Maak jou huishouding elektrisiteitselfstandig

alternatiewe-energie-2

Foto: Home-designs-interesting-wallpaper.blogspot.com

Elektrisiteitsekerheid is noodsaaklik vir werksekerheid, en werksekerheid is noodsaaklik vir gemeenskapsekerheid. Dit is die een ding wat soos ‘n paal bo water staan in die ekonomiese realiteite waarmee Solidariteit se lede veral die afgelope paar maande te kampe kry te midde van Eskom se vlaag kragonderbrekings sedert Januarie.

Deur Solidariteit se duisende lede wat in uiters moeilike omstandighede, van swak regeringsbesluite en beleide soos regstellende aksie tot swak bestuursbesluite, hul bes doen om Eskom aan die gang te hou, weet Solidariteit dat Eskom se probleme nog lank nie opgelos is nie. Met die Solidariteit KragDag Ekspo dra Solidariteit tot kreatiewe oplossings by sodat al ons lede, sowel as die breër publiek, teen kragonderbrekings beskerm kan wees. Hulle moet beskerm wees by die werk, by die huis én in gemeenskapsverband soos by kerke en skole. Die voorspoed van ons lede en die breër gemeenskap is – so lank as wat elektrisiteitsvoorsiening so onseker is soos tans – in gevaar.

Met hierdie gids bied Solidariteit aan sy lede en die publiek ‘n nuttige handleiding vir hoe huishoudings hulself minder afhanklik van Eskom en meer elektrisiteitselfstandig kan maak. Die uitdagende wêreld van volt en kilowatt word vereenvoudig, met ‘n oorsig van verskillende opsies vir eie elektrisiteitsopwekking sowel as elektrisiteitsbesparing.

Die gids is allermins die laaste woord oor selfstandige huishoudelike kragopwekking. Nie alleen is die illustratiewe pryse wat hierin gebruik word noodwendig van tydelike waarde nie, maar ook die tegnologie waarna verwys word, sal ongetwyfeld in komende jare verbeter en selfs mettertyd vervang word. Wat die gids wél is, is ‘n geleentheid vir belangstellende huishoudings om ‘n eerste stap te doen in die rigting van groter elektrisiteitselfstandigheid, naamlik om ‘n oorsig oor belangrike beskikbare tegnologie te bekom, ‘n evaluering van eie behoeftes te maak en alternatiewe en hul beraamde koste te oorweeg.

Die voordeel van groter huishoudelike elektrisiteitselfstandigheid is nie net dat mense uit eie bronne van elektrisiteit verseker kan wees nie, maar dat dit boonop die elektrisiteitskwesbaarheid van almal wat steeds van Eskom afhanklik is, verlig. Huishoudings wat minder stroom uit Eskom se netwerk trek, maak daardie elektrisiteit immers vir enigiemand anders se gebruik beskikbaar – om nie eens te praat van die moontlikheid dat huishoudings in die toekoms selfs ekstra elektrisiteit tot die Eskom-netwerk kan byvoeg nie.

Hierdie gids is op huishoudings gerig. Ongelukkig is elektrisiteitsregulasies in Suid-Afrika so streng dat dit baie moeilik is om op groot skaal en vir kommersiële doeleindes elektrisiteit op te wek. Omdat die elektrisiteitsmark nie oopgestel is nie, is daar min beweegruimte vir die publiek en veral vir sakelui om die elektrisiteitsprobleem in Suid-Afrika op groot skaal te help oplos. Solidariteit het daarom reeds vroeër in 2015 ‘n petisie opgestel om vir ‘n verslapping in die regulasies wat private elektrisiteitsopwekking kniehalter te vra. Regulasies mag mense nie verhoed om vir hulself te sorg nie.

Intussen is hierdie gids egter ‘n handige beginpunt vir huishoudings om hul eie energieselfstandigheid te verhoog en terselfdertyd almal anders se elektrisiteitsekerheid te vergroot. Groter elektrisiteitsekerheid lei tot groter werksekerheid.

En groter werksekerheid beteken groter gemeenskapsekerheid. Almal sal moet inspring: as dit nét van Eskom as staatsonderneming afhang, sal die ligte in Suid-Afrika nie bly brand nie.

Laai die gids vir elektrisiteitselfstandigheid hier af.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter le Roux ·

Ek wil graag he Afriforum moet die volgende ondersoek indien moontlik. Gestel ek koop ‘n 2L Coke by die winkel. Ek het reeds vir hom betaal en by die deur se die eienaar vir my ek mag net 500ml van die Coke drink al het ek vir die hele Coke betaal.
Ek koop my krag vooruit by die kafee en Eskom laat my nie toe om dit ten volle te gebruik nie a.g.v beurt krag. Sekerlik kan ‘n diesverskaffer van ‘n produk jou nie inperk vir die gebruik van die produk as jy reeds betaal het nie. Volgens my moet alle vooruitbetaalde krag koepons onwettig verklaar word, tensy Eskom die verbruiker kan waarbord dat hy die volle produk kan gebruik. As Eskom nie die versekering kan gee nie, mag hy dan ‘n produk onder die voorwaardes aan die publiek verkoop? Kan julle nie die Verbruikers Wet teen Eskom in die geval gebruik nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.