Magnus Malan-bewerings en die rol van die media

seuns van bird islandDit gons die afgelope week behoorlik oor die bewerings in ʼn boek dat jong seuns tydens die 1980’s op Bird-eiland naby Port Elizabeth seksueel misbruik is deur drie apartheidsministers in die kabinet van oudpres. P.W. Botha.

Twee van die ministers – wyle genl. Magnus Malan en wyle John Wiley – se name word genoem. Die bewering word gemaak dat ʼn derde minister uit daardie era – wat nog leef en wie se naam op grond van regsadvies weerhou word – ook aan die beweerde gebeure skuldig is.

ʼn Woedende Barend du Plessis, oudminister van finansies, het homself geïdentifiseer as die derde minister (op grond van identiteitsleidrade in die boek) en het dit sterk ontken in ʼn onderhoud met die Sondagkoerant Rapport, wat ook die eerste draer van nuusberigte oor die bewerings was.

Sedertdien het alle hel losgebars, met Suid-Afrikaners wat die berigte en die boek óf afskiet as ongegronde sensasionaliteit, óf dit ophemel as dapper ondersoekende werk wat die donker hart van ʼn bose stelsel blootlê.

Veel emosie is ter sprake, asook ʼn diepe geworteldheid in die persoonlike sienings van mense wat in die stryd vir of teen die behoud van die apartheidstelsel betrokke was.

Maar wat is die rol van die media in die hantering van sulke bewerings, en wat is die posisie binne die mediareg?

Die regsposisie is eintlik baie eenvoudig. ʼn Dooie kan nie belaster word nie. Omdat al diegene wat in die boek en die beriggewing met die beweerde dade verbind word, dood is, is daar geen gevaar van laster uit ʼn media-oogpunt nie, en het die families van die oorledenes ook geen reg op ʼn lastereis nie.

Maar die kwessie slaan dieper as die regsituasie. Die media stel hom ten doel om die waarheid, en inderdaad die bewysbare waarheid, te publiseer. Daarin setel die media se geloofwaardigheid; sy enigste bestaansreg.

bird-island-magnus-malan

‘Die Seuns van Bird Island’ maak bewerings teen genl. Magnus Malan wat skokgolwe deur die Afrikaanse gemeenskap gestuur het. Foto: En.wikipedia.org.

Padlangs: Niemand hoef ʼn koerant te koop, ʼn webblad te besoek of na die televisie of radio te luister nie. Al rede hoekom die publiek dit doen, is indien die media geloofwaardig, interessant en relevant is.

Wat staan ʼn redakteur dan te doen wanneer hierdie soort omstrede bewerings gemaak word? Die redakteur het ʼn keuse: Publiseer, of moenie publiseer nie.

Waarom in hierdie geval publiseer? Is dit nuuswaardig? Ja. Is daar ʼn regsrisiko? Nee. Is die bewerings beslis waar? Nee. Is die bewerings beslis onwaar? Nee. Is daar openbare belang? Ja. As ek nie publiseer nie, gaan iemand anders publiseer? Ja, waarskynlik. Is alle betrokke partye om kommentaar genader? Nee, bepaald nie (aanvanklik in die Rapport-beriggewing).

Soos ons uit hierdie vraelys kan sien, het Rapport se redakteur aanvanklik voor ietwat van ʼn morele en professionele turksvy te staan gekom, hoewel met min regsrisiko.

Die koerant het in sy aanvanklike dekking miskien nie genoeg gedoen om die inhoud van die boek krities te benader nie, en het byvoorbeeld nie die kommentaar van belanghebbendes buite die onmiddellike dampkring van die boek gevra nie – soos byvoorbeeld mense wat heg met Malan saamgewerk het, en sy familie, op wie se lewe hierdie bewerings menslikerwys ʼn reusagtige uitwerking sou hê.

Dit is moontlik dat die ooreenkoms tussen die boek se uitgewers aan die een kant, en Rapport aan die ander kant, nie hiervoor voorsiening sou maak nie, maar dan bly dit die besluit van die redakteur om hom na so ʼn beperkende en moreel riskante ooreenkoms te skik.

Daar is naamlik twee gapende morele vrae betreffende die boek. Eerstens: Waarom word die oorlewende minister se naam verswyg? Wat is die regsadvies, anders as dat die bewyse vir die beweerde gedrag te min is om ʼn lastereis te weerstaan? En indien wel, waarom dan die bewerings plaas?

bird-eiland-lugfoto

’n Lugfoto van Birdeiland naby Port Elizabeth. Foto: Thecasualobserver.co.za

Tweedens: Waar is die slagoffers?

Die eerste vraag bly vandag steeds staan, maar die tweede is die afgelope week knap opgelos deur die Kaapse dagblad Die Burger, toe ʼn beweerde slagoffer, bekend as mnr. X, op kalm wyse in ʼn netjies hanteerde onderhoud na vore getree het as een van die beweerde slagoffers. Mense sal hieroor verskil, maar vir baie lesers sou dit ʼn pynlike en geloofwaardige onderhoud wees.

Met die plasing van die onderhoud het Die Burger sy stalmaat Rapport ʼn groot guns bewys, en Rapport se opvolgberiggewing was aansienlik sterker as die koerant se aanvanklike dekking.

Nie alleen is ʼn volblad aan Du Plessis se ergerlike ontkenning gewy nie, maar ʼn tweede verhaal ter ondersteuning deur ʼn inwoner van Port Elizabeth is geplaas – weliswaar tweedehands na aanleiding van ʼn vertelling deur sy oorlede broer, wie se lewe as dwelmgebruikende prostituut nie noodwendig beteken hy praat die waarheid of dat hy jok nie – uit Nasaret kom tog soms ook iets goeds?

Daarmee saam het Rapport enkele ander ondersteunende vertellings geplaas waarvan die vermaaklikste wat skryfstyl betref, gekom het van die omstrede voormalige joernalis Jani Allan – wie se streke met ʼn regse leier van weleer sommiges skalks sal laat opkyk.

Die finale afloop van die gebeure is tans nog onseker en die tersaaklike koerante kry gemengde reaksie op hul besluit om te publiseer. In ʼn wêreld waar die waarheid en die korrekte besluit dikwels maar deur skakerings van grys bepaal word, is dit dalk raadsaam om ʼn ou intellektuele maatstaf ter insae te gebruik, naamlik om die vraag andersom te stel as wat tot dusver die geval was: Wat sou die publiek se oordeel gewees het as daar besluit is om nie te publiseer nie?

Die antwoord hierop is waarskynlik maklik: Die koerante sou stewig tot die vagevuur verdoem gewees het, met die aanklagte: toesmeerdery en sensuur.

Deur te publiseer word die keuse oor wat om te glo aan die leser oorgelaat, wat tog seker op ʼn oorwig van waarskynlikheid die regte besluit was, selfs al beteken dit die tersaaklike redakteurs leer ken nogmaals die waarheid van die ou Engelse gesegde: Publish and be damned!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

61 Kommentare

jongste oudste gewildste
Celtis Africana

Goeie, geballanseerde artikel desondanks die meriete al dan nie van die aangeleentheid.
So, my raaiskoot oor Barend du Plessis as ongenoemde geïmpliseerde was in die kol.
Dit bly steeds n hoop vuil wasgoed sonder veel substansie.
Miskien het ons bederf geraak deur Mnr. Pauw se professionaliteit ten opsigte van bewyslewering vir bewerings.

Etienne Prinsloo

Thou god of our idilatry, the press….
Thou fountain, at which drinks the good and wise,
Thou ever-bubbling spring of endless lies,
Like Eden’s dread probationary tree,
Knowledge of good and evil is from thee.
William Cowper (1750)

honourable member

Wie beweer moet bewys so eenvoudig soos dit.

Noujatoe

Sou dieselfde beskuldigings teen n nou afgestorwe Mandela gemaak word, was Rapport vandag n hopie as.

Root

Ek dink enige iemand wat ander bronne van nuus as die MSM oftewel main stream media volg is hierdie beweringe geen skok nie. Die wereld is vrot daarvan. En dis nie altyd ‘n omie wat met ‘n kind gelol het by ‘n braai of ‘n maatjie se huis nie, dis mense in posisies van mag en aansig. Om nie eers van die kerk, meer spesifiek die katolieke kerk te praat nie! $ 4 Biljoen in skikkings met slagoffers! Groot name wereld wyd gaan tot ‘n val kom oor die volgende jaar of twee