Mandelajaar en die ANC se nasiebouresep

Adj.pres. Cyril Ramaphosa by die Nelson Mandela-eeufeesvieringe in Februarie 2018. Foto: ANA

Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. In die lig hiervan het die ANC 2018 as die jaar van Nelson Mandela verklaar met die klem op eenheid, vernuwing en werkskepping.

Is daar samewerking en eenheid in Suid-Afrika? Eenheid nie net binne die ANC nie, maar ook tussen die mense en gemeenskappe van Suid-Afrika?

Suid-Afrika is, volgens my, nou meer verdeeld as enige tyd sedert 1994. Die nasiebouresep van die ANC het duidelik nie geslaag nie.

Nasiebou en samewerking kan nie met wette of dreigemente op mense afgeforseer word nie. Mense neem vrywillig daaraan deel of onttrek as hulle bedreig of onwelkom voel.

Hoe het ons in hierdie situasie gekom waar steeds meer mense vervreemd en ontnugter voel?

Hoe vergelyk Mandela se Suid-Afrika van 1994 met Zuma se Suid-Afrika van 2018?

Afrika-kolonies het ná hul onafhanklikheid in die jare sestig en sewentig skielik gesit met baie verskillende volke, stamme en tale binne die koloniale grense wat hulle geërf het.

Hoe voeg jy hierdie groepe saam tot een nasie, was die vraag.

Die enigste gemeenskaplike faktor tussen die verskillende groepe was hul stryd teen die Britte, Franse of Portugese wat vir dekades oor hulle geregeer het. Die maklikste manier om eenheid te verkry, was om die verskillende groepe op te sweep teen die koloniale base. Dit het die koloniale base nie geraak nie, want hulle was nou veilig terug in Europa. Met die Britte of Franse of Portugese as sondebok, het hierdie nasiebouresep verskillende groepe tydelik verenig.

Oudpresident Nelson Mandela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nelson Mandela

Nelson Mandela het besef dat hierdie resep nie in Suid-Afrika kan werk nie. Die wittes en veral die Afrikaners is nie weg nie en gaan ná 1994 steeds hier wees. Hy skryf:

“Deur die geskiedenis was daar nog altyd ‘n diepe besorgdheid oor die kwessie van minderheidsregte wat dikwels gelei het tot skielike en gewelddadige onmin. Vandag het ons byna drie miljoen Afrikaners wat ná bevryding nie langer onderdrukkers gaan wees nie, maar ‘n magtige minderheid gewone burgers wie se samewerking en goedgesindheid nodig gaan wees vir die heropbou van die land.” (Rapport, 27/05/01, p.16)

Met hierdie uitgangspunt reik Mandela na 1994 uit na Afrikaners. Die Springbokrugbytrui wat hy dra by die Wêreldbeker asook die besoek aan mev. Verwoerd is voorbeelde hiervan.

Nou wat het dan verander?

Het Afrikaners hierdie hand van vriendskap weggeklap – of is die ANC skuldig?

Die ANC is skuldig deurdat Mandela se opvolgers geleidelik van sy benadering af wegbeweeg het en die anti-koloniale resep van ander Afrikastate begin na-aap het.

Oudpres. Thabo Mbeki. (Argieffoto.)

Thabo Mbeki

Thabo Mbeki het met sy uitsprake die eerste tree gegee om Mandela se versoeningsatmosfeer te verander. Mbeki het Suid-Afrika beskryf as ’n land wat in twee nasies verdeel is. Ryk wittes en arm swartes. Dit was ’n totale oorvereenvoudiging van die werklikheid. Anders as Mandela wat eenheid beklemtoon het, het sulke uitsprake mense verdeel.

Mbeki verwys na die wittes en Afrikaners as “settlers” en “colonials of a special kind”. Daardeur is wittes en Afrikaners as buitestanders geklassifiseer. Buitestanders wat hier in Afrika net geduld word.

Ek is ’n Afrikaner en ’n Suid-Afrikaner wat deel is van die kontinent Afrika. My voorvaders het in 1680 na Suid-Afrika gekom. My familie is langer in Suid-Afrika as enige Australiër en die meeste Amerikaners. Ek is nie ’n buitestander nie.

Mbeki se “settlers”-benadering is opgevolg met verskeie regstellende- en swart bemagtigingswette. Wetgewing waarin rasseklassifikasie soos in die tydperk voor 1994 deur die ANC teruggebring is.

Die ANC se kritiek voor 1994 teen die begrippe blankes en nieblankes was dat dit almal wat nie wit was nie, uitgeskuif het na die randgebied van die samelewing. Tog doen Mbeki presies dieselfde.

Skielik moet Suid-Afrikaners op aansoekvorms en amptelike dokumente hul ras aandui – of jy African, White, Coloured of Asian is. Hierdeur word wittes, bruines en Indiërs almal geklassifiseer as “nie-Afrikane” en uitgeskuif. Hulle is nou “settlers of a special kind” met minder aansprake as die Afrikane.

Met hierdie tipe indeling word appels met pere vergelyk – kontinente met kleure. Of jy gebruik die kontinente Afrika, Europa en Asië vir ’n indeling — waar ek as Afrikaner “Afrikaan” op die vorm invul, aangesien ek geen ander kontinent as tuiste het nie.

Indien kleur gebruik word (swart, wit of bruin) word ek geforseer om “wit” in te vul.

Dit is ’n ou politieke tegniek om ’n sondebok te kry wat vir die probleme blameer kan word wanneer ’n regering misluk. So het Hitler die Jode en Mugabe die wit boere gebruik.

Soos Mbeki en die ANC foute gemaak en begin misluk het, is die wittes en die Afrikaners al hoe meer die sondebok.

Jacob Zuma (Foto: ANA)

Jacob Zuma

In die Zuma-era is hierdie verdelende resep verder gevoer. Hoe meer Zuma misluk het, hoe meer het hy die wittes en die Afrikaners daarvoor blameer. Waar Mbeki dit nog akademies sagter probeer verpak het met sy begrippe van “colonials of a special kind” was Zuma meer blatant.

Volgens hom is alle grond gesteel deur die wittes. Weereens ’n totale oorvereenvoudiging van ’n baie ingewikkelder verlede as dit. Hiermee skuif hy alle wittes en Afrikaners verder uit en verklaar hulle eintlik as ’n geregverdigde teiken.

In Januarie 2015 argumenteer hy verder dat Afrika geen konflik of probleme gehad het nie totdat Jan van Riebeeck hier aangekom het. Dat sy stelling histories en feitelik verkeerd is, pla hom en sy volgelinge min. Van Riebeeck is hier ’n simbool en metafoor vir alle wittes en Afrikaners.

Mbeki en Malema. Foto: EFF

Julius Malema

As ANC jeugleier word Julius Malema op die politieke dieet van “Afrikane” teenoor “nie-Afrikane” grootgemaak. Hoewel hy teen Zuma draai, huiwer hy nie om nóg meer kru die Mbeki- en Zuma-temas voort te dra nie.

In November 2016 sê Malema die volgende oor wittes: “We are not calling for the slaughter of white people‚ at least for now.” Hy verduidelik ook dat wittes net besoekers is en dat besoekers hulle moet gedra.

In dieselfde trant is die onlangse EFF-debat in die parlement oor die onteiening van grond sonder vergoeding gehou. Dit was een van die mees rassistiese debatte wat ek nog na moes luister in die parlement.

Pres. Ramaphosa spreek die skare op Vryheidsdagvieringe toe. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Cyril Ramaphosa

Die groot vraag is of Ramaphosa hierdie geleidelike wegbeweeg van die Mandela-resep deur sy voorgangers kan omkeer?

Die meerderheid wittes kan nie die land verlaat nie en sal oor 50 jaar nog hier wees. As die patroon (soos hierbo aangedui) van Mbeki na Zuma en tot by Malema voortgesit word, stuur ons onafwendbaar op ’n konflik af.

As die patroon verander word, is die potensiaal groot om gesamentlik van Suid-Afrika ’n beter plek te maak met ook ’n plek in die son vir my as Afrikaner in Afrika.

In sy eerste toesprake het Ramaphosa telkens ’n gedeelte in Afrikaans gepraat. Dit was nie nodig nie en kan as ’n uitreik gesien word. Dit het laas in die Mandela-tyd gebeur. Is dit die gryp na ’n strooihalm as na die uitsprake van ander huidige ANC-leiers soos byvoorbeeld Panyaza Lesufi geluister word?

Gaan die Lesufi’s toegelaat word om voort te gaan met hul vendetta teen Afrikaans? Ná die Soweto-onluste van 1976 skryf Mandela:

“Selfs al praat net Afrikaners die taal, sou dit steeds onwys wees om daarmee weg te doen. Dit is die inherente reg van elke groep mense om sy taal sonder beperking te gebruik.

“Die afskaffing van Afrikaans sal nie net uit pas wees met die progressiewe ontwikkelinge in die verligte wêreld nie, maar sal ook ‘n uitnodiging wees vir eindelose onvrede.” (Uit Reflections in Prison deur Maharaj)

Ramaphosa en die ANC het 2018 as die jaar van Nelson Mandela verklaar met die klem op eenheid, vernuwing en werkskepping. Hy kan my nie verkwalik dat ek skepties is of die ANC dit kan bereik en of hulle hul retoriek sal kan verander nie. Wat ek wel weet, is dat dit in die beste belang van Ramaphosa en almal in Suid-Afrika is, dat dit wel gebeur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Peet van Breda ·

Die mees realistiese sienning nog. Die grooetste struikelblok bly leuns…..bedrog en haat. As jy in die verlede leef sal jy in die toekoms sterf. Suid Afrika is op die rand van n afgrond gebring deur Zuma en Cyril gaan n tree voretoe gee wat sal lei na ongekende dieptes.

Paul ·

Ongeag, maar dan het hy die week in die parlement gesê:

“Message for white South Africans: “We should accept what had happened in the past where a particular racial group reaped the benefits, economic and other. They must own up and say, ‘therefore we have a responsibility to contribute so that we can build a new nation from the ashes of apartheid’.”

So waar laat DIT ons nog steeds?

En sy dryf na grondgryp?

Jerry ·

Ek weet en so weet u ook dat die oplossing vir Afrikaner uitdagings nou meer as ooit in ons as Afrikaners se eie hande is. Ons stem saam dat CR is die regte leier, nie net vir die ANC nie, maar vir SA en die se uitdagings. Ons weet ook dat die uitreik van n hand van vriendskap vir versoening en samewerking, ons in n beter posisie sal plaas mbt die beskerming van belange en beveiliging van ons mense. Ten spyte van jou skrywe en ten spyte daarvan dat ons al hierdie dinge weet en ook daaroor sal saamstem, hou ons egter steeds aan om die kans om die uitdagings vreedsaam en met sukses op te los, te ondermyn deur onversoenende standpunte, uitsprake, inisiatiewe en optredes. Het dit nie dalk nou meer as ooit tevore tyd geraak dat ons as Afrikaners moet herbesin mbt die huidige Afrikaner leierskap se politieke agenda en ondermynende emosionele intensies ten einde met nugterheid ernstig te herbeding vir ons plekkie in die Afrika son. Die huidige Afrikaners se nageslag gaan tog die wees wat die prys betaal vir hoofamptenare wat toegelaat word om oorkombare struikelblokke voor te hou as onoorkombare uitdagings. Ons moet ook ander groepe ophou blameer vir byvoorbeeld plaasmoorde, wanneer ons onsself gefaal het met beveiliging en om ons leefwyse volgens situasie aan te pas. Die Afrikaner moet in die spieel kyk en daadwerklik regruk wat reggeruk kan word, ter wille van die wat lewe en die wat nog moet lewe in SA.

Eish ·

Sonder om enigsins afbreek te doen aan n puik, korrekte en perspektiefskeppende artikel, begin ek al hoe meer dink dat Jerry tog n punt beet het.
Diegene wat tot dusver die grootste prys vir restitusie betaal het uit Afrikanergeledere, is gewone mense soos ek. 600 000 verarmdes van ons om presies te wees met n aanwas van 7500 per jaar. Ge BEE en geblok. Dis ook diegene wat nie n hoop op emigrasie het nie. Die vermoëndes, daarenteen, kon tot dusver die kruisvuur vermy deur juis hul bates daartoe te mobiliseer. Die spreekbuise namens ons, daarenteen, skrywer ingesluit, praat nie uit n situasie van desperaatheid soos deur die anderhalfmiljoen van ons beleef nie. Met ander woorde, brood en botter oorlewingskwessies word nie so deur diegene( Meningsvormers, sprekers, leiers en vooraanstaandes) beleef as die weerloses nie. Ek ontken glad nie nie die totale ineenstorting van strukture die afgelope 24 jaar nie.
Maar…
Here lies the body of William Jay,
who died maintaining his right of way.
He was right, dead right as he sped along,
but he is just as dead as if he was wrong.

geWaagd ·

Ons kan natuurlik soos ons geBEE, geBlok, geKwota terugslaan deur eenvoudig net nie aan die verkiesing deel te neem nie. Wat help dit as ons net 2% van die stem persentasie is. Soos dit vir my nou lyk behoort die ANC sy steun terug te wen van die DA en EFF met CR aan die stuur. So kwoalisie met minderheidspartye speel dan net nie so groot rol nie. As ons nie aan die verkiesing deelneem nie is die verkiesing en so ook die demokrasie nie meer geloofwaardig nie. Ons rede is dat ons geBEE, geBlok, geKwota, geDood word deur die meerderheid. Die wereld begin alreeds S.A met ander oe dophou.

Casper Labuschagne ·

@Jerry, as jy dink dat die grondhonger van 40 miljoen swartmense gestuit sal word, iewers tussen die punt waar die eerste wit eiendom afgevat is en voordat die telling vir onteiening by 30,000 wit plaasboere en 700,000 wit huiseienaars uitkom, dan is jy korrek en ek is verkeerd.

Ongelukkig is die einde reeds hier vir Suid Afrika want sonder eiendomsreg is SA verlore en onteiening sal alle eiendomsregte uitkanselleer. Dit laat drie opsies vir die wit minderheid, Veg, Vlug of Verdwyn. Verdwyn is waar nuut verarmde grondlose wittes noodwendig by die swart meerderheid moet assimileer en die tale en kultuur van die meerderheid sal aanneem sonder ‘n eie taal, kultuur en identiteit wat konflik sal veroorsaak.

Johan Strydom ·

Ons stem beslis nie saam dat CR die regte leier vir SA is nie.

V ·

‘n Mens kan verstaan dat CR die volgende verkiesing wil wen en die kwessie rondom grondhervorming sonder vergoeding omhels, om so doende die eff te pooitjie… Maar…, het CR werklik gaan sit en bereken wat die gevolge sou wees as hy die lont van anargie (eff beleid) aan die brand sou steek? Besin hy werklik daaroor, dat hy miskien nie by magte sal kan wees om dit effektief te kan beheer of stuit as die tyd daar is nie? Of is hierdie hele kwessie, nie maar net ‘n plan soos uitgestippel in CR se “25year plan”, om alle witmense uit die land te verdryf nie, en hy is die instrument? CR het vir my rêdig nie MEER duidelikheid oor die grond debat gister gebring nie.

Liberaal ·

Die ou liberale agenda het diversiteit goedgepraat, die nuwe liberale agenda wil diversiteit vergruis, slegs een taal, een wereldsiening. Die liberales se meesters sal vir jou via die massamedia se wat om te dink, watter taal om te praat, en wat om te glo.

John ·

Die ANC speel dieselfde speletjie soos voor 1994 en hoop op dieselfde uitkoms. Weer wil die witmense in 2 verdeel word nl die’ wat weer wil glo dat dinge tog beter sal gaan as ons alles vir hulle gee…. alles. Dan sal die witmense hier verduur word teenoor diegene wat anders dink. Hierdie praatjies sonder om te doen, moet diep insink en die witmense ontsenu tot breekpunt totdat boere teen mekaar opstaan en mekaar se grond weg wens selfs teen mekaar getuig as sou dit ‘ander’ toekom. Volkstweedrag kom ook in Israel voor, vandaar dat die SA-model skielik so as voorbeeld moet dien. Vrede, vrede, vrede… gee net alles weg want dis die regte ding om te doen en dan is ons 1. Dit is die gruwel wat wag… hier… broer teen broer…

Eersteskla en net eersteklas Burger Bosvark ·

Suid-Afrikaners MOET saamstaan in hierdie onsekere hoogs mededingende wêreldorde om enigsins ekonomies wêreldkompeterend te kan wees. Dit beteken dat ALLE Suid-Afrikaners onverwyld as gelykes behandel moet word as eersteklas burgers.

Marthinus Willemse ·

Ek bly in die suide van Johannesburg; meeste weet van Rosettenville. Ons blankes se probleem hier, is dat `n ziljoen Nigeriërs, Zimbabwiërs, Zambiërs, Kameroeners, en ander die houding het dat Afrika slegs vir die swartman bedoel is. Hulle val ons verbaal aan omdat ons wittes glo elkeen `n plaas het, en fabelagtig ryk is. Volgens hulle het blankes geen reg om `n besigheid te begin nie; net swartmense mag `n besigheid hê.

Maar, omdat hierdie mense swart is (voeg daarby Pakistanis), word hulle beskou as “swart Suid-Afrikaners”; hulle trou met plaaslike vroue en kry dan die reg om aandele in Sasol, Eskom, ens te koop. Hulle kry regeringskontrakte, of “hijack” geboue en eiendom. Hierdie buitelanders word ryk, terwyl plaaslike swartmense en wittes benadeel word. Dit is een van die redes vir die xenofobiese geweld wat kort-kort losbars.

En wat doen die regering? Die minister van toerisme maak `n tak in Nigerië oop om meer hiernatoe te lok!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.