Maatskaplike toelae stuur af op maatskaplike ramp

Deur René Krüger

(Argieffoto: GCIS)

Daar is nie geld nie, tog word geld uitgedeel, uitgedeel en uitgedeel aan mense wat maand in en maand uit in ellelange rye staan om ʼn toelaag van die staat te ontvang.

Dit is juis die staat se benadering tot maatskaplike toelae wat kommer wek. Die toelaag hou miljoene gesonde Suid-Afrikaners afhanklik van ʼn stukkende staatstelsel wat geensins volhoubaar is nie. Boonop het die staat selfs ʼn teiken gestel van die hoeveelheid geld wat as toelae uitbetaal moet word teen ʼn sekere tyd, terwyl daar geen duidelike teiken gestel is om nuwe werk te skep in dieselfde periode nie – ʼn somber prentjie as daar in gedagte gehou word dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers meer as 32% is en dat slegs 1,2 miljoen Suid-Afrikaners moet opdok vir 70% van die land se persoonlike inkomstebelasting.

Die werklik kwesbare mense – onder andere kinders in pleegsorg en pensioenarisse – se toelae is egter volgens die nasionale begroting slegs met ʼn skrynende R10 en R30 (onderskeidelik) verhoog. Wat dan in werklikheid gebeur, is dat mense wat afhanklik is van staatstoelae nie voldoende ondersteuning van die staat ontvang nie terwyl mense wat wel die vermoë het om ʼn bydrae tot die ekonomie te kan lewer, eerder geleer word om afhanklik van die staat te wees.

Wat verdere kommer wek, is die toenemende druk waaronder maatskaplike werkers hul take moet verrig. Maatskaplike werkers moet tydens dié krisis na mense in nood omsien terwyl hul insette totaal misken word deur die Suid-Afrikaanse Raad van Maatskaplike Diensberoepe (SARMD) en die departement vir maatskaplike ontwikkeling. Intussen loop Suid-Afrika die risiko om ʼn totale welsynstaat te word.

Volgens Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde word maatskaplike werkers se insette geensins in besluite rakende maatskaplike toelae erken nie, alhoewel hulle “tussen ʼn oneffektiewe regering en die totale maatskaplike ineenstorting van die land se weerloses staan”.

Dit is eerder die oneffektiewe Raad van Maatskaplike Diensberoepe en ʼn disfunksionele staatsdepartement wat die rigting aanwys, en dit lei tot ʼn enorme maatskaplike krisis. Dit is kommerwekkend dat daar vir maatskaplike werkers – wat noodsaaklik is – hindernisse in die pad van hul werk geplaas word.

Solidariteit Helpende Hand, wat verskeie maatskaplike werkers in diens het en dus eerstehandse ervaring het van die uitdagings wat die beroep en die staat se gebrek aan ondersteuning inhou, het wel alternatiewe oplossings wat verligting kan bied. Hulle vind die antwoord in strukture en volhoubaarheid. Reeds aan die begin van die Covid-19-krisis het Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, gewaarsku dat ʼn maatskaplike krisis op ʼn ekonomiese krisis gaan volg. Die enigste antwoord daarop is sterk strukture en volhoubaarheidsprojekte – nie projekte wat afhanklikheid ondersteun nie.

Helpende Hand voel sterk daaroor dat die staat moet ophou om afhanklikheid by miljoene Suid-Afrikaners te kweek en mense eerder moet bemagtig om die armoedesiklus op ʼn volhoubare manier te verbreek. Juis met die oog hierop het Helpende Hand aan die einde van 2020 hulle 100 punt-gemeenskapsherstelplan bekendgestel. Dit is ʼn plan wat oor ʼn lang tydperk strek, wat wel deurdink is en wat holisties na die herstel van die individu en die gemeenskap kyk.

Een van die hoofdoelstellings van hierdie plan is om alle vorme van afhanklikheid te verbreek.

Oplossings soos opleiding en werkskepping moet aandag geniet eerder as teikens wat gestel word om meer en meer toelae uit te deel. Om afhanklikheid te vergroot, is nie die antwoord nie; daar sal nooit genoeg geld en hulpbronne wees om die armoedesiklus van die toelaagontvanger op hierdie wyse te verbreek nie.

Op ʼn positiewe noot moet ʼn mens in ag neem dat dit reeds oor en oor bewys is dat waar volhoubaarheid en selfdoen aan die orde van die dag is, daar iets gebeur: energie word losgemaak en gemeenskappe neem verantwoordelikheid vir mekaar, waar hulle dan saam bemagtig word en positief vorentoe gaan.

  • René Krüger werk by Solidariteit se kommunikasie-afdeling. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jack ·

Baie oulike berig Rene.Hou daarvan.Die volhoubaarheid van die toelaag maand na maand was al baie uitgewys as onvolhoudbaar.Ons weet dit maar die regering verstaan dit nog nie.Solank alles vandag ok is gaan hulle nie oor more bekommer nie.Die ramp wat kom is verseker.SA is reeds ‘n welsynstaat.

Piet ·

Werkloosheid beteken daar is nie genoeg werk in die ekonomie nie. Dit beteken nie dat mense nie wil werk nie. As mens die programme stop sit is daar geen ondersteuning vir mense met geen inkomste nie en hulle gaan ander stappe begin neem om te oorleef, iets wat niemand wil sien nie.

En, die regering skep die geld. Dus kan hulle uit die aarde van die saak nie bankrot gaan nie, mens kon dit sien toe Tito belasting dieselfde gehou het as laas jaar. So lank as wat inflasie laag bly, tans 3.4%, kan die regering bly geld skep. Ek sal eerder dat hulle meer geld in die ekonomie druk as wat hulle miljoene mense vir die wolwe gooi. Dit gaan hulle in wolwe verander.

Alet ·

En wanneer werk aangebied word moet daar ‘n minimum loon wees. So ook word daar afhanklikheid gekweek. Want baie werkskeppers is privaat mense en nie die regering nie en die privaatmense kan nie die minimum lone betaal nie. Dit moet vrye mark wees. Maar daar is ook baie mense daar buite wat sê nee ek wil nie vir soveel geld werk nie dis te min, maar sal eerder kerm oor werkloosheid ipv om maar die werkie te vat en ten minste brood en konfyt kan koop.

Alet ·

En ek wou ook sê as deel van ons volkie wil leer om op te hou kinders voortbring sodat hulle ook toelaag kan kry sal dit ook beter in die land gaan. Want daardie toelaag word in elk geval nie op die kinders spandeer nie en hulle hardloop verwaarloos en honger in die strate rond.

Nuff ·

Piet, jy moet tog eers n poging aanwend om ekonomie te probeer verstaan voor jy sulke uitlatings maak. Of soek jy net reaksie?

Ai tog ·

Stem nie saam met jou stelling van ” dat mense nie wil werk nie”. In ander lande is dit miskien die geval , nie in SA. Ek het al getoer en gewerk in baie lande onder andere arm lande soo Ethiopiê ook, feit bly staan SA se meerderheid mense is van die luiste mense op aarde en hulle wil nie werk nie, hulle wil net ontvang. Seker maar Jan van Riebeeck se skuld.

Vrijburger ·

Goeie artikel, met geldige feite en punte.
Weet egter die ANC regering sal nie die stelsel ophef nie – hulle gebruik die toelae om stemme by die stembus te verseker.

Eden ·

Dalk stel die ANC nie belang om werkloosheid te verminder nie. Hulle spog met die maatskaplike toelae wat toenemend aan meer mense gegee word. Die ou storie van hou die mense arm en dom is ‘n klassieke voorbeeld in SA. Natuurlik is daar ook ‘n amper gewillige sonderbok, witmense, om hul storie te laat voortleef vir baie jare.

Henk ·

Ja dit is omrede hulle 10 name en 10 ID’S het met 10 adreste hulle ry die trein van MINDER BEFOREGTES, maar durf nou net daardie probleem uitweis.

Kiepie ·

Dit vat nie ‘n aktuaris om uit te werk dat, as daar meer mense is wat ontvang as wat betaal, gaan die som nie baie lank klop nie. Die enigste oplossing vir die land lê by werkskepping en die sektor wat dit die effektiefste en vinnigste kan doen is kleinsake. Die regering behoort eerder kleinsake te ondersteun en minder toelae uitdeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.