Malawi se gordyne en die gebreektevensterteorie

ernst-roets-afriforum-deur-reint-dykema

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van Afriforum. Foto: Reint Dykema.

Grensposte in Afrika is dalk die beste ding wat jy kan aandurf as jy jou geduld wil toets. Dít het ’n onlangse toer deur vier Afrikalande my geleer.

By Malawi se grenspos staan ek en wag vir die staatsamptenaar wat vir die derde keer ’n fout op die vorm gemaak het. Aanvanklik het hy twee foute gemaak toe hy die registrasienommer by die rekenaar invoer. Toe maak hy die eerste fout reg en los die tweede een. Toe maak hy die tweede fout reg en maak die eerste fout weer verkeerd.

Intussen is daar iets anders waarna ek nie kan ophou staar nie: die gordyne. Ek kan nie help om op te let hoe sleg die gordyne lyk nie. In die een geboutjie hang twee hele gordyne elk aan ’n enkele knippie. Die stof lê so dik daarop dat jy byna jou naam met jou vinger op die gordyn kan skryf. Dít in ’n staatskantoor wat elke dag, heeldag gebruik word. In die ander kantoor is die swart blindings wat lank gelede ligblou was byna almal skeefgetrek en opgefrommel.

Ek besluit om gedurende ons toer deur Malawi na die gordyne op te let, net om oor die volgende paar dae te ontdek dat daar klaarblyklik nie ’n enkele gordyn in Malawi is wat netjies en reguit hang nie – of ten minste nie een wat ek kon sien nie.

Dit herinner nogal aan die gebreektevensterteorie. Dié teorie het in die kriminologie ontwikkel en verwys oorspronklik na die seineffek wat stedelike wanorde en vandalisme op bykomende misdaad en antisosiale gedrag het. Die gebreektevensterteorie behels dat die instandhouding van stedelike omgewings om klein misdade soos vandalisme in toom te hou daartoe bydra om ’n klimaat te skep waarin wet en orde gehandhaaf word, wat op sy beurt daartoe lei dat ernstige misdade ook afneem.

Die teorie is egter ook op ander terreine van toepassing. Dink aan jou werkplek. As een venster breek en niemand doen moeite om dit te herstel nie, sal dit net ’n kwessie van tyd wees voordat slordigheid oor die algemeen begin posvat.

Dit is in dieselfde trant wat Clayton Christensen in die Harvard Business Review skryf dat dit moeiliker is om 98% van die tyd by jou beginsels te hou as om dit 100% van die tyd te doen. Waarom? Want as jy eers begin het om toegewings op jou beginsels te maak, raak dit elke keer ’n bietjie makliker om die volgende toegewing te regverdig. Voor jy jou oë uitvee, het jy nie meer beginsels nie.

In die politieke ekonomie is dit net so waar, soos wat Malawi my geleer het. As ’n staatsamptenaar nie eens raaksien dat die gordyn waarteen hy en besoekers aan sy land elke dag vaskyk, lyk of dit deur ’n vullisterrein gesleep is nie, hoeveel vertroue skep dit in die politieke leierskap? Watter boodskap verkondig dit aan besoekers en potensiële beleggers?

Maar in politieke ekonomie is die gebreekte venster (of die vuil gordyn) gewoonlik die gevolg van die meer ernstige misdade wat op ’n meer senior vlak plaasvind. Daarom is dit geen verrassing nie dat Malawi 149ste uit 180 lande op The Heritage Foundation se ranglys van ekonomiese vryheid geplaas word. Korrupsie is endemies en die regstelsel is stadig en ondoeltreffend. Hoewel werkloosheid in Malawi relatief laag is (6,7%), is meer as 85% van die land se bevolking afhanklik van bestaansboerdery. Eiendomsreg in Malawi is byna ’n mite.

Die mense is vriendelik en die omgewing is asemrowend mooi, maar die land krepeer onder ’n korrupte, onbekwame regering.

Hierdie probleem word ook toenemend in Suid-Afrika sigbaar, hoewel op ’n kleiner skaal. Dink maar aan die vuil kleefband-, wondergom- en vingermerke wat teen feitlik enige Suid-Afrikaanse staatskantoor se mure glinster.

Moenie toelaat dat die gebreektevensterteorie in jou eie lewe posvat nie, veral nie as dit deur ’n onbekwame regering op jou afgedwing word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Beweeg bietjie meer rond in SA veral by staatsinstellings. Klinieke, staatshospitale… lisensiekantore, munisipaliteite ens. En die ergste is die skade aan die infrastruktuur is moeilik te verklaar. Hoe kom dinge so stukkend? Mens het tog tyd nodig om dinge te so verniel of is die probleem blote veroudering, maar kan tyd gordynhakies steel of pype buig of stukke uit die plafon kap?

V ·

Kan die probleem wees dat die gemeenskap nie ‘n kultuur van eienaarskap het nie? Eienaarskap word in die tradisionele gemeenskap aan die hoofman gegee, en niemand besit eintlik iets nie. Eienaarskap van ‘n skool, hospitaal of publieke intelling word ook nie onderhou, want dit behoort aan niemand nie. Daar is ook geen kultuur om uit jou pad te gaan en daadwerklik iets reg te maak nie, want volgense tradiesie moet jy nou nie probeer wit wees nie? ‘n Kringloop wat slegs deur die gemeenskap wat die instelling onderhou reg gemaak kan word, as daar ‘n wil is… Swartbemagtiging bemagtig eintlik niemand nie, as daar nie ‘n kultuur is om te leer, verbeter en te werk nie.

MCH ·

Uitekende artikel baie dankie. Dit wat ons doen wanneer niemand kyk nie né!. Dit wat ons gedagtewêreld beheers wanneer ons n impuls uit die omgewing ontvang, wat uiteindelik uitgeleef word in woord, daad en die gesproke woord. Dit is juis om die rede dat ons die Christelike waardestelsel aanhang. Sommer twee verse skiet my binne…
Spreuke 4: 23. ” Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daar uit is die oorspronge van die lewe.”
2 Korinthiers 10:5b ” … en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus. “

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!

Die “gebreektevensterteorie” is beslis op ander terreine ook van toepassing.

Een daarvan is die reaksie vanuit wit geledere op plaasmoorde en ander geweldsmisdade teen wit Suid-Afrikaners sedert die vroeë 90’s tot op hede.
Skok en verontwaardiging het plek gemaak vir ‘n gelatenheid, ‘n tipe aanvaarding dat geweld iets is waaraan alle Suid-Afrikaners uitgelewer is.

Malawi se vuil gordyne is dieselfde as SA se eerste plaasmoord.
Jammer, maar ons, as minderheidsgroep in SA, kon en moes anders opgetree het.

Stella ·

Ons leiers moes die inisiatief gegryp het toe die tyd reg was daarvoor, maar hulle het dit nie gedoen nie. Het ons nog leiers?

Neil van der Walt ·

Dankie Ernst vir ‘n interessante artikel.

Ek het een keer in Centurion se lisensie kantoor opgemerk dat daar orals papiere met belangrike boodskappe (soos in watter ry een moet staan, of watter vorm ingevul moet word) op verskillende plekke opgeplak is, toe dink ek, waarom nie net een sentrale bord met al die nodige inligting op een plek nie?

Ek dink ‘n oulike aktiwiteit kan wees, kry jul lede om staats instansies te help hul plek skoon en netjies maak? Deur dit te doen, wys dit hulle uit op hul slordigheid en ook dat Afriforum ‘n verskil maak op alle vlakke – niemand kan ‘n positiewe aktiwiteit weg wys nie.

Net ‘n idee, ek self sal kom help opruim.

Groete
Neil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.