Malema mis punt met Afrikaans

julius malema eff

Julius Malema, leier van die EFF, spreek sy ondersteuners buite die Israelse ambassade in Pretoria toe (2 November 2017). Foto: ANA/Jonisayi Maromo

Julius Malema het volgens koerantberigte in sy honneursskripsie ʼn pleidooi gelewer vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal. Hierin steun hy op Afrika-bevrydingsideoloë uit die 1960’s, soos die Keniaanse intellektueel Ali Mazrui, en die radikale Afrikanis Frantz Fanon. Enkele Afrikaanse joernaliste het hom met fluweelhandskoene behandel en op verskeie punte gelyk gegee.

Maar die waarheid is dat Malema groot denkfoute begaan, deur onder meer Mazrui se standpunte te “martel” totdat dit Malema se sienings ondersteun. Maar daar is ʼn ander kant van die saak, en Malema se mistastings spruit waarskynlik uit die selektiewe aanhaal van Mazrui. Die rede is baie eenvoudig: Malema wil Afrikaanse skole en universiteite koloniseer, onder dekmantel van “dekolonisasie”.  ʼn Mens hoef nie met al Mazrui se standpunte saam te stem om respek vir sy reuse-intellek te kry, en begrip te hê vir sy strewe om sy mense van koloniale onderdrukking te bevry nie.

Mazrui en moedertaal

Mazrui het juis voorspraak gemaak vir moedertaalonderrig. Hy het al in die 1960’s die teenstelling tussen die suksesvolle Japanse modernisering en die onsuksesvolle Afrika-pogings om te ontwikkel, duidelik uitgelig.

Mazrui het korrek uitgewys dat Japan se sukses te danke was aan hulle strategie om Westerse wetenskap en tegnologie oor te neem, maar nie die Westerse tale en kultuur nie. “Westerse wetenskap, Japanse gees” het die Japanners dit genoem. Al die ander Oosterse sukseslande het later hierdie resep gevolg. Daarteenoor het Afrika net die teenoorgestelde gedoen, sê Mazrui. Hulle het die Westerse tale en kultuur aangeneem, maar nie hul wetenskap en tegnologie nie.

Die gevolg hiervan is dat, benewens ’n klein elite van verwesterde Anglo-Afrikane, die massa nie ontwikkel het nie. Hulle kón nie ontwikkel nie, omdat die Westerse tale vir die massa prakties ’n onoorkomelike versperring tot die Westerse wetenskap en tegnologie was. Afrika staan steeds in die pad van sy eie ontwikkeling en sal eers uit die Japanse suksesresep moet leer voordat hy daarin sal slaag om te ontwikkel. Daar is wel ʼn groeiende getal Afrikalande wat uit die mislukkings van die Malema-tipe resepte van die vorige eeu geleer het, en begin het om hul moedertale te ontwikkel. Malema het egter in die 1960’s van die vorige eeu vasgesteek, en wil daardie foute herhaal.

Verkeerde lesse

Dit lyk of Mazrui soms moedeloos met sy mede-Afrikane geword het. ʼn Mens kan sy frustrasie aanvoel in sy stellings soos: “Afrika in sy geheel het die verkeerde dinge van die Weste oorgeneem – selfs die verkeerde dele van kapitalisme. Ons het die winsmotief oorgeneem, maar nie die ondernemingsgees nie. Ons het kapitalisme se materialisme geleen, maar nie die skeppende waagmoed nie.” Hy het ook gekla dat Afrika “verbruik wat hy nie produseer nie, en produseer wat hy nie verbruik nie”.

Gratis onderrig

Mazrui het wanhopig geraak oor die agteruitgang van eens uitnemende Afrika-instellings soos Uganda se Makarere-universiteit. Die rede vir hulle probleme ná onafhanklikheid was politieke inmenging en goedbedoelde beleidsrigtings soos gratis onderrig. Dit het gelei tot toenemende finansiële krisisse by hierdie universiteite, gevolg deur meer regeringsbeheer en minder akademiese vryheid en die ondermyning van universiteite se onafhanklikheid. Die einde was dat talle top-akademici die universiteite verlaat het.

Die hartseer is dat Mazrui weens politieke druk self landuit is en uiteindelik top-poste in die VSA beklee het. Hy is uiteindelik daar in 2014 dood.

Private universiteite

Tog bied Mazrui se idees hoop vir private Afrikaanse universiteite soos Akademia en beroepsopleidingskolleges soos Sol-Tech. Hy lê in sy lesings daarop klem dat die gemeenskap eers universiteite van die grond af moet help voordat die universiteite die gemeenskap kan ophelp. Hierdie gedagtes het oor die hele Afrika op vrugbare aarde geval, hoewel eerder op “private grond” as “staatsgrond”. Statistieke wys dat private universiteite in Afrika binne vyf jaar staatsuniversiteite verby gaan steek wat studentegetalle betref. Daarom is dit betekenisvol dat Akademia en Sol-Tech al meer ondersteuning vanuit die gemeenskap kry. Hierdie steun maak dit reeds vir hulle moontlik om saam jaarliks sowat 2 000 studente te help om hulself beter te bekwaam en sodoende lewenslank vir hulself te sorg. Die oplossing is dus nie “gratis” universiteite nie, omdat jy dan kry waarvoor jy betaal. Die antwoord lê in “vry” universiteite, wat baie vryer van die staat se swaar politieke hand is as openbare universiteite onder staatsbeheer.

Finale oordeel

Die finale oordeel oor die gevolge van bevrydingsideoloë, soos Fanon, is die tragiese platval van die meeste postkoloniale Afrikalande wat sy radikale idees in werking gestel het. Die sigbaarste teken van hierdie mislukking is juis die uitwyking van antikoloniale denkers soos Mazrui na Westerse lande. Die deurslaggewende belang van moedertaalonderrig kan gesien word in wêreldkaarte, waaruit ʼn regstreekse verband tussen moedertaalonderrig en ekonomiese sukses blyk.

Vir Malema om nou die lyke van gestorwe ideoloë soos Fanon uit te grawe en weer lewend te probeer verklaar, is om te dans op die grafte van diegene wat deur hul politiek van honger en verdrukking gesterf het. Daarby is dit opperste valsheid om sy huidige vete teen Afrikaans te probeer vergelyk met die Soweto-opstande van 1976. Waar die 1976-geslag gesê het “ons wíl nie in Afrikaans studeer nie”, skreeu Malema “julle mág nie in Afrikaans studeer nie”. Die eerste kreet was ʼn kreet om vryheid, die tweede ʼn kreet vir onderdrukking. Daarin lê die verskil. Malema wil nie minder Afrikaans op kampusse hoor nie, hy wil minder Afrikaners daar sien. Sy werklike agenda is ras van die sprekers, en nie hulle taal nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Veritas ·

Baie insiggewende artikel Flip maar jy mis jou lesersmark. Alhoewel die inligting, vervat in die artikel, stawend is van wat Afrikaners behoort te weet, moet hierdie inligting aan Malema se ondersteuners oorgedra word. Indien dit nie gedoen word nie, kan die artikel nie tot sy reg kom nie en blyk dit bloot om ‘n propaganda stuk vir die Afrikanerdom te wees wat Afrikaner gemoedere verder kan opjaag.

Lena Jonk ·

Stem 100% saam met jou Veritas, wat weet Malemma tog van die hede, hy lees maar net alles op en sit so bietjie sous by, vertaal dit dat hy dit duidelik kan sien. Afrikaans bo.

Flip Buys ·

Veritas, my artikel het eerstens ten doel om Afrikaanse lesers in te lig. Die belangrikste artikels word wel vertaal en verskyn gereeld in die Engelse media. Afrikaanse mense op skool beheerliggame ens het inligting nodig om die ‘Malema’ argumente van die Departement te beantwoord. Dis belangrik om die ander kant vd saak in Afrikaans te stel, omdat Malema selfs nie met Pedi artikels oortuig gaan word nie. Sy politieke loopbaan hang van sy haatpolitiek af. As ons net in Engels skryf om sy ondersteuners te bereik, trek ons ‘n streep deur Afrikaans. Albei lesersgroepe is belangrik. Afrikaans is immers meestal deur Afrikaanssprekendes se steun by universiteite afgeskaf.

Jerry ·

Baie goeie navorsing en n puik skrywe Flip. Geen van Malema se idees is oorspronklik nie. Alles is ou geykte Marxistiese Pan Afrikanistiese ideologie en propaganda en dit is juis as gevolg hiervan dat hy nie groot steun geniet nie. Die meerderheid Suid-Afrikaners soek vernuwing en hulle weet hulle gaan dit nie by Malema kry nie. Ek sou myself nie aan hom gesteur het soos om te reageer op sy uitlatings met betrekking tot Afrikaans as taal of enige van sy uitlatings nie, want sy idees en uitlatings kry net gestalte wanneer jy daarop reageer. Hy gebruik jou reaksie om sy idee te regverdig. Inteendeel dit is presies hoe Zuma en die Guptas ook te werk gaan. Skrywes en reaksie op genoemde anargiste moet maar liefs net tussen Afrikaners plaasvind. Fokus eerder op diegene wat Malema befonds en wat hulle daardeur wil bereik net soos daar nie op Zuma gefokus moet word nie, maar op die wat hom befonds. Ek sien daarna uit om jou skrywe te lees tov wie Malema befonds en die rede daarvoor. Wie weet, dalk is dit Zuma homself.

JC ·

Dankie Flip, dat jy hiermee die “Hoe Denker” Malema netjies op sy plek sit.
Ek het nuus vir Malema; sy tirade teen Afrikaans het VEELS te laat gekom; aangesien Afrikaans die vryhede sal geniet wat hy moet en kan met die verval van staatsinstansies en die oorweldiging en verswelging daarvan deur privaat universiteite; waar sy ideologiese gif nie raakplek sal kry nie.
Malema, dankie man ! Uit die diepte van my hart-jy gee Afrikaans sowaar deur jou haatgevuldheid die nodige skop onder die watsenaam wat dit nodig het !!!
Viva Afrikaans !!!

Disselboom ·

“Afrikaans bo!” dalk beter Afrikaans as “Viva Afrikaans”?

Ray ·

En so ry ons nogsteeds kolonialisering holrug. Kolonialisering was in elke geval nie ‘n konsep deur die Afrikaners gevestig nie, maar eerder deur die Britte (So klein eiland en heltemal te veel van hulle), so kom ons gaan vat oor. Malema het in elke geval geen idee wat hy wil he nie. In een van sy toesprake is hy life vir witmense (Ja Afrikaners ingesluit), in die volgende ene wil hy hulle taal ontneem. Maar nou ja, Julius, wat ontbreek kan nie getel word nie ne.

Eish ·

Ek is dankbaar vir die stukkie inligting wat perspektief verskaf oor die rooi honneurs student se skripsie en denke.
Dit verskaf baie agtergrond insake die pole waarop die verskillende bevolkingsgroepe hul bevind asook die hopeloosheid van n omkeer van die situasie. Logika word oorboord gegooi vir emosie wat met godsdienstige verafgoding nagevolg word.
Dit onderstreep weereens die hopeloosheid van ons situasie in die helhool en dat ons op eie stoom ons eie moet beskerm, bewaar en uitbou.
Ook, dat die grypsak vir haastige vertrek uit Sodom en Gomorra altyd gepak en byderhand moet wees, aangesien die situasie vir die blanke Afrikaansprekende die afgelope 23 jaar eksponensieël versleg het.
Dalk nie vir alger so n aangename gedagte nie, soos dit vir Lot se vrou ook nie was nie.

Pieter ·

Die universiteit moet verduidelik hoe hul vir die stuk propaganda ‘n honneursgraad kan toeken.

Theresa B ·

Ag hy mis die punt met alles man. Hy sien wat hy wil sien en hom goed laat lyk onder die ander klomp, maar bly teen sy eie ooglede vaskyk!

Ben Niemand ·

Alhoewel die hele meningstik baie interresant is, wys die laaste sin egter die ware motief uit.

jan_alleman ·

dis vreemd ek wil weer minder van hom en sy spesie sien , enige plek , wys jou nou net , ons het iets in gemeen , ons kan mekaar nie verdra nie , so daar is dus net een uitweg en laat ons dit nou vat en klaar kry

Jerry ·

Konflik is nie n uitweg nie, dit is nie eers die laaste uitweg nie Jan Alleman. Die Afrikaner is ontwapen, het nie n weermag of polisiemag nie. Ons is n klein groepie wat maar ons plek moet ken en maar nederig moet wees anders kan ons lelik pakslae kry. Ons skepper het vir ons elkeen n gesonde verstand gegee en wil graag he dat ons verstandig optree.

jan_alleman ·

dit is jou opinie , en jy is reg God het my n gesonde verstand gegee maar anders as vir jou het hy my n rugraat ook gegee

Kosie Kramer ·

jan_alleman: as analogie op Jerry se waarheid: die Amerikaners het in Vietnam ingestorm met vliegtuie, bomme, skepe en die vernietiging van woude. Die Vietnamese het Jerry se raad gevolg, en sielkundig geveg – en die geveg gewen. Die Asiers sal `n veldslag doelbewus verloor, indien dit die vyand so uitmergel, dat hulle die oorlog verloor.

Marthinus Willemse ·

Party mense glo dat kolonialisme die proses was waar beskawing na barbaarse lande geneem is. Kolonialisme was eintlik net die invoer van die jongste tegnologieë, aangesien daar reeds `n beskawing was. Die probleem is dat die kolonialis se kultuur saamgebring, en op die bevolking afgedwing, is. Sonder kolonialisme sou Julius nie Engels gepraat het nie. Ons Afrikaners is outogtone – oorspronklike bewoners van die land – ons het nie hierheen getrek nie, maar hier as volk ontwikkel; nes die Zoeloes, Xhosas, en ander. Afrikaans is dus `n inheemse taal, nes Zoeloe, Xhosa en ander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.