Mabuza nou in baie sterk magsposisie

David Mabuza. Foto: Elmond Jiyane/GCIS.

David Mabuza is nou in ‘n besonder sterk politieke posisie nadat hy sy kat-en-muis-magspel met pres. Cyril Ramaphosa loshande gewen het.

Nadat hy om vieruur vanmiddag as parlementslid beëdig is, sal die pad vir hom oop wees om weer as adjunkpresident te dien, en op sy eie voorwaardes.

Die stert swaai duidelik die hond.

Mabuza het almal betrokke baie goed laat verstaan wie die hef in die hand het binne die ANC toe hy Ramaphosa eers laat bloed sweet en toe laat mooi vra het – en die aankondiging van die kabinet selfs deur Mabuza se gedrag bepaal is.

Dit is ‘n klipharde herinnering aan Ramaphosa dat sy politieke oorlewing binne die ANC in Mabuza se hande rus – soos dit sedert Desember 2017 met die ANC se Nasrec-konferensie eintlik nog die heeltyd doen.

Dit was Mabuza – met die sowat 300 relatief bedenklike Mpumalanga-takstemme wat hy met ‘n ysterhand beheer het – wat Ramaphosa se oorwinning by Nasrec verseker het. Ramaphosa se meerderheid daar was maar 179 stemme uit meer as 4 500.

Die tweede keer dat Mabuza vir Ramaphosa op sy plek gesit het, was in Februarie verlede jaar. Tot sy verleentheid moes die president die aankondiging van sy kabinet – wat veronderstel is om geheel en al sy prerogatief te wees – verskeie kere uitstel, en dit het gou geblyk dat dit Mabuza se magspel was wat Ramaphosa op sy plek gesit het.

Mabuza het naamlik – soos dit geblyk het uit uitstekende verslaggewing in die Sondagkoerant Rapport – sy aanvanklike versekering dat hy as nasionale onderleier van die ANC geen verdere aspirasies het as om premier van Mpumalanga te bly nie, skielik verander en aangedring daarop om adjunkpresident van die land te word.

Aangesien hy onderleier van die ANC is, kon Ramaphosa nie juis weier nie. Toe het Mabuza – so lui die Rapport-berig – ook aangedring op die behoud van vrotappel-ministers soos Bathabile Dlamini, Malusi Gigaba en Nomvula Mokonyane. En toe Mabuza beveel dat hy moes spring, moes Ramaphosa spring.

Dit is ‘n les wat Ramaphosa kennelik vergeet, maar vandeesweek weer geleer het. Toe dit blyk die integriteitskommissie van die ANC toon ruggraat en wil teen hom optree, het Mabuza die hele spul, soos in ‘n outydse Western-fliek, platgekyk.

Hy het naamlik geweier om beëdig te word as parlementslid tot die integriteitskomitee hul wolk bo sy kop verwyder het – en hulle toe sommer opdrag gegee om op te skud, ook! Toe dit lyk asof hulle gaan vasstaan en hulself nie laat afdreig nie, het Mabuza sterk laat blyk hy is nou skielik dalk nie meer lus vir die adjunkpresidentskap nie. Hy het glo ‘n lus ontwikkel om te gaan werk in Luthuli-huis, die ANC-hoofkwartier in Johannesburg.

Net daar het hy sy troefkaart gespeel en Ramaphosa was in ‘n hoek, want om Mabuza saam met die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, in die Luthuli-huis los te laat waar hulle takke kan laat stig, registreer en oudit soos hulle lus kry, sou Ramaphosa openlik tot ‘n voëltjie in ‘n goue kou reduseer.

Dus, die afgelope week moes Ramaphosa weer mooi vra en smeek dat Mabuza (wie hy beslis nie as sy adjunk wil hê nie) dit tog maar oor sy hart moet kry om as adjunk te dien. En Mabuza kon sy voorwaardes stel, en Ramaphosa moes maar spring. Al die mooi praatjies dat hy eerder vir dr. Nokosazana Dlamini-Zuma of Lindiwe Sisulu of dr. Naledi Pandor as adjunk wou hê, is woerts-warts af met die politieke drein.

Die hele sage toon een punt onomwonde: In die ANC swaai die Mabuza-stert beslis die Ramaphosa-hond.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dirk ·

CR is baie gewild onder die ANC gematigdes. Mabuza is baie gewild onder die ANC radikales. CR gaan die radikales se eise tegemoet moet kom, anders sal hy dit nie regkry om oor 2 jaar langer die president te bly nie. Mabuza sal dan die president wees met Nomvula Mokonyane die adjunk president. Die Venezuela model begin onafwendbaar wink vir SA. Net soos Zuma is die OB nog die hele tyd besig om haar mag te misbruik om onherstelbare skade vir SA aan te rig! Was dit nie vir die OB se verslag wat bindend is en waarin sy gerieflikheidshalwe Mabuza kwytskel van korrupsie nie, dan sou Mabuza nie verby die integriteitskommitee kon gevorder het nie.

Anoniem ·

Slim wees President Ramaphosa, Mabuza het ‘n LANG PLAN

Bid vir Jou vir Wysheid en Insig

Henry ·

Mnr Joubert.
Mag so wees.
Vir die huidige.
Maar.
Moenounie te vinnig vergeet van Slim wat deur wie ookal gevang is nie.
Of van die tou waarmee die speler met die tou, homself toe verfoes het nie.
Amper sê ek waarmee hy homself op gehang het.
:-)

Henry ·

Jammer. Oorhaastige fout.

Moet lees.

‘Moenounie te vinnig vergeet van Slim wat wie-ookal* gevang het nie.’

* Politiek Korrekte omskrywing.

Sug,

John ·

Mabuza en Ace wil beide president word. Antie Zuma se hoop vervaag. Lesufi se bevordering om meer skade in Gauteng aan te rig, dui op Ace se se vuil hand in die yskaskoek om sy kadervriende te vergoed. Dit is duidelik dat niks beter gaan raak tov landsbestuur nie en misdrywe en ondergrawery nie minder nie. CR het feitlik geen vertrouelinge nie met Gordhan ook onder beleg. Die bevolking groei, die staatsentiteite is kronies siek van oorvreet en die staatskas leeg. ‘n Zimbabwe-lewensstyl wink en daar is nie ‘n New Dawn-buurland om heen te vlug nie. Selfs Orania se kersie flikker weens te min suurstof.

Vra Net ·

En wat van die klagtes wat die NVG moet ondersoek teen Ace en ander. Sal die wet nie sy gang kan gaan en CR kan help om die regte mense om hom te kry nie. Al is jy ‘n LP – niemand is verhewe bo die wet nie.

Dirk ·

Vra Net, Kyk Net na Martin van Staden se skrywe mbt die wet, dan sal jy verstaan hoekom sosialistiese LP’s wel bo die wet verhewe is!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.