Mag jy ook met eer dien soos Mabel Jansen

mabel-jansen-bejaard

Mabel Jansen op gevorderde leeftyd in ’n foto wat in ‘Die Burger’ verskyn het. Foto: Af.wikipedia.org

Karin Stoffberg, ’n senior onderwyser aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en adjunkhoofleier van volwassesake by die Voortrekkers, het tydens Geloftedag die volgende toespraak gelewer:

Ek hou van winkels wat antieke goed verkoop. Ek hou van die ou houtmeubels – stewige meubels wat getuig van kwaliteit en vakmanskap. En dan die herinneringe as ek verder rondkyk…

My ouma het só ʼn staanhorlosie in die gang in haar huis gehad, ons het só ʼn ketel op die AGA-stoof in die kombuis gehad, my ma het súlke koppies gehad, daar was só ʼn groentekas op die plaas.

Wonderlike herinneringe aan en stories van óns mense, opgesluit in dié winkels met hul antieke ware. Soos die bekende, geraamde foto van dr. Verwoerd of ʼn prent van die Groot Trek teen die muur.

Ek het ʼn rukkie gelede so ʼn houtvaatjie by ʼn antieke winkel gekoop.

“Wat gaan jy hiermee maak?” vra my man ná die tyd.

“Wel,” sê ek, “dit is ʼn waterbottel wat aan ʼn ossewa tydens die Groot Trek gehang het. Dit is baie spesiaal – ek dink min mense het al so iets gesien!”

Toe ek weer by een van my gunsteling- antieke winkels in Ermelo instap, roep Paula my. “Jy is mos van die Voortrekkers, kyk wat het ons vir jou”. Sy wys die mooiste handsakkie vir my. “Dit was mev. M.M. Jansen se handsakkie”.

Ek maak die handsakkie oop en binne-in die handsakkie is daar ʼn rooi kaartjie waarop staan: Eregas 14 – 16 Desember 1938. Sy moes die handsakkie gedra het met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938.

Ek is seker van die Voortrekkers van vandag het al van mev. M.M. Jansen gehoor. Ja, sy het die Voortrekkervlag ontwerp en die eerste vlag gemaak.

Paula roep my weer. “Kom kyk, hier is haar boeke”.

Ek kyk na die boeke met haar naam voorin geteken: “M.M. Jansen”. Uit die boeke wat mense lees en koop, kan mens nogal baie van die persoon te wete kom. Ek kyk na haar boeke – sy moes gehou het van tuinmaak, die natuur, kook en onthaal. Sy het baie gereis en sy was lief vir geskiedenis. Ek vermoed ook sy was baie lief vir tale en lees (Afrikaans en Engels).

Ek begin oor haar lewe lees. Ek was beslis reg oor haar belangstellings. Die Landbou-weekblad [stet] is vroeg in 1919 deur die Nasionale Pers in Bloemfontein uitgegee. Mev. Jansen was verantwoordelik vir die vroueafdeling, wat sy uit Pietermaritzburg bedryf het. Alles waarmee die boervrou haar in en om die huis sou besig hou – kookkuns, handwerk, naaldwerk, allerlei huishoudelike sake en die blomtuin.

Sy verwerf ʼn graad met Grieks en Latyn as hoofvakke – dus wás sy lief vir tale. Sy het ook ʼn groot rol in die vestiging van die eerste Afrikaanse Taaleksamen gespeel. Sy het eenkeer gesê: “Die (Afrikaanse) taal moet soos ʼn patatrank groei en die hele Suid-Afrika vol rank”.

Mev. Jansen het nie net op taalgebied baanbrekerswerk gedoen nie, maar ook op die gebied van onderwys en welsyn en was ten nouste betrokke by die spoorwegwerkers. Sy het gou agtergekom dat die mense vir wie sy so baie doen, ongeleerd was. Al raad was om self vir hulle skool te hou. Oral langs die spoor het sy afgeklim en die werkers besoek en klasse georganiseer.

Sy het verskeie fiksie en niefiksie boeke geskryf en die boek Vrugte-heerlikheid: meer as duisend maniere om Suid-Afrikaanse vrugte voor te berei, onder die skuilnaam Marta gepubliseer.

Geskiedenis en erfenis was vir haar belangrik.

In 1920 word sy die eerste vroulike lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Met die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in 1929 word sy die eerste vroulike lid van die uitvoerende komitee en behou dié onderskeiding dekades lank.

Sy was ook ten nouste betrokke by die stigting van die Voortrekkerbeweging in 1931, waar sy as provinsieleier van Natal verkies word.

Sy en haar man, advokaat E.G. Jansen, was deel van ʼn komitee wat toegesien het dat die Geloftefeeskerk in Pietermaritzburg as ʼn blywende gedenkwaardigheid herstel is. Dit is die kerkie wat die Voortrekkers in 1839 in Pietermaritzburg gebou het en wat as die eerste paaiement in die nakoming van Die Gelofte moes dien.

Nadat ʼn nuwe kerk gebou is, is dit vanaf 1861 nie meer as kerk gebruik nie. Dit het eers as ʼn skool gedien, maar is in 1874 verkoop. Daarna was dit ʼn aptekerswinkel en toe ʼn smidswinkel. Elke Sondag op pad kerk toe het dit adv. Jansen gepla dat die gebou so verwaarloos word. Die plaaslike NG leraar en adv. Jansen het hulle toe beywer vir die terugkoop en herstel van die kerkie. Op 16 Desember 1912 is die kerkie toe op indrukwekkende wyse as Voortrekkermuseum in gebruik geneem.

Mev. Jansen het ook in die Voortrekkermonument-komitee, waarvan haar man die voorsitter was, gedien. Sowel die hoeksteenlegging op 16 Desember 1938 as die inhuldiging op 16 Desember 1949 het sy saam met hom meegemaak en aktief daaraan deelgeneem.

Mev. Jansen was ook sekretaresse van die Christelike Vrouevereniging van Natal, Sondagskoolonderwyseres en kerkorrelis.

In ʼn onderhoud vra ’n joernalis vir haar of sy daarvan gehou het om die vrou van die goewerneur-generaal te wees. “O, dit was vir my heerlik! Ek hou van funksies, en ek hou van mense, en ek hou van ligte. Ek het dit geniet!”

Hy het haar ook gevra of sy, as sy haar lewe kon oor kies, sy dit weer só sou wou gehad het. “Ja, ek glo nie ek sou dit veel anders wou hê nie. Al moeilike pad was toe ek en my man verskil het oor politiek!” Mev. Jansen was beginselvas en het by haar politieke party gebly.

Op mevrou Jansen se grafsteen in die begraafplaas in Centurion staan daar:Gelowend in God het sy haar volk met eer gedien.”

En dit is die boodskap van vanoggend: Hoe dien mens jou volk met eer?

Dit is om betrokke te wees by die Geloftefeesvieringe se reëlings. Om die blaadjie vir die Geloftediens saam te stel. Om die klanktoerusting vir die Geloftefees te reël. Om as Voortrekker die openingseremonie en boeresport te reël. Om betrokke te wees by die Voortrekkerbeweging, hetsy as bestuurslid of om ʼn span te hê.

Dit is om toebroodjies vir ʼn begrafnis by die kerk te maak. Dit is om Sondagskool te hou. Dit is om te sorg vir blomme in die kerk. Om mense, wat nie meer kan bestuur nie, Sondag ná Sondag kerk toe aan te ry.

Dit is om dalk ʼn entjie verder te ry om ʼn Afrikaanse onderneming te ondersteun. Dit is om jou kinders na ʼn Afrikaanse skool te stuur, maar om terselfdertyd ander kulture in ons land te respekteer en saam te sorg dat dinge in ons geliefde land vir ons werk. Dit is om in jou gemeenskap betrokke te wees, om projekte te ondersteun.

ʼn Hele klompie jare terug het ek een van ons seuns geneem vir ʼn skoolgereedheidstoets. Hy was so ses jaar oud. Gewoonlik gee die opvoedkundige sielkundige twee weke later terugvoering oor die toets. Dié betrokke keer sit ek voor die sielkundige en sy vra my: “Het die kind onlangs trauma beleef?”

“Wel,” sê ek, “nie waarvan ek bewus is nie.”

“Is daar familie dood in die Anglo-Boereoorlog?”

“Wel,” sê ek, “nie waarvan ek weet nie.” Ek is verstom oor die vrae. “Ekskuus, ek verstaan nie wat dit met die skoolgereedheidtoets te doen het nie,” sê ek.

Sy verduidelik. As deel van die emosionele gereedheidstoetse wys hulle vir kinders prente. Die kinders moet dan ʼn storie oor die prent vertel. Mens kan dikwels afleidings oor die storie maak, alhoewel jy maar versigtig moet wees. ʼn Kind sal byvoorbeeld vertel die seuntjie is bang en dan is dit ʼn projeksie van wat die kind self ervaar.

Ons seun het met elke prentjie terugverwys na die Anglo-Boereoorlog. Sy vertel daar is, byvoorbeeld, ʼn prent met ʼn seuntjie wat visvang – dan sal my seun sê die seuntjie vang vis vir sy ma en sussie wat in die konsentrasiekamp is en wat baie honger is. Ek begin toe lag.

“Nee,” keer ek, “my man het onlangs vir hulle ʼn klomp stories van die Anglo-Boereoorlog gelees en my kind was absoluut gefassineerd met die stories en het oopmond gesit en luister. Ek dink nie jy moet enige afleidings maak nie!”

Om jou volk te dien, is om vir jou kinders van die geskiedenis van ons land te vertel. Om te vertel van Bloedrivier, die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

Mev. Jansen het ʼn paar toekennings in haar lewe gekry:

  • Sy ontvang in 1969 erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • Die FAK vereer haar in 1974 met ʼn Erepenning vir Volksdiens.
  • In 1976 vereer staatspresident Nic Diederichs haar met die Dekorasie vir Voortreflike Diens.

Jy sal waarskynlik nie enige toekennings vir jou diens ontvang nie, dikwels nie eers ʼn dankie nie.

Op ʼn keer het Jesus se dissipels gestry oor wie die belangrikste onder hulle was. Jesus antwoord hulle in Matt. 20:26-28: “Maar by julle moet dit nie so wees nie.  Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens; Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Jesus het sy dissipels geleer dat grootheid in die koninkryk van God bereik kan word deur ʼn dienaar te word.

Vandag, 80 jaar gelede, het mev. Jansen met haar handsakkie by ʼn Geloftediens gestaan. Om vandag, 16 Desember 2018, hier by die Geloftefees te wees, is om gelowend in God jou volk met eer te dien.

Mev. Jansen het haar lewe daaraan gewy om te dien. Mag dit ook só met jou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Patat ·

Pragtige artikel. Het nooit eens van haar gehoor nie.
Sal beslis van haar boeke probeer vind!

Jerry ·

Mooi verhaal van n vrou wat haar talente ingespan het om vir al die regte redes haar God en volk te dien.

Snowball ·

Baie inspirerend en insiggewend. Ek het nie werklik geweet van haar nie, wel van Dr EG Jansen, wie die tweedelaaste goewerneur generaal van die unie van SA was, en na wie die Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg vernoem is. Sy was inderdaad merkwaardig.

Cherokee ·

Toe ek die titel lees het ek vir ‘n sekonde gedink jy praat van die gewese regter wat ook met eer gedien het en verraai is. Miskien familie.

Hanna ·

Ja, mevrou Jansen oor wie die artikel handel is inderdaad die moeder van Regter Mabel Jansen wat ‘n tydjie gelede in die media so verguis is oor haar mening wat sy teenoor ‘n joernalis sou gelug het dat verkragters meer onder ‘n sekere bevolkingsgroep voorkom as by ander!

Lynette Schultz ·

Pragtig en ook so hartseer. Hoe eindig ‘n kosbare versameling van so ‘n merkwaardige vrou in ‘n ‘ krapwinkel? Was dit weer ‘n geval van nasate wat skaam is vir hulle konserwatiewe voorouers? Want ons almal weet mos: “Boer is tog so laage naam…”

Ek sê dankie vir my voorouers – stoere Boere! Beslis nie perfek nie! Ek is dankbaar dat ek nie skaam is om te sê ek is ‘n Boer en ek praat Afrikaans nie. Dit is per slot van rekening die klein steentjies was die groot muur bou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.