Maak SA self ʼn beter plek

vlag suid-afrika

Argieffoto

Ek het die laaste paar dae wyd deur ons “droewe land” – N.P. van Wyl Louw se beskrywing – gereis en baie gevind om oor droewig te wees. Ek hoef dit eintlik nie eens te sê nie: ons almal ken die verkrummelende infrastruktuur op die platteland, die skrikwekkende korrupsie wat iets normaal geword het, die misdaad, die plaasmoorde, die onbekwaamheid van ons regering – noem maar op.

Ja, al hierdie dinge is volledig waar. En, nee, dié is nie nóg ʼn artikel waarin gekla word nie. Dis ʼn artikel vol hoop.

Naas die “droewe land” het ek naamlik ook ʼn “blye land” gevind, ʼn “lewenslustige land”, ʼn “versoenende land”. ʼn Land wat byna wil bars van die onderlinge welwillendheid, een wat wil hande vat en saam ʼn toekoms bou.

Ek wil nie blindweg optimisties wees nie. Ek hoop nie ek is naïef nie, maar ek het mense van alle streke en bevolkingsgroepe gevind wat mekaar nie haat nie, wat realisties is oor die feit dat ons nie sonder mekaar kan klaarkom nie, dat ons saam die wit en swart strepe van die sebra vorm, en as jy die een skiet, sterf die ander ook.

Ek het met mense gepraat wat ʼn fantastiese klomp goeie idees het en wat dikwels in hul eie omgewing iets probeer dóén om die agteruitgang om te keer.

Dis mense wat nie met sterre in hul oë rondloop nie. Mense wat weet die probleme gaan nie opgelos word deur te práát nie, maar deur te dóén.

Mense wat weet die heel moeilikste probleem is om ménse duursaam te bemagtig en op te hef en dat dit dikwels ʼn yslike kopskuif verg by sowel dié wat die opheffingswerk wil doen, as dié wat dit ondergaan. Ons almal weet waarvan ons praat.

Die probleem van Suid-Afrika lê nie eerstens by sy mense nie. Ja, sommige mense is inderdaad ʼn probleem, maar hulle is in die minderheid.

Meningspeilings wys byvoorbeeld die oorgrote meerderheid van alle bevolkingsgroepe beskou nie rassisme as ʼn groot probleem nie. Die grootste probleem is veel meer basies as dit – dis die daaglikse stryd om brood op die tafel te kry. Werkskepping. Onderwys en opleiding.

Nee, die probleem in ons land vandag, is die politici. Altans, die meeste. En dit geld vir álle partye, ofskoon dit by die een party meer van ʼn probleem is as by die ander.

Die probleem by politici is dat hulle al te dikwels nie belangstel in die oplos van die land se probleme nie. Hulle stel belang in stemme en die mag.

En dus doen hulle die minimum wat na hulle mening genoeg stemme sal oplewer om hulle in die regeringskussings te hou. Hulle sien die staat nie as ʼn middel om mense op te hef nie, maar as ʼn melkkoei wat hul sakke moet vul.

Onse president, die agbare Jacob Zuma, loop heel voor. Suid-Afrika het nog nooit in sy ganse geskiedenis ʼn korrupter, onbekwamer, onkundiger en domastranter man aan die roer van sake gehad nie.

Selfs oorsee word hy uitgelag. Nie dat Suid-Afrika eintlik op die wêreld se radarskerms te sien is nie; maar as hy wel verskyn, is dit byna altyd negatief.

My goeie vriend, Max du Preez, moet nou maar weer in woede uitbars, maar ek skaam my vir my land se regering daar oorkant. Ek wíl so graag trots wees, maar ek kán nie.

Dit raak dus tyd dat ons nie meer agteroor sit en vir die regering wag om die oplossing aan te bied nie. Ons kan gerus kla en te kere gaan oor die slegte toestande, maar dit bring bloot ʼn bietjie emosionele bevrediging; geen vooruitgang nie.

Dis een van die – onbedoelde – voordele van die bedeling wat in 1994 in werking getree het. Dit dwing ons toenemend om weer op ons eie krag en vindingrykheid – Flip Buys praat van kulturele kapitaal – staat te maak.

Ek het die laaste tyd met heelparty van hierdie mense gesels. Hulle loop oor van die lus en idees om iets te doen.

Nou raak dit tyd om verby die kla en die tekere gaan te vorder. Die groot uitdaging is nou om al daardie kulturele kapitaal, die kundigheid en werklus te bundel.

Soos ek dit verstaan, is Solidariteit en Afriforum daarmee besig. Maar daar is nog baie kulturele kapitaal daar buite wat nie voor die wa ingespan is nie.

Ek gaan in die weke wat kom, ʼn beskeie poging aanwend om van daardie mense bymekaar uit te bring. Hul sinergie, daarvan is ek oortuig, gaan iets groots oplewer.

Een riglyn: Daar moet weliswaar kommunikasielyne na die staat en sy strukture wees. ʼn Mens kan oor die ANC te kere gaan, maar die regering is nou eenmaal daar, of ons van hom hou of nie. Jy moet van hom kennis neem en binne hoorafstand bly.

Maar ons wil nie meer van hom afhanklik wees nie. Dis iets anders.

Dus sal ons grotendeels by wyse van spreke rondom die flanke van die staat en sy strukture moet werk. Dit word as’t ware ʼn alternatiewe staatstruktuur in dieselfde staat.

Dis geen volkstaat met sy eie grense en territorium nie. Dis byna ʼn virtuele staat.

Dit klink aantreklik en eenvoudig, maar moenie ʼn fout maak nie – dit gaan nie vanself gebeur nie. Dit gaan bloedsweet en harde werk kos.

Belangriker nog: Dit gaan géld kos. Die dae toe ons gedink het ons betaal belasting en dis voldoende vir dienslewering, is verby. Dié virtuele staat gaan sakke vol bykomende geld kos.

In ʼn sekere sin doen ons dit al. Die polisie doen byvoorbeeld nie sy werk nie en dus betaal die meeste van ons mense al klaar ekstra vir sekerheidsfirmas om te kom kyk as daar ingebreek word.

Hoe dit ookal sy, ek het die laaste tyd regtig onder die indruk gekom van die lewenskrag van ons mense. Ons moet net leer om buite die boks te dink en ons kragte te bundel.

Solidariteit, lyk dit my, het die stang gebyt. Maar daar is talle ander wat ook kan inspring. Wie gaan die voortou neem?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Humor ·

Wie gaan voor vat. Kom ons vra vir Max du Preez. Vanwee sy ewige kritiek behoort hy mos oplossings te bied. Laat hy sommer ook verduidelik wat hy al reeds vermag het. En wat van fw. Teen hierdie tyd het hy miskien al n geringe besef van die gevolge van sy onderhandelinge. Hy het koffers vol omkoopgeld ontvang en leef in alle luukse. So hy en pik en vrinne kan beslis n aansienlike finanaiele bydrae maak. En wat van malema. Nee! nee!! ons los hom total uit.

Wicus ·

Dankie Leopold. Ja, baie dinge is verkeerd en loop verkeerd., en ja, ek sal graag net tussen my eie mense wil woon en werk.

Die blanke in die land moet homself egter blameer vir die toestand waarin hy is. Dis tog immers ons wat dink ons is te goed vir sekere werk. Ons geniet die goedkoop arbeid, dit het ons ingehaal. Soos dit my lyk gaan daar baie jare verloop tot enige vorm van vryheid. Nou moet ons die beste maak van wat ons het. Ek vermoed ook ons het as groep te sag geword om enigsins ‘n omkeer te maak. Liewe land, gaan kyk in die “Malls” hoe lyk vandag se Afrikaner.

Op grondvlak kan ons tereg dinge uitwerk, daar is oorgenoeg welwillendheid en dinge wat werk, my marathon klub se bestuur is hoofsaaklik swart en dit werk, baie goed. Ek is egter bekommerd oor die massa en wat in hulle koppe geprop word. Iewers moet die ANC tot ‘n val kom, hulle is uitgedien.

Skouer aan die wiel en in die verre verre toekoms vryheid!

Henry ·

Meeste van ons wat die werklikhede van hierdie droewe land daagliks beleef, koester geen illusies oor die omvang en aard van die bedreiging(s) wat ons die hoof moet bied nie. Ons weet ook dat ‘n korrupte ANC regime, of ‘n meer radikale weergawe soos die EFF, altyd die meerderheidsteun op party-politieke vlak van die 50 miljoen swart mense, bo die hoogstens 5 miljoen witmense sal geniet.
Gelukkig is daar organisasies soos Solidariteit en Afriforum wie se leiers van meetaf tot die besef gekom het dat die getalle oormag, geen hoop bied om ons Afrikaners se voortbestaan en welsyn, op die party politieke platform te beskerm nie. Of dit uiteindelik voldoende sal wees om ons belange teen ‘n oorweldigende meerderheid wat in meeste gevalle deur ‘n vyandige regime gemanipuleer word, te beskerm, bly ‘n ope vraag.
Mynsinsiens het ons nie allerlei ondersoeke en vertellinge nodig oor die omvang en aard van die probleme wat ons Afrikaners in die gesig staar nie. Teen hierdie tyd, na 22 jaar se ervaringe van ‘n korrupte en kwaadwillige regime, het ons reeds tientalle ontledings, ondersoeke en opinies wat bloot bevestig wat ons gewone ouens op ‘n daaglikse basis in ieder geval weet en ervaar.
Nuwe en uitvoerbare idees, planne, denke, taktieke, metodes ens is egter baie welkom.
Dat ons uiteindelik soos ons voorgeslagte, op ons vermoëns, innerlike kragte, ens ens ens aangewese is, ly geen twyfel nie. Hopelik sal hulle voorbeelde ons aanspoor om ons Afrikanerwees te beskerm en te bevorder.

Johann Marx ·

Wat onverklaarbaar is is die feit dat al hierdie “wonderlike mense” wat jy van praat, met al hulle planne en bereidwilligheid, nie die vermoë het om ontslae te raak van die politici waaroor almal so kla nie, en erger nog….AL die geld voorsien wat so wan aangewend en gesteel word. Is dit nie tragies nie? As jy mooi daaroor dink kan AL die funksies van die staat deur privaat instansies gelewer word…en in meeste gevalle doen hulle, MAAR ons betaal eers die staat (om NIKS te doen nie), en dan betaal ons die privaat instansies om die diens te lewer waarvoor ons die staat alreeds betaal het, en wat dit dan NIE lewer nie. Die grootste fout van die 1994 verandering wat plaasgevind het, is dat ons nie ‘n “deelnemende demokrasie” gekry het nie, maar ‘n “verteenwoordigende demokrasie”. In ‘n “deelnemende demokrasie” neem die hele bevolking deel aan regeringsbesluite deur referendums….in ‘n “verteenwoordigende demokrasie” het die kieser slegs die “demokratiese reg” om te stem….en daarna kan die persoon vir wie jy gestem het en jou dus verteenwoordig basies maak soos hy wil…en al wat jy, die kieser, daaraan kan doen is om met die volgende verkiesing NIE weer vir daardie persoon te stem nie. Hierdie tipe demokrasie maak mense moedeloos… “Ag, wat maak dit saak, ons kan doen net wat ons wil, NIKS gaan verander nie…” en deur so ‘n houding gee ons daardie korrupte politici NOG meer mag.

Hendrik ·

Persoonlik dink ek niks van ‘n virtueele staat nie. Dit veplig of verbind niemand of geen Afrikaner werklik om iets te doen nie. Dit is regtig ‘n maklike weg uit die benarde situasie wat ons op die ooomblik is. Die werklikheid is armoede , werkloosheid, diskriminasie, misdaad teenoor die Afrikaner. Kruisie trek by die stembusse en verbindtenis aan ‘n vistueele staat help regtig nie wat daagliks met ons, die Afrikaner, gebeur nie. Werk wat deur Afriforum gedoen help geweldig, maar ons moet begin werkskepping doen in eie gebiede waar ons kan wegkom van bogenoemde diskriminasie teenoor Afrikaners. Leopoldt mense soos jy wat in die buiteland woon kan nyweraars win om ons te help om werkskepping te doen. A.g.v die diskriminasie teen ons word ons jongmense verplig om oorsee te gaan werk en weet julle.. hulle kom nie weer terug nie!

Maria van Dieweeck ·

Hoe vinniger hoe beter dan. En wat is `agbaar` aan Zuma?

Dirk ·

Hoop het ‘n sekere nut, daarmee stem ek saam. Maar ek het ook al gehoor hoop kan ‘n gevaarlike ding wees, veral as daardie hoop op twyfelagtige stellings gebasseer is. Soos die stelling dat die probleem by ‘politici’ lê. As ek dit reg het moet daar tog vir hierdie politici gestem word, of hoe? Soos de Tocqueville gesê het: In ‘n demokrasie kry die mense die regering wat hul verdien.

Ek verstaan nie hoe slim mense, soos mnr. Scholtz, nog kan aanhou glo dat mense wat niks in gemeen het nie; nie ‘n taal, geskiedenis of kultuur nie, kan ‘hande vat en saam ‘n toekoms bou’? Op verkskeie plekke in Afrika is mense besig om te besef hulle is nogsteeds in kolonialistiese grense vasgevang saam met ander volkere, en in baie gevalle lei dit tot bloedvergieting. Hoekom wil sekere mense (jou pêl Max du Preez inkluis) gedurig aankarring met die verlore stryd om mense te wil dwing om saam ‘n nuwe identiteit te skep? Ek wil dit waag om te sê jou vrees is bewaarheid, mnr. Scholtz, blindweg optimisties is jy wel. As jong Afrikaner verwag ek meer praktiese wysheid van die gryskoppe in ons geledere.

John ·

Hoekom bly die outeur van bogenoemde artikel in die buiteland? Ek sou graag die antwoord hoor. Hy is verbete aan die raad gee vir die mense in hierdie land. Die regering wil nie die toestand van die armes verbeter nie, want dis die grondslag van al hul standpunte oor apartheid, oor werkskepping, oor grondhervorming ens ens. Dit is sosialisme se teelaarde en ook vir kommunisme. Dit is die een aspek. Die ander is dat hulle nie die probleem kan aanspreek nie weens die baie misdrywe in eie geledere. Om vir die 4 miljoen blankes te se hulle moet werk skep en hande vat en gee en gee en verstaan en oplossing bring is verregaande. Elke dag word meer en meer mense in die land gebore en jaarliks begin sowat 500 000 met skoolopleiding en probeer 3/4 van die Graad 12’s nagraadse opleiding kry. Buitelanders stroom die land binne. Die VVO is voor in die koor wat se dat almal wat wil immigreer na waar ook al, nie gekeer moet word nie. Ons regering hou die blankes se ambisies met ‘n knyptang in bedwang. Ons woorde oor die’ aspek is dus soos kaf in die wind.

Henry ·

Ek sal ook graag wil weet waarom die skrywer van hierdie artikel in die buiteland woon.

Leopold Scholtz ·

Daar is net een rede: Agter die liefde aan. My Nederlandse vrou, wat dit al amper 43 jaar by my uithou, het meer as 30 jaar vir my in SA gewoon. Noudat ek (op papier) afgetree is, doen ek dit vir haar. Daai’s ma’ al!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.