Malema draai sélf 90% van mense teen hom

Julius Malema in die getuiebank. (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema het die uitsonderlike vermoë om op groot skaal vyande te maak van mense oor ’n wye reeks sektore en gemeenskappe heen. Almal vir wie respekvolle optrede belangrik is – of dit nou regslui, minderheidsgemeenskappe of swart gemeenskappe is – word die harnas in gejaag.

Die haat wat Malema met soveel oordrewe selfvertroue in die parlement, by politieke saamtrekke, in mediaonderhoude, selfs in die hof en op elke moontlike platform verkondig, kan ongelukkig maklik tot gevolg hê dat ’n mens perspektief oor Malema se werklike impak verloor.

Stephen Grootes skryf die afgelope week in die Daily Maverick (20 Februarie) dat AfriForum se hofsaak Malema “versterk”. Wat Grootes en ander wit linkse kommentators, soos Max du Preez en Pierre de Vos wat sy standpunt deel, nie besef nie is dat dit onbedoeld hul rassistiese onderrokke laat uithang. Skynbaar dink hulle swart mense is meer vatbaar vir geweldspraatjies en respeklose optrede, en daarom sal Malema “versterk” word deur geweld te verromantiseer. Ek verskil van Grootes en glo dat die oorgrote meerderheid van swart mense – en ook bruin, wit en Indiër mense – geweld en respeklose optrede verafsku. Enige geleentheid, soos dié hofsaak teen Malema, wat aan hom die geleentheid bied om sy gewelddadige neigings te ontbloot, verswak inderwaarheid sy posisie.

Sommige kommentators het die afgelope week selfs die misplaaste hoop gekoester dat hy uit die openbare debat sal verdwyn as AfriForum sou ophou om Malema oor sy haatspraak aan te vat. Die werklikheid is egter dat hy, soos alle radikales wat geweld verkondig, die afwesigheid van teenstand as ’n teken van swakheid beskou. Dit sal net verdere olie op sy vuur wees.

Eerder as om vir Malema terug te staan, moet ons met inagneming van die groter politieke landskap die werklike impak van Malema evalueer. Dan moet ons strategies hiervolgens optree om ’n breë koalisie van die meerderheid van mense in die land teen Malema se verromantisering van geweld te vorm. Dié meerderheid is gekant teen polarisering en streef na ’n vreedsame samelewing wat op wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe gegrond is.

Ons moet dus in ag neem dat, wanneer Malema sy eie ondersteuners mobiliseer, hy onbedoeld ook met uitnemendheid daarin slaag om die meerderheid van mense in die land téén sy idees te laat draai. Ek verduidelik dit aan die hand van die volgende vier feite:

90% van die land se mense steun nie vir Malema en die EFF nie

Malema is al vir meer as ’n dekade lank besig om haat en geweld te verkondig. In dié tyd het hy reeds elke moontlike platform (soos die parlement en AfriForum se hofsaak teen hom tien jaar gelede) probeer gebruik om die steun van die massas te werf. Verkiesing ná verkiesing wys egter dat hy hierin misluk. Die feit dat die EFF net meer as 10% van steun trek, is die beste aanduiding dat Malema se respeklose optrede eerder sowat 90% van kiesers oortuig het om nié vir sy party te stem nie.

Die feit dat hy verlede week in AfriForum se hofsaak homself weer as rassis met gewelddadige neigings ontmasker het, sal dus die meerderheid van mense in die land net verder van sy idees vervreem.

Gemeenskappe werk toenemend saam

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

Malema het homself gevestig as simbool van wat verkeerd is in die land. Sy idees verteenwoordig die soort samelewing wat die meeste mense nié wil hê nie.

Die groeiende kommer oor die toekoms wat wyd onder die meeste kultuurgemeenskappe posgevat het, is een van die redes waarom al meer van dié gemeenskappe met AfriForum wil saamwerk om die land te omskep in ’n gemeenskap van gemeenskappe wat op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek saamwerk. In dié verband werk AfriForum reeds saam met verskeie kultuurgemeenskappe. Boonop gaan die eerste van ’n aantal samewerkingsooreenkomste binnekort deur AfriForum en kultuurgemeenskappe aangekondig word.

Uit ons skakeling is dit duidelik dat die land se onderskeie gemeenskappe ’n gedeelde belang in ’n stabiele samelewing het. Net soos die meerderheid van mense (swart, wit, bruin en Indiër) gekant was teen die plundertogte in KwaZulu-Natal en verskeie plekke verlede jaar en opgestaan het om hul gemeenskappe te beskerm, sal mense hulle nie in massas deur Malema laat meevoer nie. Dit versterk eerder hul vasberadenheid om hul gemeenskappe te beskerm.

Gemeenskappe wend hulle tot gemeenskapselfstandigheid

Die Malemas van hierdie wêreld het ’n onbedoelde rol gespeel om duisende mense te laat besef dat ons nooit ons toekoms afhanklik kan maak van polariserende politici nie, maar dat ons sélf ons en ons gemeenskappe se toekoms in ons eie hande moet neem. Terwyl Malema afbreek, is AfriForum, die ander instellings van die Solidariteit Beweging en ander gemeenskapsinstellings reeds hard aan die werk om gemeenskappe binne die raamwerk van die wet meer bestand teen dié haatsaaiers te maak.

In die afgelope dekade het hierdie selfdoeningesteldheid ongekende momentum gekry. Gemeenskappe is nou sterker georganiseer deur selfstandige instellings. Benewens AfriForum se 165 buurtwagte en selfdoengemeenskapstrukture, het die ander instellings van die Solidariteit Beweging ook selfstandigheid op vele terreine bewerkstellig, wat insluit tersiêre onderwys, skole, maatskaplike dienste, kultuur en erfenis. Die feit dat mense toenemend selfstandigheid kies, het gemaak dat AfriForum van ’n nederige begin 15 jaar gelede tot 300 000 aktiewe lede gegroei het. Die instellings van die Solidariteit Beweging verteenwoordig nou gesamentlik heelwat meer as ’n halfmiljoen gesinne.

Internasionale steunwerwing

Dit is nie net plaaslik waar AfriForum en die Solidariteit Beweging al meer vennote werf nie, maar ook internasionaal. ’n Dekade of wat gelede was dit baie moeilik om vir buitelanders te verduidelik dat die land nie meer die land is wat hulle as ’n wonderwerk van voormalige pres. Nelson Mandela beskou het nie. Deesdae hoef mens nie meer te veel te verduidelik nie. Wys net vir hulle ’n video van Julius Malema se uitsprake en dan kry mens nie net verontwaardiging nie, maar – belangriker – begrip vir ons situasie.

Hoe moet ons op Malema reageer?

Dit is menslik om oor Malema se uitsprake ontsteld te raak. Dit is egter belangrik om nie in ongegronde vrees te verval nie. Behou perspektief met dié wete: Elke keer wat hy sonder respek optree, vervreem hy die 90% wat nie vir hom stem nie net verder. Op ’n vreemde wyse is dit dus nie sleg om die kollig op Malema te plaas nie, sodat hy die geleentheid kan kry om homself net verder te diskrediteer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Hy sal weer die ANC join as hulle stemme minder word. Wat n gemors van n mens

krodedil ·

malema se bekommerde gesig maak hierdie hofsaak die moeite werd.
Siener se woorde word dag vir dag waar.

piet ·

Malema lyk vir my besonder goed voorberei vir hierdie saak. Hy vaar baie beter as wat ek verwag het, definitief nie op sy bek geval nie.

Dries ·

Hy vaar net goed as jy sy radikale siening waardeer. Hy is tenminste eerlik in sy siening. Hy haat die blanke en speel nie so n agterbakse rol soos Ramaphosa deur voor te gee hy is vir almal nie

piet ·

Ek stem glad nie saam met sy radikalisme nie maar hy is effektief dis verseker. Hy laat sommiges soos trompoppies rondspring van irritasie. LOL

Gert ·

Sal hom graag “toe to toe” wil ontmoet. Dan sal hy op sy bek val!

Kobus ·

Alles goed en wel. My vraag is waarom moet AfriForum hierdie nar hof toe vat, waar is die MRK? Sou dink dat hulle onder leiding van ene Andre Guam met dieselfde entoesiasme as die Eben Eben Etzebeth geval Malema aanvat. Dubbel standaarde.

Jannie van Niekerk ·

Ons almal weet mos ou Joeljas is Adv Andre Gaum en kommissaris Chris Nissen van die MRK se onbesonge held. Hulle gee aplous vir elke haatspraak stelling wat Malemma maak.

piet ·

Malema slaag baie goed in sy doel om sommige Afrikaners te irriteer en te verkleineer. So sadisties as dit mag klink, vaar hy baie goed daarmee. Hoe meer hy dit regkry, hoe meer prominensie verkry hy. Ek stem saam met die “linkse” skrywers waarna verwys word.

krodedil ·

Die grootste les in die lewe is no1. As jy mense wil skade aan doen en hulle verkleineer, sal die lewe so uitwerk dat dit 100x erger na jou en jou nageslag terug sal kom.

Dries ·

Dankie mnr Kriel. Dit is presies so. Was dit nie vir Afriforum en Solidariteit nie sou daar n groter exodus van mense uit hierdie land gewees het. Ons het min hoop vir hierdie land. Die hoop wat ons nog het is gesetel in Afriforum enSolidariteit. Daai sogenaamde Intillektueles waarvan jy praat bewys net hoe meer n donkie balk hoe meer bewys hy hy is n donkie

Jannie van Niekerk ·

Die mannetjie kort net ‘n paar taai klappe teen die kop. Ongelukkig is hy die held van vele verlinkse blankes soos onder andere Adv Andre Gaum en kommissaris Chris Nissen. Hulle weier mos volstrek om teen hom op te tree oor sy haatspraak. Dr Max du Preez dink ook die wêreld van Malema want hy het mos op ‘n stadium gesê Malema en sy trawanate is nie “hooligans” (straatboewe) nie want hulle het almal universiteitsgrade.n

Johann ·

Ag nee wat Kallie Jy leef in ‘n droom wereld as jy dink dit gaan sy steun minder maak In teendeel Hierdie rondte wen hy Op Facebook is daar ‘n inskrywing oor ‘n rooi beret Dis die pad voorentoe

Dries ·

Johann jy weet mos jy praat nonsens. Malema sal nooit meer as 10% ondersteuning kry nie

Lubbe ·

Dit is alles net statistieke wat gebruik word om stellings te maak. Hy blaf op die stadium nog net en dit maak almal wakker, die wat van hom hou en die wat hom haat. Hoe gouer sy snawel geknip word hoe beter.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek verskil ook met respek van Stephen Grootes, Max du Preez en Pierre de Vos. Hier in die buiteland raak die mense toenemend bewus van wat werklik in Suid-Afrika aan die gang is. “South Africa is in shambles”. Die buitelanders identifiseer stelselmatig toenemend, gebaseer op feite, die ware kommunistiese ideologie, leuens, halwe waarhede, ongeregtighede en korrupsie van die ANC en sy lakeie. Aan Afriforum en Solidariteit: hou vol om die boodskap van naasteliefde en geregtigheid uit te dra. Suid-Afrika en Suid-Afrikaners verdien ‘n vredevole voorspoedige toekoms. Maar demokrasie moet verdien word deur samewerking en ter uitsluiting van alle korruptes.

Edward ·

Ek stem, ignoreer Malema, moet hom nie ‘n platvorm gee nie. Hy het al lankal sy eie lat gepluk. Hy het oral vyande, maar lyk my net witmense maak ‘ n bohaai daaroor.

007 ·

Neewat hy maak my nie kwaad nie. Hy blaf meer as wat hy kan byt. Dis soos die outjie wat op skool ‘n groot slapgat was en almal geirreteer het nou na skool dink hy sy alie stink nie.

Helgard ·

Ek is nie oortuig oor die logika nie. Ek stem saam daar is min steun vir JM / EFF en dat min Suid Afrikaners sy galbitter politiek ondersteun. Wat is die voordeel om hom hof toe te sleep? Dat sy uitlatings sy steun verder laat daal? Regtig? Gegewe Afriforum, die podbros en die sogenaamde “alternatiewe media” argumenteer die hoofstroom media kan nie eerlik en opreg oor die hofsaak verslag lewer nie.

Ek dink dit is ‘n eie doel en Malema en die media het dit reeds reggekry om die bordjies te draai teen Afriforum en dit te maak oor wit mense wat nie swart Suid Afrikaners se angs, leiding en trama kan of wil verstaan nie. Omtrent al wie die hofsaak beïnvloed is die muis kliks, geldkoffers en polarisering wat ons reeds vind in die sosiale media, alternatiewe media en aktivisme sonder langtermyn strategie…

Al wen Afriforum die saak – nie gegewe nie – wat is die impak op die grond? Ek voorsien hoe “haatspraak” teruggegooi word op Afrikaner geskiedkundige simbole en tradisies…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.