Maar net ʼn mens

oog-sien-mens-unsplash-pexels

Foto: Unsplash/Pexels.com

Op ʼn plattelandse dorpie vertel die eienaar van ʼn koffiewinkel my dat ʼn belangrike man van ʼn politieke party daar uithang. Sy wil my só graag voorstel.

ʼn Groot man in kakieklere kom nader, teen die kant van sy kortbroek hang ʼn pistool.

“Skielik voel ek veiliger,” maak ek ʼn grappie toe ons groet. Ek nooi hom om te sit.

In die vorige verkiesing het hy meer as 1 000 stemme gekry, sê hy.

Sjoe, sê ek.

Hy vertel van al die moeilikheid wat die mense op die dorp en die plase moet verduur. Daai ander lot maak dit nie vir ʼn ou maklik nie, sê hy.

Ek vra wat hy doen as hy nie politieke vergaderings bywoon nie.

Hy sê hy het ʼn “mini-loan”-onderneming. Amper al sy kliënte is swart en sy onderneming doen deesdae eintlik besonder goed.

Sjoe, sê ek.

Ons praat oor die kerk – hy het by die eienaar gehoor ek is ʼn soort kerkman.

By húlle kerk neem hulle nog alles wat die Bybel sê letterlik op, sê die politieke man en maak sy oë groot.

O, sê ek, soos daai versie wat sê verkoop jou goed en gee die geld vir die armes, of die een wat sê wees lief vir jou vyande?

Hy lyk nie opgewonde nie. Ons praat oor ander goed.

Ek kan nou nie gedagtes lees nie, maar ek dink wat hy eintlik bedoel het is die versie wat sê “die Here is my herder” en dalk die een in Levitikus (19:27 en 28) wat sê ʼn mens mag nie tatoeëermerke hê of jou wangbaard en die hare voor jou ore skeer nie? Eintlik net die een deel, help ek myself reg, want hy sny duidelik sy “sidies” en sy wange is skoon geskeer.

Hy was ʼn vriendelike man. Al leef ons nie op dieselfde planeet nie. Al wat ons waarskynlik gemeen het, is dat ons albei Afrikaans is.

Dit help nie ons wil net met mense praat met wie ons saamstem nie, nie in hierdie land met al haar diversiteit nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

jan van riebeeck ·

die woorde van liberale maak al hoe minder sin in vandag se wereld , julle eksperiment is besig om wereldwyd in duie te stort , God het die mense by Babel geskei , julle sal dit nie verander nie

Reinhardt ·

Mense hou nie daarvan om gekonfronteer te word met inligting wat nie saamstem met hul eie retoriek nie. Maak nie vir my sin nie, ons moet tog strewe om nuwe inligting in ag te neem en te toets of dit waar is, soos met wetenskap. Hoekom is dit skielik anders as dit by geloof kom?

Verwonderd ·

Rasisme is verkeerd. Dit is in ons reg verskans. Ek werk en gaan ook saam met ander bevolkingsgroepe kerk toe. Hoekom die boer isoleer en stereotipeer? Moet ons nie ALMAL van die Liefde van Jesus vertel, en die Here toelaat om die verandering deur die besprenkeling van Sy Bloed in die harte reg te maak nie. Ek sien jou aanvaarding van die “mensies” wat nog van daai lot praat, en moet jou seker geluk wens daarmee. Maar ek kan ongelukkig nie die motief van jou stuk klein kry nie. Ek moet tot die slotsom kom dat dit wit-skuld-gevoelens moet mee, en in werk. Is dit die regte rigting om mense by Jesus uit te kry? Of is dit die regte rigting om mense skuldig te laat voel? Of verstaan die boere nie wat rasisme is nie?

SkarrelKind ·

Jaco jy skryf mooi, dit lees lekker in Afrikaans, maar almal het nie al aan beweeg nie en sommige maak nog foute, maar onder huidige omstandighede is wit-skuldgevoelens, of die uitwysing daarvan onnodig. ‘n Wit loan shark is nou die trotste beroep nie, maar vir ‘n swartman om byvoorbeeld ‘n goeie pos te kry sonder ‘n kwalifikasie en net oor hy swart is, is eintlik maar dieselfde ding. Ek se maar net … En daarvan mag ons nie praat nie, nie eers fluister nie want as iemand ons hoor, dan is ons rassiste en gaan ons ‘n prokureur nodig kry. Verstaan jy wat ek bedoel? Gee die wit ouens ‘n bietjie ‘n break man! Hulle sukkel genoeg…

JJ ·

Mense, moet nie verder lees as die toon van die skrywe jou nie aanstaan nie. Hy skryf vir ‘n “gehoor” en as niemand sy “mening” lees nie, sal hy ophou skryf, eenvoudig soos dit. Maar die leser sal ook “armer” wees as hy nie iemand anders se denkwyse wil hoor, daaroor nadink en tot sy eie gevolgtrekking kom nie. Ons ou wereldjie sal maar klein wees as almal met mekaar saamstem oor alles……..

Jofie se Ma ·

Klink soos etlike Oos-Kaap plekkies waarmee ek bekend is. Wat egter in hierdie storie ontbreek is konteks.

Het Jaco bietjie wyer gekyk na die armoede en verval in die dorpie ?

Die daaglikse lang rye werkloses in ANC T-hemde weerskante van die hoofstraat;
Die lee en gesloopte besigheidspersele
Die verwaarloosde poskantoor wat nie meer pos sorteer of aflewer nie;
Die geslote munisipale deure sedert die balju alle bates verwyder het;
Die gras en onkruid op die gebreekte sypaadjies;
Die hope vullis wat nie verwyder word nie;
Die
Die daaglikse inbrake, veediefstal, trae polisierespons;
Die afwesigheid van ‘n DA kandidaat wat iedergeval geen verskil aan die dorp of sy mense se lot kan maak nie;
Die afwesigheid van ‘n plaaslike dokter, apteker of funksionele skool;
Die kyk in die verslae oe” van die handjievol hulpbehoewende blankes wat aan hul eie lot oorgelaat is

Dan verstaan mens hulle het iets uit Piet Retief geleer en dat hulle om selfbehoud saamgroepeer en na mekaar omsien. En hulle nie steur aan ongevraagde, idealistiese en oningeligte stedelike gemaksug kommentaar of opinies wat niks aan hul heil kan maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.