Margaret Thatcher, vakbonde en Suid-Afrika

Margaret Thatcher

Margaret Thatcher

1. Inleiding

“Wat sou Margaret Thatcher in SA verander het as sy vandag president van die land was,” vra ’n joernalis my ná Thatcher se onlangse dood.

“Margaret Thatcher sou SA ekonomies gered het as sy nou president van Suid-Afrika was,” het ek geantwoord. “Ons kort meer van haar beleidsrigtings in Suid-Afrika en minder van die SAKP en ANC se sosialistiese beleidsrigtings – asook die afskud van die wurggreep van vakbonde soos Cosatu,” het ek bygevoeg.

2. Moet SA dan gered word?

Ja, beslis. Net een syfer: Die 45 lande in sub-Sahara Afrika kan Asië vanjaar verbysteek as die vinnigste groeiende streek in die wêreld, volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Die IMF voorspel ’n gemiddelde groeikoers van 5,6% vir vanjaar en 6,1% volgende jaar vir die streek.

In hierdie suksesstorie is Suid-Afrika die uitsondering. Met ’n verwagte groei van net 2,8% vanjaar hou ons die hele streek tans terug.

Waar die mynwese oral in die wêreld met 5% en meer groei, gebeur dieselfde nie in Suid-Afrika nie. Die regering sukkel vir die eerste keer sedert 1994 om sy begroting te laat klop vanweë miljarde rand minder belasting wat mynmaatskappye betaal het.

Te midde van hierdie probleme staak die een vakbond ná die ander. Hulle vra vir tot 18% en hoër salarisverhogings. Dit terwyl inflasie ongeveer 6% is.

Die gevolg? Miljoene mense sit sonder werk en met geen salaris nie. ’n Klein hoeveelheid het wel werk, maar ’n uitermate hoë salaris. Meeste van hierdie hoë salarisse hou nie verband met die werker se produktiwiteit en vaardighede nie. Kompetisie met buitelandse maatskappye word dan onmoontlik.

3. Hoe het ons ekonomie so skeef getrek gekom?

Verskeie redes het dit veroorsaak. Een van die belangrikste redes is dat sekere vakbonde te veel mag het. Dit is weer die gevolg van ’n regering wat agteroor gebuig het om vakbonde, by name Cosatu, om politieke redes ter wille te wees.

Ons het arbeidswetgewing wat Cosatu bevoordeel en ander vakbonde in ’n swakker posisie in te dwing. Die gevolg was dat Marikana en al die stakings ná die Marikana-staking onbeskermde stakings was. Dit beteken dat die reëls wat die Wet op Arbeidsverhoudinge voorskryf, geïgnoreer is. In só ’n geval kan die werkgewer tugstappe instel en ná ’n waarskuwing die werkers afdank. Waar werkgewers sulke werkers wel afgedank het, is hulle later gedwing om hulle weer aan te stel en het die werkers met hul onwettige staking geslaag om verhogings te beding.

Dit skep chaos op die arbeidsterrein vir die toekoms. Om watter rede moet enige werkgewer of werker in die toekoms hom/haar ooit weer steur aan dié wetgewing?

4. Wat het mevrou Thatcher daarmee te doen?

In die sewentigerjare van die vorige eeu het vakbonde in Brittanje soveel mag gehad dat ’n steenkoolmynstaking in 1974 premier Heath se regering tot ’n val gebring het. Vir lang tydperke in die winter was dele van Brittanje donker sonder krag en hitte as gevolg van die steenkooltekorte. Die res van daardie dekade is die Britse ekonomie op sy knieë gebring deur verdere onverantwoordelike stakings. Die tydperk is beskryf as “The Winter of discontent”.

Toe mev. Tatcher in 1979 aan bewind gekom het, het sy haarself verbind om die mag van die vakbonde te verminder. “Hulle ondermyn ons parlementêre demokrasie en vernietig ons ekonomiese vermoë,” het sy gesê. Sy was verder’n voorstander van ’n meer buigbare arbeidsmark, die privatisering van staatsmaatskappye en minder beperkinge op die ekonomie ten einde groei te stimuleer.

In die geheim het sy vir die stryd teen die vakbonde voorberei deur steenkool op te pot en van die kragsentrales na olieverbranding oor te skakel. Alternatiewe vragmotor-vervoerreëlings vir die vervoer van steenkool is getref ingeval die spoorwegwerkers uit simpatie met steenkoolwerkers sou weier om steenkool te vervoer. Die polisie het spesiale opleiding gekry om gewelddadige stakings te kan hanteer.

Arbeidswette is verander om vakbonde te dwing om ’n algemene geheime stemming voor ’n staking te hou. Selfs welsynswette is aangepas sodat stakers nie op welsynshulp van die staat kan staatmaak tydens ’n staking nie.

Soos haar beleidsrigtings in werking gestel is, het dit heftige reaksie uitgelok met dreigemente van landswye stakings. Daar was ook druk binne haar eie party vir toegewings. By die party se 1980 kongres sê sy: “You turn if you want to. The lady’s not for turning.”

5. Landwye stakings

In 1984 het Arthur Scargill, president van NUM (National Union of Mineworkers), ’n algemene staking aangekondig om Thatcher ’n les te leer soos hulle Heath voor haar ’n les geleer het. Omdat Scargill nie voor die aankondiging van ’n staking ’n algemene stemming onder vakbondlede gehou het nie, verklaar Thatcher die staking onwettig.

In die hofsaak wat volg verloor Scargill en word NUM met £200 000 beboet. Toe NUM weier om te betaal, is op hulle eiendom beslag gelê. Dit stuit nie die stakers nie en met buitelandse hulp, soos ook by Marikana gebeur het, staak hulle maand vir maand voort.

Die stakings gaan gepaard met baie geweld en intimidasie. Die polisie het hul hande vol. Meer as 11 000 mense word in hegtenis geneem vir geweld en omdat hulle ander geïntimideer het. Scargill beskryf Thatcher as “erger as ’n Latyns Amerikaanse diktator”.

6. Gevolge

Aanvanklik het werkloosheid en wanorde toegeneem. Dit lei daartoe dat 364 vooraanstaande ekonome in ’n gesamentlike verklaring Thatcher kritiseer en druk op haar plaas om ’n ander rigting in te slaan. Ook binne haar party het bekommerde konserwatiewe lede haar begin kritiseer. Op ’n tydstip het mev. Thatcher se gewildheid tot 23% gedaal – die laagste van alle vorige eerste minister. Haar standpunt was egter deurgaans: “The lady’s not for turning.”

’n Jaar nadat die staking begin het, is Scargill verplig om ’n nederlaag te erken en die stakings te beëindig. Armoede en die ontevredenheid onder sy eie vakbondlede het hom daartoe gedwing. Vakbonde sou nooit weer hierna dieselfde mag in Brittanje hê nie.

Toe Thatcher in 1979 eerste minister geword het, was daar in Brittanje 4 583 stakings en is 29 miljoen werksdae verloor. Tydens haar termyn het hierdie stakings deurlopend gedaal tot 630 in 1990 met minder as 2 miljoen werksdae wat verloor is. Inflasie in Brittanje het gedaal van 18% na 8,6%. Teen 1987 het werkloosheid gedaal en was die ekonomie stabiel en sterk. Die laer inflasie het gemaak dat Britse maatskappye met hoër produktiwiteit weer in Europa kon begin meeding. In hierdie jaar is Thatcher vir ’n derde termyn as Eerste Minister herkies. ’n Prestasie wat geen ander eerste minister in die twintigste eeu kon herhaal nie.

7. En Suid-Afrika?

Daar is enkele lesse wat ons uit die gebeure in Brittanje en Thatcher se optrede kan leer:

– Marikana en die stakings daarna het die geloofwaardigheid van die stelsel van kollektiewe bedinging in Suid-Afrika ernstig in die gedrang gebring. Dit is tyd dat ons arbeidswetgewing hersien word om ’n herhaling van dieselfde gebeure te voorkom. Daar moet meer balans kom tussen die regte van werkgewers en die regte van werknemers. Meer buigbaarheid is ook nodig om werkloosheid te verminder.

– Die ANC regering moet die onnatuurlike houvas wat Cosatu-vakbonde op die ANC het, soos nou weer in onderwys gesien is, verbreek in belang van die meerderheid van Suid-Afrika se mense.

– As ’n gestremde persoon of ’n arm kind om ekonomiese redes bevoordeel word, is dit aanvaarbaar as regstelling. As ras 19 jaar ná 1994 egter steeds as enigste kriterium vir regstelling en ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika gebruik word, vernietig dit die grondwet van 1994 se drome van geen diskriminasie op grond van ras, geloof, geslag of taal nie. Regstelling van hierdie rasse-verkeerdstelling is nodig.

– ’n Beter opgeleide polisiemag om gebeure soos Marikana en ander geweldstakings te hanteer, is nodig. Dit sluit ook ’n ANC-regering in wat sterk genoeg is om rug styf te maak teen stakers en die land se wette af te dwing.

8. Slot

Die ANC sal moeilik self hierdie veranderinge aanbring. Uiteindelik in die toekoms sal die ANC by ’n verkiesing minder as 50% kry. Dit sal nie deur een politieke party reggekry word nie, maar deur ’n alliansie van opposisiepartye wat elkeen die maksimum stemme uit sy betrokke nismark kry. As hierdie partye ná ’n verkiesing verstandig saamwerk, sal die ANC in opposisie gehou word en kan van bogenoemde stappe in belang van Suid-Afrika in werking gestel word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae