Ma, ouma, Afrikanervrou – waarheen gaan my stem?

ada-esplin

Ada Esplin het ’n BSc wiskunde-graad behaal aan die Universiteit Stellenbosch waarna sy 38 jaar vir ’n internasionale rekenaarsfirma gewerk het. Sy is tans ’n nasionale kandidaat vir Front Nasionaal in die 2019-verkiesing. Foto: Verskaf.

[Red] In aanloop tot die nasionale verkiesing op 8 Mei vanjaar gee Maroela Media politieke partye die geleentheid om hul menings oor verskillende kwessies wat kiesers raak op Maroela Media se debatsportaal te lug. Alle politieke partye is welkom om meningstukke vir publikasie voor te lê onderhewig aan die bepalings en voorwaardes van Maroela Media se redaksionele beleid.

Ada Esplin, ’n nasionale kandidaat vir Front Nasionaal in die 2019-verkiesing, skryf:

Daar is min dinge wat die wêreld so aangegryp het soos Amerika se ruimtetuigprogram. Nadat televisie sy opwagting in Suid-Afrika gemaak het, kon ʼn mens jouself inleef in die aftelling, kragtige lansering en die grasieuse vlug die hemelruim in. Die projeksie van so ‘n vlug herinner ‘n mens onwillekeurig aan die vorm van ‘n reënboog. Die styl klim, die bereiking van ‘n kritiese punt waar die leë brandstoftenks en enjins wegbreek van die pendeltuig en dan terugval aarde toe om die boog te voltooi, terwyl die bemanningstuig onverpoosd verder deur die ruimte dring.

Ongelukkig was alle lanserings nie altyd suksesvol nie. Die tragiese ontploffing van die Challenger in 1986, die 25ste pendeltuigsending, is deur miljoene geskokte mense wêreldwyd gevolg. Dit is die beeld wat by my vassteek, as ek dink aan die gebeure in Suid-Afrika oor die laaste 25 jaar.

In 1994 het dit gelyk asof ons ‘n suksesvolle lansering van ‘n nuwe politiek bestel waarneem. Die petroltenke was gevul met ‘n uitmuntende infrastruktuur, ‘n werkende en produktiewe staatsdiens en staatsinstellings wat beskou is as onder die bestes ter wêreld. En tog – iewers op die reis het daardie brandstof begin uitlek en het dit gelei tot die onvermydelike ontploffing, waar die pendeltuig met bemanning en al, saam met die res van die uitgebrande dele neergestort het.

Die reis van die Suid-Afrikaanse reënboognasie, tot dusver in elk geval, is vir my ‘n weerspieëling van die Challenger-tragedie.

As jong Afrikanervrou in die jare 90, het ek vas geglo dat ons die wa deur die drif gaan trek. Tussen ‘n veeleisende loopbaan in die korporatiewe wêreld, wat tóé eers toeganklik geraak het vir vroue,  en die grootmaak van 4 kinders, het ek nie juis tyd gehad om te veel te wroeg oor die gevaarligte wat stadig, maar seker, begin flikker het nie. ‘n Ma het mos die manier om laer te trek rondom die kinders en die res uit te sluit ten koste van realiteit. Teen 2008 was my kinders al mooi groot en die krake het meer sigbaar geraak met die “oorname” van Zuma, ná Mbeki se bedanking. Daarna het die brandstof vryelik begin uitlek deur die al groter wordende krake van korrupsie en politieke onverantwoordelikheid totdat alles, figuurlik gesproke, ontplof het – veral oor die afgelope paar jare.

Daar word beweer dat die bemanning van die Challenger nie gesterf het tydens die ontploffing nie, maar eers toe die tuig die see-oppervlak getref het. Hulle was dus vir minstens nog 2 skrikwekkende minute bewus van wat met hulle gebeur en die onvermydelike lot wat op hulle wag.

Dit voel vir my asof ons nou in daardie twee minute leef.

Ek wil nie die see tref saam met die bemanning van die gefaalde pendeltuig nie. Ek wil nie nóg kinders by die lughawe afsien wat hul heil in vreemde lande gaan soek en nou dáár ‘n toekoms bou nie. Ek wil my eerste, en hopelik nog baie ander kleinkinders, sien grootword rondom my en weet dat daar ‘n veilige en vreedsame toekoms vir hulle voorlê in hul geboorteland – waar wet en orde herstel is en die woord korrupsie en staatskaping nie bestaan nie.

En nee, ek plaas nie my hoop en verwagting op ʼn onhaalbare droom nie – dit waarvoor ek hoop, is Goddank wettiglik haalbaar. Dit is waarom ek as Afrikanervrou, Ma en Ouma stem vir Front Nasionaal. Dit is werklik die enigste politieke party op vanjaar se nasionale stembrief wat staan vir ware selfbeskikking.

Selfbeskikking wat verkry kan word deur wettige prosesse en prosedures wat internasionaal en ook hier te lande bestaan, beskikbaar is en wat haalbaar is.

Vyf keer het ek vir die leuen van ‘n reënboognasie gestem, die sesde keer stem ek nou vir die behoud van my eie taal en kultuur en mense. En nee, dis nie rassisties nie en ek verlang ook nie terug na apartheid nie.  Inteendeel – net soos wat ek deur my eie mense regeer wil word, so gun FN álle ander minderheidsgroepe die geleentheid om oor hulself te regeer. Dit is wat selfbeskikking is – niks meer of minder nie.

Ek het besluit om uit die pendeltuig te breek voor dit die water tref, deur vir die verkryging van ‘n onafhanklike staat te stem. ʼn Plek van vrede, vryheid en voorspoed waar die huidige ANC-regering nie meer ‘n sê het oor my en my kinders en kleinkinders nie. Dis nie vir my net meer ʼn kwessie van ʼn moontlike keuse nie…  Dit is vir my die énigste alternatief voor die bemanningskajuit waarin ek, my kinders en my kleinkinders sit, die water tref.

Ek is Afrikanervrou, Ma en Ouma. En ek het my keuse gemaak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries du Toit

Daar is niks so mooi soos n behoudende vrou wat vir haar eie volk,kultuur en kinders veg nie. Die teendeel is ook waar dat daar niks aakliger is as n vrou wat teen haar eie volk haar aan die kant van die vreemdes skaar .

Boerboel

Dries jy het dit baie mooi gestel. Ek was nie bewus van die poletieke party.

adriana

Pragtig gestel!
Stem saam want ek voel dieselfde oor my kinders, taal , kultuur en toekoms!!

Dries du Toit

Wens sy was by die VF+. Maar sterkte aan haar. Voorwaar n ongelooflike vrou

Therese van Schalkwyk

Puik verwoord, treffende Challenger-vergelyking.
Die feit dat die skrywer die nuwe bedeling ‘n volle vyf kanse gegee het, maak die nuwe rigting wat ingeslaan word soveel meer betekenisvol.
Net nog ‘n bewys dat die meerderheid Suid-Afrikaners groot verwagtinge gekoester het van ‘n “beter lewe vir almal” in ‘n nuwe SA.
Voorspoed en sterkte met die uitdagende nuwe koers!