‘Malema-haatspraaksaak gaan nie werklik oor die reg nie’

Prof. Koos Malan (foto: Reint Dykema)

~ deur Nico Strydom ~

Prof Koos Malan, advokaat vir die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, het tydens ʼn FAK-simposium, oor die Julius Malema-haatspraaksaak, gesê hy is van mening dat die reg, en in besonder waar daar ʼn botsing is tussen gemeenskappe, nie veel waarde het nie.

“Ek dink nie dié saak gaan werklik oor die reg nie. Ek dink hier is iets totaal anders ter sprake naamlik die verhoudings tussen gemeenskappe”. Malan sê die staat kan beskou word as die verpersoonliking van openbare vrede. Hy sê as daar nie openbare vrede is nie sal daar nie ʼn staat wees nie. Malan sê dis om die rede dat daar regsreëls is en mense gestraf word as hulle ʼn misdaad pleeg. Hy sê dit is ook om die rede dat ons ʼn stelsel van howe het om dié reg toe te pas. Hy sê ons het oor ʼn baie lank tydperk gesien hoe die reg goed funksioneer in die sin dat as iemand ʼn misdaad pleeg hulle heel waarskynlik vervolg sal word. “Wat gebeur het sedert 1994 is dat ons vertroue in die reg eksponensieel vergroot het want ons het mos nou ʼn almagtige grondwet gekry. Ons het die paradigma wat geld met betrekking tot individuele geskille gevat en na die werklikhede van die grondwet het ons dit net so van toepassing gemaak op geskille wat wesenlik gaan oor die geskille tussen gemeenskappe.”

Malan sê die “skiet die boer” saak is fundamenteel ʼn geskil tussen die Afrikaner-gemeenskap en die ANC, wat tot ʼn groot mate verteenwoordigend is van die groter meerderheid van die swart gemeenskap. “Dit is ʼn intergemeenskapsgeskil. Ons reken ons kan op dieselfde grondslag wat ons private geskille bereg ook geskille laat bereg van ‘n intergemeenskaps-aard. Dit is om daai rede dat ons sien ons gaan hof toe oor byvoorbeeld naamsverandering, dit is ʼn intergemeenskapsgeskil. Ons gaan hof toe oor die kwessie van Afrikaanse skole. Dit is dikwels oënskynlik suksesvol in die hof maar eintlik verloor ons. Hierdie haatspraaksaak is ʼn intergemeenskapsgeskil. Ek sê dat die paradigma wat geld om hierdie geskille op te los tussen individue deur middel van onregmatige daadsreg en tussen individue wat die strafreg oortree nie van toepassing is op intergemeenskapsgeskille nie, of baie moeilik van toepassing is”.

Malan het drie redes hiervoor voorgehou:

  1. “As jy werk met ʼn interdik wat toegestaan is met byvoorbeeld die effek dat dit met betrekking tot die hele gemeenskap geld, en as die hele gemeenskap doodeenvoudig besluit ons gaan dit nie nakom nie, kan jy dit nie afdwing nie want geen regstelsel is ingerig om regsbreuke wat sistemies voorkom te kan hanteer nie. Jy maak doodeenvoudig gebruik van die verkeerde metode om sodanige wanoptrede te probeer afdwing.”
  2. “Nie een Afrikaner word aktief betrek by die politiek van die Afrikanerbelange, of om in bresse te tree en Afrikanerbelange te behartig in ʼn geskil van die aard nie. Nee hoogstens gee ons geld om die regskoste te betaal en hoogstens is ons toeskouers om te sien wat gebeur. Dit het ʼn pasiferende uitwerking. Ek sou eerder wou sien dat wanneer jy werk met ʼn intergemeenskapsgeskil, die gemeenskap in die geheel betrek moet word en dan kan dit nie werklik werk met ʼn hofsaak wees waar daar namens hulle opgetree word nie.”
  3. “Die oomblik wat jy ʼn hofsaak maak en in terme van die regsparadigma dink en in terme van die (verskoon my oënskynlike sarkasme) wonderlike grondwet dink, dan word hierdie enorme vertroue in die grondwet geplaas. Die oomblik wat jy die bevel kry en more word dit nie nagekom nie is die enigste ding wat jou tref uiterste teleurstelling en die gewaarwording dat die wapen wat jy gedink het jy tot jou beskikking is en al jou probleme sal oplos nie gewerk het nie”. Malan sê dit lei tot wantroue aangesien dit waarin die mense hulle vertroue belê het doodgewoon nie gewerk het nie.

Malan sê dit beteken egter nie ons moet die partye, Afriforum en die TLU, aftand omdat hulle die geskil verder geneem het nie. Hy sê ons moet wel die regstrategie sien vir wat dit is. Hy sê dit is ʼn beperkte komponent van ʼn veel breër politieke strategie. Malan sê wat ons wel behoort te doen is om ons te lei deur die sentrale begrip van vergelyk. Hy sê wat in die saak nodig is, is ʼn vergelyk tussen die twee gemeenskappe wat hier betrokke is. Hy sê die klem behoort nie net op Malema of landbouers te wees nie. Malan voeg egter by dat almal se belange belangrik is, maar dat daar ʼn vergelyk moet kom wat nie in 1994 bereik is nie. Hy sê Afrikaners was nie by onderhandelings of Kodesa verteenwoordig nie aangesien die Nasionale Party nie ʼn mandaat gehad het om namens die Afrikaners op te tree nie. “Wat hierdie saak baie duidelik antwoord is dat daar ʼn tekort is aan die bereiking van ʼn vergelyk tussen die Afrikaners en die swart meerderheid”.

Malan sê die saak moet gebruik word om daai uiters noodsaaklike vergelyk, wat nog tussen Afrikaners en swart meerderheid bereik moet word, se eerste beduidende stap te gee sodat dit inderdaad bereik kan word.

Wat moet so vergelyk inhou: “Dit moet sê: ons Afrikaners en die swart meerderheid is permanente inheemse gemeenskappe in Suid-Afrika, elkeen met eiesoortige aansprake, met ʼn eiesoortige kultuur, met ʼn eiesoortige geskiedenis”. Malan sê die haatspraaksaak moet gebruik word as ʼn geleentheid om te sê ons is uiteenlopende gemeenskappe en dit moet saamgevat word in ʼn vergelyk. Hy sê die vergelyk moet manifesteer in die wyse waarop die lied gebruik word. “Wat julle mag sing en wat julle nie mag sing nie en waar julle dit mag sing”. Malan sê daar moet toegewings gemaak word met die oog op ʼn vergelyk. “Te gelyke tyd ook ʼn vergelyk met die oog op om in die finale instansie die gedrag van al twee die partye teenoor mekaar te reguleer op die grondslag dat die gemeenskappe, in die besonder Afrikaners as ʼn minderheidsgemeenskap, nie doodeenvoudig opgaan in ʼn vaal, onaantreklike en uiteindelik dwingende Suid-Afrikaanse identiteit nie, maar dat Afrikaners se identiteit en se kultuur erken word. Ook dat ons dit so hanteer dat ons die klein bietjie mag wat ʼn minderheid behoort te hê kan kry om eventueel suksesvol te wees”.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae