Majuba – Moed vir 2020

Sowat 140 jaar gelede was Brittanje die magtigste ryk ter wêreld. In die verste uithoeke van die wêreld is “God Save the Queen” gesing en is die knie, ten minste spreekwoordelik, vir die Britse ryk gebuig. Ook hier, aan die suidpunt van Afrika het die Britte hul gewig rondgegooi.

Op ʼn dag het die magtigste ryk op aarde egter hul rieme styf geloop. Nie teen ʼn groot mag in uniform nie, maar teen ʼn paar boere te perd op ʼn berg in KwaZulu-Natal. Een boer het in die geveg gesneuwel en vyf is gewond. Aan Britse kant is 92 soldate in die geveg dood, 134 is gewond en 59 gevange geneem. Die Britse bevelvoerder, genl.maj. George Pomeroy Colley het ook nie die slag oorleef nie.

Met die Anglo-Boereoorlog (oftewel die Tweede Vryheidsoorlog), byna 20 jaar later, was die vernedering van die Slag van Majuba steeds nie vergete nie. Met die kreet “Remember Majuba” het hulle weer gepoog om hierdie vryheidliewende volk tot dienskneg van die koningin te maak – en hierdie keer sou niks hulle stuit nie. Al moes duisende vrouens en kinders in konsentrasiekampe sterf sodat die Union Jack in die plek van die Vierkleur en Vrystaatse vlag kon wapper.

Die Majuba-terrein huisves vandag verskeie monumente wat, onder meer, die Groot Trek en die Rebellie van 1914 gedenk. Een van die indrukwekkendste monumente is dié ter herdenking van die slag self. Dit is in 1996 deur die Aksie Vrouekrag opgerig – twee jaar nadat die Afrikaner sy politieke mag verloor het. Die boodskap is dat die Afrikaner bereid moet wees om al die hoër berge as Majuba eendragtig en sonder aarseling uit te klim.

Die monumente wat steeds daar opgerig word, is ʼn voorbeeld van die nimmer-opgee-gees wat ons ook op ander terreine sien… Op politieke terrein waar die beoogde wysiging van artikel 25 en gepaardgaande onteiening sonder vergoeding beveg word, op maatskaplike terrein waar daadwerklike aandag aan Afrikanerarmoede gegee word en op kulturele terrein waar ons steeds, en met trots, eienaarskap neem van ons geskiedenis, ten spyte van die pogings om ons voorouers tot misdadigers te verklaar.

Dalk moet óns hierdie jaar die kreet “Remember Majuba” opneem en daarmee die toekoms tegemoet gaan – met die heldhaftige optrede van ʼn Nicolaas Smit, Stephanus Roos en Danie Malan in ons gedagtes. En dan, met die wete dat ons voorgeslagte nie voor die magtigste ryk ter wêreld die knie gebuig het nie, die moed kry om vandag se uitdagings trompop te loop.

In die woorde van GA Watermeyer: “Met moed, om teen die môrekim méér as Majuba uit te klim.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Onthou die eerste Anglo Boere oorlog is begin met die Paardekraal Gelofte. Toe wen die Boere gou. Met die tweede Anglo Boere oorlog word geen Gelofte afgelê nie, toe verloor die Boere. So ook is Bloedrivier en die volksplanting aan die Kaap met Geloftes verseël. Die les is dat ons ons Geloftes moet eer en weer ‘n Gelofte aan God doen om te oorwin. Stap met God die pad, voetspore in die sand.

Leon ·

Glo dit as julle wil ons is nog nie onafhanklik van Brittanje nie. Hulle regeer nog steeds Suid Afrika. Hulle doen dit net meer subtiel met hulle agente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.