Mag die goeie leier in Ramaphosa ons lei     

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Met adjunkpres. Cyril Ramaphosa wat ʼn goeie kans staan om die land se volgende president te word, dink ek terug aan my eerste indrukke van Ramaphosa toe ek as ʼn jong staatsamptenaar hom in aksie gesien het toe hy die voorsitter van die Konstitusionele Vergadering was.

Ramaphosa slaan die kitaar uit die voorsitterstoel

Dit was ná afloop van die verkiesing in 1994, toe die volgende fase van die demokratiese proses aangebreek het om die land se nuwe grondwet te skryf. Ramaphosa, wat die eerste hoofsekretaris van die mynbouvakbond die National Union of Mineworkers (Num) was, was ʼn baie ervare vakbondonderhandelaar en die ideale persoon vir die ANC om ná sy Kodesa-onderhandelaarsrol as voorsitter van die Konstitusionele Vergadering op te tree, met ʼn onervare onderhandelaar in Leon Wessels aan sy sy as die adjunkvoorsitter.

As junior amptenaar werksaam by die departement van staatkundige ontwikkeling was dit my rol om agter in die hoek van die lokaal te sit waar daar oor die inhoud van die nuwe grondwet onderhandel is en ek moes aantekeninge maak en navorsing doen oor alles wat direk vir die departement van belang sou wees. Elke oggend om 07:00 was Roelf Meyer, wat toe die minister van staatkundige ontwikkeling was, deur my seniors op die hoogte gebring van die vorige dag se onderhandelinge, maar ek kon nie daaraan deelneem nie want ek was aan die onderpunt van die leertjie.

Ek het dag in en dag uit gesit en kyk hoe die ANC-onderhandelaars die vloer vee met die Nasionale Party se onervare onderhandelaars en hoe Ramaphosa as die “neutrale” voorsitter die kitaar slaan en die rigting van elke debat bepaal. Hy het ook strategiese insette gelewer uit die voorsitterstoel en so die ANC-onderhandelaars deurgaans in die regte rigting gestuur. Wanneer die ANC onder druk was, sou hy sommer gou aandui dat dit tyd was vir bene rek en het hy dan saam met die ANC-afvaardiging verdwyn en ná die pouse kom die ANC weer sterk terug. ʼn Junior kollega, ook vars uit die universiteit en met ʼn graad in ekonomie, het later by my aangesluit en moes op al die ekonomiese kwessies fokus. So sit ek en kollega Robyn daagliks in ons hoekie en sien hoe die charismatiese Ramaphosa met ʼn wonderlike sin vir humor die septer swaai en ons twee juniors staan verstom dat daar nie agtergekom word dat Ramaphosa uit die voorsitterstoel eintlik die ANC se hoofonderhandelaar is nie. Daardie twee jaar se ervaring in die Konstitusionele Vergadering het my gemotiveer om van studierigting en loopbaan te verander sodat ek ook ʼn werk kon doen waar ek kan onderhandel.

Ramaphosa skep sy eie moeilikheid

Nou, twee dekades later, het dieselfde Ramaphosa weer die kans om die septer te swaai en dit in ʼn magtiger posisie, maar sy beeld het intussen effe skade gely. Die eertydse sosialistiese vakbondleier het sedertdien ongekende rykdom bekom deur soms twyfelagtige saketransaksies wat in sy politieke skoot geval het. Daar was berigte oor ʼn buite-egtelike verhouding en stories oor hom en jong meisies (die stories het net so vinnig uit die media verdwyn as wat dit daar beland het). Dan is daar die groot EFF-meulsteen om sy nek – die gewraakte e-pos wat hy op 15 Augustus 2012 as destydse Lonmin-aandeelhouer gestuur het met die versoek dat die protesterende Lonmin-werkers en gemeenskapslede wat op die Marikana-koppie gesit het, deur die polisie tot orde gebring moet word.

As Ramaphosa president word, sal die EFF se parlementêre slagspreuk van “pay back the money” wat op pres. Jacob Zuma gemik was, vervang word met “Marikana murderer”, waar Ramaphosa dié keer aan die ontvangkant gaan wees.

Ramaphosa kan mynbedryf red

Die wankelende Num en die beleërde mynhuis Lonmin op wie se drumpel die Marikana-tragedie afgespeel het, sal egter verheug wees as “hul man” die hoogste amp beklee met die hoop dat hy hulle ʼn tweede lewe kan gee. Dit sal egter politieke selfmoord wees as Ramaphosa hom openlik met Lonmin en die Num bemoei, want Amcu wat hul aartsvyand, die Num, by Lonmin met geweld uitgewerk het, het noue bande met die EFF en Ramaphosa sal hierdie twee “vyande” aan sy linkerkant eerder wil neutraliseer.

Ramaphosa as strateeg sal nie die fout begaan om Amcu en die EFF te vervreem nie. Hy sal eerder na Amcu uitreik en hul vertroue probeer wen in ʼn poging om die vernietigende vakbondwedywering in die mynbedryf tussen Amcu en die Num te probeer ontlont. Dit is die soort ingrypings wat deel van Ramaphosa se vaardigheidstel is.

Die Amcu-president, Joseph Matunjwa, se afkeer aan Ramaphosa strek verder as laasgenoemde se Marikana-skandvlek. Dit kan terugherlei word na 2001 toe Matunjwa deur Ramaphosa se opvolgers binne die Num ontslaan is. As Ramaphosa en Matunjwa  oor versoening gesels, het hulle darem een ding gemeen in die sin dat Ramaphosa in 1987 aan die stuur van die land se grootste goudmynstaking was, en Matunjwa in 2014 die aanvoerder van Amcu se rekord vyf maande lange platinummynstaking was.

Amcu-Num se bloedige wedywering het al meer sterftes tot gevolg gehad as die 34 mense wat in die Marikana-slagting gesterf het. Dan beleef ons ook ʼn mynbou-afleggingsbloedbad en baie spanning tussen rolspelers oor die omstrede mynbou-handves. Danksy Ramaphosa se bewese rekord as bemiddelaar in plaaslike en internasionale konfliksituasies is hy die man wat die belangrike mynbousektor kan red. Dan, wie ook al vroeg volgende jaar die ministers van finansies en staatsadministrasie sal wees, sal ook swaar op Ramaphosa se ervaring steun wanneer dit kom by salarisonderhandelinge in die staatsdiens, wat op ʼn staking afstuur.

Vakbondagtergrond ʼn pluspunt

Met Ramaphosa se aanvanklike bedrewenheid as vakbondleier is dit duidelik dat die vakbond-omgewing ʼn gemaksone is. So byvoorbeeld was hy instrumenteel in die onlangse Nedlac-onderhandelinge oor ʼn minimum loon en hersiene stakingswetgewing. Dit was ook Ramaphosa wat drie jaar gelede ingespring het toe die spanning binne Cosatu-geledere breekpunt bereik het, maar hy kon nie die skeuring verhoed nie omrede die konflik in wese oor steun aan Zuma gegaan het. Ramaphosa as president sal die regering se brose verhouding met Cosatu kan herstel en ek het geen twyfel dat hy sal poog om Zwelinzima Vavi se nuwe federasie Saftu, wat van Cosatu weggebreek het, met Cosatu te versoen om so die ANC se ondersteuningsbasis onder die werkersklas van die EFF terug te wen.

Danksy Ramaphosa se agtergrond verstaan hy ook die waarde van sosiale dialoog en weet hy dat ʼn inklusiewe benadering spanning ontlont. Met die meerderheidsbeginsel van vakbonderkenning wat by Nedlac en veral die mynbedryf begin toeneem, sal Ramaphosa se begrip van pluralisme hopelik ook oorspoel na die arbeidsverhoudingsveld en sal die ondemokratiese meerderheidsbeginsel onder Ramaphosa uitgefaseer kan word sodat arbeidsverhoudinge in die land genormaliseer kan word.

Hoewel Solidariteit buite partypolitiek staan en daar waardebotsings met Ramaphosa bestaan, sal sy presidentskap wel voordelig vir Solidariteit wees. Ramaphosa was ʼn paar jaar gelede ʼn eregas by ʼn geselligheid wat deur Lonmin aangebied is en by sy aankoms wou hy eers die vakbondlede groet. Ek stel my toe aan hom voor en vertel van my waarnemings by die Konstitusionele Vergadering destyds. Ramaphosa ontken toe eers met ʼn breë glimlag dat hy enigsins sy magte as voorsitter misbruik het, en toe begin hy kostelike staaltjies oor sy ervaring van die ou Mynwerkersunie te vertel en hoe hy nou net die hoogste agting vir Solidariteit se rol en posisionering het. Tydens sy hooftoespraak die dag wyk hy van sy praatjie af en vertel dat hy die behoefte het om met Solidariteit se leierskap te vergader en meer uit te vind oor die vakbond se suksesresep en omskakeling tot ʼn hoofstroom-organisasie wat vir hul lede op die hoogste vlak veg en openbare mening beïnvloed. Dit is ʼn hartseer ironie dat die einste handklappende Lonmin-bestuur onlangs Solidariteit se erkenning by die maatskappy op Amcu se aandrang opgehef het. Solidariteit is nou in ʼn regsdispuut met Lonmin gewikkel en steun op ʼn klousule in die Wet op Arbeidsverhoudinge wat bepaal dat as ʼn arbiter oortuig kan word dat ʼn vakbond ʼn “beduidende rolspeler” is, erkenning deur die arbiter herstel kan word. Ek sal graag Ramaphosa se verwysings na Solidariteit in daardie toespraak op die dag van die arbitrasie vir Lonmin wil terugspeel.

Benewens skandvlekke is Ramaphosa beste opsie

Soos ons almal het Ramaphosa foute en nog geraamtes in die kas wat sekerlik nou met die verkiesing om die draai uit die kas sal spring en dan maak hy soms onrusbarende populistiese en vreemde ideologiese uitsprake, maar Ramaphosa bly desnieteenstaande die beste kandidaat wat sakevernuf, vakbondwese, politieke leierskap en effektiewe regering verstaan. Hy behoort ook beter kabinetsaanstellings te doen en swak presteerders vas te vat, kredietgradeerders te paai, beleggers na die land terug te lok (want dit was een rede waarom Zuma hom destyds onder druk as adjunkpresident moes aanstel) en baie belangrik: Hy sal die spanning in die mynbousektor kan ontlont en strydende vakbonde en vakbond-federasies onder een gemeenskaplike doelwit kan saamsnoer.

As Ramaphosa president word, mag dit die goeie leier in Ramaphosa wees wat ons lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Ek is nie so optimisties as die skrywer nie aangesien geen ANC president enigiets goeds kan beteken vir die Afrikaanssprekende blankes nie. Inteendeel, sy parrakookresep sal verseker gedurende sy termyn met n graad of twee opwaarts aangepas word.

Hendrik ·

Alle aksies/programme soos Plan B/autonomie moet nog steeds volgehou word al gaan Ramaposa president word. Al word hy president is die ANC kaders nog steeds d.m.v “affirmative action”, kwotas, BEE en wat nog ook nog steeds in poste waar hulle nie hoort nie. Lesufi gaan nog steeds die skole probeer ontwrig en die EFF gaan nie sommer van plan verander nie Die kans is nou nog groter, met Zuma weg as ANC president, dat die ANC en die EFF koalisie maats egaan word en dat die DA kant toe geskuif gaan word.

Therese van Schalkwyk ·

Wat ‘n interessante artikel deur iemand wat daar teenwoordig was!
“Dag in en dag uit het die ANC-onderhandelaars die vloer gevee met die Nasionale Party”.
Dit lyk egter nie asof die formidabele onderhandelaars hoegenaamd enige selfbeeldprobleme ontwikkel het nie. Inteendeel.

Weet nooit, Ramaphosa vra dalk Solidariteit se wenresep wanneer hy vasbrand die dag as (moontlike) president.

Hendrik ·

Alle aksies/programme soos Plan B/autonomie moet nog steeds volgehou word al gaan Ramaposa president word. Al word hy president is die ANC kaders nog steeds d.m.v “affirmative action”, kwotas, BEE en wat nog ook nog steeds in poste waar hulle nie hoort nie. Lesufi gaan nog steeds die skole probeer ontwrig en die EFF gaan nie sommer van plan verander nie Die kans is nou nog groter, met Zuma weg as ANC president, dat die ANC en die EFF koalisie maats egaan word en dat die DA kant toe geskuif gaan word.

Frikkie Geld en huis ·

Hy het net onlangs in Limpopo by een of ander T-shirt plegtigheid genoem dat hy, indien hy president word, sal voortgaan met die grondhervormingsbeleid. Dus, onder sy presidentskap, sal Suid Afrikaners nie net sonder water wees nie, maar moontlik sonder kos ook.

EMMA ·

Ek weet nie Ramaphosa af nie wil alweer die lone opstoot na R20.00 per uur, die arme boere wat hoeka so swaar kry onder die droogte. Gee nie om nie soek net stemme.

Jerry ·

Hou maar net die temperatuur dop en wanneer dit begin styg, spring. Geen sogenaamde vryheidsvegter kan vertrou word om voorspoed te bring, selfs Ramaphosa. Daarvoor sal die bloedlustiges sorg.

Veritas ·

Ek is nie so seker dat die NP onderhandelaars, Ramaphosa se vloerlappe was nie. Ons lewe wel nie in Utopia nie. Nie met die swak ekonomie, misdaad, swak dienslewering ens. nie, maar dit kon baie erger gewees het as die grondwet, wat deur die NP-onderhandelaars help skryf was, nie so effektief was nie. Ons moet in gedagte hou dat die lamsakkige NP regering, boedel oorgegee het. Was dit nie vir die onderhandelaars se bydrae nie, was ons tien teen een in ‘n bloedige rasse oorlog gedompel. Hoe sê die Ingelse nou weer ? ‘ Thank Heaven for small mercies’.

Rooikop ·

Moet op prinse nie vertrou nie – nou word hierdie “Prins” opgehemel asof hy die “redder” van die ZA ekonomie gaan wees. Onthou sy agtergrond. Onthou dat hy een van die hoofonderhandelaars was wat die NarParty ore aangesit het in die onderhandelinge. Onthou ook dat hy gesê het hoe hy die blankes soos paddas stadig gaan kook. Onthou ook van sy betronkkenheid by Marikana. Hy is NIE jou vriend nie. Hy het verskriklik by BEE gebaat. Oppas vir hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.