M.T. Steyn – held of skurk?

Die standbeeld van pres. M.T. Steyn word van die kampus van die Universiteit van die Vrystaat verwyder. (Foto: KatlehoLechoo/Twitter)

Die standbeeld van pres. M.T. Steyn op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat was een van talle wat in die wêreldwye woede oor die vereer van “verkeerde” historiese figure gewaai het.

Maar wat moet ’n mens daarvan dink? Wie was Steyn? Kan hy in dieselfde negatiewe lig beskou word as slawehandelaars wie se standbeelde soms in damme of die see beland het?

Marthinus Theunis Steyn (1857-1916) is bekend vir die ses jaar – van 1896 tot 1902 – dat hy president van die Oranje-Vrystaat was. In die Afrikaners se herinnering was hy ’n held, by sommige selfs meer as ’n legendariese figuur as pres. Paul Kruger.

Eers ’n noodsaaklike nuanse: Steyn was ’n kind van sy tyd en moet as sodanig beoordeel word. Jy kan nie na hom kyk bloot in die lig van vandag se kennis en insigte nie.

Bowendien is dit nie die taak van die historikus om helde op te bou of af te breek nie. Die vrae wat beantwoord moet word, is: Wat het gebeur, hoe pas dit in die tyd waarin dit gebeur het, welke invloed het dit op die destydse omstandighede gehad, en hoe het dit die latere verloop van sake bepaal?

As jy dit uit die oogpunt van die ANC, die SAKP of die EFF bekyk, was Steyn ’n rassistiese en kapitalistiese koloniale uitbuiter. Maar daardeur sou jy Steyn se werklike rol en betekenis vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis hopeloos verskraal.

Destyds was daar haas geen wit mens wat gelyke regte vir swart mense bepleit het nie. Op die beste is swart mense gesien as kinders wat welwillend-paternalisties na beskawing gelei moet word; op die slegste as barbare wat slegs die taal van die sweep ken.

Soos die historikus G.D. Scholtz dit stel: in die Vrystaat (en onder Afrikaners) is die swart mense “steeds in die lig van die arbeid gesien … Daar is eenvoudig van die standpunt uitgegaan dat hierdie verhouding tussen blank en nieblank iets natuurliks was en dat dit in der ewigheid sou voortduur sonder dat daar verandering in sou kom.”

Dit sou ook ’n billike weergawe van Steyn se standpunt wees, ofskoon die historikus vergeefs soek na uitsprake waarin hy hom – volgens huidige standaarde – op ’n aanstootlike manier oor swartes uitlaat. Soos die vermaarde joernalis Schalk Pienaar in ’n ander verband geskryf het: “Ons wás toe maar só.”

Steyn se erfenis vir die geskiedenis kan onder ’n enkele hofie saamgevat word: sy stryd vir die oorlewing van die Afrikanervolk. Dit het op twee terreine gebeur, die geveg teen die Britse imperialisme en die geveg vir Afrikaans.

In die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog moes hy kwaai wal gooi teen die ligsinnig-optimistiese houding van diegene wat gemeen het die Britte sal maklik verslaan word. Sy woorde was profeties: “Ek stem nie toe tot ’n oorlog ’n minuut voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê ‘Oorlog’, dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde.”

Só was dit inderdaad. Nadat die oorlog in Februarie 1900 teen die republieke gedraai het, wou veral die Transvaalse regering herhaaldelik tou opgooi, en moes die onversetlike Steyn en genl. Christiaan de Wet vasskop en die Transvalers by verskeie geleenthede moed inpraat. Oorlogsugtig was Steyn nie; wel rotsvas in sy oortuigings.

Steyn is in dié verset teen oorgawe gelei deur sy oortuiging dat ingee vóór die bitter einde die selfvertroue en oorlewingsdrang van die Afrikaners ’n dodelike knou sou gee. En sonder daardie selfvertroue sou die Afrikaners – in N.P. van Wyk Louw se woorde – “van skaamte sterf”.

Uiteindelik moes die republieke natuurlik wel die knie buig. Met die onafhanklikheid daarmee heen, moes egter ’n ander instrument vir Afrikaner-oorlewing gevind word – en dít het Steyn in samewerking met genl. J.B.M. Hertzog gevind in die stryd vir die Afrikaanse taal.

By die Nasionale Konvensie van 1909 ter voorbereiding van die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika was dit die Transvalers – genls. Louis Botha en Jan Smuts – wat lou oor Afrikaans was en wat die optrede van die Vrystaatse “taalfanatici” steurend gevind het. Weer was dit die Vrystaters, Steyn en Hertzog, wat vasgeskop en vir Afrikaans geveg het.

Steyn se woorde was aangrypend: “Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor. Voor geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons ras in ’n onderdanige posisie sal gaan plaas nie … Ek vra dit nie alleen as ’n reg nie: ek pleit daarvoor as versiende staatsbeleid. As u my wenk aanneem, sal u met een pennestreep al die gesukkel oor die taal in u Parlement vermy. U plaas die taalkwessie bokant en buite die politiek.”

Dit het die deurslag gegee. In die Unie se grondwet is die regte van Afrikaans veranker, al het dit nog ’n klipharde stryd gekos om dié regte ook in die praktyk af te dwing.

Steyn se visie op die wêreld is primêr deur die oorlewing en welsyn van die Afrikanervolk bepaal. Dis eenvoudig ’n nugter historiese feit dat die wit Engelssprekendes vir hom van sekondêre belang was, en die bruines het heeltemal buite sy visie geval. Teen die agtergrond van die verlies van die onafhanklikheid is dit logies, al sou ’n mens met die kennis en insigte van vandag in sy plek dalk anders geoordeel het.

Sy houding oor die swart mense word deur dié woorde van 1910 weergegee:

“Terwijl een deel van de blanke bevolking naar beneden zinkt, rijst er een deel van de zwarte bevolking naar boven en maakt een aanval op de ekonomiese positie van de blanken. Het naturellevraagstuk is een van de ernstigste waarmee wij in Zuid-Afrika te doen hebben.”

Nogmaals, dis nie die taak van die historikus om helde te vereer en skurke uit te rook nie. Dus is die korrekte houding dít:

Was Steyn ’n held of ’n skurk? Dit hang af van die hoek van waaruit jy na hom kyk. Verskillende antwoorde, wat almal legitiem kan wees, is moontlik. Maar moet hom nie eksklusief vanuit die ANC- of EFF-oogpunt as skurk bekyk nie. Wie weet hoe die geskiedenis Nelson Mandela of Julius Malema oor ’n eeu gaan sien?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

Pres Steyn het grootgeword in die Vrystaat-Basotho oorloë tyd en ook daardie smaad ervaar. Om sy beeld te verwyder kom neer op kulturele moord. Ons wag om die verskeie Mandela beelde te verwyder. Wie eer nou ‘n kommunis/terroris/moordenaar?