugbring by die huidige saak teen Geert Wilders.

Dis duidelik dat Wilders doelbewus die grens van die wetlik toelaatbare opgesoek het; dat hy met opset uittartend was. Maar hy het nie tot geweld opgeroep nie. Hy het nie eksplisiet daarvoor gepleit dat die Marokkane – ʼn egte probleem in Nederland – met dwang uitgeskop moet word nie.

Dis nogal ʼn taamlike hekkie waaroor die aanklaer sal moet kom as hy sy saak wil bewys.

Moenie ʼn fout maak nie: Dié rubriek is nie om Wilders te verdedig nie. Hy moet sy eie saak hanteer.

Nee, dié rubriek is om die demokratiese beginsel van spraakvryheid te verdedig. Dít is veel belangriker as die toekoms van die een of ander politikus.

In enige demokrasie moet die kiesers tussen alternatiewe kan kies. En die oomblik wanneer die vryheid van spraak (met die uitsondering van gewelddadige haatspraak) aangetas word, word die demokrasie in sy hart getref.

Dan kry jy situasies soos dié in Zimbabwe, Turkye, Venezuela en Rusland, waar verkiesings weliswaar plaasvind, maar waar die beweegruimte van opposisie-politici tot baie naby aan nul gereduseer word.

Los vryheid van spraak uit!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Tiaan ·

Die eintlike reg wat aangetas is hier is die Nederlanders se reg tot die beskerming van hulle geskiedkundige landsgrense en kultuur. Die Marokane se reg het opgehou waar die Nederlanders sin begin: binne die grense van Nederland. Maar hierdie grond waarheid word ten gunste van ander sekondêre dinge ignoreer in die naam van diversiteit wat as ‘n soort fundamentele waarheid voorgehou word sonder enige bewese akademiese fondament.

Boerseun ·

Demokrasie is n westerse begrip wat ander kulture nie vestaan nie want hul opvoeding en waardes verskil. Wat moet besef word is social engineering sal nie werk nie en verskillende kulture sal moeilik bymekaar kan bly.

Bert ·

Enigste probleem met die skrywe is oom Leo se tipiese hoofstroom-establishment tipering van Wilders as uiters regs. Net polities-korrekte- realiteits-ontkennende elites sal Wilders as uiters regs tipeer. Noem hom eerder ‘n patriot.

Johannes Comestor ·

Polities korrek skerm Leopold Scholtz dat sy teks nie as pro-Wilders vertolk moet word nie. Kan die openbare diskoers in enige land al dermate ingekort wees dat nie gevra mag word of die getal mense van ‘n bepaalde etniese groep liefs meer of minder moet wees nie? Dit gaan om besinning oor die waarde van so ‘n groep in ‘n bepaalde kulturele konteks. Sodanige besinning moet nie bloot toelaatbaar wees nie. Vryheid van spraak moet in sodanige geval rasioneel as vanselfsprekend beskou word.

Therese van Schalkwyk ·

Presies!
Dis asof ‘n teësinnige ‘establishment’ Geert Wilders in sy eie land móét verdra, terwyl hulle agteroorbuig in hul verwelkoming aan strome vreemdelinge.
Onverklaarbaar, onverstaanbaar en duister.

DewaldS ·

Die lewe is altyd ‘n twee-rigtingstraat. Die hoofstroom-media dring aan op vryheid van spraak, maar is voor in die koor om mense soos Donald Trump, Steve Hofmeyer en mense soos Penny Sparrow se lewens te verwoes as hulle iets sê wat niein die politiese zeitgeist inpas nie. Hulle gil blou moord as sekere wêreld-leiers hulle narratiewe (en soms blatante, ge-orkestreerde leuenveldtogte) bietjie inkort, maar sal jou en jou familie (en selfs volke en onafhanklike state) se ordelike voortbestaan deur hulle oneerlike ongebalanseerde berriggewing vernietig sonder om ‘n oog te knip. Ek is ook vir spraakvryheid, maae dan nie toegepas volgens die linkse liberale se dubbele standaarde (wat ook blyk hulle enigste standaarde te wees).

DewaldS ·

Maar wat die artikel aanbetref – baie mooi gebalanseerde redelike artikel, doktor Scholtz. Ek dink nie Geert Wilders is nou so vreeslik ver-regs as hier getipeer nie, maar ‘n blink toekoms wink vir hom en sy party en hierdie ‘ekstremistiese ver-regse’ narratief wat die media voer sal uiteindelik verkrummel soos wat ware fisiese werklikhede op grondvlak realiseer.

Valie ·

Elke Afrikaner besorgde behoort ‘n afskrif van hierdie wet op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak saam met hom/haar te dra en net so teen die klomp te gebruik by elke geleentheid wat hom voordoen.
Ons is geneig om hul eie wette te min teen hulle te gebruik. Indien die howe skielik toegegooi word deur soortgelyke klagtes raak dit ál makliker om kollektief diskriminasie (op sigself teen die wet) te bewys.

Theuns ·

Leopold soos altyd uitstekende, weldeurdagte kommentaar en ek merk dit vind selfs byval by jou neef Dewald S. As ‘n mens dieper kyk na die Haatspraak Wetgewing en ook die Swart Ekonomiese Bemagtiging Wetgewing (BEE) dan is die Wetgewinge net ‘n simptoom is van dieper- ligende probleme wat saam gegroepeer kan word as ‘n ongekende haat teenoor die minderheid wat toevallig ook wit is! Die haat vererger ook daagliks omdat die aksies van die ANC en ander swart groepering om die witman te vernietig nie werk nie want die witman het organisasies en sy eie werksgeleenthede geskep in parallel met die ANC se ywer om al die blankes werkloos te maak! BEE het van ons intrepreneurs gemaak. In die ywer van swartgroepe om ons skole en universiteite te vernietig het ons ons eie skole en universiteite gestig tot groot verlies van aan inkomste van die ANC self. Selfs die groei van Afrikaans kan nie gekeer word nie! Dat ons bydrae tot die Staatskas vermors word is ‘n feit maar dit sal ook nog een of ander tyd tot ‘n einde kom danksy ons Media en ondersoekende Joernaliste.

Theuns ·

Leopold en ‘n laaste opmerking. Ek kry die idee dat die ANC gedink het die Grondwet was geformuleer om net die meerderheid, wat toevallig swart, is te bevoordeel en ‘n instrument is om die witman te vernietig. Nou word die Grondwet gebruik om die minderheid ook te beskerm! Kan jy dink hoe woedend maak dit die meerderheid omdat geen maar geen van hulle planne vrugte dra nie? Die Haatspraak Wet gaan die selfde pad stap dat hulle, die meerderheid, sal wens hulle het nooit hierdie wet aangevoor nie. Die wet gaan die bloed onder die meerderheid laat vloei as dit kosekwent toegepas word nie. Groete.

Nico K ·

Ek dink nie Wilders het iets verkeerd gesê nie, maar hy moes dit nie aan ‘n groep gekoppel het nie. (Die oomblik as jy dit aan ‘n groep koppel is dit veralgemening, en veralgemening is verkeerd.) Hy moes bloot gesê het, ons wil minder buitelanders in die land hê. Almal sou geweet het waarvan hy praat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.