Maroela en kommentaar: Sê jou sê as die son skyn

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Gee jy graag jou mening in Maroela Media se kommentaar-afdeling? Van vandag af sal jy moet seker maak dat jy dit voor 19:30 saans doen, en eers om 06:00 in die oggend sal ons weer die kommentaar-hekkie oopmaak. Waarom dié besluit? In kort kom dit daarop neer dat ons ons self én jou moet beskerm. Maar die antwoord is eintlik heelwat ingewikkelder as dit. Ek antwoord (hopelik) al jou vrae met hierdie brief.

Wat is Maroela se beleid oor kommentaar?

Dalk was jy al warm onder die kraag omdat ons jou kommentaar uitgevee het. Lesers skryf gereeld in die kommentaar: “Maroela, ek weet julle gaan seker hierdie kommentaar uitvee, maar…”

Ons kommentaarbeleid is deeglik uiteengesit in ons bepalings en voorwaardes. In kort is ons beleid oor kommentaar tweeledig: Enersyds moet ons in die kommentaar by stories ʼn atmosfeer skep wat gunstig is vir deelname. As kommentaar beledigend of afbrekend raak, van die onderwerp afwyk of ʼn persoonlike gesprek tussen lesers raak, is dit vir niemand lekker om dit te lees óf daaraan deel te neem nie, en dan mis dit die doel van ʼn gespreksplatform. Andersyds is Maroela wetlik aanspreeklik vir enigiets wat op ons platform geskryf word. As ʼn leser die wet oortree deur byvoorbeeld haatspraak te pleeg, en dis op Maroela se webwerf, is ons wetlik net so aanspreeklik soos jy indien ons dit nie uitvee nie. Enigiets wat nie strook met die wet nie, soos aanmoediging tot geweld, kan ons ook nie toelaat nie. As ʼn platform met ʼn Christelike fondasie laat ons ook nie toe dat lesers iemand anders ongeluk of teëspoed toewens nie, hoe geregverdig dit ook al voel. As ʼn leser skryf “dis tyd dat iemand ʼn bom in die parlement plant” of “ek hoop hulle hang hom aan sy tone [lees hier ook allerlei meer persoonlike liggaamsdele] op” of “die manne wag vir jou in die tronk, mannetjie” kan ons dit nie toelaat nie. As jy jou mede-Maroela-lesers beledig, kan ons dit ook nie toelaat nie. “Dink ʼn bietjie vir jouself, jou pampoen” of “Kry net ʼn lewe” is beledigings.

Onthou ook dat Maroela heelwat minderjarige lesers het. Daarom word enige kru taal, rassistiese opmerkings, vulgêre opmerkings en enigiets anders in dié trant ook nie toegelaat nie.

Vergewis jou gerus van ons volledige kommentaarbeleid. Dis deur die loop van agt jaar opgestel en word deurlopend verfyn om te verseker dat ons so presies, streng en konsekwent as moontlik kan optree. Natuurlik maak ons soms foute, en glip ʼn kommentaar soms deur wat nie toegelaat moes gewees het nie, of vee ons dalk iets uit wat eintlik aanvaarbaar is. Dis menslik. As jy in gedagte hou dat ons elke maand (slegs op die webwerf) tussen 25 000 en 30 000 kommentare modereer, sal jy dalk meer begrip hê volgende keer as jy voel dat jou kommentaar nie heeltemal geregverdig verwyder is nie. Ons beleid is ook om eerder té streng te wees – dit beskerm ons én jou.

Waarom laat ons kommentaar toe?

Mense vra ons dikwels: Maroela, hoekom laat julle kommentaar hoegenaamd toe?

Maroela is ʼn gemeenskapsplatform. Dit beteken dit gaan nie net oor die nuus nie, maar ook oor jou, ons leser. Ons weet dat Afrikaanssprekendes lief is vir kuier en gesels, en dat ons graag ons “bure” leer ken – al is dit dan nou ook digitaal. Maar ons weet ook dat jy soms ʼn behoefte het om saam te gesels; dat jy soms ʼn platform nodig het om te sê “nou ruk dinge hand-uit” of “byt vas, dit het met my ook gebeur; ʼn mens kom daardeur”. Soms lees jy die kommentaar en voel beter net omdat jy weet dis nie net jy wat so voel nie.

Van ons kant is die kommentaar ʼn waardevolle barometer van ons lesers se gemoedstoestand. Dis vir ons ʼn aanduiding van waarvan hulle hou en nie hou nie; wat hulle ontstel en kwaad maak; waarin hulle vreugde vind. Dit help ons om ons inhoud beter te beplan en om seker te maak ons hou ons vinger op die pols van die Afrikaanse gemeenskap. Maar let wel – ons plooi nie bloot ons inhoud na ons lesers se voorkeur nie, want sommige nuus moet gepubliseer word omdat dit nuus is, nie omdat mense dit graag wil lees nie.

Nog ʼn rede waarom ons kommentaar toelaat, is omdat lesers se kommentaar soms vir ons ʼn waardevolle bron van opvolg-artikels is. Lesers deel dikwels in die kommentaar brokkies nuus wat ons help om ’n opvolgartikel te doen oor dieselfde onderwerp.

Omdat daar lesers is wat die kommentaar onaangenaam vind, het ons dit redelik ver verwyder van artikels self. Jy moet dus verby ʼn hele paar ander elemente (soos skakels na ander stories, soms ʼn advertensie, en nog inhoud) af rol ondertoe om by die kommentaar uit te kom, en selfs daar is daar eers ʼn opskrif en ʼn lekker lang paragraaf wat ons kommentaarbeleid opsom voor jy by die kommentaar uitkom. As mense dus kla oor die feit dat ons kommentaar toelaat, vind ons dit ʼn bietjie ironies – jy het immers ʼn keuse om tot onder te rol om die kommentaar te lees. As jy dit nie wil lees nie, moenie.

Waarom nou die strenger beleid oor kommentaar?

Maroela het besluit om, vanaf Donderdag, 21 November, kommentaar op Maroela buite ons normale kantoorure te sluit. Dit beteken jy gaan jou sê moet sê tussen 06:00 en 19:30 deur die dag.

Van Januarie tot Oktober vanjaar het Maroela Media se leserstal met sowat 38% gestyg, van net meer as 1,5 miljoen unieke lesers per maand tot meer as 2,4 miljoen lesers in Oktober. Soos die lesers toeneem, neem die kommentaar uiteraard ook toe. Die kommentaar styg egter selfs meer as die aantal lesers – van Januarie tot Oktober het dit met 55% toegeneem. Waar daar in Januarie 18 400 kommentare per maand gemodereer moes word (dis nou nadat die outomatiese modereringstelsel van die grootste oortredings ontslae geraak het), was daar in Oktober 28 601 kommentare – byna 1 000 per dag – wat gemodereer moes word. Hiervan word sowat 70% goedgekeur en sowat 30% afgekeur. Jy kan net dink hoe uitmergelend dit moet wees vir die persoon wat kommentaar moet modereer, asook joernaliste wat hul eie stories se kommentaar dophou, om elke dag hierdie ongeveer 1 000 kommentare deur te lees en te besluit watter toegelaat moet word.

Die joernaliste wat na-ure en naweke werk, vind dit eenvoudig bykans onmoontlik om nuus te skryf én nog kommentaar ook dop te hou. Dan glip daar goggas deur, en natuurlik is dit Maroela wat vir hierdie goggas verantwoordelik gehou word. Ons het toe besluit dis eenvoudig makliker en beter vir almal om kommentaar na-ure af te skakel. As jy jou sê wil sê, sal jy voortaan net jou tyd reg moet kies.

Is dit regtig so erg?

Jip, dit is. Dis ongelukkig ook ʼn tendens dat lesers wat duidelik daarop uit is om moeilikheid te maak, in argumente betrokke te raak, beledigend te wees en kru taal te gebruik, nogal liewer is daarvoor om na-ure hulle sê te sê in die kommentaar-afdeling, seker maar oor hulle agterkom dit neem dan langer voor hulle kommentaar uitgevee word. Die “gesprek” in kommentaar is dus oor die algemeen na-ure nie opbouend nie. Dit maak daarom net sin vir ons om kommentaar buite normale kantoorure te sluit.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Vir nou is Maroela verbind daartoe om jou die geleentheid te gee om kommentaar te lewer op stories, omdat dit vir ons as gemeenskapsmedia-instelling belangrik is om jou die geleentheid te gee om saam te gesels. Voor die einde van vanjaar stel ons ʼn opwindende nuwe funksionaliteit op Maroela, “Maroela-fontein,” bekend. Sodra Maroela-fontein van stapel gestuur is, sal jy vir jou ʼn (gratis) profiel moet skep wat jy met jou e-posadres moet verifieer, en daarna sal jy moet inteken voor jy kommentaar kan lewer. Ons hoop van harte dat dié maatreël Maroela-lesers sal noop om ʼn wag voor hul mond te sit voor hulle kommentaar lewer. Maroela-fontein sal jou ook in staat stel om met ʼn emosie-prentjie (emoticon) aan te dui hoe jy oor ʼn artikel voel en jy sal maklik kan aandui of jy met ʼn ander leser se kommentaar saamstem of nie. Jy sal dus met ʼn gepaste keuse jou gevoel oor artikels en kommentaar kan aandui sonder dat jy noodwendig in soveel woorde hoef te sê hoe jy voel. Ons hoop dat ons op dié manier die kommentaar op Maroela nog ʼn bietjie beter sal kan bestuur.

Onthou, jy bly welkom om saam te gesels. Ons hoor graag wat jy dink. Maar dit bly ons eerste prioriteit om seker te maak Maroela is ʼn vriendelike, gesellige kuierplek vir álmal wat wil saamkuier.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Antoinette ·

Ek stem dis nie lekker om kommentaar te lees en dit raak al hoe negatiewer soos jy aanhou lees ja kom ons werk daaraan om eerder oplossings te gee en positiewe kritiek

CarenC ·

Baie dankie Susan en Maroela Media – ek ondersteun hierdie besluit 100%.

Abigail ·

Wonderlike nuus! Dis om al bg. redes dat ek my meesal weerhou daarvan om deel te neem. Ek wil nie deel wees van slegte geselskap nie. Baie voel waarskynlik soos ek. Dan sit MM uiteindelik net met die onsmaaklike kommentaar. Dit gee dan n verkeerde beeld van sy lesers. Die genoemde regulasies beskerm eintlik ook mý beeld en my reg. Baie dankie MM.

Lion ·

Ek stem 100 % saam. Dankie vir jul tyd ..

Ek geniet altyd die lesers se by voegings veral wat nice en positief is.

Swartwolf ·

Ongelukkig vind ware debat plaas waar mense hulle opinie kan lig, of dit nou negatief of positief is, vir of teen die artikel, kunstenaar, politikus of sport held. Geen vuil taal of naamskending stem ek mee saam. Die res moet gese kan word, of ons nou die wereldbeker gewen het of nie…..

Judge Dredd ·

Korrek, die eerste ding wat in die slag gaan bly is ongemaklike waarhede en dan praat ons nie eers daarvan dat baie mense die realiteite van die dag as negatief bevind.
So dit is nou maar net weer newspeak – dit wat ons van hou word geplaas – die res word gesensor.

André-Chris ·

Dankie Susan, maar dan het ek al ondervind dat selfs hoofregter Mogoeng Mogoeng, sou my nie met ‘n antwoord om rede kon help waarom ‘n kommentaar van my verwyder is nie.

bokke ·

Ek gaan vir Maroela ‘n rekening stuur vir al die data wat ek al verkwis het deurdat my skadelose kommentaar myns insiens net onnodiglik verwyder is. Hoe werk die outomatiese moderering want ek dink dis daar waar baie kommentare onnodiglik sneuwel? Byvoorbeeld: as jy die woorde wit of swart (onskuldig) gebruik in ‘n sin, is die kanse uitstekend dat die kommentaar nie geplaas word nie. ‘n Kort kommentaar het ook beter kans om te oorleef (dis nogal frustrerend as jy wel tyd opoffer om ‘n ordentlike paragraaf te skryf wat dinge beter in perspektief stel en dit sneuwel). Ek dink ook daar is ‘n paar moderators wat ‘n bietjie moet “ophelder”. Daar behoort tog ruimte te wees vir “‘n knippie sout” hier en daar om dinge op te kikker. Maar dankie vir die platvorm, so 30% van my kommentare haal darem nog die paal.

Gerhardus ·

Bokke, onthou net om die kostes af te trek wat Maroela aangaan om vir jou gratis nuus te gee

Gert ·

Ek vind weer dat my kritieke op sosialisme altyd verwyder word, en dis vir my vreemd want as ons nie eens mag debatteer oor ekonomiese stelsels nie, wat bly dan oor?

Kapie ·

Dis verblydend om te sien MM stel belang in hul lesers se opinies. Ek moet egter saamstem met die meerderheid kommentaar op die artikel. Kommentaar waar joernaliste se taalfoute of foutiewe beriggewing uitgewys word, word altyd verwyder. Onder andere. Joernalistiek is tog iets wat korrek moet wees. Anders is dit ‘n free for all en is “fake news” aan die orde van die dag. En dit is als behalwe opbouend.

Erik ·

Stem heeltemal saam en baie dankie! Ek het by tye weggebly van MM, slegs aangesien die kommentaar so vreeslik negatief is en ek dit wou vermy. Ek geniet egter die berigte baie. Ek dink die negatiwiteit is soms oordrewe en aansteeklik, terwyl meeste van ons kliphard probeer positief wees.

Stof ·

Vrede vir elke leser

Die hartseer is dat in die meeste gevalle waar positiewe insette en lewespraak geplaas word, word dit verwyder. Die ander korrespondente braak gal van enige iets van broer Julius se eksotiese goudvis tot die prys van sywurms in Japan, in reaksie op ‘n artikel oor ‘n wetsontwerp openbare aanstelling, of gewaardeerde kunsartikel.
Hierdie negatiewe word wel gelaat. Tog, word diegene onder ons wat al geleer het om dankbaar te wees en die goue rand aktief te ondersoek, en uit te wys, verwyder.
Ek glo nie (hoop nie) genoemde beleid weerspieel iets van die redaksionele beleid nie…

Ek hoor graag wat is die redaksionele beleid oor al die positiewe realiteite waarmee ons daagliks geseen word en vertrou om nie teleutgesteld te wees nie.

Lewesprekend die uwe, die stowwerige.

sdp ·

Hoe gee jy positiewe kommentaar op wat negatief is?? Ek gaan nie op my ouderdom vir myself begin lieg nie

Sê net ·

Gaan kyk gerus hoeveel negatiewe kommentaar op positiewe berigte gelewer word bv. toe ons die rugby wêreldbeker gewen het.

TLC ·

Ek ook 1 van daai ek try my beste bietjie voor sit
Noem nie wit of swart of geel of pienk nie
En ek sien dat my kommentaar wel deliver maar as ek weer later terug gaan om kommentaar te Lee’s Dan is myne weg
Dankie MM

Johan ·

Eks n groot ANC ondersteuner maar jul plaas nie my kometaar nie . Hoekom nie. Ek sê net mooi goed van regering

Wielspore ·

Ek voel dat indien kommentaar binne die land se wette geskryf word is daar geen rede om dit te verwyder.
Die verkorting van kommentaar tye het geen impak op my.

Boer-in-die-Wind ·

Mmm ek dink artikel met soortgelyke terugvoer moet aan lesers verskaf word oor hoe MM besluite neem mbt bydraes deur eksterne joernaliste. Word hierdie eksterne joernaliste vergoed? Hoe word besluit oor wat geplaas word en deur wie? Hoe werk MM se ‘stelsel’?

Mindernegatief ·

Ek dink wat ons afrikaans sprekendes Kan Verander is om liewers te probeer om minder negatiewiteit uit te straal. Want Nader hand trek dit Almal af. Wees liewers meer positief of help om oplossing tevind en wees vrymoedig om n voorstel temaak. Dalk Kan mens op jou idee en kennis voort bou en n plan beraam. En ja ek weet die Krag en water is Baie af en goed raak duur. En daar is korupsie en werkloosheid verskriklik hoog. En pieta se kind het jou huis se venster uit ge gooi of iemand gooi jou met artappels in die aand voor jou swembad. Gelukkig spaar jy aan artappels onthou net om goed te Kan koets. Of die Bure hou partytjie laat in die aand. Hou op kla en negatief wees. Staan liewers saam en maak n plan of probeer misverstande met n glimlag en volwassenheid op los bevoorbeeld.

kobie ·

Ek verstaan net nie hoekom julle nie beter beskrywing gee van aanvallers of verdagtes nie ,ons bly in n land met verskeie rasse en nasionaliteite .My opinie is as julle nie die ware feite kan gee soos dit is nie gee dan net n op of af wimpie.

Ja swaer ·

Susan, dis baie mooi om alles so uiteen te sit. Die realiteit is egter julle sisteem werk nie altyd goed nie en julle is dikwels arbitrer wanneer julle kommentare verwyder. Skadelose kommentaar word soms verwyder en ander aanvallende kommentaar geplaas. Miskien word die persoonw wat dit modereer moeg. Ek kry ook die idee dat julle sisteem spesifieke email adresses of IP adresses outomaties blok. So dankie vir al julle moeite maar die sisteem is soms maar rukkerig, tog werk dit seker ook redelik goed

Wim ·

Dankie. Ja Swaer jy is honderd persent reg seker name en adresse word outomaties geblok veral as jy nie polities korrek was in van jou skrywes nie, as jy daarna iets positief pos word dit sommer outomaties verwyder.

Niel ·

ek hou hiervan. Daar was al dele in die artikels van die skrywers wat nie 100% korrek skryf nie. Met die gevolg is daar dan misverstande rondom belangrike feite. So, dit sal ook goed wees dat ons lesers op ‘n manier iemand kan reghelp. Dit het gebeur dat ek 2 of 3 skrywers probeer reghelp het @ verwarring wat voorkom @ hoe die woorde gebruik word. Maar as ek weer sien, is my kommentare afgehaal, en geen korreksies is aangebring nie. Dalk ‘n tipe van “raporteer artikel – taalfout/voorstel” waar die redakteur/senior moderator” dan seker maak. Opskrif van artikels het ook al verwarring veroorsaak. Dankie vir die lekker gratis artikels. Waardeer dit opreg.

Die regte Grassie. ·

Dit is ‘n voorreg om op ‘n nuuswerf kommentaar te mag lewer en ek bedank MM daarvoor. Dit laat ‘n mens voel dat MM jou nie bloot as ‘n onderling beskou wat alles wat aan jou opgedis word vir soetkoek moet opeet nie maar dat hulle ook respek het vir jou mening. Ek het van my kommentare wat verwyder is sorgvuldig nagegaan en in die meeste gevalle kon ek sien waarom dit verwyder is. MAAR…… soms word dit beslis verwyder omdat die persoon wat daardie dag die rooi pen hanteer nie met jou saamstem nie. Dit krap so ‘n bietjie aan ‘n mens se gal maar ek glo dit sal regkom wanneer MM se nuwe planne in werking tree.

Doet so voort, Maroela.

Tant Anna ·

Susan baie dankie, waardeer die guns en moeite wat jul aangaan, sodat almal onderling kan kommunikeer. Maar as kritiek en wangedrag, bly voortduur en die werk raak te veel, vir julle… STOP DIT my kind!

an ·

Na my beskeie mening is Maroela Media tans die magtigste meningvormer in die Afrikaanse gemeenskap!

Baie geluk daarmee! Dit is ‘n reuse prestasie!

Die invloedryke posisie van Maroela plaas groot verantwoordelikheid op die bestuur om die ‘invloed’ KONSTRUKTIEF te hou.

Moet asb net nie pedanties raak nie!

Nog Teleurgesteld ·

Jammer MM, ek gaan julle groet.

Jul gereelde onverdedigbare verwydering van relevante, skoon kommentaar skep die indruk dat julle presies wil beheer oor wie wat en wanneer gesê mag word.

Afrikaanssprekendes het feitlik geen platform in hul eie land om hul opinie in hul eie taal te lug nie, en m.i. doof MM gesprek aansienlik met hul stram kommentaarbeleid.

Ek is regtig teleurgesteld en sal my tot die Engelse media moet wend. Totsiens MM

Feite ·

MM se meningsvormers lewer goed nagevorsde realistiese sienings wat ons in kennis verryk en die kommentare vul daardie sienings uitstekend aan. Wat die toepassing van sensuur aanbetref kan ek nie gal blaas nie, want byna elke kommentaar wat ek lewer word wel geplaas. Kritiek mag opbouend of afbrekend wees, solank as wat dit geregverdig en gebaseer is op feite en nie diskriminerend of beledigend is nie. Jy kan nie net “nice guy” wees wanneer ernstige sake onder bespreking is nie, maar jy kan ordentlik wees. MM verdien respek en al die eer wat dit toekom vir n puik sosiale platform, vir ons almal, in Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.