Losgeknoop

hettie brittz 2

Hettie Brittz. Foto: Facebook.

“Hoekom wil jy dit nou gaan doen?” het ’n goeie vriendin my laasweek gevra.

“Ek glo nie in hartseer eindes nie,” was my antwoord. “En ek glo ook ’n mens moet ’n paadjie enduit stap.”

Dis enige slagoffer van geweld se reg om tydens en na afloop van die misdaad baie besluite te neem. ’n Goeie terapeut-vriendin het ook kort nadat ek verkrag is hierdie raad vir my gegee: “Gebruik jou ja en jou nee soveel as moontlik in die dae wat kom, want verkragting het dit by jou weggeneem. Neem dit terug.” Ek kon kies of ek uit my huis wil trek omdat “’n mens seker nooit weer in dieselfde kamer kan slaap nie”. Dit was nie verpligtend om die DNS-monster te laat neem nie. Dit was my reg om net te vra vir antiretrovirale middels, antibiotikum en MPV-inspuitings en om te weier om in die hof te wees. Ek het ook totale begrip vir slagoffers wat anders as ek gekies het. My keuse was in lyn met my persoonlikheid, maar ook my lewensuitkyk. Ek wou elke tree van die reis wat al voor daardie nag begin het, met my hele wese s-t-a-p. Dit was ook in lyn met my teologie – dat God goed is en altyd goeie dinge uit die slegte voortbring. As ek sou ophou stap, kon ek iets goeds, iets moois en selfs iets wonderbaarliks mis, het ek geglo.

In die afgelope sewe jaar het daar soveel wins uit die gebeurtenis gekom – medeslagoffers se kosbare vriendskap en heilige stories, geleenthede om te leer en te groei, oop deure na ander lande om te vertel van die Here se goedheid, tallose wonderwerke van emosionele genesing wat ek bevoorreg was om te sien gebeur en diepte in ons gesinsverhoudings. Ek dink ek het in ’n sekere sin ’n wonderwerkvraat geword, want Efesiers 3:20 het keer op keer ’n werklikheid geword. Deur die Here se genade het daar onbeskryflike mooi oomblikke selfs in die hof en in die tronk gewag – op die ondenkbaarste plekke ooit!

Na jare se vergeefse pogings om direkte kontak met Levy (die man wat my verkrag het) in die Mangaung-gevangenis te maak, het ek begin wonder of ek ooit die lang verwagte aangesig-tot-aangesiggesprek sou beleef. Mangaung is ’n privaattronk en hoef nie al die riglyne van korrektiewe dienste te volg nie. Hul reaksie op my versoek was min of meer elke keer dieselfde: Tensy Levy uit sy eie jou naam op sy besoeklysie sit, sal jy hom nie sien nie. Maar toe beskik die Here dit so dat ek in Januarie vanjaar by ’n vriendin se 50ste verjaarsdagviering ’n kamer deel met Connie Wehrmann – die uitvoerende direkteur van Prison Fellowship in Suid-Afrika! Sy het dadelik geweet wie my kon help: me. Nonosi Mokoena van korrektiewe dienste se program vir slagoffer-/oortrederdialoog in Pretoria. Me. Mokoena het my eerste SMS binne minute beantwoord en dadelik aangedring op ’n gesprek.

Op 8 Februarie – dag en datum 7 jaar sedert die roof waartydens ek verkrag is – het ek en sy in ’n koffiewinkel ontmoet. Haar passie vir haar werk en vir die Here het uitgeborrel, en ek het dadelik geweet – hier kom dit nou! Sy en die spanlede in Bloemfontein het maande lank aan die proses gewerk en toe ek deur die Voortrekkers gevra word om op die 16de vandeesmaand praatjies in Bloemfontein aan te bied, het ek geweet dit is my geleentheid, aangesien Mangaung net buite Bloemfontein is.

My maag het gedraai toe ek Vrydag by daardie tronkhek inry, nadat ek eers ’n uur lange gesprek met die tronksielkundige by Grootvlei moes voer. Die sekuriteit by Mangaung word deur G4S bestuur. Wagte is nie in die bruin uniforms waaraan ek gewoond is nie. Hulle lyk soos taakmaglede en dra swart, koeëlvaste klere en deursigtige skilde wat ek nog net in videomateriaal oor betogings gesien het. Die veiligheidsprotokol was ook strenger as wat ek by C Max in Pretoria beleef het.

Ons was agt mense (en darem twee verwarmers) in die yskoue kamertjie, en ons kon deur die gepantserde venster sien hoe ’n span wagte vir Levy van sy eenheid af deur die groot vierkant na ons gebou toe bring. By my was my notaboekie met amper vyf bladsye notas en vrae, maar ek het begin rondtas na die eerste woorde wat ek wou sê.

Hy was baie maerder as wat hy in die hof was, en my indruk was ook dat hy gebuig is in liggaam, siel en gees. Ek het presies dieselfde ervaar as die nag van die roof: Hier is ons twee sondaars in die teenwoordigheid van die Here wat alle sondaars liefhet. En ons altwee het Hom nou weer baie nodig.

Ek wil nie en mag seker nie sonder Levy se toestemming die besonderhede van die intieme gesprek hier uitspel nie, maar ek is so dankbaar teenoor die sielkundige, mnr. Keaoleboga Sam Chweneemang, wat uur na uur elke woord tussen ons twee vertaal het sodat ons mekaar se harte duidelik kon hoor. Toe ek 16:30 die middag uiteindelik saam met die span uitstap, het niemand regtig woorde gehad vir die emosies en die bonatuurlike goeie verloop van die dag nie.

Die oomblik wat ek nooit sal vergeet nie, was Levy se dringende aangee van ’n opgevoude lyntjiespapiertjie sodat ek vir hom Bybelversies daarop kon skryf wat hy die aand in sy sel kon lees. En toe die ander helfte van die papiertjie met sy posadres sodat ek asseblief nog kan stuur.

Nou glo ek nog minder in hartseer eindes. Maar ek glo in die soort wraak wat God neem – nie op mense nie, maar op die vyand wat duur betaal wanneer die kwaad wat hy wou saai met rente boemerang. Hy wat in ons is en leef, is groter as hy wat in die wêreld vrees en haat aan harte probeer vasknoop. Of ons binne of buite die tronktralies staan, is nie ter sake nie. Ken ons die Deur en die Een wat die sleutels vashou? Dan is ons losgeknoop.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Hettie Brittz

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Sussa ·

As ‘n oorlewende van verkragting, nou 20 jaar gelede, dankie vir jou wysheid en geloof in die hantering van hierdie sensitiewe saak sewe jaar gelede en ook nou. Dit is goed om ook te weet daar is herstel vir die slagoffer en die skuldige. Ek voel nie nou meer of daardie daad met MY gebeur het nie. Dis asof ek ‘n fliek kan kyk daarvan en niks voel nie. Ek besef ek het nog ‘n paar dinge om deur te werk, maar die Here het my ook genees van die seer. Alle sterke en liefde vir jou vorentoe.

Diana ·

Dit is n mooi getuienis van ons lewende Here.Dankie dat jy getrou is aan jou roeping.

Reti ·

Sjoe Hettie. Hoendervleis! Nét Jesus kan jou die krag gee om so iets deur te gaan em te doen wat jy gedoen het. Hoeveel van ons kan mense nie vergewe vir baie ‘minder erg’ oortredings nie maar óns verwag vergifnis. Dankie.

Jo ·

Wat n wonderlike getuienis. Mag God julle albei ryklik seën.

T ·

Hettie, mag ons helemse Vader jou nog BAIE gebruik. Om ander te help om seer te verwerk… en om onvoorwaardelik te vergewe. Mag Levy se verhouding met ons Here so verdiep en dat hy saam met jou kan getuig oor die omkeer in sy lewe. Baie seën vir jou.

Sarel Strydom ·

Besondere mens en een wat opreg saam met God die pad stap. Vergifinis in so gevakl is vir my amper bo-natuurlike stap en sleg God kan die meebring.

Tanya ·

Aweseome Hettie! Awesome…. Nout jy jou antwoorde en Hy kan God vind en ook homself vergewe. Awesome.

MCH ·

Wat n getuienis van onvoorwaardelike vertroue in ons Hemelse Vader! Elke woord wat ek lees is soos dolksteke! Sout van die aarde dogter!

Johan. H. ·

Hettie jy is n baie beter mens as ek, voorspoed in als wat jy aanpak..

Louise Venter ·

Sonder vergifnis kan heling by niemand plaasvind nie. Wow Hettie mag jy seën ontvang in alles wat jy aanpak en mag jul God se Alomteenwoordigheid in al sy Volheid ervaar.

Therese van Schalkwyk ·

Dat die Departement Korrektiewe Dienste ‘n program vir “slagoffer-/oortrederdialoog” het, is ‘n verrassing en nie besonder wyd bekend nie. Dit speel na alle waarskynlikheid ‘n groot rol in die moontlike rehabilitasie van veroordeelde kriminele, en die herstel van slagoffers, en moet aangemoedig word.

Wanneer ‘n gewelddadige, vernederende misdaad soos verkragting ter sprake is, is daar egter bedenkinge. Selfs as leek in Kriminologie beskou ek dit as noodsaaklik dat verkragters uiters noukeurig gemonitor word ná so ‘n ontmoeting. Oortree hy weer na vrystelling? Hoe beïnvloed hy sy vriende? Ensovoorts.

Die “Levy’s” van SA se ware weergawe van sulke gesprekke na vrylating sal ongelukkig nooit bekend wees nie. Terwyl dit dus waardevolle materiaal vir motiveringssprekers bied, is die positiewe of negatiewe gevolge vir die res van Suid-Afrika se weerlose vrouegeslag in hierdie stadium onseker.

Laastens, kan iemand by die privaat Mangaung-gevangenis asseblief vir Levy ‘n Bybel gee?

Iliana ·

Dit het trane gebring. Ek is ook op 11 verkrag deur 6 seuns. Lang storie, en het alles eers blootgestel aan my kinders en my verloofdes verlede jaar. Ek het vir meer as 30j met die seer rondgeloop. Maar ons Here is groot!

Hettie Brittz ·

Iliana, my hart gaan uit na jou. Baie liefde! Jy is braaf om die pad te stap. Xx

Sputnik ·

Jy is voorwaar geseënd om so ‘n wonderlike mens te wees. Bravo!

Yster 74 ·

Hettie jy is ongelooflike mens. Dis al wat ek kan se. Jy is baie sterk vrou. Emosioneel baie sterk soos min.
Pragtig ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.