Mali en Sahel-streek: die Weste se volgende Afghanistan?

‘n Man kyk na koerantvoorblaaie oor Frankryk se onttrekking van sy militêre teenwoordigheid in die Sahel-streek. (Foto: ANNIE RISEMBERG/AFP)

Die Westerse militêre missie in Mali en die wyer Sahel-streek, insluitende Niger en Burkina Faso, was tot dusver in die skaduwee van die veel groter betrokkenheid in Afghanistan, wat onlangs tot ʼn einde gekom het.

Die missie in die Sahel-streek is onder Franse leiding met sowat 5 000 troepe, ondersteun deur sowat
1 000 Amerikaanse troepe asook 15 000 VN-troepe wat veral logistieke steun bied. Die doel is om die groeiende Islamitiese terreurnetwerke daar uit te roei en die streek te stabiliseer.

Die militêre betrokkenheid het in 2013 begin. Die jaar tevore is die noordelike deel van Mali deur ʼn alliansie van Islamiete en etniese Toeareg verower en, nadat die Islamiete die Toeareg opsy geskuif het, ʼn streng Islamitiese staat opgerig, vergelykbaar met die van die Taliban in Afghanistan. Die weermag van Mali was nie in staat om weerstand te bied nie en het Frankryk, die eertydse koloniale moondheid, om hulp gevra voor die hele land deur die Islamiete verower sou word.

Die militêre veldtog van Frankryk was ʼn dawerende sukses. Binne weke is die Islamitiese bewind in Noord-Mali verslaan, met minimale verliese aan die kant van Frankryk. Frankryk het die meeste van sy troepe later onttrek en ’n VN-missie het die beheer oor veiligheid in die Noorde oorgeneem. ʼn Verkiesing is gehou en die land is geleidelik gestabiliseer. Daarvoor was vrede met die Toeareg, die etniese minderheid wat die noordelike dele van die land bevolk en na ʼn eie staat genaamd Azawad streef, van uiterste belang. Sporadiese opstande van die Toeareg het voorgekom, maar in Junie 2015 is vrede met hulle gesluit en het hulle outonomie in hulle streek en amnestie ontvang. Om die Toeareg as bondgenote teen die Islamiete te wen was ʼn belangrike stap tot stabiliteit.

Ongelukkig het die vloek van Afrika weer toegeslaan: Te veel uiteenlopende belange en groepe en ʼn oneffektiewe, korrupte regering met ʼn gebrek aan legitimiteit het die aanvanklike suksesse laat vervaag. Sodra die internasionale magte begin onttrek het en beheer aan die veiligheidsmagte van Mali oorgegee het, het die bekende patroon van swak bestuur, korrupsie en die afskeep van die plattelandse dele ten gunste van die hoofstad weer verskyn. Daardeur kon die Islamiete, wat die ontevredenheid van die plaaslike bevolking misbruik het, weer veld wen. Meer en meer terreurdade teen veiligheidsmagte en burgerlikes het plaasgevind. Die onlangse staatsgreep teen die regering van Mali het tot verdere onstabiliteit en ʼn gebrek aan legitimiteit bygedra.

Die internasionale magte kan en wil nie oor ʼn lang termyn in ʼn land bly nie weens die hoë koste en sensitiwiteit vir beskuldigings van imperialisme. Die magte moet ook met die regering van ʼn land saamwerk wat dikwels ’n onbetroubare vennoot is. Ontwikkelingshulp verdwyn of word wanaangewend, veiligheidsmagte wat opgelei word stel meer in hulle eie magsposisie of etniese identiteit as in dié van die land as geheel belang, en word daar waar hulle wel teenwoordig is as besetters ervaar. Waar die veiligheidsmagte afwesig is, neem plaaslike bendes – selfs Islamiete – hulle plek in. Meer nog, die Islamiete is dikwels in die plaaslike strukture ingeweef en word as leiers aanvaar.

Dit is die bekende patroon wat ’n mens ook van Afghanistan of Irak ken: Internasionale magte, gewoonlik onder Westerse beheer, is baie effektief om die Islamitiese bewind te verwyder (soos die Taliban of die Islamitiese staat), maar sukkel om die terrorisme wat dan volg doeltreffend te beveg. Die bevolking is wankelrig en maklik opsweepbaar teen die Westerse teenwoordigheid. Die regering verteenwoordig dikwels net ʼn spesifieke etniese of godsdienstige groep en het buite die hoofstad geen doeltreffende beheer of legitimiteit nie. Die nasionale veiligheidsmagte is ten spyte van massiewe internasionale ondersteuning en opleiding ondoeltreffend en verkrummel onder die hernude aanslag van fanatieke Islamitiese vegters.

Is daar ʼn alternatief? Daar was nog geen suksesvolle langtermynresep teen staatsverval en terrorisme as dit nie uit ʼn land en volk sélf gekom het nie. Waar die Weste onttrek het, het dinge in meeste gevalle net vererger. Ten minste kon die front van die Weste deur middel van die internasionale stryd teen terreur self na die lande van oorsprong teruggeskuif word. Groot terreurdade – soos die aanslag op die Twin Towers in New York, die Bataclan-teater in Parys en die moltrein in Madrid – kom gelukkig nie meer die afgelope jare in die Weste voor nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Sebastiaan Biehl, altyd interessant!
Die chaotiese onttrekking uit Afghanistan deur die Biden-administrasie, met die gruwelike nagevolge daarvan, behoort ‘Die Weste’ se swanesang met ingryping en inmenging in ander kulture te wees.
Om die waarheid te sê, die redes vir ingryping oortuig lankal nie meer nie.
Westerse lande kan gerus eerder hul eie gehawende, lamsakkige beeld probeer herstel.