Mark wél in staat om beter diens te lewer as regering

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Dit word wêreldwyd aanvaar dat sekere goedere, sogenaamde openbare goedere, net deur die openbare sektor met regerings aan die stuur verskaf kan word. Die gedagte is dat dinge soos water, elektrisiteit, paaie, howe, opvoeding en verdediging om bepaalde redes slegs tot ’n voldoende mate deur regerings gelewer kan word.

Die markekonomie, of so redeneer ekonome in die openbare goedere-skool, sal te min van hierdie goedere en dienste produseer. Daarom moet regerings in die bres tree, mense belas, en met daardie belastinggeld openbare infrastruktuur ontwikkel.

Suid-Afrika se bedeling het duidelik by hierdie gedagte ingekoop. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat dit, in die eerste instansie, die Suid-Afrikaanse regering se verantwoordelikheid is om talle goedere aan die publiek te verskaf. Polisiëring, opvoeding en water- en elektrisiteitsvoorsiening is voorbeelde hiervan.

Lugrederye is tipies ook so hanteer – in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Genadiglik het meeste state uiteindelik van volkome staatseienaarskap afgesien, maar die SAL is ’n lewende fossielverslag van hierdie tyd.

Hierdie idees is natuurlik besonder goed gevestig – soveel so dat mense taamlik moeilik sluk aan die idee dat die mark óók daartoe in staat is om hierdie dienste te bied. Selfs in Suid-Afrika, waar ons deur alte duur lesse reeds geleer het hoe onbetroubaar regeringsdienste kan wees, is daar steeds ’n gebrek aan vertroue ten opsigte van private paaie, private opvoeding en, ja, private elektrisiteit.

Tog sien ons voorbeelde in Suid-Afrika waar die mark begin het om dienste, selfs klassieke dienste wat voorheen by die staat berus het, te privatiseer. Daar is tans meer private sekuriteitswagte in Suid-Afrika as wat daar lede van die polisiediens is. Private arbitrasie is ’n reeds gevestigde praktyk wat in ’n mate met howe kan meeding. Private onderrig is ook gevestig en gaan bes moontlik net verder toeneem.

Dan is daar lugvaart, wat – aanvanklik – ook gesien is as ’n openbare diens wat deur regerings gelewer sou moes word.

Die gevolg, in Suid-Afrika se geval, is dat ons ’n besondere spanning merk in SAL.

Enersyds poog die SAL om as volwaardige besigheid op te tree, maar andersyds klou dit vas aan oorblyfsels van ’n openbare goedere-benadering. So maak die maatskappy, byvoorbeeld, gereeld melding van sy “openbare mandaat” as regverdiging vir sy voortbestaan te midde van swak finansiële prestasie. Hierdie fundamentele teenstrydigheid in die SAL het waarskynlik ’n rol gespeel om sy omkeer te verhoed.

In die verlede is telefoonlyne (kommunikasie) ook as openbare goedere benader. Die idee dat regerings kommunikasiedienste moet voorsien, was ook sterk gevestig. Dit was die geval gewees totdat nuwe tegnologie – soos selfone – nuwe markmededinging tot stand gebring het. Die nuwe mark het, as’t ware, oor die gevestigde beperkinge van die ou staatsgereguleerde mark gehop en ou regeringsmonopolieë ongedaan gemaak.

So ook is die elektrisiteitsmark besig om ’n privaat sektor-rewolusie te ondergaan. Dit raak by die dag makliker om van die elektrisiteitsnetwerk te ontkoppel. Batterye soos die Tesla Powerwall en huishoudelike sonkrag is besig om Eskom se monopolie en ’n gesentraliseerde kragnetwerk al hoe meer uit te daag. Sulke tegnologie maak kragverbruikers meer pryssensitief en Eskom staan al ’n geruime tyd voor ’n toenemende uitdaging wat ekonome ’n groter vraag-elastisiteit noem.

Sulke voorbeelde wys daarop dat markte tóg kan toetree tot gebiede wat vantevore deur die staat vir openbare goedere afgebaken is.

Dit is nie die doel van hierdie stuk om alle argumente vir openbare goedere te weerlê nie. Ons reken bloot dat sakelui, individue en gemeenskappe, in vrywillige markte, waarskynlik heelwat verder kan gaan om alternatiewe mededingende gemeenskapsinfrastruktuur en -dienste te skep in areas wat vantevore as openbare goedere en dienste beskou is.

Sekere soorte openbare infrastruktuur – soos die daarstel van nasionale paaie – is natuurlik meer kompleks. Tog sien ons heelwat volgehoue wanfunksionaliteit by regerings se lewering van hierdie dienste. Mededinging in sulke areas behoort minstens moontlik gemaak te word deur uitsluitlike statutêre voorregte vir openbare diensverskaffers te verwyder. Eskom hoef mos nie die enigste kragvoorsiener te wees nie.

Die punt om wel te beklemtoon, is dat soos tegnologieë en markmoontlikhede verander, die beleide wat regerings oor openbare goedere huldig, ook moet verander.

Fundamenteel is hierdie vraag die vraag oor watter meganismes ons behoort te gebruik om hulpbronne toe te deel. In ’n land soos Suid-Afrika – met geweldig beperkte hulpbronne – behoort hierdie vraag altyd een van die eerste te wees wat ons vra.

’n Gesonde toedeling van hulpbronne word beslís nie bevoordeel wanneer regerings dienste lewer wat beter deur die mark gelewer sou kon word nie.

Die SAL is miskien ’n goeie voorbeeld. Dié instelling word minstens nou vir sakeredding gemerk, maar dit het ’n goeie aantal jare en heelwat hulpbronne uit die hande van private ondernemings geneem. Die SAL is in werklikheid aan die lewe gehou ten koste van alternatiewe toedelings van hulpbronne in ’n vrye mark.

Om krampagtig aan openbare instellings vas te klou, is nie ’n doeltreffende beleid nie. Daarom moet die beleid oor openbare infrastruktuur, wat ’n groot item op die nasionale regering se begroting is, baie omsigtig ontleed word.

Die resep wat tot dusver gevolg is, waar reusagtige staatsinstellings en regeringsdepartemente groot invloed op die ekonomie uitoefen, het duidelik nie gewerk nie. Dit sal nalatig wees om nie mededingende opsies te oorweeg nie.

In Suid-Afrika, meen ons, kan die rol van markhulpbrontoedeling aansienlik vergroot en die rol van regeringshulpbrontoedeling aansienlik verklein word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

André André ·

Dankie vir die perspektief. Cyril beweer mos nou anders betreffende die 700 entiteite onder die regering se beheer. Ja my oë het ook gerek toe ek lees hy praat van 700 entiteite. In jou lewe! Geen wonder ons sit waar ons sit nie.

koos ·

In SA het SAA, PRASA, ESKOM en al die ander tot stand gekom want die regering het die doel daarvan gesien, en ook besef dat dit die land se ekonomie kan help. Verder het die regering ook geweet dat die infrastruktuur baie langer sou neem om te ontwikkel weens befondsing, en heel moontlik nie op die selfde standaard en spesifikasies sou wees, as dit privaat sou ontwikkel het nie.
Nou word die SOE gebruik om ons land se ekonomie te kelder en ‘n paar mense te verryk.
Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Dit moet die regering nou besef!

AndrewL ·

Ongelukkig het die staat ontwikkel om werkskepping te bevorder, nie om diens te lewer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.