Losskakels bring hul kant

Patrick Lambie, losskakel vir die Sharks

Die teleurstelling van die naweek se rugby was wonder bo wonder nie die Lions nie, maar die Blitsbokke. 

Dit is welliswaar so dat Paul True met ‘n klomp nuwelinge probeer het om die Sewes-toernooi in Glasgow te wen, maar die gehalte van die rugby was ver onder dít wat ons van die Blitsbokke gewoond geraak het. Ervaring kan nie gekoop word nie en dit het duidelik geblyk. Ervaring is egter nie nodig as dit by lakwerk kom nie en dis dáár waar die Blitse na my mening die swakste gevaar het.

Wat die Super 15 betref, het die naweek afgeskop met ‘n skouspel waarin die Bulle betrokke was (ek kan dit nog nie oor my hart kry om te sê die Pienk Bulle nie…). Alhoewel dit somtyds skouspelagtige rugby van albei spanne was, moet die Bulls egter bekommerd wees dat daar in twee wedstryde na mekaar meer as vyf drieë teen hulle gedruk is. Teen  ander spanne sal dit hulle dalk duur te staan kom. Iewers moet iemand in die afrigtingspan help met die verdedigingspatroon.

Gelukkig het die bonuspuntoorwinning die Bulle bo-aan die Suid Afrikaanse groep geplaas. Wat verblydend is, is dat Morné Steyn sy mees afgeronde vertoning van die seisoen gelewer het . Nie net was sy skopwerk pale toe 100% nie, maar sy algemene spel en veral sy taktiese skopwerk was onverbeterlik. (In die proses het hy eiehandig gesorg vir 21 punte.) Heyneke Meyer kan maar gerus wees oor die nommer 10-posisie vir die Springbokspan.

Daar heers groot vreugde in die Cheetahs-kamp want ná verlede week se nederlaag het hulle vergoed deur die Foce in die Rosestad met 17-13 te klop. Aanskoulik was dit beslis nie, daarvoor het elke span te veel onnodige foute gemaak. Oor die gehalte van die rugby sal die Cheetahs se ondersteuners nie kla nie, want die oorwinning vergoed vir baie ander gebreke. Ek voorsien egter swarigheid vir die Cheetahs die komende naweek teen die Stormers op Nuweland as hulle nie hulle spelpeil dramaties lig nie. Dit is egter ook so dat die Cheetahs vir menige verrassing op Nuweland gesorg het en die Stormers moet die rusroes van ‘n loslootjie maar vinnig afskud. 

Die Sharks het weliswaar lusteloos voorgekom, maar ‘n oorwinning oor die veelgeroemde Highlanders is nie te versmaai nie. Patick Lambie het weer sy waarde gewys toe hy al die Sharks  se punte (28) aangeteken het. Daar is eensklaps ‘n oorvloed goeie losskakels in die land wat dit nóg makliker maak vir Heyneke Meyer. Toe die veld droog was, was dit maar ‘n geploeter, maar toe die reën in emmers neergestort het, het die Sharks soos verdorde plante wat reën kry, geblom. Die Sharks het ‘n goeie pak voorspelers en kan nog sy stempel afdruk in die oorblywende wedstryde. Maar dan moet daar groter konsekwentheid vir 80 minute op die veld wees.

Die wedstryd wat  die komende naweek seker die meeste belangstelling gaande maak, is die een tussen die Blues en die Lions. Dit is die beste kans wat die twee spanne op ‘n oorwinning het. Dit sal ook bepaal wie die swakste span in die kompetisie is. Die Blues is egter vir my ‘n kortkop voor om die oorwinning te behaal.  As hulle nog ‘n wedstryd teen die voorlaaste span op tuisbodem verloor, sal hulle in die openbaar gekruisig word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.