Lui uitspraak die doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

dr-theuns-eloff

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting en ook die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Foto: Theuns Eloff/Facebook.

Die stof het al bietjie gaan lê oor die konstitusionele hof (KH) se uitspraak in die Gelyke Kanse-saak oor die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid (lees die volledige analise van die saak hier). Die implikasies van hierdie uitspraak geld vir die US en die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en, miskien die belangrikste, vir Afrikaans as onderrigtaal in openbare skole.

Wat die US betref, moet onthou word dat die bestuur en raad baie jare gelede self Engels as onderrigtaal ingebring en dat hulle onlangs self besluit het om Afrikaans “af te skaal”. Hulle het die US dus aanvanklik tweetalig gemaak en nou – prakties gesproke – eentalig. Daarom kan verwag word dat die uitspraak die toepassing van die 2016-taalbeleid sal vergemaklik en dat dit Afrikaans nog meer (en dalk vinniger) sal “afskaal”.

In par. 5 van die KH-uitspraak stel regter Edwin Cameron dat ʼn belangrike oorweging in die uitspraak is dat “Afrikaanse klasse op voorgraadse vlak op groot skaal aangebied word” en veral dat “alle eerstejaarsklasse steeds in Afrikaans aangebied word”.

Soos wat GK egter deur beëdigde verklarings bewys het, is dit lank nie meer die geval nie. Maar hierdie verklarings is nie toegelaat nie, omdat die saak oor die beginsel van die taalbeleid en nie die toepassing daarvan nie, gegaan het. Die US sal dus voortgaan en Afrikaans (waarskynlik binne 2-3 jaar) heeltemal uitskakel. Die resultaat sal wees presies wat selfs die KH nie voorsien het nie, naamlik dat Afrikaans akademies “uitgewis” sal word (par. 38).

En die Potchefstroom-kampus van die NWU?

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Tot op hede het die raad van die universiteit by ʼn taalbeleid gehou wat Afrikaans steeds as volle onderrigtaal op kampus erken. Twee faktore plaas hierdie situasie onder druk.

Eerstens kan die inname op die Potch-kampus van al hoe meer nie-Afrikaanssprekende studente (met ʼn 50%-teiken op die horison) wat nie Afrikaans wil of kan praat nie, die sogenaamde taalkantelpunt bokant 30% vinniger laat nader kom. Tweedens word in die naam van (rasse-) transformasie, al meer dosente en administratiewe personeel aangestel wat nie Afrikaans kan of wil praat nie.

Of die NWU-bestuur onder hierdie omstandighede die politieke wil gaan behou om by ’n werklik meertalige beleid te hou, is hoogs twyfelagtig. En soos die US bewys het: as die bestuur onder die leiding van die rektor eers die skuif na Engels alleen gemaak het, val die raad doodgewoon daarby in – met net hier en daar ʼn teenstem roepende in die Afrikaanse taalwoestyn. Die Grondwet gaan Afrikaans nie by die Potch-kampus van die NWU red nie, maar miskien sal ekonomiese oorwegings van Afrikaanse studente wat hul studie- en koshuisgelde betyds betaal, meer effektief wees.

Openbare Afrikaanse skole

Daar is uit 24 000 openbare skole in die land, nog 1 200 enkeltalige Afrikaanse skole oor. Die meerderheid van hierdie skole is in die Wes-Kaap, gevolg deur die Oos-Kaap en dan Gauteng. Enkele van hierdie skole is reeds onder druk van buite en selfs van ouers om na parallelmedium oor te skakel en ander het reeds so besluit. Volgens die Skolewet het beheerliggame die bevoegdheid om die taalbeleid van hul skole te bepaal.

Hierdie bevoegdheid is egter nou onder politieke druk, onder andere van Panyaza Lesufi. Daar is ook druk van verskeie provinsiale departemente van onderwys op enkeltalige Afrikaanse skole om ’n Engelse stroom te begin. Die meeste is nie hiertoe geneë nie, omdat die praktyk van die afgelope jare gewys het dat parallelmediumskool ʼn glybaan na Engelse eentaligheid is.

Regter Edwin Cameron is as die nuwe kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangewys. (Foto: US)

Regter Cameron se woorde in par. 38 van die uitspraak beloof niks goeds vir voortgesette Afrikaanse onderrig in veral parallelmedium skole nie:

“A different way to pose the dilemma Gelyke Kanse brings before us is this. Is it permissible under section 29(2), where tuition is being offered in an official language of choice at a public educational institution, to diminish that offering (while not extinguishing it) in order to enhance equitable access for those not conversant in that language, when the institution judges the cost of non-diminution too high? In my view the answer is Yes.”

Die US sal bewys dat die woorde “while not extinguishing it” net ʼn kwessie van tyd is – die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Universiteit van Pretoria (UP) het dit reeds bewys. Die US het ook reeds bewys dat die instelling se opinie oor die hoë koste van “nie-afskaling” hoogs diskresionêr is en nie tot praktiese sake beperk is nie, maar ook die subjektiewe gevoelens en vooroordele van studente insluit.

Die ironie is dat waar skole (en universiteite) se meestal Afrikaanse leierskap met edele motiewe (maar groter naïwiteit) besluit het om na parallelmediumonderrig te beweeg, daardie besluit uiteindelik die einde van Afrikaans as onderrigtaal by daardie instansies beteken het.

Die uitspraak in die GK-saak het finaal bevestig dat in ʼn parallelmedium-onderwysomgewing (volgens art. 29[2] van die Grondwet) grootliks deur die howe en spesifiek die KH ontkrag is. Die gewig (en regskrag) wat aan die gevoelens, subjektiewe belewenisse en vooroordele van nie-Afrikaanssprekende studente gegee word, troef eenvoudig die taalregte, die gevoelens en die subjektiewe belewenisse van Afrikaanssprekende studente. Daar is geen moontlikheid van ʼn kompromis van gelyke taalregte nie. Die skaduwee van rassetransformasie en politieke korrektheid hang soos ʼn wolk oor hierdie situasie.

Wat dan van enkeltalige Afrikaanse skole?

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Par. 38 van die uitspraak sluit hulle nie uit nie, maar dit sal moeiliker wees vir ʼn groep ouers wie se kinders reeds in enkeltalige Afrikaanse skole is, om nou die argumente wat by die US (en die UV) die taalregte getroef het, te opper. Dit is veral so omdat hulle ingestem het tot Afrikaanse onderrig van hulle kinders – en in sommige gevalle dit selfs gekies het, veral oor die gehalte wat met Afrikaanse onderrig gepaardgaan. Maar dit is nie onmoontlik nie dat ʼn groep nie-Afrikaanssprekende ouers wat hulle kinders vir graad 8 by, byvoorbeeld, Hoërskool Waterkloof wil inskryf, ʼn hof mag nader vir ʼn bevel dat ʼn Engelse stroom daar begin móét word nie. Dit sou die beheerliggaam se mandaat om taalbeleid te bepaal, onder druk plaas (en selfs vernietig) en waarskynlik verdere regsgedinge veroorsaak.

Regter Cameron se woorde plaas dus selfs enkeltalige Afrikaanse skole onder druk en in die spervuur. Die KH se tweeledige konsepte van “redelikerwys doenlik” en “gepaste regverdiging” laat klaarblyklik enige reg van Afrikaanssprekendes om in hul moedertaal onderrig te word, (uiteindelik) op die rotse loop. En ʼn ANC-regering wat nie hul eie beloftes oor die bou van genoeg skole vir ʼn groeiende en verstedelikende bevolking nakom nie, sal hierdie presedent graag gebruik om hul eie tekortkominge weg te steek.

Dit sal klaarblyklik ook nie help om die argument met getalle te probeer wen nie. Selfs met 13% van die bevolking wat Afrikaans as moedertaal het, is daar nou slegs twee kampusse (uit 36, slegs 5,5%) waar sulke studente ʼn volledige graad in Afrikaans kan ontvang: by die Potchefstroom-kampus van die NWU en die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT)… en Afrikaans is by beide onder druk.

Soos reeds gesê, is daar nog 1 200 enkeltalige Afrikaanse skole in die land, naamlik 5% van die totale aantal openbare skole – weer vér minder as die 13% van die bevolking met Afrikaans as eerste taal. Hierdie getalle maak blykbaar nie saak nie, veral as dit oor die subjektiewe belewenisse van nie-Afrikaanssprekende studente gaan, al het hulle volle toegang tot die ander 34 kampusse en 22 800 skole waar Engelse onderrig beskikbaar is. Maar die KH het nie na die groter prentjie gekyk nie, omdat dit nie die “vraag is wat voor hulle gedien het nie”.

Hierdie situasie skree ten hemele.

Gelykheidsbeginsel in die Grondwet

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

In sy afsonderlike uitspraak gaan regter Johan Froneman sover as om te sê dat bindende regspresedent (van die Kovsie-saak) ondersteun word deur “die substantiewe erkenning dat ons Suid-Afrikaanse geskiedenis en huidige ongelykheid beteken dat wit Afrikaanssprekendes nie dieselfde behandeling as voorheen benadeelde taalminderheidsgroepe kan verwag nie. Die wesenlike voordele wat Afrikaanssprekendes geniet het in teenstelling met ander taalminderhede maak dit onvermydelik… Daar is ʼn onverbiddelike prys wat betaal moet word vir enige vorm van taalonderrig in Afrikaans.”.

Met respek, waar bring dit ons ten opsigte van die gelykheidsbeginsel in die Grondwet? En waar laat dit die meer as 50% bruin Afrikaanssprekendes en hul taalregte? Ook hierdie uitspraak gee dus min hoop op die oorlewing van Afrikaans as onderrigtaal in openbare skole (selfs as dit net 5% is).

Regter Froneman (in par. 75) erken dit self en lewer dan (uit radeloosheid?) bietjie kritiek op die KH, voordat hy die verlies betreur (par. 88):

“Mens benodig nie internasionale studies nie, waarvan daar vele is, om te besef dat hierdie stand van sake Engels as dominante taal bevestig, nie net op tersiêre vlak nie, maar, soos ons sal sien, ook vanaf laerskool na hoërskool tot by universiteit. Menings mag wissel oor die wysheid hiervan, maar dit is seer eienaardig dat hierdie hof, die uiteindelike bewaker van minderheidstaalregte ingevolge die Grondwet, sy goedkeuring daaraan gee….  

“Sonder ʼn eie taal is deel van ons kultuur verlore, ons gewaarwording van onsself vernietig. En as dit gebeur, word diversiteit verloor. Ons verloor dan die geloof verwoord in die aanhef tot die Grondwet dat Suid-Afrika aan almal wat hier leef, behoort, verenig in ons diversiteit.”

Ek kan dit nie beter verwoord nie. En regter Froneman moet krediet gegee word vir sy vlymskerp analise van die onreg wat arm (en ook bruin) Suid-Afrikaners deur die gebrek aan moedertaalonderrig en algemene gehalte aangedoen word – en dat sprekers van die oorspronklike koloniale taal skotvry daarvan afkom. Sy eie mening (en dié van hoofregter Mogoeng) is dat die privaat sektor en die gemeenskappe self moet ingryp om die staat se gebrek aan finansies om inheemse tale te ondersteun, goed te maak. Hy noem goedkeurend die voorbeeld van die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) wat onlangs van stapel gestuur is en wat Afrikaanse privaat skole gaan koop, bou en bestuur. Alhoewel mens wonder of die staat (en belastingbetalers) so maklik van hul verantwoordelikheid ontslae kan raak, is dit goeie nuus dat onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings (soos die MOS, Sol-Tech en Akademia) volgens ons hoogste hof grondwetlike bestaansreg het ingevolge art. 29(3). Mag daardie reg net nie ook soos art. 29(2) gerysmier word nie.

Ten slotte (en deels tong-in-die-kies): in ʼn vorige artikel is gesê dat ʼn hof en die KH nie na die groter prentjie kyk nie, maar slegs na die saak wat voor hulle dien. As hulle hieroor konsekwent bly, is daar hoop vir enkeltalige Afrikaanse skole. Want dit sal baie moeilik wees om 1 200 afsonderlike sake met betrekking tot die 1 200 Afrikaanse skole elk op sy eie voor die howe te kry. Of gryp ek na strooihalms?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Karel ·

As n reg nie absoluut is nie, kan dit net sowel nie daar wees nie. Die enigste absolute reg is seker die reg op lewe. Alle ander regte word teenoor ander regte opgeweeg. So ons wonderlike handves van menseregte, opgestel deur slim (in hul eie ogies) mense, beteken eintlik NIKS nie.

barend v d westhuizen ·

afrikaanse pratende mense moet al mal begin om geen engels te praat as jy besighieh doen nie as die besighied jou besighied wil he moet hy dit in jou taal doen en klaar en dit beteking in almal se taal dit kan gedoen word in elke 11 tale en voor eiemand nou weer se dit kos te duur lieg daar computer programme wat alles kan vertaal in al die land se tale besughied is net te sleg en te lui om dit te doen

Chris Trytsman ·

Prof Theuns. Jou opmerking dat die NWU steeds volledig in Afrikaans n graad kan toeken is nie meer die geval nie. Al van die begin van die jaar af nie as ek reg verstaan. So ook is kwotas in die koshuise nou afgedwing dat slegs 50% blanke eerstejaars volgende jaar in die koshuise mag geplaas word. Soveel so dat ek weet van blanke studente wat nie plek kry in die koshuis nie maar word die gapings waar swart studente nie aansoek gedoen het, steeds gereserveer vir indien swart studente later aansoek doen! Dis malligheid!

kruising my maar ·

My kinders word nie in Afrikaans onderrig nie, hulle gaan na n engelse skool , want hulle het geen toekoms in SA nie so afrikaans gaan hulle niks help waar hulle een gaan nie. Afrikaans is net geldig in SA.

Sê net ·

Ek is ‘n onnie by ‘n Engelse skool wat deur baie Afrikaanse leerlinge vir diè rede bygewoon word. Hulle het wel ‘n voorsprong bo Afrikaanse kinders in Afrikaanse skole wat naskoolse studies betref. Aan die ander kant, ek was self in ‘n Afrikaanse skool, maar het in Engels studeer. Die aanpassing was minimaal en het my glad nie gekelder nie. My kinders is dus in Afrikaanse laerskole, ek oorweeg sterk ‘n Engelse hoërskool vir hulle.

Basson ·

Ek werk in die Buiteland, Kry Suid Afrikaners orals waar ek loop en dan praat ons Afrikaans. Het nou net met n vriend gepraat wat in bier fabriek in NZ besig is met n Jaarlikse opgradering en hulle praat heerlik Afrikaans daar. Hulle beplan nou skool ook daar. Ek is nie teen Engels nie en moet maar heeltyd met my baas en onderdane in Engels komminikeer. Moenie ons taal afskryf nie. Hy sal oorleef.

Frik ·

Ek is ‘n Kapenaar wat gereeld in Johannesburg sake doen. Almal daar praat Engels, maar af en toe praat ek lekker Afrikaans met Afrikaners wat ek daar raakloop. Hulle sê ook hul kinders is in Engelse skole en universiteite. Lank lewe Afrikaans!!!

Jerry ·

Ek sou graag eerder wou sien dat die doodsklok moet lui vir die ANC se ongrondwetlike transformasie van n grondwetlike demokratiese multi rasse samelewing na n ongrondwetlike, ondemokratiese nie rassige samelewing wat dit ten doel het om diverse denke, vryhede en regte te onderdruk en in te perk tot een ras ideologie. Hoe dit ookal sy, regter cameron is duidelik ideologies verbind tot die ANC se bou van n nie rassige samelewing wat voor die hand ondemokraties en ongrondwetlik is aangesien dit in die grondwet ondubbelsinnig vervat is dat Suid Afrika n demokratiese multi kulturele en rasse samelewing is waar elke groep se vryhede en regte erken en beskerm word. Die grondwet maak nie voorsiening vir die bou van n nie rassige samelewing soos waarmee die ANC en cameron mee besig is nie. Ons is veronderstel om die ongrondwetlike foute wat die ANC en die regter maak te eien, uit te buit en hulle daarmee te verslaan, maar dit gebeur nie. Net die tyd sal leer of die uitspraak dalk n bedekte seen was vir Afrikaans wat nou wettiglik kan afstig van die ANC se ongrondwetlike nie rassige onderdrukte narratief!

skurweberg ·

Navorsing oor standpunt en kommentare van individue op hierdie platform, behoort beslis die aandag van navorsers te trek. Ek dink dat die ANC baie subtiel die twee begrippe “nie rassige samelewing” en die realiteit van ‘n “rasgedrewe samelewing” doelbewus wil uitmaak as rassisme. Is dit nie miskien die oorsprong van hulle beskuldigings teenoor bv. AfriForum nie?

As kwaadwilligheid in die verband bewys kan word, kan die ideologiese dryfveer en motiewe van die regerende party bloodgele word. Meer nog, dit sal die rasbeheptheid en die redes waarom hulle en ander groepe doelbewus minderheidsgroepe wat suksesvol is, teiken met die term “rassiste”. As die emosie “jaloesie (naywer),” geidentifiseer word het die oorspronlike doelwit nl. “nie rassige samelewing” geen bestaansreg nie. Die onkenning van die realiteite is ‘n doodloopstraat en ‘n uiters onwetenskaplike en gevaarlike benadering. Die erkenning van die realiteite van SA is konstruktief en het ‘n voordeel vir almal in land. Dit sal die handevat gedagte waarvan ons droom ook baie makliker maak.

Kobus ·

Dit gaan om meer as die taal waarin jy studeer. ‘n Taal verloor vinnig sy status as akademiese en wetenskaptaal. Afrikaans was een van ‘n paar tale wat daardie status in die 20ste eeu verwerf het. Oud-studente bo 50 sal nog die ou profs onthou wat deel was van die akademiese taalontwikkeling. Dis iets om op trots te wees. Sodra daai status weg is sal Afrikaans maar net nog ‘n taal wees. Jy sal nog ‘n Vandermerwe grap kan vertel, maar selfs die Afrikaanse predikant sal later in Engels preek, want hy het in Engels studeer. Binne die volgende 10 jaar sal Afrikaans by alle skole uitgefaseer word, met die argument dat alles in elk geval Engels is. Teen die einde van die eeu sal ‘n paar gesinne nog ‘n vreemde soort Afrikaans praat. Jonger Afrikaners moet nou die stryd oorneem. Indien hulle gemaklik is met die huidige oorskakeling na Engels moet die oues dit aanvaar en ophou baklei.

André-Chris ·

Dit is in ons hande, die wat dit feil het vir Afrikaans of hulle daarvoor sal bly veg en nie sal toelaat dat hulle op die einde ook van hul identiteit gestroop word nie. Die Afrikaanse skole, die kerk, ons taal, ons kinders se opvoeding, hulle wil beheer wie ons by die huis moet wees. Dit probeer so stukkie vir stukkie van ons weg kalwe sodat ons later vir onsself onherkenbaar is, dan versaak ons ook ons herkoms en misken ons geskiedenis, dis wat die oogmerk is.

Baklei moet ons baklei, al lyk die oormag hoe groot en vat dit ‘n ewigheid, David het dan nie voor Goliat geswig nie, en die ANC is verseker nie ‘n Goliat nie.

Lindie De Lange ·

Die Afrikaners wat hul boedels aan die universiteite bemaak het, moet nou maar Akedemia oor weeg? Afrikaans Sal nie uitsterf solank ons dit praat, skryf droom en bid nie. Die britte het dit onsuksesvol probeer…

Frans C ·

Soms verstom die naïwiteit van hooggeleerde mense my. Daar was in die ou Suid Afrika net
twee hooftale van onderrig, nl Afrikaans en Engels en was die verdeling waarneembaar in die onderwysinrigtings.
Dit is skokkend dat daar uit die 24000 openbare skole daar nog net 1200 Afrikaans medium skole oor is,al is daar 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes teenoor 4.8 miljoen Engelssprekendes.Dit is die aantal mense wat die tale as eerste taal gebruik en verteenwoordig nie die mense wat studeer in die tale nie.

Daar is nie ‘n swart akademiese taal wat oor alle studiegebiede strek nie en daarom is dit duidelik dat swart studente eerder ‘n wêreldtaal soos Engels bo die taal van die onderdrukker sou verkies en dat die keuse Afrikaans medium skole soos ‘n luislang sal inslut en verober.
Suid Afrika se bevolking beloop volgens die jongste statistieke 58.7 miljoen mense,waarvan 47.3 miljoen swart is. Dit is 80.7% %.Balankes het afgesak tot die 3de plek met 4.6 miljoen 7/9% en Kleurlinge in die 2de plek met 5.1 miljoen of 8.8%.

Wil iemand nou vir my kom vertel dat die geleerde onderhandellaar by Kodesa nie die toestand kon voorsien het nie en die Afrikaner en sy taal roekeloos weggeteken het,onder ‘ons kon nie anders’ ?

Sonder ‘n eie onafhanklike grondgebied al is dit so groot soos Israel sal dit altyd mi ‘n reuse stryd om oorlewing wees veral omdat amper 20% van die blanke bevolking ouers
as 65 is en dus binne die volgende dekades verdwyn.

André-Chris ·

Daardie onderhandelaar het nie die statistiek gehad nie en was ook nie kundig met Excel, ontledings en grafieke nie. Hy het ook nie ‘n idee gehad hoe om formules aan te wend nie. Die wigte en teenwigte het ook nie gehelp nie.

Petrus ·

Ek is met jou Frans. Maar solank VF Plus, Solidariteit en ‘n paar ander belangegroepe rondom geografiese selfbeskikking praat sal niks gebeur nie. Die VF Plus soek net jou stem met die belofte dat hulle dan meer kan praat in die parlement, en Solidariteit wil jou woonbuurt bestuur en ‘n unversiteit bou. Bruin minderhede in die Kaap is in dieselfde situasie. Dit kyk my die meerderheid Afrikaners het hul lot aanvaar en wil bly waar hulle is. Soos Kobus hierbo skryf, verdwyn gaan ons verdwyn. Maar die massas sal ons verorber.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.