Makro-ekonomiese raamwerke ná 1994, die verswarende impak van swak beleid

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Die probleme van armoede, werkloosheid en swak ekonomiese groei is lank reeds vir baie mense in Suid-Afrika ʼn werklikheid. Waar die breë werkloosheidkoers in die eerste kwartaal van 2016 by 36,3% staan, en met ʼn geskatte BBP-groeikoers van onder 1% vir 2016, is dit duidelik dat die probleme steeds met ons is.

Die regering het sedert 1994 verskeie pogings aangewend om die probleme van werkloosheid, armoede en onvoldoende ekonomiese groei hok te slaan. Verskeie groot makro-ekonomiese ontwikkelingsraamwerke, waarvan die Heropbou- en Ontwikkelingsplan (HOP) die eerste was, het sedertdien die lig gesien.

Saam met die HOP van 1994 en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van 2013, die jongste van dié raamwerke, het ʼn stewige klompie akronieme uit die penne van die nasionale beleidmakers voortgespruit.

Die HOP is deur GEAR – die inisiatief vir groei, indiensneming en herverdeling – in 1996 opgevolg, wat op sy beurt deur ASGISA – die inisiatief vir versnelde en gedeelde groei vir Suid-Afrika – in 2005, en die Nuwe Groeipad (NGP) in 2010 opgevolg is.

Die probleme van armoede, werkloosheid en swak ekonomiese groei het as ʼn sterk dryfveer van hierdie raamwerke gedien. Soos die volgende aanhalings aandui, is grootliks lofwaardige doelwitte gereeld met groot beloftes beklemtoon.

Die HOP het hom byvoorbeeld beywer om “die armoede, lae lone en uiterste ongelykhede in lone en welvaart wat deur die apartheidstelsel gegenereer is, uit te skakel”.

GEAR het gepoog om “al ons energie in ’n nuwe vlaag ekonomiese werksaamhede” te mobiliseer ten einde “deur huidige beperkinge te breek en die ekonomie na hoër vlakke van groei, ontwikkeling en werkskepping te lanseer”.

ASGISA wou verseker dat “die vrugte van [ekonomiese] groei gedeel word op só ’n manier dat armoede so naby as moontlik daaraan kom om uitgewis te word” en die NOP het hom daarvoor beywer om “teen 2030 armoede uit te wis en ongelykhede te verminder”.

Die “sentrale” aanname

Die makro-ekonomiese raamwerke is almal deur ʼn sterk aanname van sentrale staatsbeheer en herverdeling onderlê. In die HOP van 1994 lees ons dat: “nóg ’n sentraal-beplande bevelsekonomiese stelsel, nóg ’n ongebonde vryemarkstelsel toereikende oplossings kan bied vir die probleme wat [Suid-Afrika] in die gesig staar”.

Met die aankoms van die ANC-era, in 1994, was dit duidelik dat enige moontlikheid vir die ontstaan van ʼn ware vryemarkekonomie as’t ware van die kaarte af was. Volgens die beleidmakers, en die nuwe regering, sou die ekonomie ná 1994 as ʼn middeweg-ekonomie tussen ʼn sentralistiese bevelsekonomie en ʼn ongebreidelde vrye mark bestempel word.

Terwyl die regering amptelik van ’n volwaardige “sentraal-beplande bevelsekonomie” weggeskram het – en ná 1994 selfs verskeie hervormings in werking gestel het wat pro-mark en inderdaad tot voordeel van die ekonomie was – het die staat op vele terreine wesenlike beheer oor die ekonomie verkry of behou.

ʼn Middewegbeleid het uiteindelik verskeie vorms van staatsinmenging by die ekonomie en breër samelewing bemagtig en oor die jare het verskeie inmengingsmaatreëls in omvang toegeneem.

In die besonder het herverdeling, regeringsgeleide ontwikkeling, sentrale beplanning, sakeregulasies, buitegeregtelike kommissies met strafbevoegdheid, voorskrifte en beperkinge op arbeid, rasgebaseerde regstellende aksie en SEB, verskillende soorte belasting, aansporingskemas, “kuratorskap” van eiendomsregte, groot staatsondernemings wat met belastinggeld onderhou word en private-openbare-vennootskappe gesamentlik sedert 1994 ’n ál groter rol in ekonomiese sake gespeel.

Die “suksesse” en perke van herverdeling

Wanneer daar van die uitkomste van dié onderliggende ideologie van staatsintervensionisme bestek geneem word, vind ons dat die beleidstellings wat daarop gegrond is, nie daarin geslaag het om die drastiese ekonomiese verbetering in groei, indiensneming en die uitwissing van armoede mee te bring soos wat beloof is nie.

Dit moet nietemin genoem word dat beleidstellings wat op herverdeling gerig is, sommige mense tot ’n mate relatief bevoordeel het met ’n verhoging in lewenstandaarde en toegang tot infrastruktuur.

Selfs al sou ons van “diensleweringsagterstande” en die swak waarde vir geld uit die besteding aan onderwys en welsyn vergeet, moet ons onthou dat die dienste wat inderdaad gelewer word, grootliks staatmaak op belastinggeld en hulpbronne wat uit die privaat sektor ingevorder word.

Die huidige stand van die nasionale begroting beteken dat ’n drastiese uitbreiding van die besteding aan welsyn sonder ’n beduidende herstel in ekonomiese groei, onwaarskynlik is.

Groei is die kern tot die sukses van Suid-Afrika se ekonomie. Selfs die NOP bevestig die noodsaaklikheid van BBP-groei van minstens 5% per jaar as ’n voorvereiste vir sy sukses. Die raamwerke wat die NOP voorafgegaan het, het min of meer dieselfde BBP-groeikoerse in gedagte gehad – van 4% tot 7%.

Ekonomiese groei

By middeweg-ekonomieë is dit gewoonlik die geval dat die skaal neig om weg van vrye markte en nader aan staatsinmenging te kantel. Regerings, insluitende die SA regering, is traag om van hul inmengingsbeleid afstand te doen.

Soos wanbesteding, korrupsie en ondoeltreffendheid – juis as gevolg van inmengingsmaatreëls – ophoop, word die versoeking vir ʼn regering om verder in te meng net groter. Uiteindelik kan toenemende inmenging en swak beleid ʼn ekonomie lamlê.

In hierdie konteks is dit sinvol om nasionale groeikoerse onder oë te neem. Die volgende grafiek verskaf ʼn uiteensetting van Suid-Afrika se BBP-groeikoerse sedert 1994. Oor die tydperk was die BBP-groeikoers onbestendig.

In werklikheid blyk dit dat die bewegings van hoër en laer groei grootliks van die wêreldekonomie en breë sikliese opswaai- en afswaaifases afhanklik was. Op sigself lyk dit nie of die makro-raamwerke, ongeag hul lofwaardige doelstellings, noemenswaardig met ʼn sterk ekonomie saamgeloop het nie.

grafiek_1

 

Oorhoofs is ekonomiese groei, met verskeie maatstawwe gemeet, tans swak. BBP-groei per capita (in VSA -dollarterme) staan sedert 2007 grootliks stil. Die sterker groeikoerse wat ná 1994 gevolg het en met die aanvanklike omkeer van beleidsmaatreëls en beperkings uit die apartheidsera saamgeval het, soos rasgebaseerde arbeidsbeperkinge, handelsbeperkinge en struikelblokke vir buitelandse beleggings, is klaarblyklik aan die afneem.

Verswarende invloede in ag geneem, sou ’n groeikoers wat sedert 1994 ’n halwe persentasiepunt per jaar sterker was, ’n ekonomie meegebring het wat aan die einde van 2015 meer as 11% groter was. ’n Toename van een persentasiepunt per jaar kon tot ’n ekonomie gelei het wat in 2015 byna 25% groter was.

Ten slotte

Helaas, wanneer daar van die werklike uitkomste van dié makro-ekonomiese raamwerke van die laaste twee dekades bestek geneem word, vind ons dat hulle nie daarin geslaag het om die drastiese ekonomiese verbetering in groei, indiensneming en die uitwissing van armoede mee te bring soos wat beloof is nie.

Werkloosheid en armoede – hoewel in ’n mate deur belastinggefinansierde welsynsoordragte en die staat se werkskeppingsprogramme getemper – is nie eens naastenby op ’n punt waar dit “uitgeskakel” sal wees nie. Grootskaalse welsynsoordragte is nie ’n volhoubare roete om hierdie probleme drasties in te kort nie.

Die sentrale beplanners het Suid-Afrika se maatskaplike probleme met omvattende beleidstellings vir sosio-ekonomiese ontwikkeling probeer oplos. Tog bly die werklike impak van hierdie beleidstellings ten beste onseker, maar heel waarskynlik, weens uitermatige inmenging, teenproduktief.

Die verswarende uitwerking van swak beleid het Suid-Afrika se mense swakker daaraan toe gelaat as wat hulle daarsonder sou wees. Die tyd is ryp om van ʼn inmengingsbeleid afstand te doen en eerder in die rigting van ʼn ware vryemarkstelsel te beweeg.

Nota: Dit is ʼn verkorte weergawe dié van ʼn artikel wat in die April-Junie 2016-weergawe van die Solidariteit-ETM Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport gepubliseer is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Al die planne van die ANC is nou uitgeput behalwe die troeteldroompie en dit die gryp van alles wat aan die wittes behoort en om dit uit te deel aan die uitverkorenes soos in Zimbabwe. Iemand by sy volle postitiewe sou glo mense sou leer uit die chaos wat in ons buurland gevolg het na so ‘n dwase politieke ommekeer. Maar nee, die meerderheid in ons land dink dit is ‘n oulik plan. Al wat nou nog kort, is president Zuma se handtekening hier kort voor stemdag. Sy kiesers wag.

Celia ·

Dit is inderdaad waar! Mag daardie handtekening NOOIT plaasvind nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.